Reisskets: 'n Meer wat wegraak

  • 1

Tanzanië, 2016

Verdrinkte woud, Rukwa (foto: Johan Opperman)

Hoe gemaak as die kaart jou vertel daar is ’n massiewe varswatermeer skaars 30 km van jou tydelike woning, maar jy kry nie die pad daarheen nie? Ons vra oral in die dorp, wys die kaart, maar niemand weet nie. Mense frons, skud ontkennend die kop, trek die skouers op. Hoe kan dit wees, wonder ons? Die Rukwameer is tog ’n bekende baken; 180 km lank en 32 km breed. Die Rukwa se vis is op die plaaslike mark te koop. Die aangrensende provinsie is na die meer vernoem.

Selfs die GPS is nie van veel waarde in ’n wêreld waar sekondêre paaie dikwels saam met die beesspore loop nie. Sondag na Sondag ry ons in die rigting van die meer en soek ’n moontlike pad oor die berg. Keer op keer kom ons op die kruin van die Ufipa en sien die meer daaronder lê, grys uitgestrek tot op die verste horison. Dit is die vreemdste ervaring dat niemand van die meer weet nie. Tot my man een goeie dag besef: dis ons uitspraak! Die “l” en “r” word omgedraai in Swahili. “The load to Rake Lukwa?” vra hy die eerste mens wat ons teëkom.

“O, dis net agt kilometer noordwes van Sumbawanga; daar is ’n bordjie,” kom die antwoord sonder huiwering. Vroeg die volgende Sondagoggend steek ons die Ufipaberge oor. Bergaf met steil haarnaalddraaie deur groen klowe met digte oorskietlappies woud. Hier en daar kry ons ’n blik op die meer.

Ufipa onder die mis (foto: Johan Opperman)

En toe gebeur dit weer. Ons verloor Rukwa werklikwaar die tweede keer sommer by die eerste dorpie, Muze. Die GPS sê ons ry reeds in die meer. ’n Polisieman kyk agterdogtig na ons, stap om die Land Rover, klop nadenkend aan die daktent. “Dis Rukwa dié,” wys hy effens geïrriteerd met die hand. Ons soek nietemin sonder enige sukses vir kilometers deur verwaarloosde dorpies al teen die voet van die Ufipa. Die landskap verander van soutpanne en soutbossies met troppe maer beeste na moerasse met netjiese rys- en suikerrietlandjies. Maar geen meer nie!

Ons vra in elke dorpie. Niemand kan begryp dat ons hoegenaamd vra waar die meer nou éintlik is nie. Dis net dáár; daar waar hulle visvang, wasgoed was en die beeste drink. Eers later besef ons die oorbodigheid van die vraag. Elke beespad, elke voetpad, elke wielspoor lei immers na Rukwa.

Anders as die Tanganjika, is Rukwa se dorpies nie op die kuslyn geleë nie. As jy die wispelturigheid en verraderlikheid van Rukwa ken, bou jy veilig bo die vloedlyn. Want Rukwa krimp óf stoot ver op na gelang van die reën uit die omringende berge; die Ufipa Hooglande naby Sumbawanga en in die Sange Berge in die noordooste. In goeie reënjare groei en gedy die meer sodat die mense goed leef. In swak jare krimp en kwyn Rukwa en so ook die lewenskwaliteit van sy mense. Rukwa, soos die meer bekende Aral en Kaspiese Seë, het geen natuurlike uitvloei nie. Water vloei in vanaf die riviere; uit die noorde kom die Rungwa, van die suide die Lupa, Chambua en Songwe, en uit die weste bring die Momba water na Rukwa. As die groot droogte egter kom, verdroog die middel van die meer en twee kleiner mere vorm. Dis bitter tye vir mens en dier, vertel ’n priester. Baie sout, erg besoedeld, altyd aan die verander; Rukwa bly nogtans die spil waarom sy mense se lewens draai.

Moedeloos dat ons so ’n groot watermassa die tweede keer kon verloor drink ons koffie onder mangobome waar vrugte soet vrot. Die bottelgroen bome met bok-op-agterpoot snylyne bied genadige skadu in die hitte. Veraf klik-klak-klok die beeste se klokke. Net Rukwa, dié kry ons nêrens nie. Geen wegwysers, selfs geen afdraai in die rigting van die meer nie. Op die GPS drink ons koffie diep in die meer in. Dié dag leer ons: Rukwa laat hom nie sonder meer vind nie. Jy moet hom gaan soek; met respek versigtig deur ’n soutpan óf op die blote beduidenis van ’n wielspoor langs.

Ons volg uiteindelik ’n uitgetrapte beespad deur ’n grys sandpan, en maak wye draaie om verlate hutte en omgedolwe mielielande. ’n Trop maer langhoringbeeste slinger kop omlaag deur die soutbossies op pad water toe. Die jong beeswagtertjies spat die soutbosse in toe hulle die Land Rover sien. Ons kom tot stillstand op die vaalgrys strand. Voor ons lê die mees onverwagte gesig denkbaar – ’n verdrinkte woud, ’n spooklandskap. Water, lug en land smelt in die hitte van die dag saam tot witgrys verlatenheid; boomstompe swart geraamtes in die water. ’n Paar vroue wat strandop wasgoed was maak hul babas en bondels bymekaar, vlug ook tussen die soutbosse in. Net ’n paar jongmans leun bewegingloos op lang kieries en staar uitdrukkingloos na ons.

