Waarom sou ’n mens nog na die NG Kerk toe gaan? 

  • 3

Hierdie vraag is een wat elke paar maande in gesprekke tussen my en vriende, vreemdelinge en jongmense opduik – binne én buite dié kerk. Dit is ’n vraag wat ’n kollega ’n paar jaar gelede vir my gevra het, kort nadat ek my eerste kontrakpos as predikant in die NG Kerk voltooi het. Die redes wat ek toe kon vind, bly my steeds by, al is ek sedertdien nie meer in diens van die NG Kerk nie.

Ek is in Mei 1989 op ’n koue herfsoggend in die NG Kerk Bloemfontein-Noord gedoop.

Vandag verstaan ek die doop as God se eerste en mees grondliggende bevestiging van ons (my) identiteit. Dit is God se “ja” oor ons lewens. Tog het dit ’n hele paar siklusse van bevestiging, ontnugtering en hertoewyding vir my gevat om dit te begryp.

Ten spyte van ’n reeks rasionele redes waarom ek anders sou kon kies, bly die NG Kerk die kerk waar ek gekies het om belydenis af te lê, waar ek gelegitimeer is en waar ek uiteindelik as leraar bevestig is. Tussen my doop en ’n warm somersaand in Februarie 2019, met my bevestiging as leraar by Parke-gemeente in Kraaifontein, kon ek baie maal ’n eie “ja” voor die kansel bely. Hierdie keuse(s) bly tog ’n spiraal van herbesinning wat steeds aanhou.

Hierdie tyd- en selfs plekgebonde skrywe is dus ’n poging om in sewe stellings te probeer sin maak van kere waar ek dit kon regkry om wel op God se “ja” te antwoord met my eie “ja”. Dalk kwalifiseer dit as tentatiewe, onafgeronde redes waarom ek (nog) na die NG Kerk gaan.

1. Om my identiteit te vestig

Soos dit die geval was vir talle generasies voor my, het die NG Kerk my “gekies” nog voordat ek die NG Kerk kon of wou kies.

My eerste bevestiging en verbintenis tot die NG Kerk uit eie keuse was tydens my tienerjare. Binne my voorstedelike bestaan in Stellenberg (Noordelike voorstede van Kaapstad) was daar waarskynlik geen groter invloed op my identiteit as die kerk nie. Tog begin hierdie verhaal lank voor my geboorte of doop.

My familie se geloofswortels lê histories ingebed in die NG Kerk. My oupagrootjie, JG (Valie) Strydom, was die Sendingsekretaris van die NG Kerk in die Oranje-Vrystaat vir 25 jaar en het ’n leidende rol gespeel in die vestiging van Christelik-nasionale onderwys gedurende die 1930’s. Deur sy hand het die sendingsbeleid die verbeelding van apartheid help skep en teologies begrond. Een van my ander oupagrootjies en naamgenoot, Louis Louw, was ook ’n predikant in die NG Kerk. Ten spyte daarvan dat my ouers self ingeburger was as lidmate van die NG Kerk en deel van die Afrikaner-establishment, het hulle eie geestelike pad en roeping hulle van die NG Kerk laat wegstap.

My ouers het besluit om uit Bloemfontein te trek, eers na Kanada en toe na Grahamstad, en uiteindelik Kaap toe in 1998. Tot en met ons na Stellenberg getrek het in 2003 het die NG Kerk nie ’n wesenlike rol in my lewe gespeel nie. Ek is die jongste van vier seuns en die enigste een wat uiteindelik uit eie keuse myself tot die (NG) kerk verbind het deur belydenis af te lê.

