Titel: Kies die lewe: leer dans in depressie
Skrywer: Ivor Swartz
ISBN: 9780796323033
Uitgewer: Lux Verbi
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
In Ivor Swartz se debuutboek Die verlore seun vannie Gaatjie het die Gerrit Brand-Desmond Tutu-pryswenner ons op ’n brutale, eerlike reis geneem, van Bosstraat 197 tot in die vier hoeke van Brandvlei Jeuggevangenis. Deur sy digterlike stem kon ons sy seer tasbaar aanvoel, ongeag of dit onder sy broer se vuiste, skerp woorde of in ’n enkelsel was. Hy eindig die boek af met ’n toekomsskets van gesprekke met tieners, ’n bier saam met ’n kollega en sy preek getiteld “Kies lewe”.
In sy nuwe boek Kies die lewe: leer dans in depressie, wat pas by Lux Verbi verskyn het, neem hy ons op ’n dieper reis waar hy homself nakend ontbloot. Waar hy destyds dwelms as ontsnappingsmiddel gebruik het, kloof hy nou die brandkluis van sy siel soos die Rooi See oop en deel met ons sy las op so ’n manier dat hy inspireer. Ons loop deur sy seer na ons eie veilige hawe.
Die boek spruit uit sy gedig “Bly lewe, asseblief”, wat op Facebook verskyn het. Die plasing is ook in Susan Jordaan se bundel Geseënd is dié wat treur opgeneem en loop hand aan hand met ’n geselsprogram met dieselfde titel op ViaTV.
Swartz bied nie vyf stappe tot ’n gelukkiger lewe as antwoord aan nie, maar gebruik sy verhaal as padwyser waarin hy die lesers aanmoedig om hulle eie reis en stories te vertel. Hy pleit ook dat ons, ons oë moet oopmaak vir mense rondom ons en die stigma rondom depressie breek.
Kyk ’n mens na die aantreklike, glimlaggende, jong man op die voorblad is dit bitter moeilik om te glo dat hy saam met depressie leef. Dalk is dit juis hoekom hy die gesig van depressie moet wees.
Die hoofstukke sluit in: jong mense vir wie alles te veel voel, ouers wat ’n kind aan selfdood verloor het, depressie onder mans, en hoe om ’n geliefde met depressie te ondersteun. Hy het tyd geneem om boeke en musiek te identifiseer vir die wilde blou dae en verskaf die nodige hulpbronne waar iemand kan aanklop om hulp.
Sy Facebook-plasings waarin hy mense by die skryf van die boek betrek, is toegestroom en hy deel ook van hierdie hartverskeurende brokkies in sy boek.
Ek beveel Kies die lewe vir almal aan, want as jy nie self met depressie worstel nie, ken jy iemand wat op moedverlore se grondpad rondval. Dankie, Ivor Swartz, dat jy lewe gekies het.


