
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Titel: Vredemaker
Skrywer: Reggie Peace
ISBN: 9780796323767
Uitgewer: Lux Verbi
Kerke hou van sprekers wat verkeerde keuses in die lewe gemaak het en daarna ’n Damaskus-oomblik ervaar en hulle hele lewe 180 grade omkeer, om hulle gemeentelede te inspireer. Hoe meer mense jy doodgemaak het, hoe langer jy in die tronk was, hoe meer dwelms jy gebruik het en hoe hoër op in satanisme jy was, hoe beter.
Sulke Damaskus-stories gee mense hoop. Laat hulle glo: As hý sy lewe kan verander, wat keer my?
Die sanger en akteur Reginald Hufkie, ook bekend as Reggie Peace, het nie hierdie weg gevolg nie. In sy memoir, Vredemaker, skryf hy dat hy in ’n hok gebore is. Dit raak nie vir hom makliker nie. Kos was in hulle huis min, maar daar was altyd alkohol en dagga.
Op bladsy 18 skryf hy: “Ek en my broers moes amper elke tweede dag aan mense se deure klop om te vra vir kos.”
Later in sy boek skets hy ’n breër prentjie van die lewe van “mense van kleur” as gevolg van apartheid. “Kinders wat ma’s en pa’s verloor het. Armoede. Lae selfbeeld. Generational guilt en shame. Ons families is dag ná dag, jaar ná jaar herinner dat ons second-class citizens is” (bl 149).
Op die ou end voel dit asof jy nêrens het om heen te gaan nie. Persoonlik dink hy dit is wanneer baie jongmense na ander opsies beginne kyk. Opsies soos sigarette, alkohol, drugs en gangsterism.
Om dit uit die ghetto, of uit poverty, te “maak” is miljoene mense se droom, en Peace het dit met onderskeidings gemaak. Jou omstandighede bepaal nie jou toekoms nie, kry in sy verhaal betekenis.
Hy het van jongs af ’n keuse geneem om saam met die “top-brasse” van sy graad te chill. Hierdie ouens het alles in hulle vermoë gedoen om die boundaries te breek en uit die ghetto te kom. Rugby, krieket, atletiek, selfs akademie.
Elke geleentheid is aangegryp, al moes hy honger, kaalvoet en met asma die teerpad aandurf. Wat hierdie leser beïndruk, is dat die skrywer ’n paar keer daarop klem lê dat hy nie die beste was nie, tog het hy vir homself ’n atletiekbeurs los gehardloop.
Later in sy lewe word musiek, net soos hardloop, sy passie. Hy en Thama Khomunala skep die musiekgroep, Peacemaker. ’n Paar jaar later speel hy in sy eerste TV-rol en vandag is hy ’n bekende gesig. Suksesvol.
Sonder om op enige plek te preek, bied die skrywer hoop aan ghetto- en kinderhuiskinders. Jy is nie jou omstandighede nie en jou toekoms lê in jou hande. Kies reg.
Mense wat tans ’n storm beleef, sal veral by die lees van hierdie lewensverhaal baat vind. As Peace staande kan bly, kan ek ook.
Lees en kyk ook:
Hoe lyk ’n man? Anschen Conradie gesels met Stefaans Coetzee oor Sel ses
Lesersindruk: Swartz kloof sy siel soos die Rooi See in Kies die lewe oop


