Reisskets: Die dans van die riete

  • 1

Swaziland

Die winter in Swaziland, winter in my gemoed. My kaggelvuur is skaars opgewasse teen die ongenaakbare ysigheid. Versmorende rook hang in die klowe; maak dit moeilik om asem te haal. Die Swazi's glo die veld moet skoon gebrand word voor die eerste reën kom.

Maar een goeie oggend kondig die lamppale aan: "Umhlanga Monday!" Toe weet ek: die koue gaan wyk, die brande gaan eindig, die reën gaan kom. Die datum van Umhlanga hang af van die stand van die maan. Wanneer die maan reg is, gaan die boodskap uit: In die ou tyd het koninklike boodskappers te voet en te perd met die goeie nuus deur die koninkryk gehaas. Later per motor, maar deesdae kondig die media en veral die radio, die Dans van die Riete aan. Vragmotors tel die meisies oral in die land op en bring hulle na reuse-markiestente by die koningmoeder se kraal in Ezulweni. Meisies registreer, kry ’n slaapplek en word in groepe ingedeel. Onder toesig van ’n koninklike kryger gaan hulle met lang kapmesse die veld in om riete te kap. Die jonger meisies sny die riete naby die kraal, die ouer meisies diep in die moerasse.

Die dans van die Riete (foto: Wikipedia)

Stories loop rond van meisies wat verplig word om deel te neem, dat hulle omgekoop word met skoolgeld en boeke. Wat ook al die geval, dis duidelik dat die Dans van die Riete ’n aangrypende gebeurtenis is; die hoogtepunt op die Swazi’s se sosiale kalender. Bronne verskil, en dis onmoontlik om vanuit die skare te skat, maar tussen 25 000 en 40 000 meises dans jaarliks voor hul koning. Dit is ’n onvergeetlike ervaring. Tienduisende Swazi’s en buitelanders trek saam by die kraal van die koninginmoeder vir die skouspel van kleur, klank en dans. Die moderne Swazi’s kry dit reg om met Umhlanga, die beste uit hul verlede te kombineer met die onafwendbare verwestering van hul land. So doen die Swazi’s wat min kulture regkry, bewaar hul unieke erfenis in die 21ste eeu.

Umhlanga is die inisiasie van die jong meisies in die Swazi-tradisies. Baie lank gelede was dit ook ’n vorm van belasting vir arm mense. Meisies van oor die hele land moes elke jaar bondels riete bring sodat die windskerms om die koninklike kraal herstel kon word. Die riete was die gewone mense se manier om hul koning te help onderhou; ’n simbool van hul lojaliteit. In vandag se terme sou die bydrae seker nie juis ’n duik in die koninklike gesin se begroting maak nie. In 2019 het Mswati III 19 Rolls-Royce and 120 BMWs vir sy 15 vroue en 23 kinders gekoop. Maar ’n land se tradisie en kultuur is nie ’n rekenkundige berekening nie. ’n Volk se gebruike loop diep in sy verlede en is deel van sy mense se psige. Te oordeel aan die uitbundigheid lyk dit nie of die Swazi’s hul veel aan die koning se spandabelrigheid steur nie; eerder asof die Swazi’s ten spyte van beroerde sosio-ekonomiese omstandighede tog die lewe wil vier. Beeste word geslag, fluitjies blaas en die feesvure brand hoog. Tradisie? Gedwonge? Dis duidelik, dié meisies dans vir hul koning, maar meer nog ─ vir hulself. Met onbevange vreugde dans hul om en om die baan.

Die Umhlanga is ’n viering van die winter wat verby is en die lente wat kom. Dis ’n viering van ontwakende fertiliteit en bowenal hoop vir die toekoms. Met fertiliteit in gedagte, kies die koning dikwels ’n nuwe vrou by die geleentheid. Dirk Schwager skryf in Swaziland: “The king is the embodiment of the nation. The health of the king reflects the nation’s prosperity. His fertility is a direct reflection of the fertility of the nation’s soil.”

Die meisies lyk inderdaad soos blomme, versier met string op string krale, reuse-woltossels, veelkleurige doeke en uitbundige haartooisels. Moderne Swazi-meisies het haarverlengings en pruike, ontwerperssonbrille. Die ouerige Swazi-vrou langs my frons oor die nuwerwetse giere. In haar tyd het hulle ’n gel gemaak van die blare van die wilde vingerhoedjie om klein haarklossies te vorm. As jy regtig jou krulle heeldag wou laat hou, het jy oornag met krulle in modder verpak geslaap. Die volgende oggend is die droë modder afgeskud en die hare met olie ingevryf.

’n Besonder mooi meisie met reguit hare dans verby. “Sy staan op troue; die reguit hare hou die ander mans weg,” verduidelik my nuwe Swazi-vriendin. Met heimwee vertel sy van haar laaste dans. Sy het op troue gestaan en om hulle hare reguit te kry, het hul hare in ’n vinnig lopende rivierstroom gedruk en die sopnat hare daarna met watergras vasgebind. "Maar dit was lank gelede, nou gebruik hul straighteners.”

