Voorwaarts mars, March and March

  • 0

Grafika: ©CreativeCanvasDesign op Pixabay, gepubliseer op 25 Augustus 2026

Jacinta Ngobese-Zuma, is ’n Suid-Afrikaanse aktivis en stigter-leier van die antiimmigrantebeweging March and March. Sy en haar ondersteuners kon daarin slaag om die fokus direk te plaas op die kwessie van onwettige en ongedokumenteerde immigrante wat erge nadelige gevolge vir Suid-Afrika inhou. Hierdie burgerregteorganisasie het sy ontstaan in 2024 gehad, maar het in intensiteit en belangstelling gegroei wat nasionale asook internasionale aandag trek.

March and March het prominensie in die media gekry in 2025 nadat hulle staatsgesondheidsfasiliteite beset het in protes teen die beskikbaarstelling en die sorg aan buitelanders wat volgens hulle die geriewe oorheers het ten koste van Suid-Afrikaners. Vrywilligers het daarop aangedring dat pasiënte hul identiteitdokumente moes vertoon en beskikbaar stel ten einde te bepaal of hulle vir behandeling gekwalifiseer het om toegang tot die fasiliteit te kry.

Aan die einde van Maart 2026 het March and March, in samewerking met ActionSA en die Patriotiese Alliansie protesaksies van stapel gestuur teen die bekroning van die Nigeriër Igwe Ndigbo in Oos-Londen (nou bekend as KuGompo City). Tradisionele leiers en ander burgerregteorganisasies het by die protesaksie aangesluit en het die bekroningsplegtigheid as onwettig bestempel.

Die organisasie is ’n geregistreerde niewinsgewende organisasie en word gelei deur Jacinta Ngobese-Zuma. (Dit moet genoem word dat sy nie verwant is aan voormalige president Jacob Zuma nie.) Hul aanvanklike doel was om die probleme wat in die eThekwini-munisipaliteit (Durban) beleef en ervaar is, aan te spreek en daarteen te protesteer. Sy was ’n bekende radiopersoonlikheid, maar het haar voltyds toegespits op die werksaamhede van March and March nadat sy summier deur die radiostasie ontslaan was sonder enige substantiewe redes.

Soos die groep gegroei het, het hulle begin fokus op onwettige immigrante en hul bydraes tot die uitdagings wat die land tans ervaar. Kritici is dit eens dat swak grensbeheer en die toename in misdaad ook bydraende faktore is.

March and March het intussen gegroei tot ’n nasionale beweging en het sedert April en Mei 2026 teen ongedokumenteerde migrante in Pretoria, Johannesburg en Durban begin optree. Daar was berigte dat twee Nigeriese mans gedurende hierdie tyd gedood is.

Insizwe Nobonsizwa, ’n affiliaat van March and March, het ’n ultimatum met ’n vervaldatum uitgereik waarin vreemdelinge kennis gegee is om Suid-Afrika teen 30 Junie 2026 te verlaat. Hierdie kennisgewing het groot paniek veroorsaak onder vlugtelinggemeenskappe. Vroeg in Junie het duisende Malawiese burgers in Durban byeengekom uit vrees dat hulle aangeval sou word. Onwettige immigrante van Zimbabwe het by die Zimbabwiese konsulaat in Kaapstad vergader, ook uit vrees vir aanvalle.

Gedurende hierdie tydperk is meer as 70 000 Malawiese burgers en van ander buurlande per bus uit die land gedeporteer en het die regering vir die eerste keer kennis geneem van die omvang van hierdie krisis. March and March het die land aan die praat en vra vir strenger grensbeheer. Die beweging stel dit duidelik dat hulle visier op onwettige immigrasie is en nie immigrante nie. Hulle vra vir optrede teen ongedokumenteerde asielsoekers. Human Rights Watch en verskeie menseregteaktiviste is van mening dat hierdie oproepe van March and March xenofobiese aanvalle kan vererger deur hul optredes. Die regering sal met aanvaarbare beleide vorendag moet kom rakende vreemdelinge wat die land onwettig binnestroom.

........
Die beweging stel dit duidelik dat hulle visier op onwettige immigrasie is en nie immigrante nie. Hulle vra vir optrede teen ongedokumenteerde asielsoekers. Human Rights Watch en verskeie menseregteaktiviste is van mening dat hierdie oproepe van March and March xenofobiese aanvalle kan vererger deur hul optredes. Die regering sal met aanvaarbare beleide vorendag moet kom rakende vreemdelinge wat die land onwettig binnestroom.
........

