NG Kerk kry pak in die hof

  • 21

Uitspraak in Saak 40819/17 is uiteindelik op 8 Maart 2019 gelewer. Twee jaar van gedingvoering, voorafgegaan deur twee jaar van emosionele wipplankryery vir gemeentes en die individue betrokke in die saak.

Waaroor het die saak gegaan? Ek bespreek dit in ʼn vorige rubriek uitvoerig, maar kortliks as volg: In 2015 neem die sinode van die NG kerk ʼn besluit dat die kerk gay lidmate sal toelaat om te trou, en dat gay predikante in verhoudings nou gelegitimeer mag word. Die dapperheid het geduur net tot die eerste koerantberigte gelewer is.

In 2016 word ʼn spesiale sitting van die sinode byeengeroep en daar word anders besluit. Vir alle praktiese doeleindes het 2015 nie gebeur nie, en die kerkvaders kan nou weer rustig slaap. Sommiges het egter anders gevoel, en hulle dagvaar die kerk. Derhalwe saak 40819/17. Gaum en drie ander vs die NG Kerk en ʼn klomp ander.

Gaum se saak het berus daarop dat die NG Kerk buite hulle bevoegdhede en eie reëls om opgetree het toe hulle die 2016-besluit geneem het. ʼn Uitstekende keuse, want dit neem die besluit weg van die emosionele, morele kwessies wat die saak ondergrond. Hulle gaan egter verder en vra die hof om ook oor die substantiewe kwessie, of daar onregverdige diskriminasie teen gay lidmate plaasvind, te beslis.

Howe is oor die algemeen baie onwillig om in geloofskwessies in te meng, omdat moraliteit nie altyd op rasionele wyse verklaar en verstaan kan word nie. Hierdie geval was nie anders nie, en dis duidelik uit die uitspraak dat die regters lank besin het oor waar die perke van die regspreker se gesag is.

Die uitspraak is 58 bladsye lank, en is ʼn meesterklas in grondwetlike regspreking, gelewer deur ʼn volbank van die Hooggeregshof.

Wat my deurgaans opgeval het, was hoe ongelooflik swak die NG Kerk van regsadvies voorsien was. Of dalk het hulle goeie advies ontvang wat hulle verkies het om te ignoreer. Met beter verteenwoordiging sou die uitslag dalk anders gewees het, maar hulle het yslike gate in hul eie saak gelaat. Een voorbeeld: Seksuele oriëntasie is een van ʼn lys beskermde gronde waarop daar nie gediskrimineer mag word in die Grondwet nie. Enige swaap weet as jy dan nou wil diskrimineer, dan moet jy ten minste met redes aanvoer dat die diskriminasie billik (“fair”) is, en hoekom. Nie die NG Kerk nie. Dus kon die hof nie anders as om te beslis dat die diskriminasie onbillik was nie.

Dalk was hulle so gerus na die reeks vorige oorwinnings wat kerke behaal het dat hulle gedink het hulle kan maar op hul louere rus? In die uitspraak verwys die volbank ook na sommige van die ander sake, en bespreek wat hierdie saak anders maak.

Die belangrikste uitspraak wat die hof maak, is dat daar nie ʼn hiërargie van kompeterende regte is nie. Dit is derhalwe nie ʼn geval dat daar gekies moet word tussen godsdiensvryheid en seksuele oriëntasie nie. Die hof se taak is om die regte van minderhede te beskerm in omstandighede waar daardie regte onderdruk word. Die hof bevind verder dat die NG Kerk sommige lidmate ontneem van sekere posisies en voorregte in die kerk op grond van seksuele oriëntasie, wat uitdruklik in die Grondwet van diskriminasie uitgesluit word. Ergo, die NG Kerk diskrimineer en hulle het nie eens probeer redes aanvoer hoekom die hof dit as regverdige diskriminasie moes hanteer nie.

