...
Is Afrikaans bereid om sy volgende bladsy 44 te bou?
...
Daar is sekere gewoontes wat ongemerk deel van ’n mens se lewe word. Vir my was dit Vrydagoggende die beker koffie langs die stoel, Netwerk24 oop op die selfoon, dan Huisgenoot. My vingers het mettertyd nie meer die inhoudsopgawe nodig gehad nie – hulle het geweet waarheen om te gaan: bladsy 44. (Party weke bladsy 42.) Dit was waar die kortverhaal gewoonlik gewag het.
Party verhale vergeet jy teen die volgende week, ander bly jou jare lank by. Dan gaan die lewe aan.
Tot die oggend toe die bladsy nie meer daar was nie.
Nie letterlik nie. Daar was steeds teks, maar waar daar vroeër ’n volledige verhaal was, is daar nou ’n uittreksel uit ’n nuwe roman.
My eerste reaksie was teleurstelling. My tweede was begrip. Uit ’n uitgewers- en bemarkingsoogpunt maak die besluit volkome sin. Boekuittreksels verkoop boeke. Oorspronklike kortverhale moet aangekoop, geredigeer en gepubliseer word. In ’n tyd waarin elke gedrukte bladsy geld kos en elke redaksionele besluit teen ekonomiese werklikhede opgeweeg word, kan ’n mens kwalik van ’n tydskrif verwag om anders te besluit.
Tog kon ek my nie van die vraag losmaak nie: Waarheen verdwyn bladsy 44?
Die vraag gaan nie oor Huisgenoot of oor nostalgie nie. Geen publikasie skuld die Afrikaanse letterkunde ’n kortverhaalblad nie. Medialandskappe verander, lesers verander en uitgewers moet oorleef. Juis daarom moet ons vra: As bladsy 44 verdwyn, wie of wat neem sy plek in?
Want bladsy 44 was nooit bloot ’n bladsy nie, dit was ’n toegangspoort. Vir dekades het Afrikaanse tydskrifte iets gedoen wat waarskynlik min lesers ooit bewustelik raakgesien het. Tussen die nuus, resepte, briewerubrieke en vervolgverhale het daar telkens ’n afgeronde kortverhaal verskyn. Vir die meeste lesers was dit dalk bloot nog iets om te lees; vir die Afrikaanse letterkunde was dit iets veel groter. Dit was waar nuwe skrywers die eerste keer langs gevestigde name gepubliseer is en waar redakteurs nuwe stemme ontdek het. Waar lesers onverwags op ’n naam afgekom het wat hulle later op ’n boekomslag sou herken.
Ons onthou gewoonlik die roman; ons onthou egter selde die eerste kortverhaal. Tog begin baie skrywers se loopbane juis daar. Elke bekende Afrikaanse skrywer was eenmaal onbekend. ’n Redakteur moes op ’n stadium besluit dat daardie eerste verhaal die risiko van publikasie werd is.
Daardie eerste publikasie verander nie noodwendig ’n loopbaan oornag nie, maar dit gee ’n aspirantskrywer iets onmisbaar: die eerste lesers, selfvertroue en die status van ’n gepubliseerde skrywer. Daarom beteken die verlies aan publikasieruimte veel meer as net die verlies van twee tydskrifbladsye; dit beteken die verlies van die plek waar nuwe stemme hul eerste asemhaal kry.
Vir jare het ek oor die waarde van die Afrikaanse kortverhaal geskryf: soms oor die bemarkingswaarde daarvan, soms oor die rol wat dit speel om nuwe skrywers te ontwikkel, ander kere oor digitale publikasie en die moontlikhede wat dit bied. Telkens het ek teruggekeer na dieselfde oortuiging: Die kortverhaal is veel belangriker as wat ons dikwels besef.
Eers toe bladsy 44 verdwyn, het ek besef ek verdedig nie bloot ’n genre nie, maar die plek waar ’n letterkunde homself voortdurend vernuwe. Want die kortverhaal is nie bloot nog ’n literêre vorm nie, dit is die plek waar nuwe idees getoets word voordat hulle romans word. Waar karakters hul eerste treë gee voordat hulle lesers oor jare heen vergesel. En waar skrywers leer dat inspirasie alleen nie genoeg is nie en dat elke verhaal eers deur herskryf, afwysing en volharding moet gaan voordat dit sy lesers bereik.
