Vinkel en koljander: Die taal van lap

  • 0

Teks: Helena Opperman
Foto’s: [email protected]

Twee driehoeke vorm ’n diamant

Die son brand ongenadiglik in die klipwoestyn van Oman. Die aarde is witgrys verbleik. Hier en daar staan ’n triesterige ghaf, die stam skilferig, die fyn blaartjies vaalgroen.

Maar dan, om ’n draai, is hulle daar – helder spatsels kleur. Die dorpie se vroue werskaf in die alfalfalanderytjies. Hul kleurvolle uitrustings staan in starre kontras met die barre omgewing. Vir tradisioneel onderdanige vroue dra hulle kleur met durf en oordaad, dink ek by myself.

Dis ’n ou-ou land met ewe oue tradisies. Die man is die hoof van die huis, die dorp en die land. Oman se vroue word nie gesien óf gehoor nie. Hulle is bedek van kop tot tone. Openbare geboue en selfs huise het aparte ingange; vroue leef in aparte ruimtes binne en buite die huis. Dis die wet van die Koran en die man van Oman. Tog mor die vroue nie. Dit wat ek as onderdanigheid – selfs onderdrukking – sien, is oënskynlik vir die Omani-vrou ’n vanselfsprekende uitvloeisel van haar geloof. Dis ’n bevestiging van haar gehoorsaamheid aan Allah.

Vroue bid ook meestal tuis; mans by die moskee. Vroue is bokboere; mans beheer die kamele. Vroue maak tuin; mans sorg vir die water. Elkeen se rol is belangrik; beslis noodsaaklik om in ’n halfwoestyn te oorleef.

Oman is ’n droë land, op die rand van die vreesaanjaende woestyn; water is skaars en die grond boonop baie sout. Nogtans het die land vyf formele landboudistrikte met volop tamaties, komkommers, soetrissies, eiervrug, wortels en kool. Dadels, lemmetjies, neute, perskes, pere, appelkose, druiwe, vye, appels en granate getuig van deurdruk en aanhou – al is die aarde sout en die water skaars.

Oman se waterstelsels is van die oudstes in die wêreld. Vyf van die aflaj (meervoud van falaj) is in 2006 deur Unesco as bewaringskatte verklaar.

Mens kan nie anders as om jou hoed af te haal vir die wateringenieurs van die verlede nie. Vir duisende jare bring hulle water van hoog uit die berge of uit fonteine by die oases en voer dit langs ’n netwerk van kanale na die dorpies. Plek-plek loop die kanale vir kilometers ondergronds. Boonop is die roetes fyn beplan: eers drinkwater vir die mense, dan vloei dit verby die moskee vir reiniging vóór die vyf daaglikse gebedstye. Daarna gaan dit na die dorp se gesamentlike wasgoedpunt en heel laaste na die groentetuine en boorde.

Die falaj is veel meer as ’n waternetwerk. Dis die middelpunt van die dorpslewe. Dit bind die gemeenskap saam en vorm die basis vir die dorpsbestuur, sosiale en gemeenskapslewe. Die onderhoud van die aflaj is manswerk en alle eer aan hulle.

Blou soos die hemel

Tuine en bokke is vrouewerk. In gevestigde dorpies kan net ’n paar slag- en melkbokke aangehou word. Bokke met hul eienaardige vat-en-vreet manier van wei aard nie regtig in klein ruimtes nie. Soos die Bedoeïen het bokke spasie nodig, en dis die nomadiese vrou wat soggens haar trop vat om te gaan vreet en smiddae saam met hulle terugkeer. Bokboerdery het min deur die eeue verander. Dis geharde diere met meer tweeling- as enkelgeboortes. Gevolglik is daar altyd ’n bok om te verkoop – broodnodige kontant in die hand vir die vrou wat na die daaglikse behoeftes van die gesin moet omsien.

Aandete

Daar is ’n sterk band tussen die vrou en haar boktrop. Sy ken elke bok by die naam, praat met hulle – soms ’n skerp fluit, ander kere is een woord genoeg. Hulle is intelligente diere en reageer op haar stem, volg haar soos wat die tyd van die dag ook al bepaal.