NG Kerk Stellenberg het vir my ’n hele wêreld geskep. Ek is blootgestel aan hoe ’n gemeenskap van gelowiges vir jongmense betekenis kon skep. Sondae het ons aanbid, Vrydae het ons gekuier en elke ander naweek het ons gekamp of “uitgereik”. Hierdie gemeente se leuse, “Reik uit oor alle grense”, het vir my ’n gekompliseerde verbeelding help vorm oor wat dit beteken om as wit Christen in Suid-Afrika te leef. Dit sou jare se ontnugtering en teologiese studie neem om hierdie eerste blootstelling aan missionale kerkwees in konteks te kan plaas, en te leer wat dit beteken om deel te bly van die NG Kerk. Tog is daar vir my ’n onvervangbare basis geskep om met my identiteit te begin worstel.

........
Dit sou nog ’n paar siklusse van bevestiging, ontnugtering en hertoewyding neem om dieper sin te maak van my ononderbroke familieverbintenis tot die NG Kerk, en daarmee saam geslagte van rassebevoorregting wat ingebed is in Suid-Afrikaanse Gereformeerde kerkwees.
........

Dit sou nog ’n paar siklusse van bevestiging, ontnugtering en hertoewyding neem om dieper sin te maak van my ononderbroke familieverbintenis tot die NG Kerk, en daarmee saam geslagte van rassebevoorregting wat ingebed is in Suid-Afrikaanse Gereformeerde kerkwees.

As teologiestudent op Stellenbosch sou ek ook verder my onvermydelike verbintenis, bloot omdat ek as ’n wit Afrikaner gebore is, tot die NG Kerk dieper begryp. Vandag besef ek ook dat al sou my ontnugtering tot ’n keuse lei om van die NG Kerk weg te stap, sal die NG Kerk ’n wesenlike koördinaatpunt in die Suid-Afrikaanse landskap bly.

2. Om skeiding (in die kerk) te oorbrug

Een van die beelde wat gereeld gebruik word om die NG Kerk te beskryf, is ’n “ruim huis”. Ten spyte daarvan (óf te danke daaraan) dat lidmaatskap aan die NG Kerk histories so ’n sterk etniese en kulturele verbintenis het, was daar nog altyd wesenlike teologiese verskille binne hierdie een kerk. Hierdie verskynsel is waarskynlik die mees sigbaar in hoe die kerk kies om met kwessies soos ras, gender en seksualiteit om te gaan.

Dit is tog alombekend dat die NG Kerk vandag steeds swaar dra aan gewigtige sake soos apartheid en ’n teologiese verbeelding wat deur ras gevorm is. Daarmee saam bly die NG Kerk se hantering van gender en seksualiteit ’n genoegsame rede vir enige nugter-denkende persoon om kerklike laste af te gooi. Tog is dit juis hierdie verdelende sake wat my laat bly kies om nie skeiding te skep tussen my en die NG Kerk nie.

.......
Ek kies om (nog) na die NG Kerk te gaan, nie omdat dit my waarhede oor kwessies soos ras, gender of seksualiteit bevestig nie, maar omdat dit my toelaat om deel te bly van ’n waarheidsoekende gemeenskap.
Hierdie poging is op ’n spits gedryf toe ek as gay persoon my “ja” wou leef binne die NG Kerk.
........

In my nadenke oor die primêre vraag van hierdie publikasie het die onderskeid tussen die verskillende gestaltes of vorme van die kerk weer vir my van waarde geword. Verwysings na die (NG) kerk is dus meer as die denominasie waaraan ek behoort, of die plaaslike gemeente waar ek aanbid. Hierdie onderskeid het vir my waarde, omdat my verbintenis tot die NG Kerk ook strek tot ander gestaltes van “die kerk”, byvoorbeeld betrokkenheid by publieke kwessies, soos versoening of ongelykheid, deur lidmaatskap van diensgroepe, en ook ’n individuele geroepenheid as deel van die kerk se getuienis. Ook die veelvormige uitlewing van my spiritualiteit en my verbintenis tot God is onlosmaaklik deel van die kerk. Meer nog, verlos hierdie onderskeid my van enige behoefte om ’n lojaliteit aan die NG Kerk te probeer volhou of verdedig. Dalk is dit omdat hierdie verskeidenheid vir my toestemming gee om nie God se handeling in die wêreld te probeer inperk in één gestalte nie.

