Vinkel en koljander: Die see het gegee, die see het geneem

  • 0

Barka (Foto: michelleshelby1@yahoo.co.uk)

Teks: Helena Opperman
Foto’s: michelleshelby1@yahoo.co.uk

Vroegoggend vaar die boot uit diepsee toe. Dut-dut-dut ritmies oor die kruin van die brander, sak af in die trog, op na die kruin, af na die trog. Dis die oggendlied van die Arabiese See.

Die skipper staan wydsbeen stewig geplant op die brug. Sy oë fynkam beurtelings die lug en die oseaan. Hy lees die wind, die water en die taal van die voëls. Dis nie altyd maklik nie. Voëls maak, nes mense, draaie voor hul tot die punt kom. Hy is ’n kind van die see; hy praat die taal van die see.

Gister het die boot die laagvliegende swerm voëls ’n hele oggend lank gevolg sonder om net uit te gooi. Taai van die soutwater en sweet moes hulle onverrigter sake omdraai. Genadiglik was daar, net by die hawemond, ’n hoelahoep vol silwerlywe vlak langs die boot. Min, maar genoeg vir die tafel gisteraand. Vandag móét hy genoeg vang om ’n duik te maak in die boot se paaiement. Dis die einde van die maand en betaaltyd.

Die skipper se oë volg die voëls. Hulle sirkel hoog. Hulle wag vir die dolfyne en tuna om die kleiner visse na die oppervlak te dryf. As die voëls duik om te vang, stuur hy die boot vinnig in en gooi net uit. So werk seevoël, vis en mens saam om ’n lewe te maak.

Bondel vis (Foto: michelleshelby1@yahoo.co.uk)

In Muskaat ry ek dikwels laatmiddag om vis by Seeb se vissouk te koop. Dit lyk chaoties, maar ek het al geleer: Dis geordende chaos. In die Oman-klimaat raak die vis gou bederf en daarom gebeur alles in hoogste rat. Sardiens word by die emmer verkoop, makriel by die bos en die res volgens gewig. “Nee, ek kan nie ’n filet kry nie. Ja, jy moet die hele vis vat. Wie eet dan nou alleen?” Die vissmous kyk my fronsend aan.

As jy te laat is vir vars vis, is daar tafels vol gedroogde filette opgestapel soos sopborde in ’n plaaskombuis. Agter die tafels hang visbiltong by die bosse en as jy een van die agterste bossies kan kry, kompeteer jy nie met die strandvlieë vir ’n soutlekseltjie nie.

Vis is ’n belangrike deel van Oman se ekonomie, met ryk bronne van sardiens, makriel, tuna, barrakudas, garnale en kreef. Die land spog met ’n hele paar groot visverwerkingsfabrieke.

Maar ek stel nie belang in die formele industrie nie. Op ’n dag vat ek die pad noordwaarts deur die klipwoestyn al met die kus langs. Ek ruik die see, daardie vars soutreuk wat die water, wind en diepsee se stories bring. Dis ’n verlate stuk aarde. Tientalle klein kusdorpies bak in die hewige son. Oorkant die verste horison is Iran, noord lê die Verenigde Emirate, en as ek vandag suid sou ry, sou ek uiteindelik by Jemen kon uitkom.

Die grysvaal dorpies is die hart van Oman se visserslewe. Die mense langs die amper 3000 km lange kuslyn ken die see en sy nukke, en ek wonder hoe hulle in die amper-niks kan oorleef.

By ’n klein dorpie sit ’n paar vroue met komme in die smal koelte teen die hawemuur. Hulle is rustig, praat min. Selfs toe die boot by die hawemond inkruip, bly hulle geduldig sit.

Die kole is reg (Foto: michelleshelby1@yahoo.co.uk)

Dis harde werk om die wriemelende silwer lywe uit die water te kry. Die vissers spring van die boot af en vorm twee rye. In die vlak branders gryp elk ’n punt van die net en begin trek. Die seningrige liggame span al leunend na agter. Hulle plant die bene, voer die toue. Dis handekerfwerk. Soos die net slap word, skuif die vissers aan strand toe. Begin weer stu teen die net en die moegheid in die lyf. Heuphoogte in die grys branders maak hulle die net se punte aan twee wagtende voertuie vas. Die skipper gee die teken en die twee bakkies trek saam-saam geleidelik die net teen die nat strand uit.