Wanneer daardie ruimte kleiner word, gebeur iets wat ons nie dadelik raaksien nie. Die verlies kom nie dadelik nie – dit kom oor tien of twintig jaar, wanneer ons begin vra waarom daar minder nuwe stemme opstaan, waarom minder skrywers hul plek vind en waarom die pad na ’n eerste boek al hoe langer word.
Miskien kyk ons dan op die verkeerde plek vir die antwoord. Miskien begin die antwoord by ’n bladsy wat stil-stil verdwyn het. En miskien is die belangrikste vraag vir die Afrikaanse letterkunde vandag nie of die kortverhaal nog ’n toekoms het nie, maar waar die volgende bladsy 44 geskep gaan word.
Waarom die kortverhaal saak maak
Die kortverhaal het nog altyd onder ’n vreemde wanopvatting gebuk gegaan. Dit word dikwels as die kleinboet van die roman beskou – iets wat ’n mens skryf totdat jy gereed is vir die “regte werk”. Vir baie aspirantskrywers is die roman die bestemming en die kortverhaal bloot die oefenbaan.
Daardie siening doen albei genres onreg aan.
Elke literêre vorm het sy eie moontlikhede, sy eie beperkinge en sy eie estetiese eise. Om binne enkele bladsye ’n karakter geloofwaardig te laat leef, spanning te bou, die leser emosioneel te raak en terselfdertyd ’n bevredigende slot te bereik, verg ’n besondere vorm van vakmanskap.
Beknoptheid is nie eenvoud nie. Inteendeel. Hoe minder ruimte ’n skrywer het, hoe groter word die uitdaging. Die kortverhaal laat min ruimte vir oortolligheid. Dit dwing die skrywer om voortdurend te vra: Is hierdie sin werklik nodig? Kan hierdie toneel korter? Kan hierdie verhaal nog skerper wees?
Miskien is dit juis waarom soveel groot romanskrywers deur hul loopbane na die kortverhaal terugkeer. Nie omdat hulle nie meer goeie romans kan skryf nie, maar omdat die kortverhaal iets van hulle vra wat geen ander genre vra nie: absolute dissipline.
Daardie dissipline maak die kortverhaal veel meer as bloot ’n literêre vorm; dit maak daarvan ’n leerskool. Skryf is immers nie bloot talent nie. Talent is die beginpunt terwyl vakmanskap aangeleer word.
Geen pianis begin met ’n konsert nie. Skrywers word nie gevorm deur oor skryf te lees nie, maar deur te skryf, te herskryf, weer te skryf en uiteindelik te voltooi. En dit is dalk die belangrikste les wat die kortverhaal jou as skrywer leer. Voltooi.
Die wêreld is vol manuskripte wat nooit klaarkom nie. Groot idees sterf omdat hulle te groot geword het voordat die skrywer die ambag bemeester het om hulle te dra.
Met elke voltooide verhaal gebeur iets merkwaardigs. Die skrywer ontwikkel. Nie omdat elke verhaal noodwendig goed is nie, maar omdat elke verhaal jou iets leer wat geen skryfhandleiding ooit volkome kan oordra nie. Hier leer ’n mens hoe dialoog karakter openbaar eerder as bloot inligting oordra. Hier ontdek jy dat spanning nie deur geweld ontstaan nie, maar deur verwagting. Hier besef jy dat die mooiste sin in ’n verhaal soms geskrap moet word omdat dit die ritme versteur.
Die kortverhaal leer ‘n mens nie net hoe om te skryf nie, dit leer jou hoe om weg te laat. Maar die grootste geskenk wat die kortverhaal aan ’n skrywer gee, is waarskynlik nie tegniek nie, dit is nederigheid.
Elke kortverhaal is ’n nuwe begin. Elke nuwe verhaal vra weer dieselfde vraag: Kan jy dit nóg ’n keer regkry? Daar is geen vorige sukses waarop ’n skrywer kan rus nie. Elke verhaal moet sy eie bestaansreg verdien.
Tog lê die grootste waarde van die kortverhaal nie eens in wat dit vir individuele skrywers doen nie; dit lê in wat dit vir ’n letterkunde doen.
Geen roman ontstaan in isolasie nie. Dit groei uit ’n netwerk van mense, geleenthede en publikasies wat saam ’n literêre ekosisteem vorm.