Langhoring beeste drink soutwater (foto: Johan Opperman)

Dis ’n warm dag, maar ons sit verslae oor die verlate maanlandskap. Ons het iets soos Tanganjika se kranse en lowergroen bosse verwag. Die langhoringbeeste woel om ons voertuig en suip dan langsaam die sout water. Hulle is net vel en been; soutbossies die enigste weiding. Dié onheilspellende boomgrafte was lank gelede ’n welige natuurlike akasiawoud, die produk van dekades van goeie reëns en vars water. Ná ’n lang ruk kom die beeswagtertjies versigtig nader om die beeste land in te keer. Die vroue sprei hul bondels wasgoed ver teen die strand op en hervat hul taak.

Oor verskeie besoeke ontdek ons mettertyd Rukwa se vele gesigte. Die menige kronkelspore tussen gehuggies deur lei na uitgestrekte strande, vaal soutpanne waar Rukwa se mense lééf. Dit wemel van handgemaakte kano’s, visnette, ’n motorfiets of twee. Inwoners gaan ongestoord hul gang, msungus ten spyt. Mense werk in landjies, verkoop piramiedes tamaties en speel dawerende musiek by die dorp se kroeg. ’n Gastehuis heet The Vatican City en uitgevatte dogtertjies in spierwit rokkies stap singende kerk toe.

Rukwa het ongeveer sestig visspesies, waarvan tilapia (perege of gege) die mees algemene is. Tilapia is endemiese en pas goed aan by veranderde omgewingstoestande; daarom ideaal vir die wispelturige Rukwa. Buitemense met groot bote en sleepnette kom en vang die groot visse diep in die meer en neem dit in koeltrokke uit sonder om eens te groet, beweer ’n winkelier waar ons water koop. Die plaaslike vissers kan nie sulke bote bekostig nie, verduidelik hy verder. En met die onstabiele kano’s kan niemand dit in die diep water waag nie. Die wind is te sterk op die oop waters. Hulle vang maar in die vlakwater langs die kus, juis daar waar die tilapia broei. Die nette is so fyn dat jong vissies nie kan ontsnap nie en die vis word al hoe skaarser.

Tilapia vars gevang (foto: Johan Opperman)

Hy haal sy skouers op. Ja, hy weet, almal weet. Tilapia se natuurlike broeiplekke word gestroop juis deur die vissermanne wat van tilapia afhanklik is. Maar wat moet hulle doen? Vandag se honger tel swaarder as more se bewaring. As ’n visser gelukkig is, vang hy deesdae omtrent twintig vissies op ’n dag; genoeg vir die tafel en selfs ’n bietjie om te verkwansel. Ons betaal vir die water, groet, haastig om weg te kom van die spiraal van immer groeiende armoede.

By Ilanga is ’n bootbouwerf en ken die bootbouer geen Engels nie en ons Swahili is beperk. Maar ons gesels lekker. Hy is besig om ’n nuwe boot waterdig te maak toe ons naderstaan. Hy gebruik ongewaste katoen vanaf Tanganjika, beduie hy terwyl hy dun stringetjies katoen styf opwen; daarna met ’n klein byteltjie in die nou gleufies tussen die planke inwerk. Bootbou is harde werk met net ’n paar stukke handgemaakte gereedskap. Gelukkig is daar nog baie hardehout op die berge, wys hy.

Bootbouer Ilanga, Rukwa (foto: Johan Opperman)

Ek kyk na die oorblywende lappies miombowoud teen die Ufipa se kranse. Hier en daar trek rook, byeboere oes heuning. Soms raak die vure buite beheer, versprei in ’n oogwink en saai verwoesting. Die verdrinkte woud enkele kilometers suid spook by my. Die sakke houtskool wat langs die pad verkoop word …

Navorsers beweer Rukwa sterf stadig maar seker. Nog ’n slagoffer van ontwikkeling: verdwynende miombowoude, visbronne uitgeput deur die uitwissing van broeikolonies en versouting van die water, onwettige sleepnette, besoedeling deur kwik en harde metale van die honderde klein myne in die omringende berge, riviere besoedel met menslike afval. Langs die meer self gebruik die mense óf die bossies óf vlak putlatrines.

Besmette water, besmette vis, verwoeste woude …

’n Visserman dra sy vangs skouerhoog vanaf sy kano aan, sy neutbruin lyf blink in die son. Hy bied die vars glinsterende vis vir ons aan. Lomp soek ons verskoning. Ons moet nog ver ry. Het nie ’n yskas nie.

’n Groepie Chinese padbouers raap die hele emmer vis dankbaar op. “Fresh and unpolluted,” vertel hul ingenome.

 

  • 1

Kommentaar

  • Ek reis heerlik saam. Dieselfde hartseer scenario van ontbossing en uitputting van die vis in die meer sien ons ook hier in Malawi!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top