Reis in die tyd van korona: vinkel en koljander

  • 1

Boonste foto van Nairobi, links: wikipedia; bron van ander twee foto’s van Nairobi en omgewing: Pexels.com

"The Public Prosecutor asks me to say ... that it is because M Carless was gentlemanly in this thing, because you were all gentlemanly ... that he has decided not to proceed with it."

Deur "gentlemanly" optrede word ’n aanklag van manslag in ’n afgeleë Armeense dorpie in die 1950’s afgeweer, vertel Eric Newby in A short walk in the Hindu Kush.

"Gentlemanly" is deel van ’n internasionale taal; ’n taal wat uit meer as net woorde bestaan. Dis die taal van vinkel en koljander, die een is soos die ander. Ons verskil uiterlik in velkleur, oogvorm en die taal wat ons praat, die kos wat ons eet, hoe ons dit eet, maar binnekant het ons dieselfde vrese en verwagtinge.

Op ons Oktober 2020-koronareis van Lusaka na Dar es Salaam onthou ek weer hoe gentlemanly gedrag grense kan oorbrug. Wat in normale tye ’n reis van twee en ’n halfuur moes wees, duur 36 en ’n halfuur. Ons bring 27 uur daarvan deur op Nairobi-lughawe, waar reuse-TV’s dag en nag Afrika se sokkerprestasies uitbasuin. Opgekookte hoender, wit brood en oorvloedige gebruik van gratis bier skuur aan my siel.

Ek vergeet van gentlemanly toe ons by Precision Air se toonbank aanmeld. Kaartjies in die hand is ons gereed om op te styg; net om uit te vind Precision het ’n bietjie vergeet dat hulle nie kaartjies behoort te verkoop vir ’n vlug wat al in Maart 2020 gekanselleer is nie. Altyd ’n gentleman, knik my man begrypend. Sulke foutjies is immers net menslik. Beleefd vra hy na die volgende vlug.

Ek draai summier om en stap die dieptes van die gebou in. Die omdraai en wegloop is al vir twee dekades ’n ononderhandelbare reël. Ek, vir wie woorde maklik kom, móét swyg as ons reis. My woorde kan net te vinnig in ’n skerpsnydende swaard verander. My man, effe swaarder van tong daarenteen, se sagte woorde werk wondere in krisismomente by grensposte, immigrasietoonbanke en padblokkades.

Ek dink terug aan ’n ander reis na Tanzanië, bykans 20 jaar gelede. Ons het in die noorde van Zambië op die Tazara geklim – eindbestemming Dar es Salaam. Oor die spoorlyn deur die Chinese gebou skryf Paul Theroux in Dark Star Africa: "The Tazara Railway went into decline the moment it was finished, though over the years there were spells – convulsions really – during which attempts were made to repair it. Some years it was unrideable."

Ons het 04h00 dié nag opgeklim met die bewys dat ons vir ’n hele kompartement betaal het. Vier slapendes val uit ons aangewese kompartement en strompel uit die trein. Hulle laat lyfwarm komberse in hopies agter. Ons wys die beddegoedkaartjies. Die vriendelike kondukteur wys na die komberse en verdwyn in die rukkende gangetjie van die treinwa.

Die volgende dag probeer ons ’n paar keer weer: wys die beddegoedkaartjies; maar sy beduie net na die gebruikte komberse. Gentlemanly gedragkode skoon vergete, smyt ek laatmiddag die vier komberse in die gang. Minute later staan die hoofman-oor-honderd in sy blou-en-goud uniform voor die deur, hoogs ontsteld. Die vrou – dis nou ek – het Tazara-eiendom beskadig en sal by die volgende stasie die trein moet verlaat. My man neem oor, druk my in die kompartement en maak die deur toe.

Hy praat mooi. Hy verduidelik van die vorige gebruikers van die komberse. Hy vertel van herhaalde versoeke en beddegoedkaartjies. Hy vra verskoning vir sy vrou se onverskoonbare optrede. Boonop maak hy aanspraak op die heer se begrip vir moeilike vroue, veral dié wat weens afwesige beddegoed nie kon slaap nie. Ek slaak 'n sug van verligting toe die hoofman se stemtoon 'n paar oktawe daal en die gesprek na Bafana Bafana oorgaan.

Ek onthou ’n ander keer toe ons lank gewag het in Muskaat vir die immigrasiebeampte om op te daag. Uiteindelik slenter die Omani en ’n paar vriende rustig verby die tou wagtendes. Hy help sy vriende al geselsend. My visum verstryk op die spesifieke dag en dieselfde oggend verneem my man van ’n dringende vergadering. Hy is gespanne, kyk kort-kort op sy horlosie. Wetende hoe die verkeer lyk, stap ek na die toonbank en verduidelik hoe lank ons al wag; hoe dringend ons elders moet wees. Die Omani ignoreer my; sê oor my kop vir my man: "Control your wife." My man trek sy skouers moedeloos op en fluister vertroulik: "I don’t know how you handle more than one wife." Man-tot-man kyk hul mekaar in die oë en met ’n betigtende blik in my rigting stempel hy my paspoort.

