Reisskets: Arme Eva

  • 1

Dubai, 2006

In Dubai verkoop ek toe my siel vir geld. Hoe moeilik kan dit nou wees om 'n vyfjarige Russiese dogtertjie iets van Engels te leer? vra ek myself.

Eva en haar ma Lea woon in Italië, maar bly in die Italiaanse winter vir twee maande in ’n luukse hotel in Dubai saam met Galina, hul Russiese hulp. Lea is lank en blond en kan mooi wees as sy net soms wou glimlag. Sy was ’n Olimpiese gimnas, Eva se pa haar voormalige afrigter, lig Lea my in. Toe Lea na ’n maand van een hotel na ’n ander skuif, moet ek Eva besig hou terwyl haar ma luiddriftig oor haar hotelrekening baklei. Die mense kyk vir ons en die termometer raak aan 39˚ C, maar Lea dra ’n vloerlengte-pelsjas.

Lea verwag dat ek ’n paar keer ’n week drie uur lank vir Eva Engels moet leer. Ek verduidelik dat ’n vyfjarige nie so lank kan konsentreer nie, en Lea vererg haar bloedig. "Dan neem jy haar strand toe, of speel met haar, maar hou haar besig," beveel sy. “Galina dring nou skielik op aftyd aan.” Lea is erg omgekrap en uit gierigheid beland ek met ’n baie bedorwe vyfjarige.

Eva skop en krap Galina, gooi Lea met haar regte pienk selfoon. Sy is verveeld met haar regte pienk rekenaar, haar kas vol speelgoed, haar boeke en pienk stelletjie skroewedraaiers en hamers. Gee dit haar ter ere: sy is mal oor die klei wat ek vir haar bring en kon rustig speel met skulpies, 'n emmertjie en grafie. As die hitte buite te erg is, speel ons tot vervelens toe wegkruipertjie in hul suite. As ek Eva na 'n eindeloos uitgerekte soektog onder 'n bed of in 'n kas kry, is daar louter vreugde in die blou oë. Ek en Eva kom goed oor die weg en mettertyd antwoord sy my selfs in Engels.

Maar eendag toe ek keer dat sy die duur lamp met opset uit haar pad stamp, skop sy my venynig. Ek gryp haar voetjie vas en sê ferm: "No.” Daarna gil en skree sy tot die sessie genadiglik oor is. Met ons volgende ontmoeting was die onderonsie skynbaar vergete; boonop het Eva in ons kort tydjie saam nooit weer haar skopskoene gedra nie.

Wonder bo wonder is sy mal oor die skoenlapper wat sy uit stukkies afvalpapier, blinkertjies en kleurkryte maak, terwyl ons Engelse woorde leer. Sy jil van plesier toe ons die hotel se parkagtige tuine invaar om regte skoenlappers te soek. Ek raak, teen my eie beterwete, meer en meer betrokke by die bedorwe dogtertjie. Eva, daarenteen, verdra my bloot.

Lea vra of ek vir ’n paar maande saam met hulle sal terugkeer Italië toe. Ek bly haar ’n antwoord verskuldig, maar vra huiwerig na my betaling, reeds twee weke agterstallig. “Ek praat nie met Eva se pa nie,” verduidelik sy effens geïrriteerd, asof dit ’n vanselfsprekende oplossing vir my ontydige probleem is.

Die temperature klim en die humiditeit is verstikkend hoog, maar Eva wil weer skoenlappers in die tuin gaan soek. Ons kom op ’n groepie werkers af waar hulle in die middaghitte besig is om 'n nuwe vleuel van die hotel te bou. Temperature van tot 50 grade het die Emirati-regering genoop om ’n wet uit te vaardig wat buitewerk tussen 12:30 en 16:30 verbied. ’n Lawwe wet, reken die ontwikkelaars in ’n stad waar duisende nuwe wooneenhede en miljoene vierkante meters kommersiële areas benodig word. Daar is net nie tyd vir menslikheid nie – die geykte uitdrukking “So baie om te doen, so min tyd” het in die stad ’n koorsagtige klank: die gekraak van vars geldnote.

