Is die NG Kerk ’n slagoffer van kerkkaping?

  • 58

Is die NG Kerk ’n slagoffer van kerkkaping? Indien wel, wat nou?[1]

1. Inleiding

Die term staatskaping het hom die afgelope paar jaar in die Suid-Afrikaanse samelewing tuisgemaak. Die woord verwys na die praktyk waar persone via maatskappye ondernemings in staatsbesit ("state owned enterprises") finansieel plunder tot die individue en hulle maatskappye se eie en onregmatige voordeel. Dit wat wesentlik tot die entiteit behoort, word van die entiteit beroof tot so 'n mate dat daar by wyse van spreke net 'n leë dop oorbly. In 'n onlangse artikel word die volgende omskrywing van staatskaping gegee: "[S]tate capture can be defined as the actions of individuals or groups both in the public and private sectors, influencing the formation of laws, regulations, decrees and other government policies to their own personal advantage" (Martin en Solomon 2017:22). Die belangrikste gevolg (aldus die artikel) van staatskaping is dat die staat sy effektiwiteit en legitimiteit verloor (Martin en Solomon 2017:22). Tans is die Zondo-kommissie na staatskaping byna daagliks 'n nuusitem.

Ek gebruik die begrip staatskaping as metafoor vir wat in die kerk aan die gebeur is en vra die vraag of daar nie ook dalk iets soos kerkkaping is nie.[2] Kan die kerk (onwetend) geplunder word van dit wat wesentlik tot die identiteit, die aard en missie van die kerk behoort tot so mate dat ons op 'n dag gaan ontdek al wat van die kerk oorgebly het is niks anders as 'n leë dop nie en dat die kerk sy effektiwiteit en legitimiteit verloor het? Indien wel, is daar 'n weg uit kerkkaping?

2. Die kerkkapers van ons dag

2.1 Tydsgees

Vir die doeleindes van die artikel word net twee terme,[3] sekularisme en postmodernisme, onderstreep in die omlyning van die tydsgees, gewoon omdat die bepaling van die tydsgees eintlik ('n komplekse) tema op sigself is. Ons leef in 'n tyd van toenemende sekularisme; trouens sekularisering as proses is besig om hom in die Suid-Afrikaanse samelewing te voltrek. Die politieke oorgang van 1994 het die proses versnel. Formeel en grondwetlik is Suid-Afrika 'n sekulêre staat. Die beoefening van die Christelike godsdiens in openbare ruimtes het vir alle praktiese doeleindes verdwyn; vergaderings word nie meer noodwendig met Skriflesing en gebed geopen nie; gebedsbyeenkomste en Bybelstudies by besighede tydens die etensuur word ontmoedig.

Verder was die politieke bevryding vir 'n beduidende deel van Afrikaanssprekende persone meer as net 'n politieke bevryding. Dit was ook 'n godsdienstige bevryding – ek hoef nie meer lidmaat van 'n kerk te wees nie. Ek mag maar sê ek is 'n ateïs of agnostikus, Richard Dawking se God delusion maak vir my sin, om te glo in 'n God wat jy nie kan sien nie en in wie se naam 'n beleid van apartheid godsdienstige en teologiese legitimiteit verkry het, is net nie meer houdbaar nie en maak ook nie sin nie. Wat Van de Beek (2017:169) oor die toestand in Europa sê, is waar vir 'n beduidende deel van Afrikaanssprekende persone in Suid-Afrika: "We moeten ons geen illusies maken. Europese mensen in de eenentwintigste eeuw zijn God kwijt en we kunnen denken, doen en willen zo veel als we kunnen, we krijgen Hem er niet mee terug." Dan is dit 'n klein tree om te gee om te sê van die kerk distansieer ek my. Daar kan ook in dié verband van "post-Christenskapheid" gepraat word – dit is die tyd waar die Christelike godsdiens sy invloed verloor het (Niemandt 2007:10).

Postmodernisme het ook bygedra tot 'n tydsgees waarin daar min ruimte vir godsdienstigheid en kerk is. Terselfdertyd en byna kontrasterend maak postmoderniteit ruimte vir godsdienstigheid/spiritualiteit en is dit begryplikerwys glad nie voorskriftelik ten opsigte van watter godsdiens nie. Instansies soos die kerk is deel van die sogenaamde grand narrative wat met agterdog bejeën moet word en wat voortdurend gedekonstrueer moet word. Postmodernisme het ook as een van sy kenmerke 'n toenemende individualisme. Migliore (2014:260) merk in dié verband op: "Some of our most powerful cultural myths and images center on the self-made and independent individual, who achieves success in life without assistance from others. Independence rather than interdependence is our cultural bias ..."

Die gevolg hiervan is 'n gevoelige funksieverlies van die kerk. Waarvoor is die kerk nog daar? Die kerk bemiddel nie vir God nie. Die kerk is nie die enigste ruimte waar ek 'n ontmoeting met God kan of hoef te hê nie. Hierdie tendens word duidelik gesien by belangrike gebeurtenisse in mense se lewens. Huwelike word voltrek by huwelik-"venues" wat ook klein en intieme kapelletjies het. Waar 'n huwelik dus nog kerklik bevestig word, is die kerkgebou van die plaaslike gemeente nie meer nodig nie. Begrafnisdienste waar daar afskeid geneem word van 'n geliefde, kan sekulêr wees sonder 'n sweem van godsdienstigheid in die vorm van godsdienstige rituele. Daar is versoeke om die doop van 'n baba 'n privaat familiegebeurtenis te hou wat buite die erediens van 'n plaaslike gemeente gedoen word. Sulke belangrike draaimomente in die lewe word geprivatiseer en verindividualiseer en dus weggeneem uit die domein van die kerk, waar juis hierdie en ander draaimomente gemeenskaplik beleef word deur die gemeente binne die gemeenskap van gelowiges. Indien sulke geleenthede nog godsdienstig ingeklee word, word die kerk gesien as die instansie wat die behoeftes van individue en klein homogene groepe moet dien (Migliore 2014:260).

Buite die kerk is daar ook (miskien selfs veral) spiritualiteit te vind. Die tydsgees van sekularisme en postmodernisme het die kerk gekaap.

2.2 Finansies

'n Refrein wat van die kleinste gemeente in die diep platteland tot in die kantore van die algemene sinode van die NG Kerk gehoor word, gaan oor die toenemende gebrek aan fondse. Te min geld plaas gemeentes in 'n soort van oorlewingsmodus. Dominees word nie volgens sinodale skaal vergoed nie; kontrakposte word al hoe meer algemeen; dominees tree af om pensioen te ontvang en word onmiddellik weer aangestel in dieselfde gemeente om hulle bekostigbaar vir die gemeente te maak en vir die dominee die dubbele voordeel van pensioen en salaris te verseker. In sommige gemeentes het die werk van die dominee verskraal tot dié van fondswerwer. Vir die dominee in 'n gemeente wat finansieel sukkel, is dit belangrik dat die gemeente finansieel oorleef, want dit is letterlik die brood en botter van die dominee en sy gesin wat hier onder bedreiging kom.

Gemeentes se rede vir bestaan word geldinsamelingsprojekte om die gemeente vlot te hou en om 'n dominee te bly bekostig. In 'n onlangse artikel in Kerkbode (Bosman en Nel, bl 12) word die vraag gevra of die NG Kerk nie deur die instandhouding van middelklaswaardes gekaap is nie, waardes wat op selfinstandhouding en dissipelskap met minimale koste neerkom.

Geld (of die gebrek daaraan) het die kerk gekaap. Die voortdurende gebrek aan voldoende fondse tap die energie van kerke en so word die kerk gekaap van haar eintlike roeping en bestaansreg.

2.3 Politieke klimaat en beroepswêreld

Ons leef in 'n hoogs onstuimige politieke klimaat. Die bekende lysie van korrupsie, gewelddadige misdaad, plaasmoorde, stakings, geweld, gebrekkige dienslewering, populistiese retoriek wat rassespanning aanwakker en werkloosheid het 'n effek op die psige van Afrikaanssprekende lidmate van die kerk. Die Ramaforie nadat Cyril Ramaphosa in Desember 2017 as leier van die ANC verkies is en toe ook president van die land geword het, taan. Die politieke onstabiliteit in byvoorbeeld Noordwes wat onder administrasie is, die sage rondom die burgemeester van Kaapstad, die politieke spanning in KZN, die voortdurende interne verdeeldheid binne die regerende party, en politieke moorde maak van Suid-Afrika 'n onseker omgewing. Die algemene verkiesing van 2019 is besig om 'n al groter rol in politieke retoriek te speel. Die dominante politieke diskoers van grondonteiening sonder vergoeding het 'n verlammende uitwerking op verskillende sektore (landbou, politiek, ekonomie) van die samelewing.

In die Mail & Guardian van 2–8 Junie 2017, bl 23 verskyn daar 'n artikel met die titel "The politics of anger in an angry world" waarin die skrywer die saak beredeneer dat daar ten spyte van soveel vooruitgang 'n inherente woede in gemeenskappe is. Woede word gevoed deur ervarings van vernedering en verraad. Toegepas op Suid-Afrika is my indruk dat ervarings van vernedering en verraad inderdaad deel is van die Suid-Afrikaanse werklikheid. Die sensitiwiteit rondom rasverwante voorvalle wys hoe Suid-Afrikaners die gemeenskap nog as vernederend ervaar en dat die politieke bevryding van 1994 nie die verwagte resultate gebring het nie, wat Suid-Afrikaners laat voel hulle is verraai.

Die kerk, en met name die NG Kerk, speel in die groter prentjie van die Suid-Afrikaanse landskap 'n al kleiner rol. Die kerk kan nie sekerhede verskaf vir die onseker tyd wat ons nou beleef nie. Die kerk kan nie misdaad bekamp of 'n werkverskaffer word nie. Versoekskrifte, petisies of verklarings van die NG Kerk aan wie ook al het nie regtig invloed nie. Die NG Kerk se invloed by die regering is op 'n laagtepunt. Lidmate besef dat hulle 'n baie klein minderheid in die land is waarin daar weinig of geen politieke bedingingsmag beskikbaar is nie. Volgens die jongste statistiek is ongeveer 80% van die bevolking swart en net 8% van die bevolking wit. Polities is Afrikaanssprekende mense ontmagtig (Giliomee 2014:582) en daarom is hulle ook onmagtig om enige verandering te weeg te bring. Die ontmagtiging het ook 'n ontnugtering meegebring. Die ontmagtiging met die ontnugtering het ook ontvlugting tot gevolg. Navorsing wat hieroor gedoen word, praat van 'n inwaartse migrasie en toon aan hoedat Afrikaansprekendes hulle terugtrek agter 'n "boereworsgordyn" in bepaalde woonbuurtes in groot sentra om sodoende enklawes te vorm (Van der Westhuizen 2016:1–9). Ek vermoed dat Afrikaanssprekende kerke hierin ook 'n rol speel om 'n veilige hawe vir Afrikaanssprekendes te wees. In 'n artikel op Netwerk24 van 11 Julie 2018 skryf Reggie Nel: "Om gemeentelid van 'n kerk te wees, is in talle gevalle steeds 'n vorm van laer trek. Ons verkies steeds om in ons private lewe te onttrek en tyd deur te bring met mense wat dieselfde as ons is." Die kerk is die een plek waar ek nog onbevange in Afrikaans kan praat, bid en sing, en sosiaal verkeer sonder om bedag te wees op politieke korrektheid of om oor te slaan na Engels wanneer my Engelssprekende Hindoe-Indiër-kollega haar by die geselskap aansluit.

