COVID-19 in Zambië: Laat ons nie die oumas vergeet nie

  • 0

Fotobron: Pixabay

"Tuleisakamana" ("Stop Coronavirus"), sing die ou vrou wat die grenadellas by ons heining in ’n doek bymekaar maak. "Tuleisakamana" weergalm in die leë gange van die yslike mall in Lusaka. Op ’n reuse-TV-skerm maan B’Flow die Zambiese nasie om hande te was; tuis te bly. Vóór die virus was dit die yuppies wat saam met B’Flow (Brian Bwembya) in nagklubs gesing het. Nou neurie selfs die oumas die woorde van "Tuleisakamana".

Ons kompleks is onaardig stil. Die Oostenrykse en Australiese kindertjies is vroeg in die COVID-19-sage reeds landuit; die Amerikanertjies op een van die laaste vlugte wat Kenneth Kaunda-lughawe verlaat het. Die skoonmaker se kinders is by die ouma in die village.

Dis ’n algemene gebruik – die verbintenis met die village lê diep in Zambiërs se psige. Hul wortels is steeds in die village; dis waar hul veilig voel. Stout kinders, verveelde kinders, in-die-pad-kinders word village toe gepos, na ouma toe.

Zambiërs is net gedeeltelik ingeperk, maar die stad het feitlik tot stilstand gekom. Vir ’n week is geen nuwe COVID-19-gevalle aangemeld nie en die gemoedere begin lig. Toe, op 13 April, word vier nuwe gevalle aangemeld. Amptelik is 43 siek en twee dood, steeds gering in vergelyking met wêreldstatistieke. Dalk, wie weet, is korona betyds gekeer, gis die Zambiërs versigtig.

Verskeie redes word aangevoer. Eerstens was dit so beskik dat die virus die wêreld tref vóór die afskop van die Zambiese toeristeseisoen in die laatherfs en winter. Die somerreëns verander gewilde toeristebestemmings jaarliks in moerasse, onbegaanbaar vir voertuie en toeriste. Gelukkig is betreklik min toeriste dié tyd van die jaar in die land. Sou COVID-19 ’n paar maande later gekom het, was duisende buitelanders in die land, met potensieel katastrofiese gevolge.

Voorts is algemeen gevrees dat die Chinese werkers die virus sou saambring ná hul Nuwejaarsvieringe in China. Oor die afgelope dekades is die Zambiese konstruksiebedryf feitlik oorgeneem deur Chinese konstruksiemaatskappye. Derduisende Chinese het die land binnegekom en hulle werk gewoonlik deur die Kersseisoen. Januarie gaan hulle graag huis toe om die Chinese Nuwejaar saam met die familie te gaan vier. Die geluk by die ongeluk is, gewone Chinese werkers kan bloot nie bekostig om China toe te vlieg nie. Dis slegs senior bestuurders wat jaarliks terugvlieg. Werkers gaan hoogstens elke tweede jaar China toe. Die Chinese wat wel teruggekom het, was onder dubbele kwarantyn: eers in China en daarna in Zambië. Alle passasiers uit China is op die lughawe gelys en onder selfkwarantyn geplaas. Hul gesondheid is daagliks deur gesondheidswerkers gemonitor.

’n Derde rede vir die betreklik lae getal pasiënte is Afrika se ervaring in die hantering van aansteeklike siektes soos Ebola. Zambië spesifiek het kort-kort choleraprobleme en so onlangs as 2018/2019 is 98 mense binne ’n kort tydperk dood. Navorsers het daarop gewys dat ’n veel hoër sterftesyfer verhoed is – juis omdat mense goed ingelig was en hul bydrae gelewer het. Skole en universiteite was vir maande gesluit. Die stad is van hoek tot kant skoongemaak en ontsmet. Die publiek, winkeliers en selfs straatverkopers het al morrende saamgewerk om die verspreiding van cholera te keer. Ook in dié 2020-pandemie is die siviele gehoorsaamheid opvallend in die stad.