Ek kies om (nog) na die NG Kerk te gaan, nie omdat dit my waarhede oor kwessies soos ras, gender of seksualiteit bevestig nie, maar omdat dit my toelaat om deel te bly van ’n waarheidsoekende gemeenskap.

Hierdie poging is op ’n spits gedryf toe ek as gay persoon my “ja” wou leef binne die NG Kerk.

3. Om liefde bo vrees te kies

’n Belangrike merker tydens ’n leraar se teologiese opleiding is jou proefpreek. Dit is ’n geleentheid voor jou legitimasie waar jy die kans het om voor kollegas, dosente, lidmate, vriende en familie jou geweegde waarheid te verkondig. Op 3 Augustus 2014 het ek my proefpreek in die NG Kerk Kaapstad (Groote Kerk) gelewer. Die leesrooster-teks vir daardie Sondag was Genesis 32:22–31 (Jakob se gestoei). In hierdie oomblik waar ek self ’n rivier moes oorsteek, kies ek om te praat oor die vraag: “Hoe vorm ons worstelings met God vir ons?” Jakob se woorde: “Ek sal jou net los as jy my seën” het in daardie tyd van my lewe my eie belydenis en getuienis geword.

Min mense het daardie tyd geweet dat deel van my worsteling met God en die kerk ’n worsteling met myself was. Die kerkgeskiedenis leer ons dat menigte teoloë al deur die eeue die gewaarwording gehad het dat kennis van God en kennis van jouself soos twee kante van dieselfde muntstuk is. Dit was, en is, vir my ook waar.

In Junie van die aanstaande jaar het ek die geleentheid gehad om vir 10 weke as vrywilliger te gaan werk by die Taizé-geloofsgemeenskap in Frankryk. In ’n 2016-inskrywing op Facebook deel ek die volgende gewaarwording oor liefde en die kerk:

Ek is gedurende my tyd in Taizé blootgestel aan ’n manier van kerkwees waar liefde, God se liefde, geleef word met dapperheid én met broosheid. ’n Liefde wat my eie behoefte om reg te wees, ontwapen het; my verlos het van myself. Dit is hierdie liefde wat my in staat gestel het om myself oop te stel om vir ander meer lief te wees, en meer spesifiek vir ’n intieme liefdesverhouding. [...] Ek het geweet dat om te bevraagteken wat God besig was om in my lewe te doen bloot uit vrees vir wat my kerk vir my sou sê, sou wees om toe te gee aan vrees, en dit te kies bo liefde.

Hierdie blootstelling aan ’n spiritualiteit van stilte, die hart van Taizé se aanbidding, was nodig vir my daaropvolgende hertoewyding as proponent. Toe ek my geestelike begeleier in Taizé geraadpleeg het oor hoe baie stilte werklik nodig is vir ’n daaglikse terugkeer na God, het hy opgemerk: So lank as wat dit vir jou vat om vir God “ja” te sê. Hierdie eenvoudige wysheid van instemming het my herinner dat enige belewenis van die kerk ten diepste afhanklik is van ons eerste belydenis oor Christus as die hoof van die kerk, en ons kapasiteit om liefde te bly kies. Met my aanstelling in 2019 as die eerste openlike gay predikant in die NG Kerk berig Die Kerkbode ook dat dit vir Parke-gemeente in Kraaifontein ’n keuse was vir liefde bo vrees.

Maar waarom bly die (NG) kerk juis ’n waardevolle ruimte hiervoor?

4. Om die unieke aard van die kerk te verstaan

Wat is dan so eiesoortig aan die NG Kerk as kerk? Hierdie vraag is vir my belangrik, gegewe my toewyding aan rasversoening en dat mense tot hulle reg kom, ook binne hulle seksualiteit en gender. Daar is tog vele ander weë tot my beskikking om met hierdie sake te worstel. Tog wil ek soos Jakob (dalk hardkoppig) nie laat gaan totdat die Here my (ons) seën nie.