Die politiek het die kerk gekaap. Trouens, om lidmaat van die NG Kerk te wees tel eerder teen jou as wat dit vir jou tel. Polities het die wind teen die kerk gedraai.

Dit is in dié verband dat ek die vraag wil vra: Is die deursneedominee in die NG Kerk al tuis in die demokratiese Suid-Afrika van na 1994? Ek vra die vraag, want die gemiddelde NG Kerk-dominee se kontak met mense is waarskynlik in die omgewing van 90% nog met wit, waarskynlik Afrikaanssprekende, NG Kerk-lidmate, en min met die diversiteit wat Suid-Afrika kenmerk. Die leefwêreld van die lidmate,daarenteen, is drasties anders. Lidmate werk meestal saam met kollegas van ander kulture, godsdienste en waardes, in 'n omgewing waar Engels die medium van kommunikasie is. Kollegas van lidmate is dikwels professionele mense wat goedgekwalifiseerd is en in toenemende mate die lynhoofde van Afrikaanssprekendes is. Terwyl dominees onderling grappies maak oor hulle onvermoë om hulle goed uit te druk in Engels, het lidmate 'n vaardigheid in Engels wat gewoon die taal van die besigheid, administrasie en wetenskap is. In dié verband het Giliomee (2014:579–80) oortuigend aangetoon hoe ingrypend die skuif na Engels as taal van besigheid en wetenskapstaal is. Tot watter mate is daar selfs enige oorvleueling tussen die wêreld van die dominee en die wêreld waarin lidmate van die gemeente leef? As dit regtig twee wêrelde is, tot watter mate is die dominee nog bevoeg om relevant te preek om gelowiges toe te rus vir hulle getuienis in 'n ander en soms ook vreemde wêreld?

2.4 Teologiese klimaat

Die kerklik-teologiese klimaat is moeilik om te peil. Aan die een kant is daar die verskynsel wat ek noem 'n privaat piëteit. Mense trek hulle terug in 'n knus en veilige persoonlike verhouding met die Here wat privaat beoefen word. Is preke nie ook al hoe meer gerig op die koestering van dié soort van 'n privaat piëteit nie? Ek is gelowig buite die kerk. Migliore (2014:260) skryf in sy "Faith seeking understanding" van "a self-centered piety in which the church is quite secondary and entirely optional. Being a Christian is an individual matter and is not essentially bound to life with others." Tot watter mate sou hierdie tipering van die kerk en gelowiges in die VSA ook in Suid-Afrika onder Afrikaanssprekende gelowiges geld?

Terselfdertyd is daar 'n soeke na 'n openbare demonstrasie van geloof. Massasaamtrekke van duisende mense, verkieslik in die oop veld waar gelowiges saam kan Bybel lees en bid en na 'n vurige prediker kan luister, is een van die kenmerke van ons tyd. Ons hou kerk buite die kerk. Ons is akerklik kerklik. Dit wat tipies kerk was, is weg uit die kerk na ander plekke waar “magtige mans” vergader en waar dit “nou die tyd” is.

Maklike antwoorde op moeilike vrae is wat ons verkies. Moenie geloof kompliseer nie. Moenie etiese vraagstukke kompliseer nie. Sê net wat die Bybel sê. "Dit staan mos duidelik in die Bybel," is die soort van uitsprake wat gemaak word. Dit is waarom die kerk so sleg vasgeval het in die gesprek rondom selfdegeslagverhoudings. Die tekste sê dit mos. Moenie ons verwar met die kompleksiteit van literêre en historiese kontekste van Bybeltekste nie. Dit is net te ingewikkeld. Fundamentalisme bied 'n maklike uitweg uit komplekse probleme.

Preke moet verbruikersvriendelik aangebied word. Hoe pittiger die sêgoed van die dominee en hoe roerender die videogreep, hoe beter. Die dominee het 'n verhoogkunstenaar geword wat lidmate moet boei met kwinkslae wat hulle laat skater van die lag en wat verhoogtoertjies uithaal wat met een woord merkwaardig is. Eredienste vergelyk goed met goedvoelrubrieke in tydskrifte en motiveringsprekers wat landwyd optree. Hoe dunner die teologiese basis van 'n preek is, hoe dikker word die aantreklike verpakking waarin dit aangebied word. Om die dun teologiese basis te verbloem, moet preke vermaaklik aangebied word (Snyman 1998:16).

Ook op dié manier word die kerk gekaap. Die inhoud en rykdom van die boodskap van die evangelie wat aan die kerk toevertrou is om te verkondig (Matt 28:18–20), word gestroop en verplaas na 'n private piëteit en na massademonstrasies van geloof en aanbidding. Ons word verlei met maklike antwoorde op komplekse vrae. Die teologiese inhoud van 'n liturgiese gebeure word verdun tot maklik-verteerbare oppervlakkige sêgoed van 'n dominee wat met los dog treffende gedagtes lidmate laat goed voel oor hulleself.

Teologies word die kerk gekaap – beroof van die durf om grondig teologies na te dink oor die vraagstukke van die dag.

Hierdie omlyning van die tyd waarin ons leef, is belangrik vir 'n koersbepaling vir die toekoms. Om die toekoms waarvoor ons bid en werk in te gaan is dit goed om te weet van waar ons vertrek. Hierdie soort van teologiese karteerwerk is 'n poging om 'n roetekaart binne 'n bestaande geloofslandskap uit te werk. Teologiese kartering is dus nodig en belangrik vir almal wat deur die landskap van geloof reis.[4] Die kartering van die tyd het te doen met die groter prentjie van wat besig is om te gebeur. Dit het ook te doen met die kleiner, plaaslike prentjie van wat aan die gebeur is in die provinsie/stad/dorp/gemeenskap/gemeente waarin ek as predikant my bevind.

3. Riglyne vir die oplossing vir kerkkaping (oftewel, die toekoms waarvoor ons bid en werk)

3.1 Om geloofwaardig oor God te praat

Dit is die kerk se taak om God ter sprake te bring in die wêreld. As die kerk dit nie doen nie, gaan niemand anders dit doen nie. Dit is opmerklik hoedat daar in die teologie tans 'n nuwe fokus op God is. Twee onlangse boeke deur Nederlandse dogmatici handel pertinent oor die Godsleer (in beide gevalle oor God as Vader) (Van de Beek 2017; Muis 2016). Verder is daar 'n hernude belangstelling in die Triniteit op te merk (Chalamet en Vial (reds) 2014; Grenz 2004; Phan (red) 2011; Woźniak & Maspero (reds) 2012). Hoe ons oor God praat en wat ons van God sê, staan in die sentrum van teologiese gesprek.

Om geloofwaardig oor God te praat het die betekenis van om oortuigend oor God te praat. Ons moet 'n oortuigende argument op die tafel kan sit waarmee geloof in God verwoord kan word. Teenoor 'n toenemend gesekulariseerde omgewing het die kerk 'n taak om God op 'n oortuigende wyse ter sprake te bring in die wêreld. Die kerk sal homself die vraag moet afvra hoe om dit te doen. Die gehalte en diepte van 'n kerk se teologie is dus hier ter sprake. Teologies moet die kerk toegerus wees om God effektief ter sprake te bring in die komplekse konteks waarin ons leef.

Dus: teenoor oppervlakkige eredienste wat eerder wil vermaak, waar die dominee motiveringspraatjies aanbied in die plek van preke, waar maklike antwoorde op moeilike vrae gegee word, moet God ter sprake gebring word vanuit die Bybel; en vanuit 'n werklike belewenis van die sakrament word eredienste egte ontmoetingsgeleenthede met God. Eredienste word die aanrakingspunt tussen God en mens deur die Woord, die sakrament, gebed en sang en die gemeenskaplike belewenis van 'n gemeenskaplike geloof.

Om God ter sprake te bring moet ook gedoen word op 'n manier wat waardig die geloof is waarin ons staan. Dit gebeur nie altyd nie. Die styl waarin en die manier waarop die debat rakende selfdegeslagverhoudings hanteer is, was nie altyd waardig die geloof nie. Die kerk doen en sê dinge wat neerkom op 'n onwaardige manier van doen en praat oor geloof en God. 'n Amerikaanse pastoor wat beweer Jesus het hom oortuig om 'n vliegtuig van etlike miljoen dollar aan te koop is nie 'n waardige wyse om geloof ter sprake te bring nie. Om mense met insekdoder te bespuit of om hulle gras te laat eet as deel van religieuse handelinge is nie waardig die evangelie nie. Om met fanfare ‘n persoon uit ‘n doodskis te laat opstaan, is nie waardig die evangelie nie. Ons maak die geloof soms ongeloofwaardig met die woorde en dade van die kerk. Migliore (2014:261) praat van die "conspicuous and disturbing discrepancy between the expressed faith of the church and the actual practice". Die boodskap van God se liefde en genade in Jesus Christus wat die kerk verkondig, klop nie altyd met die liefdeloosheid en ongenadige manier van doen en sê van die einste kerk wat liefde en genade verkondig nie.

Die geloofwaardigheid waarmee ons in en buite die kerk oor God praat, word gerugsteun deur die manier waarop God ter sprake gebring word op nieverbale manier in die handelinge van die kerk. Wat die kerk en haar lidmate doen, bring God ter sprake in 'n post-1994, hoogs gesekulariseerde, postmoderne Suid-Afrikaanse gemeenskap. Die metafoor van die kerk as die liggaam van Christus (I Kor 12:27) is hier van toepassing. Die kerk as liggaam van Christus maak God in en deur Christus teenwoordig in die wêreld. Die kerk is die beliggaming van God in die wêreld. Die metafoor van die kerk as die volk van God lê ook die hegte verbintenis tussen God en die kerk. Dit is deur die kerk dat God teenwoordig is en word in die wêreld. Resane (2017:228) argumenteer dat Christene die beelddraers is van die Drie-enige God. Vir die wêreld om God te sien, word na die kerk gekyk. Die kerk is dus die verteenwoordiging van Christus.

Gemeenskapsbetrokkenheid op 'n manier waarop kerke sigbaar en uiteindelik ook onmisbaar vir die gemeenskap geag word, is 'n saak waaroor die plaaslike kerk kreatief kan nadink en doen. Die kerk het 'n roeping om sosiaal relevant vir die gemeenskap te wees. Dit is nie maklik nie, want die funksies wat die kerk tradisioneel in die gemeenskap vervul het, het selfstandig en los van die kerk ontwikkel, soos die voorsiening van onderwys in die vorming van skole en universiteite en gesondheidsdienste in die vorm van hospitale.

