Reisskets: Biker-biskop in die Afrikabos

  • 11

Kipili (Foto: verskaf)

Te voet, op 'n olifant en later met motorfietse het hul gekom.

Hier en daar onthou 'n bejaarde Swahili nog die Wit Vaders, word hul stories vertel rondom die kookvure in die suidweste van Tanzanië. Stories van bebaarde manne in wit rokke wat die Katolieke Kerk na die Fipa gebring het. Soos die Fipa-taal, is die Wit Vaders lank reeds weg; hul vervalle nalatenskap verspreid oor die bergagtige gebied tussen die Tanganjika- en Rukwa-mere.

Met 'n vyftien jaar oue Land Rover en 'n inwonende bankier, bosmechanic en fotograaf als in een soek ek na die Wit Vaders se kerkgeboue; waarskynlik die mins gewaardeerde stukkie geskiedenis in moderne Tanzanië. Dit duur bykans twee jaar oor berge en deur moerasse, op fietsspore langs, deur donderstorms en sprinkaanswerms om die nalatenskap van die ou Belge in die diep Afrikabosse op te spoor: kerke, kloosters, abdye, werkswinkels, vrugteboorde omring deur dik mure.

Dit begin alles met die betreklik bekende ruïnes by Kapili op die rand van die Tanganjikameer. Die ruïnes is aangrypend met wurgvye wat mure omgord en laat tuimel. Verweerde kleistene en 'n slang wat in die middaghitte die koelte van 'n eertydse wynkelder gaan opsoek. Die abdy, klooster en ander geboue is nog duidelik te onderskei. Die aangrypende ou kerk se laaste dakplate sit op genade. Die nabygeleë hoteleienaars het min inligting; verwys vaag na sendelinge wat vanaf die Belgiese Kongo oor die meer gekom het. Nie juis vordering kon maak nie. Weer weg is.

Die ruïnes bly by my spook. Soveel skoonheid in verval? Dit kan ek nooit vergeet nie. Kapili, vandag bekend as Kirando, is 'n bekende toeristebestemming, en inligting is geredelik bekombaar. 'n Eeu gelede was die baai onder water, deel van Tanganjikameer. Maar watervlakke daal en vrygewig skenk die Tanganjika 'n vrugbare stuk landbougrond vir die mense van die omgewing. Hulle stroom van die omringende berge, en selfs die Belgiese Kongo, en plant en woeker en vestig. Die gemeenskap groei soveel dat die Wit Vaders op 'n hoë rantjie met die mooiste uitsig op die blou Tanganjika 'n kerkdorpie bou.

Hul behou inderdaad noue bande met die sustergemeente oorkant die meer in die destydse Belgiese Kongo. En toe die tyding van 'n dreigende aanval kom, steek biskop Léonce Bridoux in 1890 die meer oor met geen ander wapen as geloof nie. Terwyl hulle op hul knieë daar in die Kongolese kerkie aan die bid is, bring die verspieders die nuus. Die vyand se skepe het in 'n storm op die meer vergaan. Dertien aanvallers het verdrink! Die krag van gebed of die mag van die natuur? Wie weet, maar vyftig jaar later verander Tanganjika se luim. Die watervlak styg en die meer vat sy grond terug. Die mense trek weg en die pragtige Kapili word oorgelaat aan die wind en weer en die wil van die meer.

Rukwa se kerk met sy gebreekte toring (Foto: verskaf)

Op pad terug van Kapili doen ons die moeite om by Chala af te draai. Die nuwe teerpad begin daar en dis 'n versoeking om verby te hou, die verskriklike stof en slaggate agter te laat. Maar soos so dikwels gebeur wanneer ‘n mens besluit om 'n slag op te hou jaag, word ons met 'n onverwagte gawe beloon.

Die gebouekompleks strek oor 'n hektaar, meestal bouvalle met leeg-oog-vensters 'n natuurlike raam vir die bergtonele op die agtergrond. 'n Waghuisie, soos in ou Europa, staan onverstoord waar die ingang tot die kompleks eens was. Chala was lank terug die hoofkwartier van die Katolieke Kerk. Op die dak van die kerkgebou met sy ongewone gewel, afgeplatte koepel en pilare is twee betonleeus, regte leeutande in hul bekke. Christus was immers die Leeu van Juda, vertel 'n jong non my trots.

Dis te verstane dat die Wit Vaders met hul Europese waardes en die Ufipa se siening oor die lewe soms liggies gebots het. Die Fipas was lief vir dans; die vrome ou Godsmanne het hul bedenkinge gehad oor die versoekinge van die vlees. Eers het die priesters die tromme gekonfiskeer, maar dans wou die Fipas dans. Later moes die priesters so ietwat skiet gee. Die gemeente mog dans, maar net Donderdag- en Sondagaande – en dan net tot 21:00.

