
Plakkaat: verskaf
André van der Merwe se Voces Cordis-koor het by 2024 se Toyota Stellenbosch Woordfees opgetree. Naomi Meyer het die geleentheid bygewoon en moes eenvoudig met André praat om te hoor of daar nog vanjaar enige verdere optredes van die koor gaan plaasvind.
André, jy is welbekend as koordirigent van die Stellenbosch Universiteitskoor. Jou Voces Cordis-koor het voor ’n vol Endlersaal by die Woordfees opgetree. Baie geluk met wat julle vermag het. Die Voces Cordis-koor verdien om van geweet te wees; wat is die agtergrond van hierdie koor?
Voces Cordis is in 2022 gestig en bestaan uit 75 koorlede van regoor die Skiereiland. Lede is meestal alumni sangers van my Stellenbosch Universiteitskoor en Stellenberg Meisieskoor.
Daar is ook alumnikoorlede van kollegas van regoor die land.
Die vertoning in die Endlersaal was verstommend en indrukwekkend. Hoe gereeld oefen julle? Ek is bewus daarvan dat die meerderheid van die koorlede nie professionele musikante is nie. Dit voel haas ondenkbaar as mens julle hoor sing het.
Ons oefen een keer ’n week. Koorlede onderneem om ook op hul eie die musiek te slyp. Dit is musikaal ’n sterk groep. Maandagaande repeteer ons vir twee uur in Durbanville. Dit is omtrént ’n storie, en kinderoppassers (meesal ouma en oupa) en gesinslewe moet georganiseer word om oefeninge te akkommodeer. En dan sing ons dat die biesies bewe! Hulle wíl graag sing, en die werksetiek maak dat ek redelik moeilike en opwindende repertorium ook met hulle kan aandurf.
...........
Hulle wíl graag sing, en die werksetiek maak dat ek redelik moeilike en opwindende repertorium ook met hulle kan aandurf.
...............

Foto van Voces Cordis-koor: https://www.webtickets.co.za/
Kore onder jou leiding wen internasionale pryse. Wat is jou geheim? Wat is vir jou die belangrikste komponente van die kore waarby jy betrokke is: die musiek se suiwerheid, die dinamika, elke lid se stem, die repetorium, die eenheid in klank, absolute dissipline?
Dis ’n kombinasie van ’n paar unieke faktore. Ek self is ’n klassiek opgeleide pianis en het ook drama studeer – gespesialiseer in regie.
Vir my is dit ’n heerlike uitdaging om ’n groep se volle ondersteuning vir die nodige dissipline te kry. Binne hierdie dissipline werk ek aan frasering (hoe musikale sinne gebou word) en intonasiekorrektheid.
As al hierdie tegniese aspekte aanwesig is, maak ek seker dat elke koorlid die musiek voel en vertolk.
Repertoriumkeuse en programsamestelling speel ook ’n rol met gehoorsielkunde. Voces Cordis het reeds ’n paar opdragwerke en nuwe verwerkings in hulle program.
As mens ’n konsert van julle bygewoon het, kan mens sien, hoor en ervaar wat gebeur. Die gehoor was op hulle voete; julle het almal saam met julle meegevoer na al die plekke waar die musiek vandaan is. Dit was egter meer as ontvlugting. Daar is iets betowerends aan hoe julle met die musiek omgaan. Waarom is koormusiek nie net belangrik nie, maar noodsaaklik?
Koormusiek weerspieël die samelewing van ’n spesifieke groep en die tydsgees. Koormusiek regoor die wêreld is gewild, want dit is so diep gewortel in ons kultuur-eie.
In Suid-Afrika het ons wonderlike diversiteit met verskillende kultuurkomponente. Dit bring ’n opwinding wat aansteeklik is!
’n Belangrike vraag: Wanneer is julle volgende optrede en waar kan mens kaartjies koop?
Die Galakonsert (ons laaste vir die jaar) is op Sondag 24 November om 16h00 in die Groote Kerk, Kaapstad. Koop hier kaartjies daarvoor.
Lees ook:
Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud met Saartjie Botha