As daar 'n teenstrydigheid is tussen dit wat die kerk van haarself glo en wat die kerk in die praktyk doen, maak dit die kerk ongeloofwaardig in die wêreld en word die praktyk van die kerk 'n vorm van 'n ongeloofwaardige praat oor God. Egtheid is 'n absolute en onontbeerlike voorwaarde in die konteks waarin ons leef (Lemmelijn 2017:17). Positief gestel: die kerk moet waardig die evangelie wat verkondig word, optree in die wêreld.

3.2 'n Herontdekking en beklemtoning van die kenmerke en eienskappe van die kerk

In die teologie besoek ons gewoonlik die verlede om van daaruit riglyne vir die toekoms te kry. In die tyd van die Reformasie is daar twee kenmerke van die kerk geïdentifiseer: Woord en sakrament. Calvyn (Institusie IV, I, 9) sê die volgende van die kerk: "Want op geen enkele wijze moeten we er aan twijfelen, dat overal, waar we zien, dat Gods Woord zuiver gepredikt en aangehoord wordt, en de sacramenten na Christus' instelling bediend worden, een kerk van God is ..." Die kerk is dus die gemeenskap van mense vergader rondom Woord en sakrament (Grenz 2003:262). God kom ter sprake via die Woord.

Die Bybel is die dokument waardeur God Homself bekendstel en daarom kan ons nie anders as om vanuit die Bybel God ter sprake te bring in die kerk en die gemeenskap nie. Om presies dit te kan doen het die kerk teologiese vaardighede nodig. Teologiese vaardighede wat die Bybel ernstig opneem as 'n ou boek wat eeue verwyderd is van die kultuur, taal, tydsgees, wêreldbeeld en idioom van vandag. Teologiese vaardighede wat hermeneuties en teologies so met die ou boek omgaan dat dit 'n geloofwaardige woord kan wees ondanks die enorme afstand tussen ons en daardie boek. Die teologiese vaardighede moet Sondag vir Sondag in eredienste van die kerk gesien word in die liturgie wat gevolg en die preke wat gepreek word. Die teologiese vaardighede moet ook weerspieël word in die manier waarop daar deelgeneem word aan die debatte van die dag en vraagstukke wat op die kerk se tafel kom en waaroor daar uitsprake moet kom. Wanneer so met die Bybel as 'n ou boek in 'n nuwe wêreld omgegaan word, ontdek ons dat die Bybel ook 'n nuwe boek in 'n ou wêreld is. Die Bybel is die verhaal van God se voortdurende nuwe inisiatiewe met mense. Die Bybel is die boek wat telkens nuwe moontlikhede vir die mens open. In plaas van sonde is daar verlossing; in plaas van die ewige dood is daar die ewige lewe; in plaas van 'n lewe sonder God leef ons die lewe met God; in plaas van ongeloof is daar geloof; in plaas van vergelding is daar vergifnis; in plaas van verwydering is daar versoening; in plaas van wanhoop is daar hoop; in plaas van haat is daar liefde.

Ons het ook 'n herwaardering van die sakramente nodig. Postmoderne mense hou van simbole. Simbole praat met postmoderne mense. Juis in 'n tyd waarin postmoderne mense sensitief is vir, en ook 'n nuwe waardering het vir, simbole, is die gereformeerde tradisie arm aan simbole. Dit is veral 'n herwaardering van die nagmaal waaraan ons 'n behoefte het. Die nagmaal is meer as 'n herinnering aan die kruis van Jesus Christus. Die nagmaal is die sigbare, tasbare, ruikbare, eetbare vereniging van gelowiges met die lewende Christus. Wie dus nagmaal gebruik, dink nie net terug aan die kruis nie; die nagmaal is die konkrete belewenis van gelowiges se hegte en intieme verbintenis met Christus. Calvyn lê groot klem op die misterie van die nagmaal. Op watter wyse Christus in die nagmaal teenwoordig is, is vir hom 'n verborgenheid wat te hoog is om met sy verstand te begryp of in woorde weer te gee (Calvyn IV, hoofstuk XVII, 32). Terselfdertyd huiwer Calvyn nie om te sê: "In zijn heilig Avondmaal gebiedt Hij (Christus) mij onder de tekenen van brood en wijn zijn liggaam en bloed te nemen, te eten en te drinken" (Calvyn IV, hoofstuk XVII, 32). Die viering van die nagmaal, die ontvangs en eet van die brood en die wyn bied ons die ruimte waarin ons die genade en liefde van God in ons lewe kan inneem en daadwerklik ons eie kan maak (Burger 1999:180). Wanneer ons 'n dieper, ruimer begrip van die nagmaal het, vermoed ek ons sal ook minder probleme met die doop hê.

3.3 'n Herontdekking van die klassieke notae ecclesiae van die kerk

Ons sal verder in die geskiedenis moet teruggaan om te kyk wie en wat die kerk is vir 'n koersbepaling na die toekoms toe. By die Konsilie van Konstantinopel in 381 is die sogenaamde vier notae ecclesiae aanvaar wat later ook aanvaar is by Chalcedon in 451 in die Belydenis van Nicea (Bettison 1975:25–6). Hierdie vier notae ecclesiae (una, sancta, catholica en apostolica) is die klassieke uitdrukking van wat die kerk is en wat die kerk behoort te wees of kan wees in die toekoms. Berkhof (1973:429) het in dié verband die opmerking gemaak dat ons in die kerk "een voortdurende bezinning op de notae" nodig het "als zelfbezinning en zelfkritiek". Met die oog op die toekoms waarvoor ons bid en werk, het die kerk dus 'n tweeledige taak. Aan die een kant sou dit goed wees om die klassieke kenmerke en eienskappe van die kerk te herbesoek. Die kerk se tweede taak sou wees om te vra hoe die eienskappe in die toekoms gaan lyk. Watter inhoud gaan die kerk in die toekoms gee aan die eenheid (una), heiligheid (sancta), algemeenheid (catholica) en apostolisiteit (apostolica) van die kerk?

  • Die kerk is een

Dat die kerk een is, hoef skaars betoog te word. "Oneness is the defining attribute of the body of Christ" (Duncan 2011:2). In die Ou Testament het God maar een volk en in die Nuwe Testament is die metafore wat dui op die eenheid van die kerk eintlik oorweldigend: die kerk as die liggaam van Christus (I Kor 12); die bruid van Christus (Efes 5:23–32); gebou van God (I Kor 3:9), volk van God (I Petr 2:9). Die kerk is een en moet daarom een wees. Die kerk is egter helaas nié een nie. Die eenheid van die kerk moet dus op die agenda van die kerk wees vir die toekoms waarheen ons op pad is. Daar is bemoedigende tekens dat die kerk inderdaad 'n groter eenheid vertoon deur die ekumenisiteit van die kerk. Is nouer ekumeniese bande die gestalte van die eenheid van die kerk in die toekoms?

Is die eenheid van die kerk binne-in die NG Kerk-familie laer op die agenda as 10–15 jaar gelede? Vir die geloofwaardigheid van die kerk in sy getuienis in die wêreld sal die groter sigbare eenheid van die kerk baie beteken. Oor presies hoe die eenheid moet lyk, sal ons weer kreatief moet dink.

Teenoor 'n verindividualiserende gemeenskap is die mens 'n sosiale wese waarin die kontak met mense belangrik is vir menswees. Die eenheid van die kerk is nie net 'n eenheid van struktuur nie, maar moet ook gesien kan word in die koinonia van die kerkgemeenskap. Die eenheid van die kerk bring nie net kerke bymekaar nie; die eenheid van die kerk bring veral ook mense in die kerk bymekaar. Om aan die kerk as gemeenskap te dink word al hoe belangriker. Grenz (2003:252) sê in dié verband: "At the heart of of a postmodern Christian ecclesiology is the concept of the church as a community."

In 'n toenemend verdeelde Suid-Afrika word die sigbare eenheid van die kerk al hoe belangriker. Waar gelowiges met mekaar kan versoen, skep dit hoop dat versoening ook in die breër gemeenskap kan gebeur, veral omdat Suid-Afrika 'n land is waar godsdiens nog betreklik belangrik is. Waar lidmate van die kerk eenheid beleef, bring dit gelowiges nader aan mekaar om mekaar se nood en behoeftes met mekaar te deel en om dan op so 'n manier mee te werk aan groter geregtigheid in die samelewing. Die eenheid van die kerk word sigbaar in die solidariteit wat gelowiges met mekaar deel.

  • Die kerk is heilig

Die woord heilig word teologies gewoonlik verstaan in die betekenis van "apart", "eenkant" "afgesonder" met die oog op diens aan God. Barth (1972:143) merk op dat die begrip kerk altyd die idee van afgesonderheid met hom sal hê. Die kerk is immers God se uitverkore volk (Kol 3:12), uit die mag van die duisternis weggeruk en onder die heerskappy van die Seun gestel (Kol 1:13); die kerk is geroep deur die Een wat heilig is en daarom moet die gelowiges in hulle "hele lewenswandel heilig wees" (I Petr 1:15). Om heilig en dus apart te wees het nie die betekenis van onttrekking uit die gemeenskap nie. Die teendeel is eerder waar. Juis omdat die kerk geheiligde sondaars en sondige heiliges is, is hulle deel van die mense in hulle omgewing. Moltman (1977:353–4) verduidelik aangrypend hoedat die kerk tegelykertyd communio peccatorum en communio sanctorum is met die gevolg dat die kerk haar sonde van die verlede kan bely en in die vergifnis van sonde kan glo vir die toekoms.

Lidmate van die kerk word dus gemotiveer om volgens 'n ander etiese kode te lewe (Rom 12:1–2). Waar rassisme sy kop uitsteek in 'n rassensitiewe samelewing, bly gelowiges lief hê; waar 'n gemeenskap toenemend polities en ideologies verdeeld raak, bly gelowiges versoenend leef; waar morele waardes val, bly gelowiges stylvol lewe; waar gelowiges die slagoffers word van die mees gewelddadige misdaad, word hulle nie verbitterd nie; waar korrupsie gepleeg word, bly gelowiges 'n lewe met integriteit leef. Integriteit is 'n belangrike bestanddeel van die heiligheid van die kerk van die toekoms. "Integrity therefore, is integral to Christian life, not as an optional extra or an add-on. In every thing we do as Christians, it is important that we work from pure motives, that is, all we do should be done for the good of others and conform to God's purpose" (Duncan 2011:4). Die integriteit waarmee die kerk en haar lidmate leef, word die maatstaf vir die heiligheid van die kerk.