Die seën van die kerk lê op verskillende vlakke, tog bied die liturgie vir my (ons) ’n unieke ruimte. Al is dit nie altyd die geval nie, kan ’n erediens ’n plek van protes word teen ’n wêreld wat nie glo in hoop en liefde nie. Dit bly ’n ruimte om die alledaagse gang van sake uit te daag, te kritiseer, selfs te ondermyn en sodoende van hulle krag te beroof. Dit herinner my dat Jesus uit die kas moes klim voor ek moes.

In die liturgie bely ons “God is liefde” – ’n kreet teen pyn en ellende, en teen vrae oor wie ons is as mense wat lyding ervaar. Dit het natuurlik ook heelwat ander etiese implikasies.

........
Om Sondag na Sondag jouself te gee vir so ’n ruimte vorm jou, help jou om bewus te word en daag jou uit tot groter deugde – en altyd saam met ander. Ek het min hiervan gesnap deur eredienste in die NG Kerk by te woon. Dit was eerder deur blootstelling aan ander denominasies en tradisies dat hierdie liturgiese waarhede vir my tasbaar geraak het.
........

Om Sondag na Sondag jouself te gee vir so ’n ruimte vorm jou, help jou om bewus te word en daag jou uit tot groter deugde – en altyd saam met ander.

Ek het min hiervan gesnap deur eredienste in die NG Kerk by te woon. Dit was eerder deur blootstelling aan ander denominasies en tradisies dat hierdie liturgiese waarhede vir my tasbaar geraak het. Dit is maar een rede waarom ’n keuse vir die NG Kerk vir my ’n keuse is vir “een, heilige, algemene, Christelike Kerk”.

Ek sou my eie kerk kon stig, of kon wegstap van enige institusionele kerk, maar dit sou wees om die geskenk van God se handeling in my lewe te oorskat. Dit bly vir my belangrik om my verstaan en belewenisse lig vas te hou, sodat ek die kerk lig kan vashou.

 Die (NG) kerk bly vir my ’n fisiese (en virtuele) ruimte om my gebedslewe, my spiritualiteit, my skuldbelydenis en geloofsbelydenis saam met ander uit te leef. Dit bly ’n ruimte waar die tafel gedek kan word om saam brood te breek en saam aan die doopwater te bly raak. Hierdie sakramente help my om te onthou dat as lidmate van die kerk nooi God self ons uit om deel te neem aan hierdie sigbare tekens van genade. Daarom kies ek nie wie saam kom aansit nie en mag ek nooit ander keer wat graag wil aansit nie. Dis nie óns uitnodiging nie. Dit is nie óns tafel nie.

Met die bediening van die nagmaal moet ek myself herinner dat dit wel my taak is om te sien dat niemand met die brood of die wyn oorgeslaan word nie; ook hulle wat skynbaar niks het om te bied nie en ook hulle wat ek as my vyande beskou. Dit is by die Nagmaaltafel waar ons onsself minder ernstig kan opvat en ons voorkeure en vrese ligter kan leer vashou. Die “swakheid van sommiges” leef tog in ons elkeen. Die Nagmaaltafel help my ook om te weet dat wanneer ek, juis as iemand wat gay is, die brood breek en die wyn uitdeel, ek ruimte kán en wíl maak vir ander oortuigings binne een kerk.

Dit is nie óns kerk nie, maar tog.