Die kerkdorp is deur vader Gastron Poultier gebou, en dis op die spoor van vader Poultier dat ons die pad vat na Mwazye. Poultier het ook in dié dorpie sy stempel afgedruk. Selfs voordat die kerk op Mwazye gebou is, is vrugteboorde geplant, koffieplantasies en koringlande aangelê. Die reusewatermeul in die kerktuine is vandag die enigste getuie van 'n sisteem van kanale wat water uit die nabygeleë rivier voorsien het. Vlak langs die kerk is koring gemaal en die kudde gelowiges gevoed.

Broeder Arcade (Jules René Desmeyer), sy graf 'n hanetreetjie van die kerk af, was die bouer. As 'n setter in die drukkersbedryf het die broeder niks van die boubedryf geweet nie. Toe oefen hy maar deur die koeistalle te bou. 'n Duitse offisier het later opgemerk Mwazye se koeie het beter behuising as die sendelinge – wat veel sê van die eertydse setter. Alhoewel ernstig siek met Parkinsons, het vader Arcade, ter gedagtenis aan sy geliefde Vlaandere, Mwazye se klipkerk opgerig voor hy finaal moes groet. Vandag nog beier die klokke in die dorpie se kloktoring Sondae soos dié in die verre Vlaandere.

Maar dit was 'n eensame lewe en afsondering het sy tol geëis, selfs by die mees hardwerkende en geëerde priesters. Vader Poultier, stigter van die kompleks by Chala, het ná jare van toegewyde werk die priesterlike amp hier in Mwazye laat vaar vir 'n mooi Fipa-vrou. Ek wonder waar sy graf is, of hy na die ingrypende stap wel gelukkig was. Ek vind sy naam in die amptelike kerkrekords, maar sy sterfdatum of rusplek ontbreek opvallend.

My navorsing is nie maklik nie. Min inligting bestaan oor die Wit Vaders. Waar kerknotules wel beskikbaar is, is dit in Swahili. Boonop verstaan min kerkleiers hoegenaamd my belangstelling in die ou goed. Die meeste is óf onbewus van die bestaan van die geboue, óf bloot nie gepla nie. En, besef ek maar alte goed, kan dit dan anders as daar skaars genoeg rys en gedroogde vis op die tafel is vir al die honger mae? 

So weggesteek is die geboue en kerkdorpies in die diepste Afrika-bosse dat die voetspore van die ou kerkvaders keer op keer byna doodloop. Soms kry ek 'n wenk uit 'n onverwagte bron; neem dit 'n halfdag om 50 km te ry agter 'n vae verwysing aan – wat niks oplewer nie. Maar vir die ewig nuuskierige is elke reis 'n avontuur. Die Groot Mere-distrik is nie verniet bekend vir sy weergalose natuurtonele nie. Al op die rug van die Groot Skeurvallei langs ry ons: Kalambo-waterval, Tanganjikameer, Rukwameer met sy versuipte woud, Katavi met sy vloedvlaktes en troppe olifante, leeus, wit kameelperde en reusagtige buffels. Een vir een soek ons die vergete en amper vergane argitektuurskatte wat saam met die bekende Islamitiese geboue van Zanzibar die geskiedenis van Tanzanië se onderskeie geloofstradisies vertel.

Die Wit Vaders het in die laat 1800’s by Bagamoyo naby Dar es Salaam Tanzanië binnegekom. Van daar is hulle oor berge en deur moerasse te voet met pakmuile en een onsuksesvolle keer selfs 'n olifant tot aan die Tanganjikameer. Selfs malaria en slawehandelaars het hul nie afgeskrik nie. Sommiges het nooit die reis voltooi nie; hul grafte deur die bos oorgeneem.

Die meeste van die kerke is in Basilika-tradisie gebou: langwerpig met 'n ronding op die punt. Die banke is in die middel, die paadjies weerskante teen die buitemure. Die kerkgebou was gewoonlik deel van ‘n groter kompleks: huise vir die priesters, 'n abdy en 'n klooster, 'n skool, apteek en werkswinkels. Plek-plek staan vrugtebome steeds skouer aan skouer met inheemse bome. 'n Stewige muur om die kompleks het gesorg vir 'n boma, 'n veilige skuilplek teen ongediertes en aanvalle deur vyandige stamme. Die ringmure is gewoonlik eerste gebou en getuig na honderd plus jaar steeds van deeglike vakmanskap.

Die lewe was swaar en die vromes ook maar net mens. Stories met 'n snuifie seks en 'n skeut skande word met 'n knipoog vertel. Van biker-priesters wat soms die pad letterlik byster geraak het ná ‘n aandjie uit, 'n biskop en 'n Franse adellike, 'n mooi Fipavrou, en die verskriklike eensaamheid van 'n waardige priester.