  • Die kerk is katoliek

Die begrip algemeenheid of katolisiteit word verstaan as dit wat universeel is, verbind met alles (Moltmann 1977:348). Tradisioneel word katolisiteit van die kerk verstaan as 'n ruimtelike katolisiteit (die kerk is letterlik oral op aarde te vinde) sowel as 'n temporele of historiese katolisiteit (die kerk was van altyd af daar). Die kerk is dus meer as net die grense van 'n bepaalde gemeente of selfs kerkverband. Christus is nie net hoof van die kerk nie, God het deur Hom "alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen" (Kol 1:15–20) en daarom het die katolisiteit van die kerk met die universele heerskappy van Jesus Christus (Matt 28:20; Hand 1:8) te doen. Omdat die kerk verbind is aan Christus is die kerk ook verbind met die wêreld as geheel (Moltmann 1977:348).

Die katolisiteit van die kerk beteken aan die een kant 'n openheid teenoor die ander. Omdat die kerk verbind is aan die wêreld, is die kerk oop vir ander uitdrukkings van kerk-wees, ander kultuurgroepe, ander tale, persone met gestremdhede, persone wat seksueel anders is, gemarginaliseerdes in die gemeenskap. Terselfdertyd beteken die openheid teenoor die ander 'n erkenning van andersheid. Nie almal is dieselfde nie! Die erkenning van andersheid beteken nie die legitimering van eksklusiwiteit nie. Die openheid teenoor ander bevorder juis inklusiwiteit. Die katolisiteit van die kerk vra na die mate waarin die kerk inklusief gaan wees in die wêreld waartoe die kerk verbind is.

  • Die kerk is apostolies

Die eienskap van apostolisiteit word op tweërlei manier verstaan. Aan die een kant beteken die eienskap dat die kerk gefundeer is op die leer van die apostels. Dit is die apostels wat die evangelie van Jesus Christus betroubaar oorvertel het aan die kerk. Aan die ander kant beteken dit eweneens die verdere betroubare oordrag van die evangelie wat die kerk betroubaar van die apostels ontvang het (Barth 1972:145). Die kerk verkondig die Woord van God wat deur die apostels oorgelewer is (Heyns 1978:383) en staan dus in 'n kontinue lyn met die geloof en die lering van die apostels (Duncan 2011:6). Die kerk kan nie na gelang van nuwe omstandighede 'n ander evangelie ontwerp en verkondig nie. Die kerk is dus 'n missionale kerk. Die kerk is dus fundamenteel nie gerig op haarself nie maar op ander. Die kerk bestaan nie ter wille van haarself nie, maar ter wille van die mense wat met die evangelie van Jesus Christus bedien moet word.

Missionale kerk-wees is die vlag waaronder die NG Kerk tans vaar. In dié verband wil ek 'n kritiese stem laat hoor. Die kerk is nie nét missionaal nie – dít is 'n verenging en 'n verskraling van wat die kerk behoort te wees. Cronje (2018:15) maak 'n soortgelyke opmerking as hy sê: "Dit is egter te betwyfel of gestuur wees die volle wese van die kerk en geloofslewe omvat", en dan vervolg hy deur te sê: "'n Oordrewe klem op stuur kan maklik daartoe lei dat ons vergeet dit is God wat handel." Diversiteit is die kenmerk van ons tyd. Die kerk kan dus nie in 'n tyd van diversiteit onder net een vlag vaar nie. Inteendeel, die Bybel is 'n baie diverse boek en God handel op 'n verskeidenheid maniere met sy volk, in die kerk en in die wêreld. Die kerk is meer as net 'n missionale kerk. Die kerk is ten minste ook een, heilig en algemeen, waar erns gemaak word met die Woord en sakrament in betekenisryke eredienste.

Dit lê so ‘n bietjie in die DNS van die NG Kerk om een saak (eensydig) te beklemtoon en dan daarmee op loop te gaan vir 'n aantal jare. Dink aan die Jeug-tot-Jeug-Aksie van 1974; die Lidmaattoerustingsprogram (LTP) van die kerk; die gemeentebouteologie van die tagtigerjare, die beklemtoning van eenheid in die negentigerjare; en nou het ons die missionaliteit van die kerk as't ware ontdek as die vlag waaronder die kerk moet vaar.

Die kenmerke van die kerk kan nie los van God verstaan kan word nie. Die kerk is een omdat die kerk die liggaam van Christus is. Die kerk se heiligheid word begrond in die heiligheid van God en in die gawe van die Heilige Gees aan die kerk. Die algemeenheid van die kerk staan in verband met die handeling van God in die wêreld en sy onderhouding van die totale skepping. Die apostolisiteit van die kerk staan in verband met die missio Dei – dit is God wat van die kerk 'n gestuurde kerk in die wêreld maak.

4. Slot

Veranderings in samelewings gebeur teen so 'n vinnige tempo dat die toekoms nou reeds hier met ons is. Die toekoms is nie eendag nie, die toekoms is môre. Die kompleksiteite en die diversiteit van die samelewing, die kerk, die problematieke waarmee ons besig is moet ons verhoed om enkelvoudig of selfs eenvoudig na die toekoms te kyk. 'n Meervoudige, veelkantige aanpak van die uitdagings van die kerk is wat nou gedoen moet word. Die kerk moet weer en meer religieus word. Oor die herkoms van die woord religie is daar twee moontlikhede: religie kom van die Latyns re-ligare, wat "sterk verbind" beteken. Om religieus te wees beteken om sterk verbind te wees aan God, mekaar en die wêreld. Die woord religie kan ook verstaan word as afgelei van die Latyns re-legere wat beteken “herlees” in die betekenis van om intensief te lees. Om religieus te wees beteken om voortdurend die Woord en werklikheid intensief te lees en te herlees (Hoyt 1912:126–29; Lemmelijn 2017:19).

Daar is alle rede om met optimisme en 'n positiewe gesindheid die uitdagings van die kerk in die samelewing aan te durf. Ons het immers 'n goeie kompas in die Woord om die koers wat ons moet inslaan te bepaal. Die kerk kan herwin word van die dreigende kerkkaping wanneer ons daarin slaag om geloofwaardig oor God te praat en te doen.

 

Bibliografie

Barth, K. 1972. Dogmatics in outline. Londen: SCM.

Berkhof, L. 1973. Christelijk Geloof. Een inleiding tot de geloofsleer. Nijkerk: Callenbach.

Bettison, H. 1975. Documents of the Christian Church. Oxford: Oxford University Press.

Bosman, H en C Nel. 2018. Is die NG Kerk 'n gekaapte kerk? Kerkbode, 1 Junie, bl 12.

Burger, C. 1999. Gemeentes in die kragveld van die Gees. Oor die unieke identiteit, taak en bediening van die kerk van Christus. Stellenbosch: Buvton.

Calvijn, J. sj. Institutie of onderwijzing in de Christelijke godsdienst. Derde deel, Boek IV. Vertaling dr A Sizzo. Delft: Meinema. Sevende druk.

Chalamet, C en M Vial (reds). 2014. Recent developments in Trinitarian theology: An international symposium. Minneapolis: Fortress

Cronje, F. 2018. Die volle spektrum van Bybelse getuienis. Kerkbode, 15 Junie, bl 15.

Duncan, GA. 2011. "Ever old and ever new, keep me travelling along with you": 21st- century notae ecclesiae specifically necessary for churches in Southern Africa. HTS, 67(1), Art #851, 8 bladsye. DOI:10.4102/hts.v67i1.851.

Emery, G en M Levering (reds). 2011. The Oxford handbook to the Trinity. Oxford: Oxford University Press.

Giliomee, H. 2014. Die troebel toekoms van die Afrikaners en Afrikaans. Tydskrif vir Geestswetenskappe, 54(4):571–95.

Grenz, SJ. 2003. Ecclesiology. In Vanhoozer (red) 2003.  

—. 2004. Rediscovering the triune God: the trinity in contemporary theology. Minneapolis: Fortress.

Heyns, JA. 1978. Dogmatiek. Pretoria: NG Kerkboekhandel.

Hoyt, SF. 1912. The etymology of religion. Journal of the American Oriental Society, 32(2):126–9.

Lemmelijn, B. 2017. Mindful geluk vanuit eeuwenoude Bijbelse wijsheid. Averbode: Uitgeverij Averbode.

Marais, N. 2018. Op die foutlyn. Teologiese strominge in die NG Kerk. Ongepubliseerde referaat gelewer tydens die Lentekonferensie van die NG Kerk in die Vrystaat (2–4 September 2018).

Martin, ME en H Solomon. 2017. Understanding the phenomenon of "State capture" in South Africa. Southern African Peace and Security Studies, 5(1):21–34.

Migliore, DL. 2014. Faith seeking understanding. An introduction to Christian theology. Michigan: Eerdmans.

Moltman, J. 1975. The Church in the power of the Spirit. A contribution to Messianic Ecclesiology. Londen: SCM.

Muis, J. 2016. Onze Vader. Christelijk spreken over God. Zoetermeer: Uitgeverij Boekencentrum.

Nel, R. 2018. Kerke kan en moet help met genesing in SA. Netwerk24, 11 Julie.

Niemandt, N. 2007. Nuwe drome vir nuwe werklikhede. Geloofsgemeenskappe in pas met 'n postmoderne wêreld. Wellington: Lux Verbi.

Phan, PC (red). 2011. The Cambridge companion to the Trinity. Cambridge: Cambridge University Press.

Resane, KT. 2017. Communion ecclesiology in a racially polarised South Africa. Bloemfontein: Sun Press.

Snyman, F. 1998. Gedagtes oor die funksionering van Skrifgesag in die Nederduitse Gereformeerde Kerk. In Snyman (red) 1998.

Snyman, F (red). 1998. Is die NG Kerk nog die NG Kerk? Antwoorde op die identiteitskrisis in die kerk. Wellington: Hugenote Uitgewers.

Van de Beek, A. 2017. Mijn Vader, uw Vader. Het spreken over God de Vader. Utrecht: Uitgeverij Meinema.

Van der Westhuizen, C. 2016. Afrikaners in post-apartheid South Africa: Inward migration and enclave nationalism. HTS 72(1). a3351.http://dx.doi.org/10.4102/hts.v72i1.3351.

Vanhoozer, KJ (red). 2003. The Cambridge companion to postmodern theology. Cambridge: Cambridge University Press.

Van Wyk, J. 2017. The politics of anger in an angry world. Mail & Guardian, 2–8 Junie, bl 2.

Woźniak, RJ en G Maspero (reds). 2012. Rethinking Trinitarian theology. Londen: T&T Clark.

[1] Referaat gelewer tydens die Universiteit van Pretoria se Lentekonferensie, 18–20 September 2018.

[2] Dit is nie die eerste keer dat die metafoor toegepas word op die kerk nie. Terwyl ek besig was om aan die artikel te werk, verskyn daar in Kerkbode 'n artikel deur H Bosman en C Nel: “Is die NG Kerk 'n gekaapte kerk?” (1 Junie, bl 12) en tydens die Lentekonferensie van die NG Kerk in die Vrystaat (2–4 September 2018) gebruik Nadia Marais in haar referaat “Op die foutlyn. Teologiese strome in die NG Kerk” ook die term.