Hierdie saak het natuurlik reperkussies wat heelwat verder strek as die NG Kerk se gay-paniek. Enige organisasie wat aanspraak maak op een stel regte as belangriker as ʼn ander stel regte van ʼn minderheid, sal nou baie versigtig moet trap. Die hof het stelling ingeneem as die beskermer van die regte van minderhede.

En die NG Kerk vanoggend? Hulle kan seker appelleer. As ek hulle regsadviseur was, sou ek hulle aanraai: “Cut your losses.” Waarskynlik nie advies wat hulle wil hoor nie. Meer lidmate gaan loop voordat hulle gaan besef dat die kerk inherent radikaal anders moet lyk om te oorleef.

Intussen? Intussen het die hof die 2016-besluit ongeldig verklaar. Vanaf Vrydag 8 Maart geld die 2015-besluit weer. Dit beteken dat gay lidmate kan trou, en gay predikante mag kerkhou. En die NG Kerk moet Gaum et al se regskoste betaal.

Als omdat hulle in ʼn gay-paniek gegaan het. Als omdat hulle die eerste gebod vergeet het, en deur ʼn sekulêre hof daaraan herinner moes word.

Ek sluit af met ʼn aanhaling uit die beslissing, waar die volbank met goedkeuring aanhaal uit die saak Minister of Home Affairs v Fourie CCT 60/04:

Finally, our Constitution represents a radical rupture with a past based on intolerance and exclusion, and the movement forward to the acceptance of the need to develop a society based on equality and respect. Small gestures in favour of equality, however meaningful, are not enough. In the memorable words of Mahomed J: in some countries, the Constitution only formalises, in a legal instrument, a historical consensus of values and aspirations evolved incrementally from a stable and unbroken past to accommodate the needs of the future. The South African Constitution is different: it retains from the past only what is defensible and represents a decisive break from,  and a ringing rejection of that part of the past which is disgracefully racist, authoritarian, insular, and repressive and a vigorous identification of and commitment to a democratic, universalistic, caring and aspirationally egalitarian ethos expressly articulated in the Constitution. The contrast between the past which it repudiates and the future to which it seeks to commit the nation is stark and dramatic.

#LoveIsLove

  • 21

Kommentaar

  • En nou? Sekerlik sal alle godsdienstige organisasies, ook die Katolieke en die Islam in Suid- Afrika hierdie wetgewing moet deurvoer... alles om 'n hou in te kry teen 'n Calvinistiese organisasie. Hulle het duidelik nie daai een mooi deurdink nie.

  • Wat sê die VGK oor gays.? Sal nogal wil hoor of daar iets in die Belhar Belydenis daaroor staan.

  • Die oorwinning oor die NG Kerk sal nou beslis seker aan die groot klok gehang word. Ek is nie by magte om enige persoon te oordeel of te veroordeel nie. Wat my verbaas is die fel aanslag wat meedoënloos teen die NG Kerk geloods word. Dit is asof daar op 'n oorwinning teen 'n monster in die samelewing aanspraak gemaak word. Alles wat die NG Kerk verteenwoordig is grusaam, onuithoudbaar en onmenslik. Wat my verder verbaas is dat daar net Afrikaanssprekende NG Kerk "gay" lidmate is. Wat my nog verder laat wonder wat gaan die impak van ons sg beste konstitusie en regsplegingsinstrument op die vrye samelewing in die toekoms inhou. Ons wag maar en sien wat uit die konsert gaan kom. Elkeen sal maar verantwoording vir sy eie dade moet doen, of sal dit in die toekoms ook nie meer van toepassing wees nie, of is dit ook 'n wanvoorstelling/bangmaakstorie?

