Wat die witbors wou sê: ’n onderhoud met Elmarié Dercksen

  • 0

Foto van Elmarié Dercksen: ©Izak de Vries, 2026

Wat die witbors wou sê
Elmarié Dercksen
LAPA Penguin Random House South Africa
ISBN: 9781779860408

Naomi Meyer praat met Elmarié Dercksen oor Elmarié se Wat die witbors wou sê.

Elmarié, baie geluk met Wat die witbors wou sê. Dis die vraag op almal se lippe: Wat WOU die witbors sê? Ek vermoed jou antwoord gaan net een woord lank wees. Brei asseblief op daardie woord uit.

Die witbors, onder inspirasie van Edgar Allan Poe, sê: “Nevermore”, nooit weer nie. Maar hy en die ander diere in die verhaal sê ook dinge wat moeilik onder woorde gebring kan word: Die lewe gaan vanself vorentoe. Alles is soos dit moet wees.

.......
Die witbors, onder inspirasie van Edgar Allan Poe, sê: “Nevermore”, nooit weer nie. Maar hy en die ander diere in die verhaal sê ook dinge wat moeilik onder woorde gebring kan word: Die lewe gaan vanself vorentoe. Alles is soos dit moet wees.
........

As jy ’n genre moes kies, in watter een sou jy hierdie boek sorteer? En waaroor gaan die storie? As mens begin grawe, gaan jy by jou eie verlede uitkom. Maar dalk is dit wat jy moes sê.

Wat die witbors wou sê is ’n familieverhaal met ’n raaisel wat opgelos moet word. Ek dink dit is liries, maar toeganklik. Na haar egskeiding en haar pa se dood gaan woon Louise Rabe by haar ma in Bloubergstrand. Wanneer die oorskot van ’n baba ontdek word op hul familiegrond, word Louise ingetrek by die raaisel oor wie dit kan wees. Dit gee haar iets konkreet om te verrig, maar help haar tegelykertyd om te begin sin maak van haar eie lewe.

Op hierdie punt sou ek dalk vir skrywers gevra het oor die karakters. Ek wil jou oor hulle vra, maar nie oor die mensekarakters nie. Oor die diere. Wie is hierdie drie-eenheid?

Die hoofkarakter se ma, Elsebet, het ’n hegte verhouding met wilde kraaie. Eintlik net een, die een wat vir haar geskenkies bring. Sy het ’n skaaphond met ’n wit kraag, net soos die kraai. Daar is ook ’n rob wat van tyd tot tyd sy verskyning maak. Elsebet beskryf haarself as ’n kunstenaar met ’n obsessie oor die natuur, maar die rol van die diere in die verhaal is tog ’n tikkie magies: Hulle verskyn nooit tegelyk nie en hulle praat sonder woorde.

Foto: Ansurette Lourens

Terwyl ek nou oor diere vra, vertel asseblief die storie van Padda en van Vis.

As iemand tog daardie kinderboekie êrens het, laat my weet! Dit bestaan glo regtig, maar ek besit dit nie. Die oorvertelde verhaaltjie het so goed gewerk as metafoor vir Louise en haar tweelingbroer Frans se verhouding. Hulle is baie geheg aan mekaar en beste maats, Padda en Vis. Louise en Frans noem mekaar ook so. Volg egter die metafoor tot by die uiteinde en die verhouding moet verander wanneer hulle volwasse word.

Een van die hooftemas is verlies, hoe om aan te gaan met jou lewe na verlies. Wat is erger: verlies as iemand doodgaan, of verlies as iemand nog lewe, maar nie meer in jou lewe is soos hy was nie? Ek praat van Louise.

In Louise se lewe is daar inderdaad verlies van lewendes en dooies. My eie beskouing van verlies duur al lewenslank en figureer ook byna daagliks in my beroep as predikant. Ek ken die boeke wat oor verlies geskryf is, maar elke verlies is uniek en elke persoon moet dit op hulle eie manier en tyd hanteer. Op ’n manier is hierdie verhaal ’n trooslied en Louise se worstelinge – met familie, maar veral met haarself – ’n gerusstelling vir die leser.

.......
Op ’n manier is hierdie verhaal ’n trooslied en Louise se worstelinge – met familie, maar veral met haarself – ’n gerusstelling vir die leser.
.........

Natuurlik is musiek ook ’n belangrike komponent in jou storie. Jy maak self musiek; dis deel van jou eie lewe. Maar is dit maklik om daaroor te skryf? Dis ’n ander taal as woorde.