Sy wys na ’n groepie meisies met die rooi vere in hul hare. “Dis prinsesse; die rooi vlerkvere van die bloukuifloerie. Net die koninklike familie mag dié vere van die voël op die koninklike embleem dra. Die vere word deur die jaar bymekaar gemaak, die skag met koeimis sag gemaak en die punt dun gesny sodat dit krul.”

Prinses Sikhanyiso Dlamini (links) en Temtsimba Dlamini (regs) by die Dans van die Riete in 2006 (foto: Wikipedia)

Die prinsesse, in tradisionele uitrustings versier met kralewerk in driehoeke van rooi, blou en geel, lei die eindelose groepies meisies op die veld. Hier en daar dans ’n meisie in ’n vaal gewaste doek om die lyf en ’n enkelstring krale om die kop. Al is daar nie geld vir woltossels en mooi doeke nie, hulle dans met oorgawe. Dit duur ure voordat die kilometers lange menslike sirkel uiteindelik gevorm is. Daar is geen orkes nie. Elke groep meisies sing en dans teen hul eie pas.

Die sirkel dansende meisies (foto: Johan Opperman)

Ek raak later uitgekuier; die passies en sang te eentoning vir my westerse smaak, maar die Swazi-gehoor bly meegevoer. ’n Paar buitelandse mans hardloop met hul kameras rond, vervaard voor soveel swaaiende jong borsies. As een egter te naby aan die meisies durf kom, word hy summier uitgepluk deur een van die waardige ou manne met rye en rye medaljes op geslete baadjies. Dis duidelik dat Umhlanga vir die mense ’n saak van erns is, nié ’n blote vertoning vir toeriste nie. Dis ’n dag van nasionale trots en fotograwe moet in hul spoor trap.

En toe is die koning se krygers daar; kaal bolyf met lendedoeke, lang stringe krale om die nek, velvoorskote en verekopbande. Hulle sit aanvanklik op hul hurke langs die veld, gefassineer deur die skouspel. Later begin hul dans, die trant en toon intens. Waar die meisies los, ligvoets en laggend dans, stamp en ruk die krygers in afgemete reëlmaat, met krete diep uit die keel. Dis ’n kragtoer; aggressief, swaar en stampend. Soms stamp en spring ’n kryger wiegend weg van die groep tot by ’n spesifieke meisie; dans uitdagend voor haar. Dalk wil hy (nog) ’n vrou hê; dalk wys hy bloot sy brute manlikheid.

Die koning se krygers (foto: Johan Opperman)

Die hoogtepunt is ongetwyfeld die aankoms van die koning. Die danse bereik ’n amper histeriese toon wanneer die koning opstaan en saam dans. Verrassend lyk dit asof die koning ’n lae profiel hou. Omring deur sy indoenas sien ons hom nie weer nie.

Die aandag verskuif na die koning se ma vir die oorhandiging van die inyongo, die galplaas van die beste van die spogdiere wat vir die geleentheid geslag is. Die galblaas het besondere betekenis in die Swazi-kultuur, onder andere ’n simbool van voorspoed en fertiliteit. Dit vind later ’n ereplek in die voorvaderhut, iewers versteek in die koninklike kraal. Hiermee word die fertiliteit van die koning, en dié van die land aan die voorvaders opgedra.

Lank nadat die koning, sy ma, die prinsesse en die krygers reeds weg is, dans die meisies nog. Groepie vir groepie breek onwillig weg om die vragmotors terug huis toe te vang. Sommige van die ouer meisies dans voort, hou aan en aan, asof hul net nie wil hê dié dag en hul jeug moet verby gaan nie. Net maagde mag deelneem aan die rietdans en volgende jaar is daar moontlik ’n baba. Of dalk is daar nie ’n volgende jaar nie …

In een hoek van die stadion, strategies geplaas deur ’n HIV-organisasie, hang ’n reuse-banier afgeruk en wapperend in die wind: “Umhlanga Ceremony Girls who are reaffirming respect, virginity and abstinence. Queen Mother (Indlovukazi).” Die laaste danspassies is gemaak, die fluitjies is stil en die lentegras vertrap tot stof. Die Umhlanga is verby. Die banier ruk in die wind, verskeur; onleesbaar om die paal. Die blomme van die nasie is uitgeblom.

Lees ook:

Reisskets: Arme Eva

Reisskets: 'n Meer wat wegraak

Gekamoefleer teen die lewe

Reisskets: Biker-biskop in die Afrikabos

  • 1

Kommentaar

  • Wat ‘n wonderlike bekendstelling aan Umhlanga. Die backstory, die kulturele tradisies, die fantastiese foto’s - insiggewend en baie interessant. I had no idea. Het altyd gedink dis net die naam van ons gunsteling kleintydse vakansie dorp. Baie dankie!!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top