[3] Muis (2016:11) gebruik in sy boek oor die Godsleer ook die terme sekularisme en postmoderniteit/postmodernisme om die tydsgees in Nederland mee te omskryf.

[4] Marais, N. 2018. Op die foutlyn. Teologiese strominge in die NG Kerk. Referaat aangebied by die Bloemfonteinse Lentekonferensie (2–4 September 2018), ble 2–3.

Lees die LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe)-artikels hieronder:

Pastorie of nie? Die invloed van gemeentebehuising op die aftredevooruitsigte van die NGK-predikant

Lees ook ander LitNet-artikels oor die NG Kerk:

Regsgevolge volgens die Gaum-saak vir nienakoming van kerkordelike prosedures ten opsigte van besluite deur die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk

NG Kerk kry pak in die hof

Die NG Kerk se U-draai oor die Rubicon

Die opkoms en ondergang van die NG Kerk deur Jean Oosthuizen: ’n lesersindruk

  • 58

Kommentaar

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Ek sukkel om die verband te sien tussen die titel van jou essay en die inhoud daarvan. Ek sou veral dink dat die slot sou spreek tot die vraag soos gestel in die titel.

    Sondae is lankal nie meer vir kerk toe gaan nie. Dis vir laatslaap en doen wat jy wil. Ek vind die kerk se obsessie met die Bybel ongesond. Totaal en al ongesond. Hoekom die Bybel? Ons weet vandag so baie van die Bybel, dinge wat ons voorgeslagte nooit geweet het nie. Hoekom moet die kerk nog so vasklou aan hierdie boek wat duidelik deur mense geskryf is en wat soveel verwarring saai? Natuurlik sal baie mense maklike antwoorde soek. En ander meer genuanseerd dink. Die groot probleem is presies juis dat die kerk die mensdom verkeerd leer oor wat die Bybel is. Dit is beslis nie god se woord nie. En ja die kerk is 'n irrelevante wit enklave. Ons werk 6 dae saam met almal en die 7de dag gaan elke groepie na sy eie kerkie toe. Dit wys vir jou watse fossiel die kerk is. Alles aan die kerk is fossielagtig. Die eredienste. Die rasseskeiding. Die obsessie met die Bybel. Die anti-gay sentiment. Alles. Die kerk hoort in die verlede.

  • Beste Barend

    Dit gaan mos nie in die eerste plek oor wie die Bybel geskryf het maar wel oor die boodskap wat daarin vervat is en Wie daarin geopenbaar word.

    Die Bybel is mos nie oornag geskryf nie.Dit is geskryf oor 'n tydperk van bykans
    2000 jaar tot die biblioteek wat ons vandag as 'n Bybel gebruik.Dit bevat 'n goeie beskrywing van die plan van God met die pad wat Hy met sy volk.Jesus en sy kerk
    geloop het.

    Die Bybel saai nie verwarring nie.Dit is die mense wat die Bybel lees wat verwarring veroorsaak.Dit begin sommer met die begin, met die skeppingsverhale.
    Dit mag wel in die sogenaamde eerste 5 boeke verskyn,wat toegeskryf word aan Moses,maar Moses het beslis nie die skeppingsverhale geskryf nie.

    Hy kon daar oor gepraat het want sy Egiptiese agtergrond kom duidelik in sy optrede na vore.Moses is oorlede in die joodse jaar 2488 of in 1273 vC.

    Die eerste skeppingsverhaal is geskryf deur die Joodse bannelinge so tussen 586-539 vC.Die tweede kom uit die koningstydperk voor die ballingskap.

    Dan maak hul in die teenvoeters vir die Babiloniese skeppingsverhale vrylik
    gebruik van bestaande in hul omgewing en ander verhale om die Babiloniese
    skeppingsverhale met baie skeppers dikwels in stryd met mekaar te weerlê.

    Hulle is dan die mense wat postuleer dat daar net een heelal en een Oorsaak is,wat tot die onstaan daarvan gelei het-wat in ooreenstemming met die Oerknalteorie is.Hulle gaan egter verder as dit en sien dit wat ons in menslike taal
    as 'God' beskryf as die dryfveer,die krag agter dit soos dit verder in die nuwe testament na vore kom,waarin Christus as die EEN beskryf word waardeur alles tot stand gekom het.

    Wat word nou bedoel met die woord van God-hoe het mense insig verkry oor die plan van God.Die oplossing lê in die woorde van Christus aan Petrus.Mat 16.

    "17Daarop sê Jesus: “Jy is baie gelukkig, Simon seun van Jona! Want jy het dit nie by ander mense gehoor nie. Nee, my Vader in die hemel het self hierdie groot waarheid aan jou bekendgemaak."

    En dit is dieselfde God wat deur die eeue mense se gedagtes geinspireer het en
    sy wonderlike verlossingsplan aan hul bekend gestel het.Dit maak natuurlik net sin
    as jy Christus as jou enigste Verlosser en Saligmaker aanvaar het.

    As jy sy bestaan ontken is dit nie sinvol nie maar onsin.Die keuse is elke mens
    se eie keuse,

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Ek vra - wat maak die Bybel belangrik? Spesiaal? Niks. 40 000 verskillende kerksektes lees die Bybel. Of jy wil of nie, die Bybel saai chaos. Vat nou net die boek Openbaring. Hoeveel uitlegte is daar nie? Selfde met Genesis. Nee wat, die Bybel slaag nie. Hy misluk.

  • Beste Barend
    Al wat in hierdie gesprek misluk is jy, want jy verstaan nie eers die begin-Genesis nie en het dus geen kans om die res te verstaan nie. Die Bybel saai nie chaos nie, dit is mense soos jy wat lees en nie verstaan nie wat chaos saai en misluk.

    En hoe misluk die mensdom nie kollektief nie, dit kan nie eers 'n eenvoudige opdrag soos vervat in Genesis nakom nie. As daar een spesie is wat vinnig besig is om die enigste bewoonbare planeet te verwoes, is dit die mens.

    Nanoplastiek - en wie anders as die mens is daarvoor verantwoordelik? - het nie net ons waterbronne saam met ander skadelike stowwe binnegedring nie maar is vinnig besig om seelewe te verwoes.

    En dan is jy vermetel genoeg om as lid van hierdie mees verwoestende spesie wat oot hierdie planeet bewoon het te sê die Bybel en dus die Skepper wat daarin geopenbaar word, het misluk. As jy nou die Genesisverhaal mooi verstaan het, sou jy besef dat jy die eeue-oue skuldverskuiwingspel speel en besig is met skuldverskuiwing.

    Hierdie planeet het die mens nie nodig vir sy voortbestaan nie, so ook nie die Skepper nie. Ons as mens is die afhanklikes. As jy dit eers verstaan, is jy op pad om die boodskap vervat in die Bybel en die God wat daarin geopenbaar word 'n klein bietjie te verstaan wat jy sien. I KORINTHIËRS 13:12 AFR53. "Want nou sien ons deur 'n spieël in 'n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is." is ook hiervan toepassing.

    Mag dit met jou goed gaan.

  • Hoe lekker lag ek nou. As daar nie meer mense is nie, wie gaan dan die bybel lees? Poef! Weg is dan die kastige skepper ook.

  • Avatar
    CORNELIS Potgieter

    NG Kerk beslis gekaap. Drie teologiese fakulteite met UP en US die mees uitdagende Skrifbeskouings en -lerings. Dis onverkwiklik. Humanisme neem totaal oor.

  • Beste Angus

    Nee, hoe redeneer jy dan nou? die Oorsaak wat gelei het tot die Oerknal gaan mos nie 'poef' weg nie. As dit so was dan is jy mos ook 'poef' weg tesame met alles wat daar was van die begin af...Kom nou jy is tot beter in staat of nie?

    Terwyl ons by die onderwerp is,verduidelik 'n bietjie wat die mens se bydrae tot sy ontstaan was,'n bietjie dankbaarheid teenoor dit wat dit ook al was, is mos nie onvanpas nie.Reken jy ook jy is geregtig om 'n mens te wees en op grond waarvan sal jy dit dan wees?

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Jy loop wye draai draai FC, vanaf die Bybel spring jy na nanoplastiek. Ek stem nogals saam met baie van wat jy skryf hoor, dat die aarde nie die mensdom nodig het nie. Hoekom jy dit vir my vertel verstaan ek nie lekker nie. Dit is die godsdienste van die mens wat die mens as spesiaal en besonder uitmaak. Die Christendom het my eens geleer dat die mens net bietjie minder as die engele is, of iets dergliks. Gelukkig kon ek daarin slaag om wyer te dink as die verstikkende mure van die kerk.

    Nogals waar wat Angus noem, die dag as die mens verdwyn sal die gode ook sommer verdwyn.

  • Beste Barend
    Die Christendom het jou dit nie geleer nie.Jesus verstaan jou, want dit staan in Hebreërs 2.
    Hy (Christus) het mens geword soos jy.
    5Jesus wat ons red, gee vir ons ’n nuwe bestaan in ’n nuwe wêreld. Dit is waaroor ons praat. God het egter nie die hemelse wesens baas oor die nuwe wêreld gemaak nie. 6Iewers in die Skrif vra iemand vir God:
    “Wat is daar in ’n mens dat U hoegenaamd nog aandag gee aan hom? Is ’n mens die moeite werd dat U so vir hom sorg? 7En tog, U het die mens vir ’n rukkie ’n laer posisie as die hemelse wesens gegee. U het egter vir die mens die eer gegee wat net konings het. 8U het alles vir hom gegee om oor te regeer.”

    Die argument wat Angus opper is net so goed of ek sê: 'As die Afrikaner verdwyn,dan verdwyn Afrika'. Nee as die mensdom verdwyn sal die Oorsaak waardeur alles tot stand gekom het nog steeds bestaan.

    Die groot probleem met jou en alle ander ateïste se denke is ,is die vemensliking van Christus omdat hy vir tydperk van ongeveer 33 jaar die gestalte van 'n mens aangeneem het.

    Ons weet nie hoe die Oorsaak waardeur alles tot stand gekom het lyk nie,want uit die Bybel soos met die ontmoeting met Moses is dit duidelik, dat niemand dit kan aanskou en lewe nie. Dit is dus 'n entiteit wat ons nie kan deurgrond of verstaan met 'n verganglike verstand nie.

    Hoekom bly mense stil as hul eenvoudig gevra word,wat die mens se bydrae tot sy ontstaan was?

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Mensig! Jissie ja ek onthou daar was sulke boek in die Bybel, Bedrieers iets vers iets. Nou toe nou.

    Goddeloosheid is lekker ja. Ek beveel dit aan.

    Nou ja groete.

  • Beste FC Boot,
    Jou 'logika' is so onlogies soos jou begripsvermoë. Hoe de joos kan enigiets 'n bydrae (nogals) lewer tot sy eie bestaan? Jy praat mos sommer tjol. Selfs jou eie god kon onmoontlik 'n bydrae lewer tot sy eie bestaan. Sy bestaan is afhanklik van jou sogenaamde bannelinge wat oor hom begin skryf het.
    Die Christene (dit is nou volwassenes wat nie hulle kinderskoene ontgroei het nie) glo dat die god van die bybel die man binne 'n dag geskep het uit grond, en die vrou van sy ribbebeen. Vir denkende mense wat nie meer aan sprokies glo nie, is die verduideliking wat evolusie gee vir die oorsprong van die mens aanvaarbaarder.