Op Oman se platteland word die gang van die dag bepaal deur die mullah se geroep. Vyf keer per dag weerklink sy stem amper wanhopig tussen die stowwerige huisies en tentdorpies deur tot ver in die veld waar die bokke wei. Vroegoggend, as die mullah vir Fajr in die skemerdonker roep, begin die bokke maal in die kraal. Die vroue stook die vuur. As die mullah teen sonop die tweede keer roep, begin die bokke stoot en stamp by die kraalhek, reg vir die dag. Dhur se roep kom as die son stilstaan in die hemel en mens en dier die genade van skadu soek. Rondom vieruur met Asr draai die bokvrou en haar trop huis se kant toe. Die kos moet op die vuur, die wasgoed van die draad af.

Bokvoer

Een laatmiddag op ’n sinkplaatpad moet ek stop vir ’n trop bokke. ’n Ooi het pas geboorte gegee. Die dier stap onverstoord aan, die nageboorte slepend in die stof. Die bokvrou tel ’n pasgebore lam op, groet in my rigting.

My oog vang haar kleurryke mouboordjie. Handgeborduurde driehoeke vleg inmekaar en vorm ’n kleurvolle ketting. Onwillekeurig glimlag ek. Ons oë ontmoet en ek beduie. Sy glimlag ingenome en wys na die dorpie. By die ingang van die dorpie stop ek en gooi my abaya om my skouers en ’n pasjmina oor my hare.

Twee jong vroue kom haal my. Ek vermoed hulle het vinnig hul beste klere aangetrek – ’n wye jurk met ’n breë borduurstrook van nek tot soom. Hul los wye broeke is by die enkels saamgevat, ook met ’n ingewikkelde geborduurde band.

In ’n binnehof omring deur goiing haal ’n paar vroue mandjies met borduurwerk uit. Helder kleure en patrone spoel oor die kante. Ons verstaan nie mekaar se taal nie, maar ons gedeelde liefde vir borduur vergoed vir ontbrekende woorde. Ons praat deur naald en borduursteke, vind mekaar voel-voel in gare en lap.

’n Buurdogter word nader geroep. Sy ken ’n paar Engelse woorde. “Balush,”, sê sy. Ek het geen idee wat sy bedoel nie. Weer sê sy: “Balush.” Ek wys na my foon. Sy ken die Latynse alfabet en tik Balush in. ’n Wêreld gaan vir my oop. Die noordelikste deel van die Indiese Oseaan, die Arabiese See, skei Oman van Pakistan. Vanaf die vroegte tye het die twee streke handel gedryf, en wanneer daar probleme in hul land was, het die Baloesji na Oman uitgewyk. Die Baloesji-vroue is al eeue bekend vir hul handwerk, vertel Google my. En hier, myle van nêrens op ’n bloedige warm woestynmiddag, ontdek ek die eeue oue naaldwerk wat oor die Arabiese See en deur geslagte heen op die rand van die Groot Leë Kwartier vasgeskop het.

’n Nuwe kummah

Ek het al baie gelees oor die motiewe op matte en vind ooreenkomste in die borduurwerk. Baie van die motiefies verwys na voorwerpe uit hul omgewing, maar onderliggend het elkeen ’n simboliese betekenis. Die simbole gaan oor die dinge wat vir hierdie woestynmense saak maak: die voorsetting van hul bloed, dus fertiliteit, en ’n diepgewortelde vrees vir die bose. Hoe anders in ’n harde land met feitlik geen sekuriteit nie? Nie alleen is hulle uitgelewer aan die natuur nie, hulle het geen status nie. Die man kan ’n vrou skei deur drie keer “Talaq” te sê terwyl hy in die rigting van Mekka kyk. Dan moet sy vertrek met net dit wat aan haar lyf is.