5. Om saam met ander te bly leer

Robert Vosloo, een van my mentors en my doktorale studieleier, het met my bevestiging by Parke-gemeente gepreek oor “’n beliggaamde soeke na die waarheid”. Ek haal graag aan wat hy daardie aand gesê het oor die “ja” waarmee ek myself verbind het in die amp van predikant:

Dit is ’n “ja” vir ’n duur waarheidsoeke, want dit is ’n “ja” wat nie losstaan van die verbintenis tot volgelingskap nie. Nie los van die verbintenis van die Een wat jou roep nie. Nie los van die kruis en die kruisweg nie. [...] So in jou “ja” vanaand gaan dit oor ’n “meer” wat van jou verwag word. Dieselfde geld vir ons “ja” as gemeente. Dit gaan oor ’n “ja” vir waarheid, nie as ’n besitting nie, maar as ’n ontmoeting. En waar ons ontmoetings ons op ’n pad plaas waarvolgens ons oop na die toekoms leef.

Oor Matteus 5:33–7 sê Vosloo:

God word nie ’n wet of godsdiens nie, maar ’n méns – ’n mens van vlees en bloed. En hierdie God is teenwoordig in ons lewens. Hierdie wete maak ’n beliggaamde waarheidsoeke moontlik. [...] As ons die waarheid het, as ’n besitting, as iets bloot buite ons, dan het ons ook nie regtig God en mekaar nodig nie. Die “meer” wat Jesus in die Bergrede oor praat, dui op waarheid, nie as ’n instemming tot waarhede nie, maar ’n soeke in verhoudinge – in verhouding met God en mekaar. Dit wys heen na ons afhanklikheid van God en interafhanklikheid van mekaar.

Ek is dankbaar dat hierdie “mekaar” selfs mense insluit wat baie ver van die NG Kerk wegstaan. Ek leer dalk meer by hulle as by ander teoloë en NG Kerk-lidmate.

My grootste leerskool oor hierdie interafhanklik in die kerk is oor hoe ek sin maak van wit wees.

6. Om te beweeg van ’n wit kerk na ’n kerk met ’n menslike gelaat

Ek sou nie ’n lidmaat van die NG Kerk wees as ek nie wit en Afrikaans was nie. Hierdie stelling is voor die hand liggend, tog is die gevolg van hierdie etniese vorm van Christenskap nie iets wat aldag eksplisiet bevraagteken of uitgedaag word binne die NG Kerk nie.

’n Sleutel-draaipunt in my lewe en daarmee saam ’n hertoewyding tot die NG Kerk is te danke aan iemand wat op ’n punt gekies het om die NG Kerk te verlaat – Beyers Naudé. Voor ek nog besluit het om my nagraadse kwalifikasie te voltooi om ’n predikant te word (MDiv), het ek ’n tesis geskryf oor die publieke teologie van Oom Bey. Sy worsteling met sy gehoorsaamheid aan God en hoe dit diep verbind was aan sy lidmaatskap aan die NG Kerk en sy uiteindelike wegbreek van die Afrikaner-establishment en die NG Kerk in 1963, het my oë laat oopgaan – teologies, histories en ook oor die kerk.

........
Dit was duidelik dat bediening in die NG Kerk van my sou vra om bewustelik aan te hou beweeg, soos Klippies Kritzinger al in die 1980’s dit beskryf het, van ’n “wit kerk” na ’n kerk met ’n “menslike gelaat”.
........

Nie net het ek in Naudé se lewe, preke en toesprake die diepte van ’n teologie van hoop en geregtigheid ontdek nie, maar ook ’n beter historiese begrip begin ontwikkel van die etniese aard van die (wit) NG Kerk. Soos ek die kontoere van die lang teologiese stryd teen ’n wit, etniese Christenskap in Suid-Afrika begin ontdek het, het my eie roeping as lidmaat van ’n post-1994-NG Kerk meer sigbaar begin raak. Ek het ’n sensitiwiteit en aanvoeling vir onreg en mag binne die kerk begin ontwikkel. Meer nog, kon ek begin sien dat die stryd om rasversoening en die herstel van ’n verdeelde, ongelyke samelewing geensins voltooi is nie. Ek het ’n voorsmaak gekry van wat dit sou beteken om bevestig te word in die amp van dominee binne hierdie verhaal. Dit was duidelik dat bediening in die NG Kerk van my sou vra om bewustelik aan te hou beweeg, soos Klippies Kritzinger al in die 1980’s dit beskryf het, van ’n “wit kerk” na ’n kerk met ’n “menslike gelaat”.