Nie elke kortverhaal word ’n roman nie. Gelukkig ook nie. Sommige verhale bereik presies die lengte wat hulle nodig het. Hulle vra nie vir meer bladsye nie. Hulle vra bloot om goed vertel te word.
Maar ander verhale hou aan groei. ’n Karakter wat oorspronklik net ’n byfiguur was, dring homself later na die voorgrond. ’n Tema wat eers in enkele bladsye ondersoek is, vra uiteindelik vir ’n hele roman. ’n Stem wat eers onseker geklink het, ontwikkel mettertyd tot iets wat lesers onmiddellik herken.
Só voed die kortverhaal die roman.
Daarom behoort ons op te hou om die kortverhaal as ’n afsonderlike genre te beskou.
Die plek waar ’n letterkunde homself vernuwe
As die kortverhaal slegs ’n leerskool vir nuwe skrywers was, sou dít reeds genoeg rede wees om dit ernstig op te neem. Maar dit is nie al wat die genre doen nie.
Wanneer daardie ontmoetingsplek kleiner word, voel niemand dit onmiddellik nie. Die verlies kom geleidelik. Ons sien dit wanneer belowende skrywers ná hul eerste sukses stil raak omdat daar min plekke is om verder te publiseer. Ons sien dit wanneer lesers jaar ná jaar dieselfde gevestigde name lees, terwyl nuwe stemme sukkel om gehoor te word. Ons sien dit wanneer uitgewers kla dat daar te min nuwe manuskripte is, terwyl talentvolle skrywers bloot nie die geleentheid kry om hul stem oor tyd te ontwikkel nie.
Dit is maklik om hierdie probleme afsonderlik te beskou. In werklikheid is hulle almal deel van dieselfde verhaal. ’n Letterkunde leef nie net van groot romans nie; dit leef van die ruimtes tussen die romans.
Daarom is dit opvallend dat sommige van die belangrikste ontwikkelingsprojekte in Afrikaans rondom kortverhale ontstaan het. Kompetisies, slypskole, mentorprogramme en bundels het oor jare heen dieselfde doel gedien: om nuwe stemme sigbaar te maak voordat hulle gereed was vir ’n roman.
Die waarde van sulke projekte lê nie daarin dat elke deelnemer later ’n bekende romanskrywer word nie. Dit is nog minder die doel. Die doel is om ’n ruimte te skep waar talent kan groei. Nie alle jong rugbyspelers speel eendag vir die Springbokke nie. Tog belê ons in skole, klubs en akademies omdat ons verstaan dat uitstekende sport nie vanself ontstaan nie.
Waarom sou die letterkunde anders werk?
Ons verwag dikwels dat ’n debutant met sy of haar eerste roman reeds volledig gevorm moet wees. Maar ’n skrywer ontwikkel, nes enige kunstenaar, deur oefening, terugvoer, publikasie en nog oefening. Die kortverhaal maak daardie groei moontlik.
Dit is ook waarom die gesprek oor die kortverhaal nie bloot ’n gesprek oor skrywers is nie. Dit is net soveel ’n gesprek oor lesers. Elke leser onthou die eerste skrywer wat hom of haar werklik aangegryp het. Soms gebeur dit deur ’n roman. Maar dikwels gebeur dit deur ’n enkele verhaal wat onverwags raak tref.
Die kortverhaal vra min van ’n nuwe leser. Jy hoef nie ’n hele naweek af te staan nie. Jy hoef nie eers seker te wees dat jy van die skrywer gaan hou nie. Jy gee net twintig minute van jou tyd.
En as die verhaal werk, begin iets veel groter. Vertroue. Dit is hoe nuwe lesers ontstaan. Nie deur reklame alleen nie, maar deur ’n goeie leeservaring. Daarmee bou die kortverhaal ’n verhouding tussen skrywer en leser lank voordat ’n roman op die rak verskyn.
Dit is miskien die grootste les wat die digitale era ons leer. Ons dink dikwels digitale publikasie gaan hoofsaaklik oor tegnologie. Maar dit gaan nie daaroor nie – dit gaan oor toegang.