Klip en boom Rukwa (Foto: verskaf)

Mens kan net wonder wat die Afrikane 'n eeu gelede moes gedink het as mans in wit gewade op twee wiele op 'n dag uit die bosse bars. Maar in kerkkringe was dit biskop Jan van Sambeek, wat in 1930 Europa platgery het saam met die ryk Franse kontessa, wat die tonge laat klap het; selfs al was haar oom chaperone. Hoe dit ook al sy, die biskop moes 'n onuitwisbare indruk op die kontessa gemaak het. Later, tydens die Tweede Wêreldoorlog, het die kerke in Tanzanië bitter swaar gekry. Skeepsverkeer vanaf Europa het tot stilstand gekom en geld en voorrade het opgedroog. Die situasie was so benard dat priesters en broeders uit hul eie sakke begin kos koop het vir die hongeres. En toe kom die brief van die kontessa: Sy stuur £2 000. Biskop Van Sambeek en sy gemeente se gebede is verhoor! Maande het verbygegaan, sonder enige tyding van die skenking. Eers later sou hul ontdek die geld is per ongeluk aan ‘n gemeente in Zambië betaal. Groot van hart, het Van Sambeek die geld afgeskryf as “slegte skuld”.

Die pad na Karema kronkel tussen deur ryslandjies en digte woude. Karema was 'n Belgiese militêre basis. Die gebied was ongetem en die bouery moes dikwels gestaak word sodat wilde diere kon deurbeweeg. Oorhaastig skiet iemand eendag 'n leeuwyfie. Dit plaas die plaaslike indoena in 'n benarde situasie. Hy moes wys hy skrik g’n vir die koning van die diere se vrou nie. Op sy maag seil hy tot by die leeu en vryf sy neus vermakerig teen hare.

Toe die Belgiese soldate onttrek, het die Wit Vaders die kompleks present gekry. Hulle het bokke, skape, gewere, skrynwerkers- en smidsgereedskap, kombuisware, fotografiese toerusting, 'n apteek, 'n biblioteek en 900 bale katoenstof geërf. Selfs 'n akkordeon! Karema was 'n plek van eerstes: die eerste munt (werkers is betaal met tinplaatjies gemerk “Mission of Karema”); die eerste dubbelverdiepinggebou; en die eerste stoomskip op die Tanganjika wat met houtskool aangedryf was. Die steenmakery se toring was 14 m hoog en is tong-in-die-kies beskryf as “een van die sewe wonders van die Trope”. Vandag is dit 'n verwaarlooste dorpie, die armoede skreiend.

Tydens Karema se bloeitydperk was slawehandel, hoewel amptelik afgeskaf, nog steeds 'n winsgewende bedryf. Kinders was die teiken. Oral oor Afrika het die Wit Vaders probeer om die kinders te red; selfs uit hul eie sakke die kinders teruggekoop. 'n Bekende voorbeeld is Adrian Atiman, vir jare ’n geneesheer op Karema. Hy is in Mali gebore en is as tienjarige seuntjie naby Timboektoe deur die slawehandelaars gevang. Hy word deur 'n priester gekoop en deur die kerk grootgemaak. Hy kwalifiseer as mediese dokter in Malta en vestig hom in Karema. Atiman trou met Wanshira, die dogter van hoofman Chata in 'n poging om beter betrekkinge met die Wabende te bou. Die gereëlde huwelik is baie ongelukkig. Wanshira soek liefde in 'n ander se arms en Atiman rand die man baie ernstig aan.

Dis 'n hartseer storie, maar die naam Atiman klink vir my bekend. Ek het die naam op 'n gebou in Dar es Salaam gesien! My soektog kry weer rigting. By Atiman House verneem ek die medikus het verskeie Franse en Britse toekennings gekry vir voortreflike diens. Meer nog, Atiman en Wanshira is ná die byna futiele liefdesdriehoek inderhaas so ver as moontlik weggestuur – na Zimba, aan die Rukwameer.

En so ry ons oor die Ufipaberge na Rukwa. Die kerkdorpie is prentjiemooi tussen reusebome met bidnissies, die werf netjies gevee. Ons klim styfgesit en vol stof af, dankbaar vir die koelte. In die tuin blom bolplante – nasate van bolle uit die verre België? wonder ek. Die werf is verlate en ver weg hoor ons die gekwetter van kinders. Opgewonde stap ons om die kerk, deur die vervalle skoolgeboue, loer by die huise se vensters in. Die meeste geboue is onbruikbaar vervalle. Ek steek my arm deur die krake in die dik klipmure van die kerk. Gereelde aardbewings is eie aan die Groot Skeurvallei. Die kerk self word nog gebruik. In die bidnissie is vars lelies en 'n paar sente; want selfs die armes in die land het nog iets om te gee.