March and March het nie slegs ’n gesprek begin nie, maar is besig om ’n organisasie te word wat al hoe meer aandag op die swak hantering van aansoeke van migrante deur korrupte en onbevoegde amptenary te plaas. Intussen is die “slagordes” van die organisasie opgestel om nog groter druk uit te oefen om die grondwetlike regte van Suid-Afrikaners te beskerm. Hul strydkreet “Suid-Afrika eerste” kan nie geïgnoreer word nie. Die verwydering en deportering van ongedokumenteerde en onwettige immigrante, asook die toepassing van strenger bestaande immigrasiewetgewing, is hul primêre veldtog. Hulle voer aan dat onwettige immigrante druk uitoefen op gesondheidsfasiliteite, behuising, openbare veiligheid, skole, werkskepping en indiensneming.

Die groep het erge openbare teenreaksie gekry oor hul samewerkingsooreenkoms met AfriForum wat op 18 Augustus 2026 plaasgevind het. Hierdie uitreiking na hierdie omstrede Afrikaner-organisasie het baie wenkbroue laat lig. Hul fokus sal wees op hoe gemeenskappe kan saamwerk om moontlike oplossings vir gemeenskaplike probleme te vind. March and March glo ook dat stelsels ingestel moet word om te verseker dat gemeenskappe hande vat om die regering aanspreeklik te hou vir uitdagings wat almal raak. Volgens beide partye hou gebrekkige grensbeheer ernstige gevolge in vir die ekonomie van die land. Wat hierdie samewerking gaan oplewer, sal die tyd wel leer.

Die Konstitusionele Hof het intussen bepalings van die Wet op Vlugtelinge ongrondwetlik verklaar omdat dit mense “op blote prosedurele of immigrasieverwante gronde (soos om die land op onreëlmatige wyse binne te kom) die reg ontneem het om vir asiel aansoek te doen”.

Wat die uitspraak in kort beteken, is die volgende:

  • Asielregte: Enige iemand wat in Suid-Afrika aankom en te kenne gee dat hulle asiel soek, het die reg om aansoek te doen, en daardie aansoek moet op meriete beoordeel word.
  • Geen outomatiese status nie: Die uitspraak verleen geen outomatiese vlugtelingstatus, permanentre verblyf, burgerskap of algehele wettiging aan ongedokumenteerde immigrante nie.
  • Geen herhaalde aansoeke nie: Die Hof het ook bevestig dat onsuksesvolle aansoekers nie ’n outomatiese reg het om eindelose nuwe asielvrae in te dien nadat hul eerste aansoek afgekeur is nie.

Hierdie oorspronklike direktief wat na aanleiding van die hofbevel uitgereik is, het daartoe gelei dat duisende mense by die vlugtelingontvangskantore opgedaag het. Die Departement van Binnelandse Sake het die direktief later teruggetrek nadat kantore oorweldig is en veiligheidsrisiko’s ontstaan het.

Waninligting oor die uitspraak het tot protesoptredes, geweld en beskadiging van eiendom gelei in plekke soos Soweto en Durban.

Dat March and March daarin kon slaag om die Suid-Afrikaanse dilemma uit te lig, is nie te betwyfel nie. Vir te lank het mense vanuit die noorde en die ooste die land binnegedring sonder enige gevolge. Suid-Afrika se soewereiniteit is onder beleg en word geskend soos nooit voorheen nie. Die regering sal sy grondwetlike verantwoordelikheid, verpligting en aanspreekliheid moet aanvaar teenoor die burgers van die land. Burgerlike organisasies sal hul waghondrol moet speel, want uiteindelik sal die vraag gevra moet word: Quis custodiet ipsos custodes? Wie sal die bewaarders bewaak?

Voorwaarts mars, March and March.

Danie van Wyk, Voorsitter: DAK Netwerk

Lees ook:

PEN Afrikaans se jaarlikse lesing oor uitdrukkingsvryheid en die reg om die ongemaklike vraag te vra

Om Hobhouse te onthou – 100 jaar later

Openbaregesondheidsoptrede en wetenskaplike navorsing: Wie is navorser Glenda Elisabeth Gray?

KI-miniseminaar: Kunsmatige intelligensie as uitwissingsbedreiging?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top