Vir die eerste keer sedert die hoogbloei van die Afrikaanse tydskrifbedryf is dit weer moontlik om gereeld nuwe verhale te publiseer sonder die beperking van drukruimte. ’n Digitale platform kan weekliks nuwe kortverhale aanbied. Dit kan gevestigde skrywers langs debutante plaas. Dit kan lesers onmiddellik van ’n kortverhaal na ’n outeursonderhoud, ’n boekbespreking of ’n roman lei.
Maar selfs dit is nie die belangrikste nie. Die belangrikste is dat dit die gesprek tussen skrywer en leser lewendig hou. Vir baie jare was daardie gesprek vanselfsprekend. Tydskrifte het dit gevoer. Vandag moet ons dit op nuwe maniere voer.
Daarom lê die antwoord nie daarin om na die verlede terug te verlang nie; die antwoord lê daarin om die funksie van die verlede te verstaan. Ons het ’n plek nodig waar nuwe stemme gereeld gehoor kan word.
Miskien is dit juis hier waar die Afrikaanse boekbedryf sy grootste geleentheid het. Ons praat dikwels oor hoe om meer boeke te verkoop. Miskien behoort ons eers te vra hoe ons meer lesers kan laat lees. Die twee is nie dieselfde nie.
’n Leser koop nie ’n boek omdat ’n advertensie hom oortuig het nie; hy koop dit omdat hy êrens reeds vertroue in die skrywer ontwikkel het. Daardie vertroue begin dikwels by ’n enkele verhaal. ’n Verhaal wat lank gelede op ’n tydskrifblad verskyn het. Of dalk môre op ’n digitale platform.
Die nuwe bladsy 44
Elke letterkunde het plekke waar sy toekoms begin. Dit is nie noodwendig die groot literêre pryse, die topverkoperlyste of die romans wat die meeste aandag trek nie. Dit is dikwels die kleiner ruimtes waar onbekende skrywers hul eerste kans kry. Vir baie jare het die Afrikaanse kortverhaal daardie ruimte gebied.
Nie omdat iemand vooraf besluit het dit moet so wees nie, maar omdat ’n hele literêre kultuur daaromheen gegroei het. Tydskrifte, kompetisies, slypskole, bloemlesings en literêre feeste het saam ’n ekosisteem gevorm waarin nuwe talent ontdek, ontwikkel en uiteindelik gepubliseer is.
Saam het hulle iets geskep wat groter was as die som van hul dele. Daarom behoort die verdwyning van publikasiegeleenthede ons nie bloot sentimenteel te maak nie; dit behoort ons aan die dink te sit. Wanneer ‘n publikasiekanaal verdwyn, verdwyn daarmee saam geleenthede om talent raak te sien.
Ons praat dikwels oor die volgende groot Afrikaanse roman. Miskien behoort ons eerder oor die volgende groot Afrikaanse skrywer te praat. En nóg belangriker: Waar gaan daardie skrywer sy of haar eerste lesers ontmoet?
Dit is waarom die gesprek oor die kortverhaal uiteindelik nie ’n gesprek oor een genre is nie, maar oor die toekoms van die Afrikaanse letterkunde. ’n Letterkunde bly lewendig wanneer daar voortdurend nuwe stemme bykom en daar ruimte is vir vernuwing.
Die vraag is of ons die visie sal hê om daardie nuwe tuiste doelbewus te bou. Miskien is dit ’n digitale koerant. Miskien ’n literêre webwerf. Miskien ’n uitgewer wat besluit om weekliks nuwe kortverhale beskikbaar te stel. Of dalk is dit iets waaraan niemand nog gedink het nie.
Die vorm is minder belangrik as die funksie. Afrikaans het weer ’n plek nodig waar onbekende name gereeld langs bekende name kan verskyn.
Miskien is dit waarom die verdwyning van bladsy 44 my so diep geraak het. Nie omdat daar een minder kortverhaal was om te lees nie, maar omdat dit my laat besef het hoe maklik ’n letterkunde die klein ruimtes kan verloor waar sy grootste vernuwing begin.
Ons skuld dit nie net aan die volgende geslag skrywers om weer sulke ruimtes te skep nie. Ons skuld dit aan Afrikaans self.
Die vraag is uiteindelik nie waarheen bladsy 44 verdwyn het nie.
Die vraag is: Is Afrikaans bereid om sy volgende bladsy 44 te bou?
Lees ook:
Kortliks met Stefaans: Karina M Szczurek (samesteller) se Secrets