Sedert my legitimasie in 2016 is ek bevoorreg om met kollegas en tydgenote omring te wees wat dieselfde aanvoeling en roeping deel. Te danke aan die wysheid, integriteit en leiding van ouer kollegas, binne en buite die kerk, kon ons die laaste paar jaar ’n leergemeenskap vorm wat fokus op die ontwikkeling van kapasiteite, bewustheid en kennis oor witwees as ’n weg tot dieper versoening. Dit is veral die geestelike toewyding aan versoening en fasiliteringsvaardighede van Wilhelm Verwoerd wat hierdie pad gelyk gemaak het.

Beyers Naudé is later weer terug verwelkom deur die NG Kerk, tog bly die visie van eenheid, versoening en geregtigheid onvoltooid, en die hoeksteen van wat dit beteken om kerk te wees in (Suid-)Afrika. Ek aanvaar hierdie lewenslange taak wat vir alle lidmate van die NG Kerk voorlê. Om nie hierdie verantwoordelikheid te aanvaar nie, sal wees om genade te ontken.

7. Om sin te maak

Die NG Kerk staan binne ’n waardevolle en ryk erfenis van akademies verantwoordbare teologie. Afgesien daarvan dat deel van hierdie erfenis verskillende strominge insluit – soos onder andere die teologiese begronding vir apartheid – maak hierdie akademiese milieu saak. Dit maak saak omdat gesonde, verantwoordelike, verdedigbare teologie nie los kan staan van ’n intellektuele landskap nie. Om sin te maak binne ’n wetenskaplike wêreld wil ek ook my geloof rasioneel, publiek en met reikwydte kan verantwoord en verdedig. Hierin het die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Teologie en die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie ’n leidende rol in my eie reis gespeel. Ek was bevoorreg gewees om my doktorsgraad aan die Vrije Universiteit in Amsterdam te voltooi en daardeur blootgestel te word aan ’n internasionale akademiese gemeenskap. Hierdeur is, onder andere, my eie vrae en worsteling met die kerk histories in konteks geplaas; het ek geleer oor hermeneutiese vaardighede om die Bybel binne konteks te bly lees; en is ek vandag beter daartoe in staat om te stoei met die etiese uitdagings van ons tyd as teoloog.

Ek het geleer dat om sin te probeer maak, ook van die NG Kerk, is ’n goeie beginplek Dietrich Bonhoeffer se vraag: “Wie is Jesus Christus, vir ons, vandag?”

Ten laaste

Ten spyte van al die NG Kerk se tekortkominge, teenstrydighede en liturgiese groeipyne, kan ek nie sê dat die koeël deur die kerk is nie. My hoop lê daarin dat daar nuwe lewe kan kom in en deur die kerk, in alle vorme, deur kreatiewe instemming tot Christus se handeling in die wêreld.

.......
Ek kies die kerk, want ek kies vir God. God is nie beperk tot die NG Kerk nie, tog beteken dit nie dat ek (vir nou) God buite hierdie kerk hoef te gaan soek nie.
.......

Ek kies die kerk, want ek kies vir God. God is nie beperk tot die NG Kerk nie, tog beteken dit nie dat ek (vir nou) God buite hierdie kerk hoef te gaan soek nie. Daarom kan ek bly hoop dat ’n keuse om “ja” te sê my sal aanhou help om my identiteit te vestig; om skeiding (in die kerk) te oorbrug; om liefde bo vrees te kies; om die unieke aard van die kerk te verstaan; om saam met ander te bly leer; om te beweeg van ’n wit kerk na ’n kerk met ’n menslike gelaat; en om sin te maak.

 Ja! Ja? Ja.

Lees ook:

Die NG Kerk en die toekoms

Is die NG Kerk ’n slagoffer van kerkkaping?