Laela, op 'n hoofroete, se kerkgebou is funksioneel nuut teleurstellend, tot ek binnegaan, die kuns sien. Die swart Christuskind in die arms van 'n swart Madonna. Die kruisfiguur van gesnede hout is aangrypend verwronge; simbolies van die pyn van 'n lydende Christus. Die klem op die lyding van Christus is gepas, want Laela was dekades lank 'n hospitaal vir melaatses. Later verneem ek die hospitaal en rye huisies is feitlik geheel geverf deur ‘n vrou wat haar hande weens melaatsheid verloor het. Soggens is die verfkwas aan haar stompies vasgebind en so het sy tot kort voor haar dood op 'n hoë ouderdom gehelp bou aan die kerk op Laela.

'n Priester verwys na die katedraal by Kate. Dis groot en, vertel hy trots, dit word gerestoureer. Ek is dankbaar oor die brokkie nuus, dat iets van die argitektoniese skat tog bewaar word. Opgewonde volg ons die pad wat plek-plek weggespoel is, soms net fietspore in die dik sand. Die katedraal, aan die voet van 'n berg, is van klip gebou. Dis ongeveer 'n eeu oud, privaat gefinansier deur broeder Simeon van Lankveld, die argitek vader Boyer en die bouer-broeder Arséne. In een hoekie van die voorportaal is die restourasiewerk inderdaad aan die gang. Die katedraal self is leeg; die soliede hardehoutmeubels staan buite in die gietende reën, vol modder en skeefgetrek deur wind en weer. In die leë katedraal hou die biskopstoel wag oor die muurskilderye, lomp gedoen in Europese styl.

By Kate eindig my reis op die voetspore van die Wit Vaders. Ek wonder oor die bekering en doop van die Ufipa-koning, Mwene Kilatu, hier in Kate. Hy moes eers afstand doen van al sy byvroue voor hy Christus mog aanvaar. Het die Wit Vaders hom ooit vertel van Abraham, Isak en Jakob; van sy Joodse koninklike eweknieë, Dawid en Salomo? Hul stringe mooi vroue?

Ons tyd in die afgesonderde deel van Tanzanië is verby. Maar as ek iets by die Wit Vaders geleer het, is dit gebed. Op die lang pad terug na Suid-Afrika bid ek dat ons ou Land Rover met sy olielekke tot by die huis sal hou. En ek dink aan die Wit Vaders se reise: die olifant, die pakdonkies, die motorfietse. Die gebede. Die eensame grafte by Kala aan die oewer van die Tanganjika waar die ou man, bedag op slange, ons voel-voel deur die lang grasse na twaalf grafte onder ‘n yl doringboom gelei het. Die verweerde houtkruise, 'n tuimelende baksteenmuur. Paul de la Croix 29, Marie du Rosaire 31 jaar.

Wat het hul regtig nagelaat in die suidweste van Tanzanië, die Godsmanne? Geloof en ruïnes?

Inligting: Vader Willy Kazumba, Ben van Sumbawanga, Oscar van Kala, vader Respicius Misokalya, vader Piet van der Pas (Tanzanië/Nederland) en Kathleen R Smythe (Xavier-universiteit, Cincinnati, VSA)

  • Helena Opperman is ’n onwillige verloopte Suid-Afrikaner wat al amper twee dekades buite die land woon saam met haar man, ’n wateringenieur. Hul pad het deur Afrika, die Midde-Ooste en Sentraal-Asië geloop. Joernalis, ondewyseres, voerder van straathonde en nuuskierig tot op die grens van slegte maniere, maak sy dit haar taak om elke gemeenskap, kultuur en taalgroep te probeer verstaan, hul stories te vertel. Haar motto is ’n aanhaling van die Franse skrywer, Jules Renard: "On earth there is no heaven, but there are pieces of it."
  • 11

Kommentaar

  • Ons kan Afrika en sy mense net 'n bietjie beter probeer verstaan as ons meer deur hul oge daarna probeer kyk. Veral as jy die stede agterlaat en in die bosse op, uit ons oogpunt, brandarm maar plesierige kinders teekom. Dan kyk jy na binne toe en herbesin jy jou eie prioriteite en dikwels 'n gejaag na wind en nie danbaarheid vir die seeninge van Bo nie.

  • Avatar
    Almarie Pelser

    Wat 'n genotvolle ervaring om hierdie reisskets te belewe saam met iemand wat die gawe het om woordprente te skep wat my meevoer.

  • Avatar
    Isabella Venter

    Heerlik aan die artikel gelees! Wonderlik om sommer so voor die rekenaar te kan reis na onbekende lande en sommer in die verlede in. Welgedaan Helena!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top