Wat die witbors wou sê deur Elmarié Dercksen: foto’s van die Bloubergstrand-bekendstelling

  • 0

Wat die witbors wou sê
Elmarié Dercksen
LAPA Penguin Random House South Africa
ISBN: 9781779860408

Die eerste bekendstellingsfunksie van Elmarié Dercksen se Wat die witbors wou sê het op Vrydagaand 17 Julie in Bloubergstrand plaasgevind. Marinda Engelbrecht het met haar ’n gesprek oor die boek gevoer. Naomi Meyer het die geleentheid bygewoon.

Elmarié Dercksen (foto: ©Ansurette Pretorius)

Marinda Engelbrecht vra sommer dadelik: “Wat wóú die witbors sê?” En Elmarié antwoord: “Nevermore.”

Elmarié vertel dan die storie agter die storie. Die inspirasie was ’n gedig van Edgar Allan Poe, “The raven”: “Once upon a midnight dreary …” Hierdie woorde is die hartstaal van die hoofkarakter, wat sy self weet, maar wat sy besig is om te ontdek: “Nevermore.”

Elmarié vertel ook van die drie diere in die storie: ’n skaaphond (en ooglopende visuele ooreenkomste tussen die hond en die kraai – die kraag) en ’n rob. Hulle verskyn nooit gelyk nie. In die verbeeldingswêreld van die hoofkarakter simboliseer hulle vir Elmarié iets. Al drie praat die natuur se taal. Die lewe gaan onder, maar gaan weer opkom. Die wind en see en die branders gaan uit, maar kom weer terug. Een van die hooftemas is verlies, hoe om aan te gaan met jou lewe na verlies.

Marinda Engelbrecht (foto: ©Ansurette Pretorius)

Marinda vra: “Het jy die boek beplan? Tot aan die einde?”

Elmarié: “Ek begin aan die einde, en dan is daar sekere goed wat mens moet beplan, net vier of vyf hoofmomente, en dan begin die karakters hulle eie geaardhede ontwikkel.”

Marinda: “Jy woon in Blouberg, en dit speel hier af.”

Elmarié: “Die ruimte is ’n karakter. Hier is ’n spesifieke atmosfeer. Dit het baie verander in 20 jaar – dit was ’n klein dorpie, nou moet ons veg vir parkeerplek – maar die atmosfeer bly. Die aanvanklike insident van gebeentes opgrawe … dit het regtig gebeur.”

Marinda: “Louise en haar ma se verhouding is nie so fleurig nie.”

Elmarié: “Daar is iets aan ma-dogter-verhoudings. Diep lief vir mekaar, maar nie altyd maklik nie. Hierdie twee karakters het hoë verwagtinge van mekaar. Albei wil alles regmaak, maar niks is noodwendig verkeerd nie.”

Marinda Engelbrecht en Elmarié Dercksen (foto: ©Ansurette Pretorius)

Marinda: “Jy skryf ’n storie, maar eintlik skryf jy oor mense. Elke karakter word haarfyn uitgepluis. Party is dopgehou, party is versin en party is uit die verlede opgediep.”

Elmarié: “Ek wil die storie van Padda en Vis vertel. Dis ’n boekie wat bestaan. Albei begin as visse. Dan word een ’n padda en die ander een bly ’n vis. En dan moet hulle afskeid neem. Vriende in hul kinderdae.”

Marinda: “Kan die liefde genees, of moet mens eers genees voor mens liefde kan ervaar?”

Elmarié: “In die storie het die liefde haar genees. Niemand is wel heeltemal gesond nie. So as jy nou gaan wag tot jy perfek is, gaan dit ook nou nie gebeur nie. Mens se eie genesingsproses hou aan, en as mens nie dieselfde foute maak nie, raak jy bewus van jou eie patrone.”

Foto: ©Ansurette Pretorius

Die saal is stampvol. Die gehoor is vasgenael.

Foto: ©Ansurette Pretorius

Agterna sak hulle toe op die tafel en koop armsvol boeke.

Lees ook: 

Persverklaring: Kortlyste vir kykNET-Rapport-boekpryse vir 2024 bekend

Die gawe van groen deur Elmarié Dercksen: ’n resensie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top