Drie dekades van verandering – die NG Kerk se pad van verruiming deur Neels Jackson: ’n lesersindruk

  • 0

Drie dekades van verandering: Die NG kerk se pad van verruiming
Neels Jackson
NB-Uitgewers
ISBN: 9780796322654

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging geskryf en aan LitNet gestuur.

Dit is absoluut verstommend hoeveel boeke daar oor die Afrikaanse kerke, en dan meer spesifiek die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk), geskryf was in die onlangse verlede en steeds geskryf word. En uiteenlopend! Dink maar net aan titels soos Die opkoms en ondergang van die NG Kerk (Penguin Random House 2018) deur Jean Oosthuizen; Ben du Toit se God: Is daar ’n ander antwoord? (Lapa 2020); en Frits Gaum se Kerk oor die muur of oor die Rubicon (Naledi 2020). En hierdie is maar net enkele voorbeelde. Daar is nog baie ander boeke wat aspekte van die kontemporêre verlede van die NG Kerk dek. Kerksake skyn steeds hoog op die agenda van mense te wees! ’n Ander interessante voorbeeld wat ook miskien vermelding verdien, is Wat moet ons met ons kerk doen? deur Jurie van den Heever (Naledi 2017).

Wat maak Jackson se boek dan enigsins anders?

In vergelyking met byvoorbeeld Oosthuizen se boek kan mens Jackson se weergawe beskryf as ’n “mooi storie” van die NG Kerk se kontemporêre verlede. Beide Oosthuizen en Jackson skryf vanuit ’n joernalistieke perspektief. Beide was voorheen verbonde aan die kerk se mondstuk, Kerkbode. Maar twee meer uiteenlopende boeke oor dieselfde onderwerp sal jy sukkel om op te spoor.

Ter inleiding sal ek dit moet stel dat ek Jackson se boek werklik geniet het. Daar is aspekte van die boek wat dit ’n besonderse publikasie maak. Daar is Jackson se wye ervaring as joernalis. Hy het die kerk deur baie seisoene beleef. Hy is hoogs ingelig oor die kerk en die kerk se leierskap en hoe die kerk oor dekades ontwikkel het. In die boek onthul en dokumenteer hy gebeure wat mens waarskynlik nêrens elders te lese sal kry nie. Dit sal ook onwaar wees om te wil beweer dat Jackson nie erns maak met die omstrede sake in die kerk nie. Inteendeel word die taai toffies almal deurgedraf. Dit is ook aangenaam geskryf in toeganklike Afrikaans. Om al hierdie redes is dit ’n boek wat ek sonder twyfel sal aanbeveel vir enigiemand met ’n belangstelling in die onderwerp. Ter versagting sal mens dit ook moet stel dat Jackson dit duidelik maak dat sy boek nie ’n akademiese boek is nie. Dit is nie ’n volledige geskiedenis van die kerk nie. Dit is eerder ’n memoir en ’n persoonlike besinning oor sy ervaringe as lidmaat van die kerk en latere koerantman oor kerksake. In sy eie woorde is die boek sy “indrukke van die belangrikste tendense en ontwikkelings van wat van 1990 tot 2020 in die NG Kerk plaasgevind het” (9).

Daar is egter ’n duidelike poging om ’n “mooi storie” te skryf waar dinge by tye werklik nie so mooi was nie. Om weer vir Oosthuizen by die saak in te sleep: Daar word byvoorbeeld in hierdie boek niks geskryf oor die sogenaamde Woordfeesdebakel van 2013 nie. Daar word egter wel oor verskeie van al die ou bekende kopsere geskryf. Dit sou ook nie anders kon nie. Daar is die kerk se apartheidsverlede. Die kerk se onderdrukking van vroue. Die kerk se onderdrukking van gay mense. Die kerk se swak verhoudinge met ander kerke. Die versplinterheid van die kerk. Jackson probeer deurlopend argumenteer dat dit die kerk was wat verruim het en so “verander” het oor die afgelope drie dekades. Maar die vraag wat telkens vir my ten hemele skree, is: Het die kerk nie eerder maar net die staat nageloop nie? Dit is so dat die kerk reeds in 1986 met die dokument Kerk en samelewing die beleid van apartheid gekritiseer het, spesifiek die toepassing daarvan, maar Suid-Afrika was toe reeds op ’n onomkeerbare pad met die Driekamerparlement. Vroue is toe ook later in die leierskap aanvaar. Gay mense moes nog 25 jaar wag, eweneens lank nadat homoseksualiteit reeds polities aanvaar was, en eers na ’n lelike hofsaak waaroor die kerk vandag nog verdeeld is.

.......

Hoekom lyk dit asof die kerk, keer op keer, maar net verander het omdat die regering en die samelewing verander het?

........

Die grootste stilte wat regdeur hierdie boek eggo, en ’n saak wat veel deegliker in Ben du Toit se boek deurgetrap word, gaan oor die vraag: Waar was God? Met apartheid, met die onderdrukking van vroue, met die onderdrukking van gay mense, met die verdeeldheid in die kerk. Hoekom lyk dit keer op keer so asof God maar verdag lank geneem het om in mense se harte te werk? Hoekom lyk dit asof die kerk, keer op keer, maar net verander het omdat die regering en die samelewing verander het?

Die hoofstukke in die boek word afgewissel met kort profiele van bekende kerkleiers. Dit is ’n wonderlike toevoeging tot die boek en gee mens ’n perspektief op Jackson se indrukke van al die mees prominente leiers in die kerk. Weer eens, wanneer mens Jackson se weergawe van byvoorbeeld Johan Heyns (1928–1994) vergelyk met hoe Heyns voorgestel word deur Du Toit in sy boek, dan is Jackson se voorstelling veel meer rooskleurig as dié van Du Toit. Sommige van die profiele is glad nie eens van mense wat lidmate van die NG Kerk was nie, of dit net tydelik was. Beyers Naudé (1915–2004) was byvoorbeeld, soos die meeste mense seker weet, vir die grootste deel van sy lewe nie baie gewild in die NG Kerk nie. Nico Smith (1929–2010) is iemand wat Jackson goed geken het, maar Smith het nooit heeltemal versoen met die NG Kerk soos wat Naudé het nie.

Het die NG Kerk werklik so baie verruim oor die afgelope drie dekades? Of het die kerk maar net so saam met die wêreld verander? Die NG Kerk het nog ’n rol om te speel in die lewens van baie lidmate, veral ouer lidmate wat nog die kerk koester. Omdat dit steeds grootliks ’n volkskerk is, sal die kerk waarskynlik ook, net soos die meeste van sy lidmate, uiteindelik grootliks in metro’s aktief wees soos wat die kerke op die platteland leegloop. Dit gaan die toekoms egter tegemoet onder ’n wolk van omstredenheid. Aan die koloniale verlede kan daar nie meer veel salf gesmeer word nie. Dit is wat dit was. Die kerk het wel baie bagasie afgeskud, maar die verlede gooi steeds ’n groot omstrede skadu op die kerk, en laat ’n mens maar met baie vrae oor God; vrae wat nie in dié boek aangespreek word nie. 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top