Kortliks met Stefaans: Karina M Szczurek (samesteller) se Secrets

  • 0

Samesteller: Karina M Szczurek
Titel: Secrets
Uitgewer: Karavan Press
ISBN: 978-1-0492-2960-7

Die grootste gevaar met kortverhale is dat ’n bundel net so sterk staan soos sy swakste verhaal. Soms spring ’n bundel sterk weg met uitstekende verhale, maar verloor dan in die middel momentum. Dit raak nog moeiliker wanneer die bundel deur verskillende stemme saamgestel is, want ná een of twee swak verhale raak ’n mens maklik huiwerig om verder te lees – en dit is hieraan waaraan ek Secrets gemeet het.

Secrets bestaan uit 12 kortverhale wat spruit uit ’n werkswinkel wat Karavan Press gedurende 2025 aangebied het. Die werkswinkel en bundel is nou in hul derde jaar en die 2026-werkswinkel is reeds vol bespreek. Tiger is die debuutbundel van 2023; dit is in 2024 met Temperature opgevolg.

Ek het nie die verhale in publikasievolgorde gelees nie, maar eers die skrywers wat ook in Secrets se voorgangers gepubliseer is, onder andere Joëlle Searle (“Homeless”, Temperature); Firdose Moonda (“Woman. Place. Other”, Temperature); Michelle A Meyer (“Yellow blooms red”, Tiger); en Lucienne Argent (“See if it settles”, Tiger). Daarna het ek skrywers gelees wat ek uit Tattoo Press se Short.Sharp.Stories-bundels herken. Jana van Niekerk is byvoorbeeld met haar kortverhaal “Tryst” in One life (2024) gepubliseer, en Christine Coates het ’n indrukwekkende lys publikasies, van Temperature, Short.Sharp.Stories tot die Commonwealth Writers’ Prize en Short story day Africa.

Verskeie skrywers het ’n MA in kreatiewe skryfwerk, onder andere Zubayr Charles, Meyer en Coates. Nog stemme het ook in ander bundels, soos In other stories – wat deur Karavan Press uitgegee word – verskyn. Dit onderstreep die gehalte van hierdie bundel.

My gunstelingverhaal is Máire Fisher se “Odyssey”. Dit handel oor ’n vrou wat vir twee weke ’n skrywersretreat in Sutherland wil bywoon en haar opgewondenheid op Facebook deel. Vera Hannigan soek ’n saamrygeleentheid. Dit is veral die dialoog wat vir my uitstaan.

Ek hou van verhale wat my ’n blik gee op ander gelowe en kulture; in hierdie verband het Moonda se “The tunes that bind me” my verwagtings oortref. Meyer verras met ’n boek-spookstorie.

Karavan Press se bundels het ook aanleiding gegee tot Die blou pou, ’n kortverhaalbundel wat spruit uit ’n reeks werkswinkels wat gedurende 2025 deur die Klerksdorp Boekefees aangebied is. Dit demonstreer die krag van Karavan Press se bundels – dit inspireer lesers om self te skryf.

Besoek gerus hulle webblad by Books. Lees en skryf jouself leeg.

Lees ook:

Kortliks met Stefaans: 11 April 2025

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top