Boonop het Zambië nie ’n goeie gesondheidsisteem nie en mense aanvaar dat mediese hulp nie vryelik beskikbaar is nie. Hulle neem gevolglik verantwoordelikheid vir hulself en hul gesin se gesondheid, handhaaf sosiale afstand en was hande.

Die virus het vroeg Maart die land binnegekom saam met ’n Zambiese egpaar wat in Frankryk vakansie gehou het. Hulle het onmiddellik hulp gesoek toe hul siek word en dit het aanvanklik voorgekom asof die Zambiese regering se vinnige optrede doeltreffend was. Maar toe word ’n Pakistani, pas terug van sy tuisland, siek en binne dae was daar 39 bevestigde gevalle.

Ongelukkig is alle Pakistani’s nou verdagtes – en selfs veragtes. Een bekende blogger is besonder uitgesproke:

They recently attended an Islamic annual ceremony. Just there in Pakistan, government orders for maintaining social distancing amid COVID-19 were defied blatantly by the Pakistanians and all those that travelled there. These people … are the ones spreading the virus in Zambia – otherwise we wouldn't have any case so far. I want to believe Gvt knows these people. My simple investigation has revealed that most of them live in Emmasdale with a small group residing in Madraas Kabwata/Kamwala areas.

Natuurlik is daar ook in Zambië die gewone politieke beswaddering. ’n Voormalige politikus het kwansuis besmette sanitiser geskenk, juis in die tyd van tussentydse verkiesings. ’n Minister word daarvan beskuldig dat hy COVID-geld gesteel het. ’n Ander word vermaan dat hy ryk genoeg is om ’n baie groter skenking te kon gemaak het. ’n Minister word aangepraat omdat hy sy "groot voorkop" te graag op die televisie wys en te min dóén.

Om dinge baie erger te maak: Zambië het nog nie herstel van ’n verskriklike droogte nie – die ergste sedert 1981. Teen die einde van 2019 het 1,7 miljoen mense honger gely, en volgens Unicef maak 40% van kinders onder vyf deel van die syfer uit. Plattelandse Zambiërs is grotendeels bestaansboere en kassawe- en mielielandjies het lank reeds verdroog en verskrompel. Ten spyte van ’n goeie reënseisoen, sal dit nog maande duur voor die volgende oes gereed is.

Die BBC gesels met ’n 52-jarige ouma wat ’n sak mieliemeel by ’n hulporganisasie ontvang. Sy is moeg, haar stem toonloos. Sy en haar kleinkinders het van wildevrugte geleef, vertel sy. Dié merkwaardige ouma het haar na die bos gewend. Die kennis oor wildevrugte is volksbesit en oumas weet die miombowoude is ’n spens in tye van nood. Hulle weet ook die vrugte van die waterbessie, wilde lukwart en bosappel maak nie die magies vol nie. Die hongerpyne knaag steeds, maar dit is ryk aan vitamines en ander voedingstowwe. Danksy Zambië se groot aantal wildreservate het groot stukke miombobos behoue gebly. Die wet van die village is dat die boom in jou erf joune is, maar die bome van die veld, dié is almal s’n. En het Jesus nie gesê kom pluk en eet nie?

Mens kan net hoop dat sakke mieliemeel en rys saam met die kinders in die village afgelaai is om die oumas se las so ’n bietjie ligter te maak. Oumas, in die pandemie juis die mees kwesbare, mag nie vergeet word nie. Saam met die gesondheidswerkers en ander rolspelers sal die oumas help om die COVID-wa deur die drif te trek.

Is die situasie regtig onder beheer? Gaan die COVID-bom nog in Afrika bars? Soos elders in die wêreld is daar ook hier meer vrae as antwoorde.

Behalwe miskien by een trotse joernalis, wat glo Zambië het die oplossing vir die wêreld:

In this regard, the DP requests the Government to disclose to the nation and the world what medicine Zambia is using in treating these patients. It is evident that the world is struggling to treat their patients while Zambia has continued to record remarkable progress. With this progress, we believe Zambia can take this opportunity to be the solution that the world is looking for. Maybe France or even Italy can learn from us on how we are managing to treat our patients.

Lees ook:

COVID-19 in Zambië

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top