  • Gustaf Claassens

    Oe-oe, kerk versus staat! Die vonke gaan nog spat ...
    Daar was tye toe die lyne tussen kerk-en-staat vaag was, inteendeel baie verweef - oral oor die wêreld heen, selfs en veral hier te lande. Vandaar die uitdrukking en beskuldiging dat die NG Kerk die Nasionale Party in gebed was. 'n Nuwe Staatkundige bedeling het egter 'n nuwe dimensie met nuwe interpretasies teweeg gebring. Die gevolg is dat lidmate en/of die burgers van 'n staat strepe in die sand trek wanneer hulle voel dat die een op die ander se terrein beweeg.
    Dis veral kerklidmate ('n groot deel) wat gou stof opskop wanneer sulke "nuwe" verwikkelinge plaasvind. Hulle is immers van die begin af "gevoed" met uitsprake (baie sal sê indoktrinasie) dat gay-wees, sonde is. Wanneer die kerk met so 'n werklikheid gekonfronteer is, was die "oplossing" dat so-iets reg gebid sal word. Verstommend, is 'n goeie beskrywing hiervoor!
    Tyd sal leer hoe hierdie uitspraak (veral uit 'n gemeenskapsoogpunt) homself in die praktyk gaan uitspeel, hoe dit ander kerkverbande gaan raak en wat die reaksie van dusdanige lidmate gaan wees. Mens wonder net of dit nie aanleiding gaan gee tot die vestiging van nog nuwe sogenaamde 'gesuiwerde kerke' nie. Die vraag ontstaan dan: "Lê die mens se heil regtig in kerke?"

  • Die NG kerk het n gat vir hulle self gegrawe met die gerondspringery oor 'n baie, baie maklike saak. As die Woord hieroor in die eerste plek in ag geneem was, sou hierdie situasie nooit 'n probleem geraak het nie.

  • Johann Basson

    Geen mens of groep mense of godsdiensgroepering of volk of nasie is alwetend of perfek nie. So, wie sal die eerste klip van veroordeling gooi?

    Kom ons leer uit die foute van die verlede.

    Kom ons strewe elkeen na geregtigheid en vrede en 'n beter toekoms vir ons en ons nageslagte.

    Kom ons vra die vraag: "Wat is God se Visie en Raadsplan met Sy Skepping en waar en hoe moet ek figureer in daardie Raadsplan?

    Die mens se lewensduur is uiters kortstondig. Kom ons probeer strewe om die lig en die sout vir die mensdom te wees op die pad van geregtigheid en naasteliefde. Maklik is dit nie maar tog uitdagend en bied geleenthede.

  • Barend van der Merwe

    Die saak is geen "oorwinning oor die NG kerk" soos jy dit stel nie. Dit is 'n saak wat deur lidmate van die kerk self gemaak was, omdat die kerk nie hulle eie reëls nakom nie.

    Of dink jy die saak is deur die staat aanhangig gemaak?

  • Beteken dit dat sekere bybelstukke nie meer gepreek mag word nie? Ek lees my bybel van voor tot agter uit en begin dan weer voor. EN, ek vermoed die Moslems sal alleen gelaat word. NIEMAND sal hulle aanraak oor enigiets nie. Ons weet mos van die koekbakkers in Amerika. Die Moslembakkerye is nooit ooit genader vir 'n koek waarop bepaalde woorde opge-pipe moes word nie. Te vrek bang.

  • Johann, maar daar is die woord. Die "kerk" met sy boekhouers en sy admin en sy predikant en sub-predikante (waarvan ek niks in die bybel kry nie) kan tog nie bestaan sonder die bybel nie. Plus is kerk se doel nie om mense gered te kry nie en daarvoor het jy die woord nodig - NET die bybel. Nie filosofie of ander teologies geïnspireerde boeke nie. Waarom 'n spul mensereëls inbring as hulle die volledige storie het? Net waar hulle geloop het, het die dissipels die goeie nuus versprei.