NG Kerk reik uit oor grense

Die opkoms en ondergang van die NG Kerk deur Jean Oosthuizen: ’n lesersindruk

Drie dekades van verandering – die NG Kerk se pad van verruiming deur Neels Jackson: ’n lesersindruk

Op soek na ’n billike beeld van die kerk

Homoseksuele predikante: ’n Regs- en morele dilemma

  • 3

Kommentaar

  • Stefaan de Jager

    Wanneer Louis skryf: "die doop as God se eerste en mees grondliggende bevestiging van ons (my) identiteit", laat dit my opnuut besef dat my identiteit as gelowige tog nie in my doop lê nie, maar in my verlossing deur Christus. Dit is immers sola Christus (Christus alleen) en nie sola doop nie. My identiteit lê nie daarin dat ek met water gedoop is nie, maar dat ek deur die bloed van Christus gered is.

  • Lafras Verwey

    Lank het ek gewonder of ek op hierdie skrywe moet reageer. Ek let dat broer Stefaan egter nou die vloer geopen het met 'n stuitige samba. En in sy relaas het hy van die kerk se gevaarlike plofstof gaan opdiep - die vyf solas van die reformasie... (het jy nie nog jou mouterbaaik om op te gaan rondry nie, Stefaan?)

    Ek sou hier kon lys, al die redes hoekom ek nie meer kerk toe gaan nie. Maar ek gaan jou nie verveel nie. En ek hoop van harte elkeen skryf nie 'n opstel oor die redes hoekom hulle hul spesifieke kerk of denominasie verkies nie. Anders gaan ons oorlaai word met godsdienstige opstelle. En nooit by enige ander sake kan uitkom nie. Julle het dan 'n hele koerant ook, in die vorm van die Kerkbode, waar hierdie gesprekke gevoer kan word.

    Ag, miskien sal ek tog ook maar een van my besware lig teen kerk - dis leuens. Alles wat die kerk mens leer is onwaar. God, die duiwel, die sesdag-skepping, sonde, die hel, demone, engele, DIE HEMEL, lewe na die dood, wonderwerke, die wegraping, die wederkoms en die lys gaan aan. Alles maar net bangpraatstories.

    Daar het jy dit.

    Mooi 2025 verder vir jou.

  • Annora Eksteen

    Ek het gelees en gelees, en ek verstaan net al hoe meer, en hoe meer ek vir ondermeer Richard Carrier lees, verstaan ek net al hoe meer en meer.

    Dit is goed om baie te begin verstaan het en dit is goed om te leer aanvaar het en om vry te gekom het van die geloof. Baie goed. Dit is ontsaglik wonderlik hoe dit my losgemaak het. Hoe ek sonder vrees vir dié als kan leef en veral kan aanvaar dat ons sterf.

    Kerkgangers en ander gelowiges kan nie. Die dinge wat gelowiges glo (en moet glo) meer as enige iets anders in die wêreld sal dan onder ernstige bedreiging wees. Dit sou moeilik wees om te verwag dat hulle ooit hierdie vooroordeel sou oorkom, wat vooroordeel 'n groter probleem vir hulle maak as vir my. Hulle het Jesus nodig om werklik te wees, maar ek het nie die Jesus-mite nodig nie.

    Voorts verloor mens vriende en familie wat dit alles steeds onbevraagtekenend ondersteun, maar dié verlies is dit werd. Ander vra wel die vrae en probeer 'n verskil bewerkstellig wat gelyke menseregte omsluit.

    Verder is die kerk, en die Bybel seker ook, vol heel dierbare en vredevolle mense tussenin, maar nou ja. Die geweldige skade is gedoen.

    “Whatever they say about time healing, some things in life just break and can never be fixed.”
    ― Richard Osman, The Thursday Murder Club

    “You never quite know when you may hope to repair the damage done by going away.”
    ― Elizabeth Bowen, The Death of the Heart

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top