Miskien is dit hoekom die vroue nie juis op tafel- of bedlinne borduur nie. Hulle werk ingewikkelde geometriese patrone op die mans se kummahs. Maar dis hul eie klere wat met kleur en digte patrone versier en verskans word. Die mees ingewikkelde hiervan is op die bors – daar naby die hart om haarself teen die bose te pantser.

Falaj

Die geloof in die bose oog is selfs ouer as Islam. Ná al die eeue loop die vrees vir die bose nog steeds diep in die psige. Zoroastriste (vuuraanbidders) het geglo: “The powers of demons and darkness; all devouring beasts and some horned beasts are evil to man.” Elke gebou, elke mat, elke borduurstuk het een of ander opsetlike klein foutjie; aspris gemaak sodat dit nie perfek is nie. Dan sal die bose, so word geglo, dit nie begeer en afneem nie. Dit is hoekom ’n baba ook vir 40 dae ná geboorte nie gesien mag word nie. Die bose oog is oral. Enige vreemde of jaloerse se blik kan rampspoedig wees: impotensie, steriliteit, probleme met menstruasie, swangerskap, geboorte of borsvoeding – selfs die dood.

Driehoeke – hajab – beskerm drievoudig: een sy teen honger en dors in die woestyn, die tweede teen siektes en die derde teen die bose oog. Die Omani-vroue verbind dikwels twee driehoeke om ’n diamant te vorm. Sterre simboliseer die hemelliggame en hul lig verdryf die donker magte. Die boom van die lewe staan vir fertiliteit en nuwe lewe. Sirkelmotiewe op die moue is horlosies wat die eindeloosheid van tyd simboliseer.

Blomme, en veral die granaatblom, is simbole van lewe en voortplanting. Granaatblomme word oor en oor in patrone gebruik. Tog is elke blom uniek in kleur en grootte en as ’n element van ’n groter ontwerp. Deur lap, gare en naald skep die vroue en gee sodoende betekenis aan hul daaglikse bestaan. Hul handwerk gee nie voor om groot kuns te wees nie. Dis eerder ’n uitdrukking van individuele en gemeenskaplike waardering vir die klein vreugdes en groot verlanges van hul daaglikse bestaan.

Skielik blaf-roep die man van die huis van iewers agter die goiingskerm. Iemand klap vieserig haar tong, maar hulle staan op, pak op en skarrel weg. Sy gesag is onmiskenbaar: een skelroep en die groep spat uitmekaar. Ek gooi my pasjmina oor my kop. Die bokvrou stap woordeloos saam met my, ons oë op die grond. Ek brand om ’n gesig by die blaf te bring, maar durf nie na ’n man kyk nie. Dit kan as ’n uitnodiging beskou word.

Ek groet die bokvrou. Sy kyk verby my; draai bot om. Ons kort gedeele tydjie is verby. Ek ken nie hul name nie; het hulle nooit weer gesien nie. Ons wêrelde is regtig so ver verwyder van mekaar soos die ooste van die weste. Tog, dié middag was borduurwerk vir ’n stonde ’n brug tussen kulture en kontinente.

In my motor skakel ek die radio aan. Dis die BBC se wêreldnuus. Knap oorkant die grens in Jemen word ’n dorpie uitmekaar gebombardeer. Die nuusleser gaan saaklik oor na ’n volgende onderwerp van wêreldbelang. Jemen se bom is afgehandel. Nog ’n dag, nog ’n bom. Nog onskuldige bloed vlek ’n driehoekketting om ’n vrou se mou. ’n Granaatblom bars bloedrooi oop op ’n sagte bors.

Sou die mans van die Midde-Ooste soms ná Asr iewers kon gaan sit? Dalk rus na ’n harde dag in die bloedige son? Iets kleins en kosbaar skep? Sou daar dan vrede wees?

Lees ook:

’n Vonds: Hennie Aucamp skryf oor die Visrivier-canyon

Vinkel en koljander: Bokvet, wierook en mirre

Vinkel en koljander: Silwer, sand en kohl-omlynde oë

Vinkel en koljander: Die see het gegee, die see het geneem

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top