Ferm vriendelik – immer gentlemanly – is die enigste uitweg, ook in die chaos van reis in koronatyd. Nie net kry die gentleman vir ons ’n aansluiting met ’n ander redery nie, hy beding ook vir ’n klein sitkamer in die ou gedeelte van die lughawe. Dis regtig nie goed toegerus nie, maak die Precision-man verskoning. Maar dis stil. Mense verkies die nuwer Pride of Africa-sitkamer.

Ons sluimerslaap die ure om en word wreed wakker geruk toe ’n deftige jongman die sitkamer binneseil. Hy is een van daardie mense wat ’n entrance maak, eenvoudig raakgesien-moet-word. Hy roep die kelnerin om die TV aan te skakel en laat haar soek totdat hy tevrede is met die kanaal.

Hy bestel ’n bier, maar dis nie na sy smaak nie. Hy ignoreer die rooi koronalinte en gaan krap self in die kroegtoonbank. Die kelnerin keer vervaard en ’n ligte skermutseling ontstaan. In proses word glase en drank omgestamp. Skerwe spat oor die vloer. Hy vryf vieserig die druppels van sy chintz-pak met die goudomboorde Mandela-kragie, trap versigtig om die bukkende kelnerin wat naarstig probeer opruim.

Hy draai hom dwars in ’n gemakstoel en roep vir ’n spyskaart. Hy stryk verbeelde kreukels uit die swart pak en skop-skop genoeglik met sy spinnekop-in-die-hoek-dooddruk-skoenpunte terwyl hy sy selfoon uithaal. Onder die TV se geblêr maak hy ’n video-oproep met die luidspreker aan. Hy draai die foon sodat sy vrou/vriendin die sitkamer kan sien, hou die kamera op die kelnerin terwyl hy verduidelik hoekom die toebroodjie nie na sy smaak is nie.

Verbind tot stilswye, pak ek my goedjies. En toe staan die man van min woorde op, loop na ons buurman en sê: "Can you please keep your voice down."

Ek is yskoud; het vir ’n verandering geen woorde nie. Die koerantopskrif "Afrikaanse paartjie in Nairobi in diplomatieke herrie" flits voor my geestesoog.

Ons buurman verstar, druk sy foon dood, vra verskoning, skakel die TV af, vra weer verskoning en gryp sy bagasie. Ek kyk verby die deftige pak, die arrogansie, en sien sy verwarde oë. Hy is ’n jong man in ’n deftige pak, maar eintlik nog nat agter die ore. Dis moontlik sy eerste internasionale vlug. Dalk is die oomblik net te groot vir hom? Ek sien myself lank-lank gelede toe ek my land die eerste keer verlaat het. Hoe opgewonde was ek nie om die wye wêreld te betree nie.

Ek probeer keer; hardloop agterna, maar die chintz-pak verdwyn in die mensemassa van Nairobi-lughawe.

Skaam kyk ons na mekaar – die man van min woorde, die spraaksamige vir eens sonder woorde.

Hy was net ’n opgewonde jong man; uiterlik gesofistikeerd, innerlik verwondbaar. Tog, bedagsaamheid teenoor kelnerinne en bure kom uit hart en huis uit. Dit is nie noodwendig die resultaat van ervaring of blootstelling aan die wye wêreld alleen nie.

Láátnag op die donker vlug na Dar es Salaam dink ek aan die jongman se verskrikte oë. Ek hoop hy is veilig slapend op pad na sy bestemming. Ek hoop as hy môreoggend wakker word, is daar begrip en selfinsig in sy oë, nie woede nie.

Sosiale afstand het in die tyd van korona ’n bykomende betekenis gekry: beskerming teen die virus. Maar daar is ’n ánder sosiale afstand, dié een wat floreer op die verskille tussen mense: hoe ons lyk, praat en optree. Dié weergawe beskerm nie; dit breek eerder af.

Ongeag al die uiterlike verskille is ons hier diep binne so eenders: kwesbaar en dikwels "ungentlemanly".

Lees ook:

Reisskets: Die kleur van jou vet

Reisskets: Gekamoefleer teen die lewe

Reisskets: Die dans van die riete

COVID-19 in Zambië: Laat ons nie die oumas vergeet nie

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Jacques le Roux

    Love dit. Nie almal kry dit reg nie, maar gentlemanly is hoe jy deur grensposte en ander situasies, nie net in Afrika nie, maar oraloor die wereld kom. Jy mag, maar deel!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top