Reis in die tyd van die korona: onder vreemde hande

  • 0

’n Telefoon wat lui in die stilte van die nag. Selfs voor jy die foon optel, weet jy – dis doodsake. Deesdae kom die tyding met Whatsapp, so tussen lockdown-grappies en ’n bangmaakstorie oor ’n rekenaarvirus. Dis ’n gewone Maandagoggend toe die Whatsapp kom: Eldri is dood. Was hy op pad om weer te gaan kyk hoe die bitterbos blom in die bergveld daar in Sutherland? Ek bly wonder, maar vra Judith nie. As ek nie wéét nie, kan ek die werklikheid eers ontwyk.

Eldri se dood neem my terug na ons tuisdorp, waar die roudiens voorafgegaan is met ’n reeks enkelslae van die kerkklok. Helder klokslag op helder klokslag; een vir elke lewensjaar. Dit was in die geskiedenisklas dat dié klokslae hard met my gepraat het. Helder. Een vir een. Verby was my oopoogslapie terwyl Kreef my tevergeefs probeer oortuig van die Afrikaner se ingebore adel.

My dorp was ’n vooruitstrewende plek van ou mense en ou geld. Begrafnisse was deel van die sosiale kalender. Dit was ’n plegtige geleentheid met gepaste woorde oor die afgestorwene en vir die agterblywendes. Die afgestorwene se sosiale status is gemeet aan die lengte van die stoet, die aantal kranse op die kis en die kreunende tafels ná die tyd by die kerksaal.

Ons treur immers binne die konteks van ons tradisies.

Een broeiende somersmiddag het die kerkklok net 18 keer gelui. Chris was net 18. Chris het vir die eerste span rugby gespeel. Chris was die siel van die garagepartytjies. Chris met duifgrys oë en ’n spoggerige swart kuif.

Waarom het Chris sy pa se geweer geneem en sy brein weggeblaas?

Daar was ’n ander Chris twee dekades later. Ons het dié Chris met sy blouselblou oë en helder vel op ’n soel Maartmiddag gegroet. Toe die kis sak, het sy motor onverwags aan die toet gegaan. Sy vrou het geglimlag, skuins gefluister. “Ek’s seker dis Chris; vir oulaas wil hy my treiter.” Hy was ’n terggees en dit was ’n ou kwaal van die blou Corona; het aan die toet gegaan op die mees ongeleë tye.

Dit het begin met ’n liefderyke drukkie. Helna se hart het in haar keel gespring. Dit was ’n lelike groeisel. Die dominee probeer troos. Die gesin probeer sin maak. Hul verloor nie net vir Chris nie, maar ook die plaas.

Waar die Langeberge reeks op reeks in die verte al blouer word, het ons Erina op hul plaas begrawe. Die stoet kruie berg-uit stofpad langs. Ons parkeer op die werf. Die lykswa ry alleen teen die klipperige steilte uit tot by die witgekalkte muur. Die kis skuif uit, maar Erina se vierjarige pluk aan sy pa se baadjie. Die sterk boerehande word stil op die handvatsels van sy vrou se kis. Hy beduie hulle moet die kis terugskuif; vat die klein handjie om in die naaste bossies te gaan piepie.

Sy mamma was nie daar om hom te help met die vreemde kerkbroek se rits nie.

In Mbala, ’n klein dorpie in die noorde van Zambië, kry ek die nuus dat ’n buurvrou se dogter oorlede is. Op my Westerse manier stap ek met ’n bord koekies om my simpatie te betoon. In die sitkamer sit ’n groepie vroue. Die rooi-en-swart sitkamerstel is teen die muur geskuif. Die vroue sit in ’n kringetjie plat op die vloer. Ek word woordeloos by die kringetjie ingetrek.