    As die mens verdwyn, verdwyn god, want die mens het hom uitgedink. As die Afrikaner verdwyn, bestaan Afrika nog, want die Afrikaner het nie Afrika gemaak nie.

  • Beste Barend
    Bedriërs en goddelosheid? Ja, die is volop. Dink aan staatskaping, keur jy dit goed? Want die wat God bedrieg kan enigiemand bedrieg.Jy dalk deel van hulle?

  • FC Boot. Ek is ook al baie keer uitgelok om in gesprekke/woordewisselings soos hierbo betrokke te raak. Ek weier volstrek. Ek het nie naastenby die geniale breinkrag wat die menere het nie. Hulle soort is vir my ver te slim.

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Jy het 'n groot verbeelding FC dit sal ek jou toegee. Dalk kan jy self ook eendag 'n Bybelboek skryf net soos oom Paulus, wat ook nie 'n gebrek aan verbeeldingsvlugte gehad het nie. Die Bybel kort juis bietjie nuwe stimulerende materiaal. Nuwe stories.

    Groete.

  • Avatar
    Hans Richardt

    Die hele klomp argumente maak geen sin nie. Die vraag was of NG kerk gekaap was, volgens opskrif.
    Wat wie ookal glo is van mindere belang. Die NG kerk is in elk geval VER verwyder van die mense en dogma gekoppel aan liberale sienings veroorsaak net chaos.
    Daar kan geen kerk sonder offergawes en tiendes/skenkings wees van die gemeenskappe nie. As die preekstoele gekaap was, is enigste uitweg om fondse te weerhou en te sien of die sinodes ook kan volhou. Ek het egter geen simpatie met die NG kerk nie. Laat die omarmde agtergeblewenes dan kerk instandhou of die kerkkapers.

  • Beste Reusedwerg,
    Dankie vir jou besorgheid.Daar is egter niks om vir bang te wees nie,veral as ‘n man soos Angus nie die verskil tussen ‘bestaan’ en ‘ontstaan’ ken nie. Soos ek ontstaan gebruik het verstaan nie. Ja as jy dit nie ken nie praat jy tjol.Bestaan is om te wees (exist) ontstaan (origin)waarvan ek praat is iets heel anders.

    Aan die een kan jy iets doen ,’n bydrae maak aan die ander nie.As Christene bely ons dandat ons ontstaan, ons oorsprong, te danke is aan ‘n wonderwerk wat 13.8 miljoen jaar gelede plaasgevind het,wat tot die ontstaan van ons heelal, ons planet en uiteindelik tot ons oorsprong gelei het van primitief tot wat ons van dag is.

    Daarin sien ons steeds die werk van Jesus Christus as die oorsprong agter dit alles,wat ons in ons bestaan nog steeds bystaan in ons bestaan.Omdat ons as mens niks begedra het tot ons ontstaan erken ons,ons diepe afhanklikheid van ons Skepper wat in sy goeddunke ons die grootste geskenk van menswees gegee het.
    Die ateïs inteenstelling aanvaar sy ontstaan en bestaan dikwels as iets waarop hy/sy geregtig is en is dan dikwels instryd met die natuur waaruit ons ontstaan het en gaan terugkeer en wag op die dag van wederopstanding.

    Ons is van en uit die natuur netsoos enige ander lewende wese wat die planet met ons deel.Sou ons die natuur verag en nie in harmonie met dit saam leef nie,is dit so goed ons verag die moederskoot waaruit ons gebore is.

    ‘n Mens soos Angus is geneig tot veralgemening en is nog steeds onder die indruk dat Christene agterlik is wanneer dit kom by die wetenskaplike sy van die ontstaan van die mens en vermy webblaaie soos Fact and Faith soos die pes,want dan word die mat onder hul voete uitgetrek en beland hul op hul blaker soos Angus met bestaan en ontstaan in die konteks van die gesprek.

    Kyk ‘n mens nou na Angus se slotopmerking van:’ As die mens verdwyn, verdwyn God, want die mens het hom uitgedink. As die Afrikaner verdwyn, bestaan Afrika nog, want die Afrikaner het nie Afrika gemaak nie”

    Dan is die laaste deel van dit waar maar die eerste nie want Christus is ‘n werklikheid so ook is die mens tot Christus wederkoms.

    Lekker dag Angus en onthou ‘n lekker sonnige dag, met nie te veel wind is die beste dag om met jou hommeltuig te speel.

  • Beste Barend
    Die Bybel is oor 'n tydperk van 2000 jaar geskryf, en is steeds 'n topverkoper. Meer as 100 miljoen Bybels word elke jaar gedruk. Dit is al in 349 tale vertaal. Dit is al beraam dat tussen 1815 en 1975 daar 2.5 biljoen Bybels gedruk is.

    Die Bybel is 'n wenner en het geen byvoeging nodig nie, wel mense wat die Bybel kan lees in die konteks en agtergrond waarteen dit oor die 2000 jaar geskryf is.

  • Avatar
    Hans Richardt

    Ek dink Angus is ouderling ... as oud Kimberliet.

    Reusedwerg, met die droogte so fel, begin 'n man maar dink dat daar wel 'n Skepper is.

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    More FC

    God se boek is nogals onverstaanbaar ja. Kyk net al die rakke en rakke kommentare en gidse en what have you's wat die kontekste en agtergronde moet skets om dit als verstaanbaar te maak. Dit lyk my god het nie daarmee rekening gehou dat die mensdom dieselfde tekste verskillend lees en verstaan nie. So is dit ook met die Baaibul.

  • Dag Barend

    Dit is waarom Christus sy verskyning gemaak het om dit makliker te maak en die godsdienstige leiers van sy tyd te ontmasker met “Ellende wag vir julle skrifgeleerdes, Fariseërs, huigelaars ” (Mat 23 NAV).teenoor “Geseënd is die wat rein van hart is” (Mat 5:8 NAV).

    En hoe is jou hart Barend?

  • Beste Hans,
    Ja, ek was al diaken, skriba, ouderling, onderwyser, onderhoof, hoof, lektor, senior lektor, groenteboer, tennisspeler, tennisafrigter, byeboer, rugbyflank, mesmaker, mampoerstoker, seëlversamelaar, dobbelaar, fotograaf, ateïs, reisiger, toeris,

  • Ek dink die gedig vertel sy eie storie oor hierdie onderwerp.

    Om “COOL” te wees
    Soos ek nou hier anderkant van sestig al is, het ek tot die slotsom gekom dat ek half oor die muur is.
    Ek het ook agtergekom dat die wêreld baie vinnig verander.
    Ek het ook agtergekom baie min mense lees nog.
    Hulle sal so sywaarts na iets kyk. So vinnig loer. Dalk so halfpad kyk.
    Hulle tweet. Hulle WA. Hulle IM. Maar hulle lees nie.
    Meeste e-posse word nooit oopgemaak nie. Meeste gaan ook nie lees wat ek hier skryf nie.
    Meeste boeke wat mense koop word nooit gelees deur die mense wat dit koop nie.
    So moet skrywers ook aanpas. Ek moet kort goedjies skryf. Niksseggende goed, anders lees mense dit nie. Gee hulle nie aandag nie.
    Wanneer ek vir Christelike gehore skryf, is die standaard selfs hoër.
    Ek dink al lankal oor die onderwerp, en ek dink ek het die geheim ontdek.
    Om vir ‘n Christelike gehoor te skryf moet jy “COOL” wees.
    Jy hoef nie noodwendig goed te kan skryf nie.
    Jy hoef nie oorspronklik te wees nie.
    Jy hoef nie Skriftuurlik te wees nie.
    Jy hoef selfs nie eers akkuraat of reg te wees nie.
    Jy moet net “COOL” lyk, klink, en “COOL” goed sê wat Christene wil hoor.
    Miskien is ‘n beter woord vir Christelike skrywers om relevant te wees.
    O ja, dis relevant om “COOL” te wees.
    Dit is baie “COOL” om te praat oor alles wat relevant is vandag.
    Kom ons praat oor seks – dit kry altyd mense se aandag.
    Kom ons praat oor homoseksualiteit – dit is ‘n baie relevante onderwerp.
    Kom ons praat oor politiek – dit sal die emosies aanwakker.
    Kom ons praat oor goed wat ons as Christene moet of nie moet doen in die samelewing – dit maak mense altyd warm onder die kraag.
    Kom ons praat oor verhoudings en gemeenskaplike kwessies – dit is mos voor op alle Christene se gedagtes.
    Kom ons praat oor die jongste Christelike groep, rockster, of aanbiddingslied.
    Kom ons wees so ‘n bietjie kontroversieël, want dit is ‘n groot trekpleister vir aandag. Mense hou van kontroversie.
    En kom ons trek so “COOL” aan en gedra ons so “COOL” dat die wêreld nooit sal agterkom dat ons volgelinge van Jesus is nie.
    En dan wag jy net tot die regte oomblik, en dan sê jy: “O ja ... Ek is ‘n Christen.” En dan kan ons almal goed voel oor hoe “COOL” ons is, hoe relevant ons is, en dat ons nie werklik verskillend van die ander mense is nie. So “COOL”, dat mense nooit sou dink dat ons aan Jesus behoort as ons nie vir hulle gesê het ons behoort aan Hom nie.
    Wel, ek dink dit is dom.
    So ek reken ek is nie so “COOL” nie.
    Ek gee ook nie om nie.
    Want om “COOL” te wees is eintlik om te sê ek wil mense tevrede stel, en nie om die HERE tevrede te stel nie.
    Hoekom wil jy mense tevrede stel?
    Baie Jode het ook vir Jesus geglo maar wou dit nie erken in die openbaar nie, want hulle het die erkenning van mense hoër geag as erkenning van die HERE.
    Ek erken dit is seker nie “COOL” om te praat oor skriftuurlike integriteit, om die Bybel te lees, en om te bid nie.
    “Vormgodsdiens!!” skreeu almal.
    Ek erken ook dat dit seker nie “COOL” is om oor dissipelskap en die boodskap van die Kruis te praat nie.
    “Te wetties!!” skreeu almal.
    Ek weet ook dit is seker nie goed om aanhoudend oor basiese beginsels en waarhede te praat nie. Veral nie jaar na jaar nie.
    “Te eenvoudig!!” skreeu almal.
    Ek weet mense word moeg daarvan om dieselfde boodskap te hoor en wil aanbeweeg na iets met meer slaankrag, kort, en vermaaklik – of soos die mense sê, iets “vars”.
    En ek gee nie om nie.
    Want vir elke persoon wat verveeld raak om die Waarheid aanhoudend te hoor, is daar duisende ander wat nog nooit die Waarheid gehoor het nie.
    En ek weet ook om ‘n meester van ‘n onderwerp te word bestaan daaruit om ‘n paar basiese beginsels te leer, en dan dit elke dag toe te pas. Geen uitsonderings.
    En ja, jy kan dit wetties, ritualisties, en eenvoudig noem. So is dit om asem te haal – maar dit is nodig om asem te haal om te lewe.
    Jy kan dit oudmodies, vervelend, irrelevant en nie-cool noem.
    Ek noem dit geestelike volwassenheid, om skriftuurlik te lewe, en om vrugte te dra.
    Die Kruis was nooit bedoel om “COOL” te wees nie. Ook nie om ‘n volgeling van Jesus te wees nie.
    En wanneer die HERE praat, is dit ook nie altyd wat ons wil hoor nie. Of wat jy dink jy nodig het nie. Of wat jy voor gevra het nie.
    Dit is ook interessant dat Jesus nie sy boodskap by Sy gehoor aangepas het nie, maar het van hulle verwag om hulle in Sy boodskap in te pas.
    Amper elke spesialis eksegeet sê dat Jesus gelykenisse gebruik het om die waarhede makliker te maak sodat meer mense dit kan verstaan.
    Dit is net mooi die omgekeerde wat die Bybel vertel.
    Hy het juis gelykenisse gebruik om die geestelike waarhede moeiliker te maak om te verstaan.
    Skok dit jou dalk?
    Hy het nie probeer om meer relevant te wees nie.
    Hy het nie belanggestel om “COOL” te wees nie.
    Eintlik het Hy meer geweet as alle Christelike skrywers, onderwysers, en predikers. Of hulle het dit vergeet, of nooit geweet nie. Die gehoor sal oordeel, maar daar is net Een wat jy moet teverede stel, en Hy is die Een wie se oordeel alles tel.
    En dis wat my verbaas. Ek kry tog mense wat hou van wat ek hulle leer en sê selfs: “Dit is net wat ons moes hoor”. Of: “Dit is ‘n antwoord op dit wat ek van die HERE gevra het.”
    Sien hoe werk dit?
    Ek het nie die vermoë om te besluit wat is relevant vir jou nie.
    Jy ook nie. Ons weet nie wat ons nodig het nie. Ons weet ook nie wat ons nie nodig het nie.
    Maar Hy weet wat jy nodig het, en wanneer jy dit nodig het.
    En deur Hom eerste te plaas, kan ek in Sy wysheid intap sodat Hy jou kan aanraak daar waar jy ookal is.
    Nou dit is nogal “COOL”.
    En betyds.
    En die waarheid.
    En sommer ook relevant.
    Gelukkig is ek nie geroep om “COOL” te wees nie, maar getrou.