  • Ronee Robinson

    Ek ondersteun die uitspraak. Ek wag ook vir die aanval wat nou natuurlik op die Katolieke Kerk geloods moet word. Daardie kerk diskrimineer teen als wat nie man is nie. Veral word vrouens daar onderdruk. Daar is geen kwessie van gelykheid nie. Geen vrou mag die gemeente in die katolieke kerk bedien nie. Uiteraard mag geen vrou hoof van die kerk word nie. Sulke belaglike ingrype teen basies aanvaarbare standaarde moet eenvoudig nie toegelaat word nie. Mens kan nie agter die kerk skuil om ongelykheid tussen man en vrou te regverdig nie. Hoog tyd dat die grondwet ingryp.

  • Ronee Robinson

    Ek sien hierdie nie as 'n oorwinning oor die NG Kerk nie. Dit kan nie wees nie, want daar is vele in die kerk wat nie die verbod afgedwing wou nie. Dis ook nie 'n aanslag nie. Wat dit beteken is dat die gesprek onder Afrikaners meer direk en oop is. Die Katolieke Kerk, byvoorbeeld, handhaaf al vir eeue ondenkbare en ongoddelike diskriminerende maatreëls . Niemand praat daaroor nie. Ons is eenvoudig meer eerlik.

  • Sakkie Spangenberg

    Die NG Kerk-leiers leer swaar uit hul eie kerk se geskiedenis. Ons Kerkgeskiedenisdosent, prof PB van der Watt, het desjare toe hy nog dosent op Stellenbosch was, vir ons gesê: "Menere, as die kerk hof toe gaan, verloor hy altyd." Dit het hy gesê na aanleiding van die Loedolff-saak en die Du Plessis-saak. Die NG Kerk-leiers het doodgewoon verkeerd opgetree deur die 2015-besluit met 'n besluit van 'n buitengewone Algemene Sinode in 2016 te vervang. Die NG Kerk-leiers is daaraan herinner dat hulle nie maar net willens en wetens besluite wat regtens volgens hul eie kerkorde geneem is, kan omkeer sonder om dit deeglik te beredeneer nie.

  • Derick van der Berg

    En dit is waarheen ons oppad is mense. Die wette van die sinkende land is nou meer aanvaarbaar as die Wet van God, want die satan wil regeer en voorskryf. Genade o God genade asb.

  • Sakkie, ek sluit aan by Gustaf Claassens. Die kerk gebruik die bybel om hulle optrede te regverdig. Dit is oor eeue al so. Of dit nou NG of Rooms-Katoliek is. Hoe maak jy 'n besluit, en nogal 'n grote ook, en 'n jaar daarna wil hulle sê 2015 se besluit het nie gebeur nie. Hoe belaglik maak hulle hulself nie? En hulle wil hê mense moet hulle kerk ondersteun want hulle verkondig die weg die waarheid en die lewe? Basta!

  • Dis duidelik dat die meeste kommentators nie die vaagste benul het van waaroor die saak gegaan het nie. Dit gaan oor 'n organisie wat sy eie demokratiese besluite, soos die wind waai, verander.

  • Ronee, ek sien ook nie Kerk en Afrikaners as 'n eenheid nie. Die KERK (bruid van Christus) is onsigbaar op die aarde. Dit het nie 'n verband met 'n groep mense wat hulself iets noem nie. Vir ons gaan dit daaroor om na die Vader te gaan deur die Seun en andersom. Die tradisies wat daarmee saamgaan gaan maar soos losgepakte bakstene val. Enige mens kan 'n klub oopmaak as jy by sekere mense aanklank vind. Niemand keer iemand op hierdie aarde om blaaie uit die bybel te haal en hulle eie bybel te skryf nie. NG Kerk doop tot onbekeerde babatjies. Met elke bietjie offence moet daar net juis vernietiging kom teen die instansie wat dit teen jou pleeg in jou eie oë - met alle geweld moet alles verander word vir elke mens se eie nis-persoonlikheidstrepe. Wanneer ek wel in 'n kerk inloop vir troues en begrafnisse is ek 'n gas daar. Ek het nie vir die gebou help betaal nie - ek gedra my in alle ordentlikheid. Die NG Kerk doen ten minste baie goeie werk onder armes en verdruktes (in liggaam) en om hulle so onderstebo te gooi omdat iemand offended is klink radikaal en vol aggressie.