Mev Banda kerm-roep hoog en rou. Die vroue eggo met ’n diep kreun. Sy roep, hulle eggo. ’n Ma se herhaalde pynroep beaam deur haar vriendinne se kreunsang. Sy kreet haar pyn hard en openlik uit; haar vriendinne beaam dit kollektief. So sit ons die res van die middag.

Aanvanklik voel dit vreemd. Later is ek bly ek kan my simpatie juis so betoon; dat ek nie hol woorde hoef te probeer formuleer nie. In my kultuur is pyn privaat, treur mens in jou binnekamer. Konsulteer selfs die stadiums van pyn soos bespreek in die selfhelpboekies op die bedkassie. Trane word braaf weggevee tydens die teesessies; mens kug om die stem wat wil breek, weg te steek

Laatmiddag word die ma se kermgeluide al sagter en staar sy mettertyd gelate voor haar uit. Sononder staan sy op om die vuur te stook. Een vir een vertrek die ander om hul aandwerk te begin – hout soek, kos maak ... ’n Kind is dood, maar die lewendes moet eet.

Pyn is ’n gelykmaker. Ons mag verskillend treur, maar in die binnekant lê seerkry ewe diep.

Die volgende dag stap ek te voet agter die kis aan. Die broers, neefs en ooms maak beurte om die ruwe kis op die skouers te dra. Dis ’n paar kilometer na die begraafplaas en die stoet groei aan hoe verder ons stap. Ek sien meer en meer oë na my draai – ’n mzungu-vrou is ’n raar verskynsel in die landelike gebied. My teenwoordigheid word ’n steurnis. Ek is na alles ’n vreemdeling.

By die dorpsgrens glip ek weg.

Edward, ons huishulp, neem my die volgende dag na die begraafplaas. Ons moet ver stap deur loopgrawe wat die Britte in die Tweede Wêreldoorlog gegrawe het in afwagting van ’n Duitse aanval uit Tanzanië. By die vars hoop grond is ’n kleipot met ’n mielie – padkos vir die ver pad na die hiernamaals, verduidelik Edward. Die begraafplaas strek eindeloos oor die stofvlakte, gebreekte potskerwe op die grafte.

’n Kobra verdwyn tussen die hopies grond.

Foto: Johan Opperman

Terug in Lusaka hoor ek van ’n begraafplaas met verskeie Boeregrafte vlak langs die middestad. Ek loop die grafte een vir een na. Die meeste is redelik versorg, ander vervalle. Ek kry ’n paar Boerename tussen die Pole, Duitsers, Britte, Skotte, Iere en Italianers. Daar is ’n piepklein kapelletjie wat ’n jongman oor sy bruid se graf gebou het, maar ook ’n geroeste ysterkruis wat ’n onbekende se laaste rusplek aandui.

Uiteindelik kry ek die Boeregrafte. ’n Koplose sementdogtertjie hou wag oor die twee maande oue Lynette van Schalkwyk.

Lomp hande het ’n eenvoudige grafsteen gemaak vir Hermanus Chrisstoffel Cloete. Geld het ontbreek – die liefde nie.

Foto: Johan Opperman

By die graf van ’n 21-jarige bly ek lank staan: HIER RUS ONS DIERBARE SEUN / BNL ROUX / GEB 25.1.1907 te ZEERUST / OVL 17 MEI 1928 / VER VAN OUERHUIS GESTERF ONDER VREEMDE HANDE.

My tuisdorp is baie ver. Tog hoor ek die kerkklok onafgebroke die lewensjare aftel. Dit hou aan en aan en vul die strate, die stad, die kontinent.

Iewers klap ’n geweerskoot. Iewers blaas ’n toeter. Iewers piepie ’n seuntjie in die bossies en iewers lê vergete potskerwe. Die swartkop Dorpers trop Sutherland se bergveld in waar kapokbos, bitterbos en vyebos ná jare se droogte geil staan.

Foto: Johan Opperman

 

Lees ook:

Reis in die tyd van korona: vinkel en koljander

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top