  • Avatar
    Hans Richardt

    Louwrens, op ons ouderdom wil ons nie meer oor seks praat nie...
    Vra die dominee gister na nagmaal oor rolbal. Toe antwoord hy, hy weet nie so mooi nie, maar mortaliteit is hoër by rolbalspelers as by golfspelers se 19de putjie...

  • Avatar
    Hans Richardt

    Ek dink nie dat mens dinge gekompliseerd moet maak nie, maar dis nou NG kerk se storie van Groot Trek se dae, altyd polities korrek. Destyds het Trekkers hul eie kerk gestig, vry van die Kaapse bande, nl Die Nederduitse Hervormde kerk, die volkskerk. Intussen was die "onding" gedoen, deur vroue as predikante in Hervormde kerk toe te laat. Ek het nie probleem met 'n vrou as predikant nie.

  • Beste Angus
    Ek bedoel dit opreg as ek hoop dat dit nie 'n geval is van die gesegde, ‘n man van 12 ambagte en 13 ongelukke.

  • Liewe Broeder Barend.
    Nog nooit het die Bybel by my verwarring gesaai nie. Dis ’n gerieflike verskoning ja, maar nie ’n doeltreffende een nie. O ja en “Ek vind die kerk se obsessie met die Bybel ongesond”, is soos om te sê die Grondwethof se obsessie met die grondwet is ongesond. Snaakse en onlogiese idee moet ek sê. Dit herinner aan die Richard Dawkins en Christopher Hitchens (mag sy oppervlakkige siel in vrede rus) van die wêreld wat al hulle godsdienstige kennis baseer op wat hulle comics gelees het. En om nou nog op die rasseskeiding-donkie se holrug te ry? Gaan my dis ’n hele ruk vandat jy in ’n kerk was! Jy moet gaan kyk wat daar aangaan. Wie weet, miskien tel jou logika ook ’n bietjie op en dalk saai die Bybel nie meer so baie verwarring by jou nie.

  • Avatar
    Hans Richardt

    Ek weet darem nie oor analogie met Grondwethof se obsessie wat ongesond is of nie. Ek kry die gevoel die Grondwethof het 'n politieke agenda met regte in Grondwet.
    Dink aan 11 tale wat erken word in Grondwet as gelyk, maar Engels as uitverkorene taal van Grondwethof.

  • Aan Hans Richardt.
    Stem saam oor die grondwet ding. BEE, of is dit nou BBEEE of is dit nou BBBBBEEBEBEBEBEE of wat ook al, is sonder skaamte ’n rasgebaseerde beginsel en proses. Hel, hulle is nie eens diskreet daaroor nie. Teen die manifes van menseregte en beslis ook ongrondwetlik. Maar vat jou “oorsien” vir die volgende promosie – want jou vel is wit – na die grondwethof en sien hoe vêr kom jy. Hoe ook al, ek “digress” soos my bestuurder vir my sê in vergaderings.
    My punt, soos ek glo jy verstaan, is dat die kerk (watter denominasie ookal) ’n instelling is wat gebaseer is op die Bybel. Kerk sonder Bybel, of dan ten minste ’n ongesonde verhouding met die Bybel is n teenstrydige argument. ’n Stupid een dus.
    Terloops, ek is ’n Hervormer. In murg en been.

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Die ooms moet altyd vergader om te besluit wat die Here in Sy boek beveel. Lyk vir m heel complicated. En dan stry hulle en stig af. Daar is deesdae 40 000 sektes. Elkeen met 'n ander pad na die saligheid. Lyk tog vir my asof Bybel die mensdom verwar.

  • Beste Barend
    Die onderwerp is eintlik:'Is die NG Kerk ’n slagoffer van kerkkaping? Indien wel, wat nou?[1]"As 'n mens na al die kommentare kyk dan is dit maklik om te sien dat mense gou van die onderwerp afdwaal en besef dan dat dit juis mi een van die oorsake is wat kerkkaping vergemaklik.

    Die skrywer verdien ten minste 'n antwoord of sy ontleding van die kaping korrek is of nie.En dit doen nie een van ons nie nie.

    Persoonlik wil ek egter verder gaan aan die hand van die ondervinding wat ek in al drie susterkerke ondervind het van Dopperdiaken tot Ng-ouderling en alles wat daar tussen in is.

    Dit het my 'n unieke insig oor al drie susterkerke gegee.As daar een ding soos 'n paal bo water staat dat nie in een van die drie daar enige poging was om die wetenskap aangaande die ontstaan van ons heelal en dan ons as mens te versoen met dit wat in die Bybel geopenbaar word.

    Trouens enige poging om enige gesprek in die rigting te stuur is met wantroue bejeën en dit is mi een van die oorsake waarom die kerke in die algemeen lidmate verloor en mense soos Angus en ander 'n ateïtiese dekwyse ontwikkel om in hul verwarde denke hulself te verlos , te bevry van dit wat gesien is 'n beslaglegging en inbreuk op hul lewe en denkwyse.

    Ja die wetenskap het die nuwe 'Bybel' van ons tyd geword.Dit het trouens die mens tot 'godstatus' verhef met 'n mentaliteit wat uitgedruk is in wat aan my oorvertel is in die geval van: 'n Godsdienstige dame beland in die hospitaal vir 'n operasie.'Bid jy darem voor jy opereer' vra sy vir die dokter.Hierop antwoord hy:'Dit is nie God wat jou gaan gesondmaak nie.Ek dr ..... gaan jou gesondmaak.'

    Met die afwatering van godsdiens in skole en die onvermoë of is dit onwilligheid om die onderwerp aan te spreek vanaf die kansel het die speelveld ongelyk geraak en sal al hoemeer mense hulself tot ‘n status verhef wat hulself bo die natuur waaruit hul voort gekom het en God (as oorsaak waardeur alles totstand gekom het) plaas.

    Die kerk kan net bestaan as Christus bestaan.As Christus ‘dood’ is of nie bestaan het nie soos sommige beweer-dan verdwyn die bestaansreg van die kerk.As Christus dan nie meer alhoemeer sigbaar word in my skrywe en prediking van predikers vanaf die kansel of ander platvorms dan is alles tevergeefs en ‘n gejaag na wind.

    Dat hierdie verheffing ramspoedige gevolge vir ons planeet en alles wat daarop leef en beef het is duidelik op die manier waarop natuurlike hulpbronne bestuur word en is die verwoesting van die natuur duidelik waarneembaar en word alle roepstemme tot besinning verdof in’n roesemoes –‘n deurmekaar spul, gegons van stemme ook in hierdie uiters aktuele onderwerp.

    Mag elke leser die genade wat alleen te vinde is in Christus ook in hierdie tyd ondervind en ‘n werklik geseënde kersfees beleef.

  • Nie 'n woord oor die kaping van binne nie - wat die in die wind slaan / verontagsaming, selfs dalk minagting, van taal en musiek en liturgie betref. Een persoon uit 2018 word aangehaal om die idee te verwoord dat (sekere?) persone (lidmate?) kerk bywoon omdat hulle dit in Afrikaans kan doen. Ek kom in heelwat gemeentes. Van die NG-kerk. Ek kan nie onthou wanneer laas slegs in Afrikaans gesing is nie. Asof lofsang, prysliedere en aanbidding (praise and worship) net in Engels en/of deur middel van populêre en middelmoot gospelmusiek kan plaasvind. Dit is 'n bewuste keuse, dit is bewuste praktyk.

  • Avatar
    Hans Richardt

    Karen de Wet, oor 1 ding is jy reg, daar is nie juis uitgewys oor wie en hoe NG kerk gekaap is nie. Alhoewel dit vraag in opskrif was.
    As die NG kerk ook nou Engels omhels, hul was bekend as Kaapse kerk in 1800's, toe Britte aanbewind was in Kaap en toe reeds was daar Engelse predikante.
    Feit is, Boer en Afrikaner kan op grond van kerkverband onderskei word.

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    As god vir my 'n boodskap het dan is hy meer as welkom om my te kom spreek. Niks op aarde verhoed hom nie. Hier's baie bosse hier waarin hy ook kan kom brand. Tot tyd en wyl sal ek aanvaar hy bestaan nie. Soveel gelowiges, soveel gode, elkeen se god lyk en ruik anders.

  • Beste Barend
    Jy kry Sy antwoord deur die natuur. 'Moenie 'n dwaas na sy sotheid antwoord nie.