In die vlakwater storm ’n paar seuns nader. Hulle spring-skep, spring-skep om uit die pad van toue te bly. Hulle is in die pad van die nettrekkers, maar niemand raas nie. Niemand verjaag hulle nie. Dis ’n bekende ritueel, deel van die lewe op die platteland van Oman.

Vrygewigheid is die wese van Islam en barmhartigheid in die gene van die vissersmense. Hier word rykdom gemeet aan of jy genoeg het om weg te gee.

(Foto: michelleshelby1@yahoo.co.uk)

Toe die vis op die tafels kom, beweeg die vroue in groepies, stry oor die prys met skerp stemme en diep ggh-klanke. Hulle lag onder mekaar, stap met die kom vis op die kop huiswaarts. Ek soek ’n vis uit en bêre dit in die koelboks. Ek wil nie huis toe gaan nie en stap verby die rye tafels en afdakkies.

’n Ou man sit op n omgekeerde boot, ’n geskeurde net opgehoop voor sy voete. Hy gly die net tydsaam voel-voel deur sy vingers; gooi gebreekte vislyfies oor sy skouer vir die wagtende meeue.

Ek maak my tuis teen die duin en hou hom dop. Hy gly-trek die net stukkie vir stukkie, en as hy ’n skeur kry, draai hy sy kop skuins en bekyk die skade uit die hoek van sy oog. Hy span die net tussen twee paaltjies, neem ’n spoel met gare. Met geoefende vingers knoop hy die lasgare in patrone om die skeur toe te maak, maak ’n knoop in die teenoorgestelde rigting en ’n ekstra knoop vir veiligheid voor hy die tou knip.

Sy vingers beweeg moeiteloos, jare se gewoonte vasgelê in die knopperige vingers. Hy is oud, feitlik blind, maar staan sy plek vol. Hy doen sy deel om die boot op die water en kos op die tafel te hou.

Die reuk van gebraaide vis hang in die lug. ’n Paar opgeskote seuns draai twee-twee ’n swaar rooster om en die vet drup van die varsgeskroeide vissies. Hulle staan terug, koes weg van die hitte. Na ’n rukkie vat een ’n vuurhoutjie en druk dit deur die lyf van ’n vissie. Die vis is reg en omstanders koop gretig die happiegrootte genot direk van die kole af. Hulle sluk blaas-blaas.

Een seun haal sy kummah af, vee die sweet van sy voorkop. Versigtig neem hy ’n groterige sardien aan die stert en draf na die ou man. Hy buig, hand oor die hart met ’n gawe uit die hart. Die ou man vat die gebraaide sardientjie met ’n glimlag.

Hy kyk vraend in my rigting; sy oë is blou van die katarakte. Hy voel aan daar is iemand, maar my beeld bly ’n skim. Wat sou ’n vrou sonder ’n hidjab in elk geval by sy werkswinkel soek?

(Foto: michelleshelby1@yahoo.co.uk)

Ek stap verder strand langs, onwillig om huis toe te gaan. Ek wil nie gaan inpak nie. My tyd in Oman is verby. Die meeue kners en saam met hulle kners-kla ek. My terugkeer na Afrika stem my diep onrustig.

Toe kom ek op hom af –opgekrul in ’n perfekte spiraal lê hy daar. ’n Seeslang.

Dis ’n dik slang, lank met geel en swart ringe, plat stert, klein kop. Hy lyk rustig, tevrede, asof in ’n diep slaap. Dié slange kom in die diepsee voor en tog, hierdie pragtige dier het ongeskonde op die strand uitgespoel. Maar sagkens opgekrul? Het hy die strand opgesoek om hier op vreemde sand te kom sterf?

Ras Al Had (Foto: michelleshelby1@yahoo.co.uk)

Ek wil huis toe jaag, ’n kamera gaan haal, maar ek weet dis tevergeefs. Teen die tyd dat ek terugkom, sal hy weg wees. Die see gee en die see neem.

Ek draai om en ry stadig huis toe, die venster oop sodat die seebries vir oulaas sy stories kan vertel.

(Foto: michelleshelby1@yahoo.co.uk)

 

Lees ook:

Reis in die tyd van die korona: onder vreemde hande

Vinkel en koljander: Bokvet, wierook en mirre

Vinkel en koljander: Silwer, sand en kohl-omlynde oë

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top