Op dié besonder warm dag is die Asiërwerkers se bewegings tam. Een van hulle struikel en val van die hoë stellasie af. Ek neem Eva vinnig weg terwyl ek vertel van die ambulans wat op pad is en ’n hospitaal met goeie dokters wat sal help.

Na my sessie met Eva gaan verneem ek na die werker se toestand. Hy is hospitaal toe en sy plaasvervanger is reeds aan die werk. Die voorman jaag my weg, maar ek vind tog uit wat die beseerde se naam is en na watter hospitaal hy geneem is. Deur middel van een van my Pakistani-studente hou ek myself op hoogte van die toestand van die skraal jongman met sy groot bokkie-oë. Sy storie is een van duisende: Sy hele familie het al hul spaargeld bymekaar gesit vir die personeelagentskap se fooi. Hulle was so trots op hom. Hy was die eerste in die familie met tersiêre opleiding. Die agentskap beloof boonop ’n werk as ’n laboratoriumtegnikus. Hy is die familie se poster boy, hul hoop op ’n beter lewe.

Min het hulle geweet. Hy was te trots en te skaam om die waarheid te vertel. In Dubai het die agentskap sy paspoort weggeneem. Hy het nie in die beloofde laboratorium gewerk nie, maar is direk vanaf die lughawe na 'n konstruksiewerf gebring. Daar gee hy dag vir dag in die ondraaglike hitte en humiditeit bakstene aan. En op die vreeslike dag dat ons paaie kruis, word hy duiselig en val. Hy beland in die hospitaal met 'n gebreekte heup en sonder inkomste.

Die plaaslike kerk help gelukkig met sulke gevalle. Hulle vertel van die "hotbed"-stelsel. Werkers slaap vir agt uur, en as hulle werk toe gaan, kan die volgendes kom slaap. As dié opstaan, kom die derde groep slaap. Hulle ken mekaar nie, weet nie wie slaap ook in hul beddens nie. Elke agt uur wissel die inwoners van die slaapsale. Die stelsel is baie effektief, want in Dubai word daar 24 uur uit elke dag gebou. Bokkie-oog en duisende ander soos hy kan nie huis toe gaan nie. Hul paspoorte word gehou, óf deur die agentskap óf deur die werkgewer, totdat hul vliegtuigkaartjies terugbetaal is.

Eva speel ’n volgende dag met haar emmertjie en grafie onder die sambreel. ’n Kelner met ’n sambreel skuif al agter haar aan. "Eva," vra ek toe dit ongemaklik warm word, "onthou jy die man wat so seer geval het? Hy is baie siek in die hospitaal. Kom ons gaan in, dan maak jy vir hom 'n skoenlapperkaartjie."

"Hoekom?” gil Eva verwoed net toe Galina aangestap kom met 'n hoed en koeldrank vir haar. Eva gryp die hoed woedend en trap dit in die sand. Sy skreeu: "Stupid man. Stupid! Stupid! Stupid!" Sy kap die hoed in die sand in met haar hak; kap, kap, kap; haar gesiggie verwronge van woede.

’n Kelner kom verby met 'n ysbak spierwit opgerolde waslappies. Hy gee 'n yslappie met 'n silwer tang vir Eva en sy vee haar gesig af. Hy steek die tang uit om die lap te neem, maar sy gooi die lap in die sand. Toe hy buk om dit op te tel, gee ek Eva se emmertjie skulpe vir Galina. "Sê vir Lea groete. Ek sal nie weer kom nie."

Galina, wat stilweg op my staatgemaak het om haar uitstaande salaris te kry, vra geskok: “Your money?”

Ek kyk na die prentjie-perfekte dogtertjie. "Nee Galina, laat Lea dit hou. Geen geld kan ooit vir die dogtertjie ’n hart koop nie.”

Lees ook:

Reisskets: Biker-biskop in die Afrikabos

Reisskets: 'n Meer wat wegraak

 

  • 1

Kommentaar

  • Ek het nou om die beurt heerlik gelag, myself verskriklik vir die kleine Eva vererg, en ook 'n tikkie hartseer ervaar - daar is eenvoudig sekere dinge wat nie met geld gekoop kan word nie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top