  • Margaret Cordier
    Margaret Cordier

    Lief vir Barend en FC.
    Vir Barend vir sy ietwat van 'n kinderlikheid/ nederigheid en groot opregtheid. Dis mooi vir my.
    Vir FC omdat hy die wetenskaplike blinddoeke van die sogenaamde kerk as instelling afruk, ook lief is vir Waarheid, en weet hoe om met 'n lekker oopkop geselser soos Barend by die punte van die gesprek te bly.

    Mag waarheid; wysheid; insig en kreatiewe denke op Skeppergeesvlerke --- argumentkonglomerate oopbreek in vlug.

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Margaret, FC hou kwalik by die onderwerp. Mens praat nog oor gottens en die Bybel dan foeter hy hier by die losgemaal in met sy nanoplastiek.

  • Margaret Cordier
    Margaret Cordier

    https://www.bible.com/af/bible/5/PSA.53.2-3.AFR53.
    Ons is lewendige stene en God bou Sy kerk liggaam. Hy werk en niemand kan dit keer nie. Die poorte van die hel sal nie daarteen kan staan nie.
    Hy het ons eerste liefgehad en Homself in neerbuigende goedheid aan ons gegee; gedien; gedood; getrou tot die dood en in Sy volmaakte liefde die dood oorwin en die sleutels van die doderyk afgeneem. Hy leef Hy Is.

  • Beste Barend
    Hou op kla, jy kan by 'n losgemaal infoeter, solank jy van agteraf en deur die hek kom en tenmiste as dit uit 'n laagvat ontstaan het,jy jou hande opgelig het,om daglig of is dit nou nanoplastiek,te wys.

    Lekker dag.

  • Avatar
    Hans Richardt

    Margaret Cordier, die vraagstuk was, was NG kerk gekaap vir politieke korrektheid.
    Die res is irrelevant.

  • Hans ek hoor jou, "was die NG kerk gekaap vir politieke korrektheid"
    My 1ste vraag: was die NG kerk met van sy oorleweringe altyd korrek?
    2de Vraag: Hoe Kaap jy 'n kerk as liggaam gebou van lewendige Geesgevulde stene --- ONMOONTLIK. --- Die Here sê self Hy bou die kerk en dat niks ons uit Sy hand sal ruk nie.
    Laaste vraag: sou jy dus met my saamstem dat indien iets gekaap word wat veronderstel is om in God se Hand te wees, dit moontlik as kerkinstelling (en ek sluit alle kerkinstellings in)afval en uitval beleef.
    Die Herder ken Sy skape en Sy skape kom uit hulle eenvoudige skaapkrale en loop net agter die Herder aan, want hulle ken Sy stem.

    Vir die opregte nuuskieriges wat soekend bly,
    staan die Herder met arms wawyd oop en soek Hy selfs die een verlorene tot Hy inkom/ terugkom.

  • Margeret jy is heeltemal reg. Almal wil altyd dat jy aan die "regte" kerk behoort. Maar daar is net een Kerk, die een wat Jesus bou. Vir my is al die verskillende groeperings niks anders as 'n klub nie. Daar is 'n voorsitter wat besluit wat gedoen sal word, wat jou bydrae bepaal en kies wie saam op die bestuur sal dien. "Been there, done that and got the t-shirt". Dawid gee vir my drie Psalms wat bepaal wie of wat Kerk is. Psalm 1, 15 en 51. Veral die laaste gedeelte van 51. Wie of wat hierdie NG. klub ookal besluit het geen impak op my lewe nie. So is daai klub geskaak? Stel nie belang nie want meeste van hul lede is nog in Egipte en nie Kanaän nie. Kyk na Eksodus 7. So hulle dien nog die farao.

  • Avatar
    Hans Richardt

    Ek sou in elk geval tiendes, kollektes en offergawes geboikot het, as ek lidmaat van die NG kerk was.

    Ek hou nie van geloofkultusse nie. Hetsy Israelvisie of NG kerk politieke korrektheid nie.

  • Die sanggroep 'Prophet' het 'n liedjie met woorde wat iets sê soos: " die kindertjies van Jesus is nie paw-paws nie ...

    'Kerk' klubkultusse is 'n wêreldwye fenomeen. Teidgeist

  • Avatar
    Hans Richardt

    Staan my nie aan nie, Magaret.
    Ek dink dat as iets wat privaat is, deur die staat beheer bv mbv hofuitsprake, dit gekaap is om Staatsbeskikking af te dwing. Dit is net so voorskriftelik soos in vorige era, niks vryheid nie. Mandela-effek (nie zeitgeist nie) wat misgekyk word, is dat geforseerde etniese amalgamasie met 'n glimlag afgedwing word.
    Geseënde Kersfees.

  • Hans voorsien jy dus 'n domino- effek?

    Moontlik ...

    Dit is nodig dat daar 'n skudding kom, sodat die wankelbare en onwankelbare onderskei word. Verganklikheid beklee word met onverganklikheid.

    Dit is nodig dat daar partyskappe onder hulle (in die kerk) kom, sodat die beproefdes uitgewys kan word.

    Hy sal Sy dorsvloer deur en deur deurgaan,( skoonmaak) en Sy gebed bly dat niemand verlore mag gaan nie, maar dat almal die ewige lewe mag hê.
    Liefde is vrywillig, en gehoorsaamheid die wyse.

  • Avatar
    Hans Richardt

    Magaret, ek wil my nie uitlaat oor politieke korrektheid in teologie nie.
    Ek het sg bevrydingsteologie gehaat en voel so oor politieke korrektheid teologie.
    Jesus se dissipels was Jode, nie ander nasies of etniese groepe. Maw hul kultuur en tradisies was nie uiteenlopende kultuur en tradisies nie. Soos die kultuur van die tyd, was daar probleem omdat Magdalena by Jesus se voete gesit het en nie inbedieningsrol, rol van vrou in die tyd, was nie. Daar was geslagsrolle en ook gebruike/ samelewing konvensies.
    Die domino effek was al deur Mandela-effek veroorsaak.

  • Nee, die NG kerk is 'n slagoffer van sy eie uitgediende snert wat geen plek meer het nie. Kortweg - die NG kerk het net soos alle kerke hulle raklewe uitgedien.

  • Avatar
    Hans Richardt

    Zirk, ek stem gedeeltelik saam.
    Sedert die NG kerk nie meer permanente kantore in Kaapstad parlement het nie, het hul eie binnegevegte hul van binne vernietig.
    Die NG kerk is ook nie sigbaar werksaam in SA gemeenskappe vir bv opheffing onder hul eie gemeentes en gemeenskappe nie. Lees mens in media, dan is oor een-of-ander politieke korrekte uitspraak.
    Meeste kerke se relevansie bestaan nog, die vraag is of hul hul rol verstaan om hulself relevant te hou. Niemand wil meer geforseerde etniese almalgamasie preke hoor nie.

  • Hans jy het my verloor. Die Jode het 'n politieke leiter gesoek wat hulle aardsgesindheid moes dien. Hy Jesus, het hulle ontglip ter kroning van Hom. Hy het Homself nie aan die mens toevertrou nie, omdat Hy weet wat in die mens is. Vlees en bloed kan nie Sy Koninkryk deelagtig word nie, maar die wat in opregte en met gebroke gees tot Hom ander, sal deur 'n wederbare gees deel hê aan Sy opstanding en lewe -- jood; schitch, griek, samaritan en elke een wat sy eie ek laat staan. Hy is die Verlosser -- Jesus Christus. Vol genade en waarheid. Die bediening van versoening met die prys: sterf saam met Hom dan lewe jy saam met Hom.
    Word soos 'n kind.
    Die Heilige Gees is die Krag wat genade genoeg is om te oorwin in hierdie wêreld. Daarom get Jesus vir sy dissiplels gear om te wag op die belote vd Heilige Gees soos geprofeteer deur Joël.

  • Avatar
    Hans Richardt

    Magaret, jy is besig met iets wat geen strekking het op onderwerp nie, waarin ek nie belangstel nie.
    Wat jy glo, is jou saak. Punt.

  • Avatar
    Hans Richardt

    Fanie Snyman behandel juis finansies as "kapingselement" in NG kerk. My houding van boikot deur weerhouding van tiendes en offergawes, sou nie kapingspoging wees nie.
    Hy skryf nooit oor feit dat die beleid van die kerksinodes, die kerk vervreem het van lidmate en gemeenskappe.
    Armoede in wit Afrikanergemeenskappe is groot, waarom bv Gideon bybels versprei in ander taalgemeenskappe, as eie lidmate nie bybels en liedere boeke het nie of kerkklere nie of kos?

  • Margeret ek stem saam. Maar daar is baie mense wat glo dat net omdat hul belydenis van hul geloof afgelê het en lidmaat is van 'n kerk is hul reg. Hulle sien nie die nuwe verbond as net 'n vervulling van die ou verbond nie. So ons moet nogsteeds deur al die stappe gaan, van besef ek is 'n sondaar, uitroep na die Here vir genade, glo dat net Hy my kan red, nagmaal gebruik met die brood as Jesus se liggaam en die wyn as Sy bloed, en dan yrek uit Egipte uit deur gedoop te word. Dan is ons eers uit onder die heerskappy van die satan. So lidmaatskap het geen invloed op my Christenskap nie. En dit is ongelukkig waar die oor groote mederheid van die lidmate sit. Wanneer jy vir hulle sê Calvyn is 'n selferkende moordenaar dan wil hulle jou kruisig. So die hele gesprek kan eers regtig gevoer word wanneer almal aan die basiese beginsels van Hebreërs 6 verse 1 en 2 kan antwoord. Maar selfs in Barnabas, Markus en Paulus se dae het die bekeerde Jode ook al vergeet waaroor Christenskap gaan. So dit help nie dat ons 'n kantoor in die parlement het nie, want die mense daar gaan hulle teologie probeer toepas soos wat die NG Kerk dit gedoen het.

  • Hans skryf hierbo :Meeste kerke se relevansie bestaan nog, die vraag is of hul hul rol verstaan om hulself relevant te hou. Niemand wil meer geforseerde etniese almalgamasie preke hoor nie."

    Wat is hulle rol Hans?
    Hoe moet hulle relevant bly?

    Adam en Eva , die groot vloed, die maagdelike geboorte , verlossers , die 3 gotte wat een is , die wederkoms ens is eintlik lagwekkend dat mense vandag daaraan en daarin kan glo.

  • Sjoe Margaret.

    Lyk my jy kan jou gotte se gedagtes lees...of is dit nie maar die geval dat die mens die gotte volgens hulle self geskape het nie?

  • Avatar
    Hans Richardt

    Tussen Magaret en Zirk, net jul twee se persoonlike opinies.
    My opinie, kerke kan nog relevant wees, binne hul gemeentes, vir bv armoede se effek te verminder deur bv toebroodjies by skool vir arm kinders.
    Aan die politieke korrektheid agendas en persoonlike agendas, steur ek my nie, elke ou het reg op 'n opinie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top