Reisskets: Gekamoefleer teen die lewe

  • 4

Helena Opperman is ’n onwillige verloopte Suid-Afrikaner wat al amper twee dekades buite die land woon saam met haar man, ’n wateringenieur. Hul pad het deur Afrika, die Midde-Ooste en Sentraal-Asië geloop. Joernalis, ondewyseres, voerder van straathonde en nuuskierig tot op die grens van slegte maniere, maak sy dit haar taak om elke gemeenskap, kultuur en taalgroep te probeer verstaan, hul stories te vertel. Haar motto is ’n aanhaling van die Franse skrywer, Jules Renard: "On earth there is no heaven, but there are pieces of it."

Zambië, 2018

Foto: By and large deur Mulenga Chafilwa, met vergunning van 37d Gallery, Lusaka

Die bus vertrek laat vanaf Lusaka. Livingstone is ver; 500 km van slaggate, verdagte voertuie en bedenklike bestuurders.

Die pastoor, met ’n boksie Bybels onder die blad, plant hom wydsbeen in die bus se gangetjie. Terwyl die bus skud en rammel, bring hy die Woord, pleit hy vir ’n veilige reis na Livingstone en die hiernamaals.

Hy maan dringend: Dit mag jou laaste reis wees; neem die Woord as jou reisgenoot. Jy weet nie of jy Livingstone ooit gaan maak nie. Die logge bus versnel; hel gevaarlik skuins om die draaie. Enkele passasiers wink die pastoor nader, druk iets in sy hand. Koppe bymekaar word die weg na die ewige lewe duidelik gekarteer. Aan die buitewyke van Lusaka sluit die pastoor af met ’n kragtige gebed. Gewillige hande neem die gratis Bybels. Hy stuur sy kollektebussie om en maak gereed om af te klim. Dié vulstasie is sy gemeente se grens. As die bus vanaf Livingstone binnekort aankom, begin hy weer; dié keer om vir die reisigers uit die suide van Zambië die regte pad in die bose stad aan te dui. Hy is ’n tentmaker in dié Sodom; die busse tussen Livingstone en Lusaka sy bedieningsveld.

By die busdeur steek die pastoor meteens vas. Hy huiwer ’n oomblik en draai dan om. Behalwe dié van evangeliebediening, bieg hy, het hy ook die gawe van profesie ontvang. En op die bus is ’n lady wat nie met die regte gesindheid na ander ladies kyk nie. Dis die behoefte van sy hart om vir haar bid. Hy sal haar nie blootstel nie, beloof hy, welwetend dat dié sonde jou in Zambië in die tronk kan laat beland. Innig bid hy vir genesing van die sonde van haar vlees; ook vir strome van lewende water vir haar gees. Dis ongewoon stil toe hy uiteindelik afklim.

Die Mercedesbus se verf is nuut, maar sy ou lyf kreun en kraak soos die kilometers verbysnel. Die landskap is verskuiwende prentjies van moedige landerytjies en moeë bome. Die wind suis deur die stukkende dakvensters. Die bestuurder navigeer met redelike sukses die slaggate. Ons raak deurgesit. Die pad word al langer. Die kennisgewing op die venster is in Afrikaans: “Nooduitgang. Gebruik rooi hamer in geval van nood.” Die rooi hamer is lankal weg en weinig van die passasiers verstaan hoegenaamd Afrikaans. Die groen bus het ná langdiens in Suid-Afrika ’n tweede asem in Zambië kom kry.

Die pastoor se gebede is klaarblyklik verhoor, want die reis is sonder voorval. Daar’s ’n gemoedelike rustigheid onder die passasiers. Ons deel lemoene met mekaar en later begin die koppe knik.

Behalwe vir die vrou in ’n kamoefleer-katpak. Reeds voor ons vertrek uit Lusaka het sy in die malende mensemassa uitgestaan; die gegiet oor ruim borste en boude katpak. En dis nie sommer sulke kamoefleerlap nie – dit skitter en blink. Sy dra haar batterylaaier gekoppel aan haar selfoon soos ’n Gucci-handsak. Op en af stap sy in die bus se nou gangetjie met haar laaier en foon. Ons klomp, soos sardientjies ingeryg, staan haar duidelik nie aan nie. Sy is ’n sterk vrou, stylvol. Nie tradisionele Afrika chitenges, haarverlengings en blou naels vir haar nie. Nee, sy keer die mode op sy kop, loop haar eie pad; gekamoefleer teen die lewe met blinkertjies op haar katpak en tegnologie oor haar arm.