Musiek en die verskeie fasette daarvan is aan my goed bekend, ja. En ’n mens moet skryf wat jy ken. Dit was vir my ’n maklike leefwêreld waarin Louise en Nathan mekaar kon vind. Dis egter nie so maklik om te skryf nie, hoor! My (of Louise) se musiekvoorkeure kan dalk ’n leser se afkeure wees.

Kan jy maklik oor jou omgewing skryf sonder vrees dat iemand hulleself sal herken? Is alles wat mens neerskryf, dadelik op papier, ’n storie? Alles van die verhaal is Blouberg. Hier woon jy; hier is jy ook ’n dominee. Hoe skei mens dit? Of vat die storie jou net in sy greep? Jy moet maar die little darlings in my vraag nek-omdraai 😉 

Die omgewing van Bloubergstrand is nie net die agtergrond vir die verhaal nie. Dit praat met almal van ons wat hier woon en werk, net soos met Louise en Elsebet. Dit dra ook, soos die res van ons land, ons geskiedenis en ons hoop vir die toekoms. Ek het die unieke atmosfeer van Blouberg probeer vasvang, sonder om mense bloot te stel. Dit gaan meer oor die patrone waarin mense leef as die individue, dink ek. Daar sal dalk hier en daar iemand wees wat hulself of hul leefpatrone sal eien. Indien ek nie jou toestemming gevra het nie, vra ek maar nou om verskoning!

Jy het uitgebrei op Nathan, by die bekendstelling in Bloubergstrand. Die skaatsplankryer/-afrigter. Ek kon hom voor my sien, toe jy hom beskryf het, en in die boek ook. Die vraag sluit bietjie aan by die een net hierbo. Jy skryf oor iemand wat jy nog net een keer gesien het. Hy is ’n integrale deel van die storie. Dalk juis oor jy hom nie ken nie? En tog ken jy hom tot onder sy vel toe goed. Praat met my oor die skep van karakters.

Die voorkoms van die karakter Nathan is inderdaad geskoei op ’n jong skaatsplankafrigter wat ek net een keer gesien het. Ons skrywers hou mos maar mense dop, die hele tyd. Maar sy binnewerk, sy geaardheid, is geheel en al sy eie. Sommige karakters verskyn afgerond, maar ander moet ’n mens stuk vir stuk bou. Dit hang af watter rol hulle in ’n storie moet speel. Ek gebruik ook graag die Enneagram-model om seker te maak dat ek karakters se motiewe belyn hou. Min dinge irriteer ’n leser so vinnig as ongemotiveerde optrede in ’n karakter.

Dis jou tweede boek. Het jy nie gely aan die vrees van die tweede boek nie? Het jy net aangegaan met die skryfroetine? Vertel van die selfdissipline wat die meestersgraad jou gegee het.

Dis my tweede gepubliseerde manuskrip, maar ek het al ’n ander voltooi, asook kortverhale en ’n dramateks, intussen. Die dissipline van ten minste ’n bladsy ’n dag van die meestersgraad help my baie. Miskien is ek net bang dat as ek ophou fiksie skryf, ek die doktorsgraad moet doen! Ek dink die vrees en twyfel in jouself en jou vermoë as skrywer is beslis intens met die tweede boek. Maar nou is dit mos nie regtig my tweede nie. Ek het aanvaar dat die uitgewer of die heelal soms nee sê. Ek wil net aanhou skryf. Daarom dink ek my wil is meer deurslaggewend as my selfdissipline.

Nog iets: die verskil tussen die twee boeke. In die eerste boek wou jy iets van die liefde sê, maar iets anders as in hierdie een. Sal jy die kontras uitwys en verklap?

My eerste roman Die gawe van groen is ’n grootwordverhaal wat die wonder, asook die ontnugtering van eerste liefde uitbeeld. In die tweede roman is die hoofkarakter ouer en heelwat meer sinies. Die kans dat sy ooit weer haarself as heel sal beskou, is skraal. Daarom is die vraag oor die liefde anders. In Wat die witbors wou sê ontdek Louise dat ’n mens nie noodwendig hoef te wag om heeltemal gesond te wees voordat jy aangaan met jou lewe nie. Die liefde help ons ook genees.

Lees ook:

Wat die witbors wou sê deur Elmarié Dercksen: foto’s van die Bloubergstrand-bekendstelling

Persverklaring: Kortlyste vir kykNET-Rapport-boekpryse vir 2024 bekend

Die gawe van groen deur Elmarié Dercksen: ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top