  • Stem saam Judy . Nico Botha het op Netwerk24 verduidelik waarom die NG Kerk in die saak eintlik voor is en die ander kerke in SA soos die VGK die gay kwessies in die duister hou en niks daaraan doen nie.

  • Hans Richardt

    Hoekom moet die aangeleentheid van minderheid aan meerderheid opgedwing word?
    Dis tog soos Kosher/Halaal op verpakte en geblikte kos. Minderhede se persoonlike voorkeure word opgedwing aan meerderheid. Maw, daar is nie meer vryheid van keuse en assosiasie nie en ook nie meer geloofsvryheid in SA nie.
    Dis my persoonlike opinie.

  • Johnnie Johnson

    Hans,
    Jy betreur die feit dat daar (volgens jou) nie meer geloofsvryheid in Suid-Afrika is nie.
    Maar dan wil jy ontslae raak van geloofspraktyke wat vir die Jode en Moslems baie belangrik is.
    Waarskynlik net omdat dit ‘n teken is dat daar ander geloofspraktyke is as joune. Watter onreg doen dit jou nou werklik aan?
    In jou wêreld kon George Orwell na gelowe verwys het toe hy geskryf het: “All animals are equal, but some animals are more equal than others.”
    Maar jy sal die ironie waarskynlik nie snap nie.