Laatmiddag is daar ’n verdagte klak-klak iewers agter in die bus. Die bestuurder mik vir die padreserwe en bring die bus veilig tot stilstand. Pap wiel. Die vier bemanningslede spring aan die werk terwyl ons uit die bus stroom en bene rek, bossies opsoek. Dis duidelik dié gaan ’n lang oponthoud wees, want die gereedskap lyk verdag oneffektief. Saamgesnoer deur die krisis raak die passasiers spraaksaam. Ons bespiegel, maak planne. Niemand wil in die donker nag op pad wees nie.

Net die kamoefleer-lady bly een kant op die rant van die groep terwyl die skemer toesak.

Die bus se bakwerk is beskadig deur die slag van die pap band. Voor die wiel afgehaal kan word, moet die bakwerk eers weggebuig word. Sonder die regte gereedskap sukkel dit en die tyd stap aan. Die bus word uiteindelik skeef-skeef met groot moeite opgedomkrag. Die skroewe is halsstarrig vasgeroes. Die stukkende band word summier in die stormwatersloot gegooi. Dit duur ’n ewigheid om die massiewe noodwiel in plek te kry. Ná amper twee uur stroom ons dankbaar terug die bus in, die pad na Livingstone nou donker en dreigend ver.

Die vier bemanningslede bly egter rondom die band vroetel. Toe kom die berig. Die slag van die gebarste band het die bus se vakuumremme beskadig. ’n Pypie het afgebreek en dit moet eers met ’n tydelike koppelpypie aan die rem geheg word. Daar is geen gereedskap vir die taak nie – selfs nie ’n tang of skroewedraaier nie. Die bemanning word kitswerktuigkundiges. ’n Balpuntpen behoort te werk as koppelstuk. Passasiers pluk penne uit, maar aikôna. Dis óf te smal óf te wyd. ’n Handige helper maak ’n grasvuurtjie so tien meter weg, verhit die pypie, hardloop met die pypie tot by die bus en probeer dit oor die balpuntpen stoot. Keer op keer onsuksesvol. Meer penne word gretig uitgehaal en aangebied. Een na die ander vuurtjie word gemaak, pypie verhit, vining afgevoer na die wagtende hande, maar tevergeefs.

Die busbestuurder is baie beslis. Sonder remme bly ons nét daar.

’n Vrou met ’n kind probeer verbygaande motors voorkeer vir ’n geleentheid. ’n Amerikaner is op sy Apple, vas oortuig daar’s ’n Uber net om die draai. ’n Paar mense kla hulle gaan laat wees vir dié of daai geleentheid. Die werktuigkundiges is vaal van die stof. Die skemer is koud. Die gekamoefleerde vrou staar uitdrukkingloos na die donkerwordende pad.

En toe stap sy nader, bied ’n vet kort pen aan. Nogals pienk. Dit werk! Daar’s ’n weggegooide hoenderfuik in die veld en iemand gaan haal ’n stuk binddraad af. Die draad word heen en weer, heen en weer gebuig totdat dit knak en breek. Die noodpenrem word stewig met draad vasgemaak en die bestuurder toets die remme.

Ons is ’n gedempte groepie wat inklim. Ons redder in kamoefleerdrag het nou ’n ereplek op haar bank langs die paadjie met beenruimte. Ons trek aanvanklik stadig weg, die bestuurder toets-toets die remme. “Now we can push on to Livingstone,” kondig hy ná ’n rukkie ingenome aan. Ons klap vir hom en sy ywerige helpers hande.

Maar een na die ander draai ons na die gewer van die pienk pen. Haar katpak glinster sag in die skemer. Ons klap vir haar. Iemand jodel. Iemand anders seën haar met strome van lewende water van bowe.

Sy ignoreer ons. Maar sy stap nie meer op en af nie. Sy sit rustig, haar selfoonkontrepsie vergete op haar skoot. Sy is, nes ons, ’n reisiger met bagasie op pad na haar eie Livingstone.

Lees ook:

Reisskets: Biker-biskop in die Afrikabos

  • 4

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top