  • Kinders word gedoop as 'n bewys dat hul deel van 'n verbond (ooreenkoms)is wat hul ouers met God gesluit het in navolging van:
    In Gen 17 lees 'n mens:
    "’n Ooreenkoms met die besnydenis as bewys:
    1Toe Abram amper 99 jaar oud was, het die Here weer na hom toe gekom. “Abram,” het Hy gesê, “Ek is El Shaddai, die God wat almagtig en sterk is. Jy moet altyd naby aan My leef en net die regte dinge doen.
    2“Ek sluit ’n ooreenkoms met jou dat Ek sal sorg dat jy eendag ’n groot nageslag het.”
    3Terwyl God nog gepraat het, het Abram voor Hom neergeval.
    4God het toe gesê: “Abram, dit is my deel van my ooreenkoms met jou: jy sal nog die pa van baie nasies en van ’n massa mense word. Ek dink baie aan hierdie belofte van My.
    5“Ek gaan jou naam nou dadelik verander. Hulle sal jou nie meer Abram noem nie, maar Abraham, want Ek maak jou die pa van baie nasies.’
    6“Jou kinders sal baie kinders hê. Uit hulle sal groot nasies en belangrike konings kom.
    7“Ek sal my ooreenkoms met jou nakom, en met jou kinders. Wat Ek beloof het, geld vir altyd. Ek sal ook hulle God wees soos Ek joune is.
    8Vir jou en jou kinders gee Ek hierdie land. Vandag is dit nog nie joune nie, maar eendag sal dit joune word en ook jou kinders s’n. Hierdie hele land Kanaän sal vir altyd hulle s’n word. Ek sal ook hulle God wees.”
    9God het verder gesê: “My ooreenkoms met jou en jou kinders moet julle van julle kant af gehoorsaam.
    10Daar is een ding wat julle moet doen. Julle mag dit nie vergeet nie. Jou kinders moet dit vir altyd onthou. Dit is dat al julle mans besny moet word aan hulle geslagsorgane.
    11Elkeen se voorhuid moet met ’n mes besny word. Dit sal die bewys wees dat julle Myne is en dat Ek julle God is.
    12Elke seuntjie moet agt dae na sy geboorte besny word. Julle moet dit vir altyd doen. Selfs die kinders van jou werkers moet besny word. En die kinders van daardie werkers wat jy van vreemdelinge gekoop het, moet ook besny word.
    13Kortom: al jou werkers se kinders asook daardie werkers wat jy gekoop het, se kinders moet besny word. Aan julle liggaam sal mense dan kan sien dat julle aan My behoort en dat Ek julle God is. En dit sal vir altyd so wees.
    14Iemand wat nie besny is nie, is nie deel van jou nie. Hy is ook nie deel van My en my ooreenkoms met julle nie.”
    15God het ook verder met Abraham gepraat: “Jou vrou Sarai moet jy nie meer so noem nie. Noem haar eerder Sara.
    16Ek sal haar seën en sy sal vir jou ’n seun baar. Ja, Ek sal haar seën, en uit haar sal daar nog baie nasies en belangrike leiers gebore word.”
    17Vir Abraham was dit net een te veel. Hy het vooroor geval en saggies begin lag. Hy sê toe vir homself: “Kan ’n ou man van 100 nog ’n kind maak? En kan Sara nog ’n kind in die lewe bring? Sy is al ’n ou vrou van 90. Dit kan tog nie gebeur nie.”
    18Abraham maak toe sy keel skoon en sê: “Here, daar is mos nog die ander seun, Ismael. Wil U hom nie eerder vat en vir hom goed wees nie?”
    19God het egter geantwoord: “Nee, jou vrou Sara sal vir jou ’n kind in die lewe bring. En jy moet hom Isak noem (wat beteken: ‘God was goed en het geglimlag’). Ek sal my ooreenkoms met hom ook nakom. Ek verbind My vir altyd aan hom en sy kinders. Ek sal sy God en sy kinders se God wees.
    20Ter wille van jou sal Ek ook vir Ismael goed wees. Ek sal vir hom goed wees en hy sal ’n groot nageslag hê. Uit sy kinders sal ’n groot nasie kom met twaalf belangrike volksleiers.
    21Maar My hart is veral by Isak, by die kind wat Sara vir jou oor ’n jaar in die wêreld sal bring.”
    22Toe God klaar met Abraham gepraat het, was Hy net weer weg.
    23Op dieselfde dag nog het Abraham sy seun, Ismael, en al sy werkers gevat en hulle besny. Of ’n werker deel van Abraham se huishouding was en of Abraham hom later gekoop het, het nie saak gemaak nie. Elke man is besny, soos God vir Abraham gesê het.
    24Abraham was 99 jaar oud toe hy besny is, 25en Ismael 13 jaar. 26Albei is saam op dieselfde dag besny,
    27so ook al sy werkers. Of hulle deel van sy huishouding was en of hulle van vreemdelinge gekoop is, hulle is almal besny."
    'n Mens sluit dus nie babas uit die ooreenkoms uit nie omdat hul nog nie tot hul verstand gekom het nie. Die doop het dus in plek van die besnydenis gekom en moet nie verwar word met die begrip wedergeboorte nie, wat 'n ommekeer is, soos dit uit Jesus se gesprek met Nikodemus.
    Johannes 3.
    5“Luister baie mooi wat Ek vir jou sê,” kom dit van Jesus. “Die pad na die ryk waar God Koning is, is toe vir elkeen wat nie gebore word uit lewende water en die Heilige Gees nie. 6Immers, ’n kind wat uit ’n mens gebore word, is maar net ’n mens. Wie egter uit die Gees gebore word, begin geestelik lewe. "
    Nikodemus was 'n Fariseër. Hulle was meer as die Sadduseërs en gewild onder die mense. Got Questions som hul soos volg op:
    https://www.gotquestions.org/Afrikaans/fariseers-sadduseers.html
    Dit is dus verkeerd om babas omdat hul nie van hul bestaan bewus is uit te sluit.
    uit 'n ooreenkoms.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top