Reisskets: Die kleur van jou vet

  • 0

Oman

Foto: Johan Opperman en Boeta Lochner

Vernoem na die kleur van jou vet! Wat ’n gruwelike belediging! Nie vir die groen seeskilpad op die strand van Ras al Hadd nie. Sy gee nie ’n duit om waar haar naam vandaan kom nie. Iewers oor die afgelope 200 000 000 jaar het sy en haar spesie sekerlik veel groter uitdagings oorleef as katterige naamgewing. Hulle het immers die dinosourusse sien kom en gaan. Soos die Engelse sê: “Sticks and stones may break my bones, but names will never hurt me.”

Ons het láát, baie later as beplan, die vorige middag uit Muskat vertrek. Ons plek by die kampterrein in die Ras Al Jinz-skilpadreservaat was reeds bespreek. Ons wou dit gaan sien: Die groen seeskilpaaie lê hul eiers tussen April en Augustus, en babaseeskilpadjies broei diep in die sand uit, kruip uit en moet hul eie heil uitwerk. Mense kom vanoor die wêreld vir die ervaring. Maar iewers in die donker klipwoestyn het ons die pad byster geraak en liederlik verdwaal. Láátnag slaan ons tent op by ’n klein baaitjie, trek honger die piekniekmandjie nader en haal met ’n skuins glimlag rooiwyn uit, netjies versteek tussen die gereedskap. In Oman is dit onwettig om drank te vervoer, maar dié nag vra vir rooiwyn! Geen gemors, geen motors, geen mense; ’n ongeskonde sandbaaitjie langs die Arabiese See vir twee moeë mense.

Soms, net soms, verander teëspoed in ongekende vreugde. Nog nooit was ons so bly dat ons verdwaal het nie. Vroegoggend, toe ons ’n draaitjie wil loop, begroet ’n toneel uit ’n Eerste Wêreldoorlogse fliek ons: reusagtige kraters en die spore van ’n stootskraper. Maar dis alles behalwe oorlog. Dis die begin van nuwe lewe – ’n groen seeskilpad wat die perfekte plekkie soek vir ’n sandnes waar ’n nuwe geslag die lewe kan aanvat.

Foto: Johan Opperman en Boeta Lochner

Sy was ook ietwat laat dié oggend; die eerste lig het reeds oor die beskutte strandjie gehuiwer. Sy lê net in die nag eiers omdat seeskilpaaie se oë nie skerp lig kan hanteer nie. Hierdie baaitjie is waar sy vyftig of meer jaar gelede gebore is. Elke jaar kom sy hierheen terug sodat nog ’n geslag groenvetdiertjies die eerste lewenslig kan aanskou; juis hier waar ons so onbepland beland het. En so kruis ons paaie – twee verdwaalde mense en ’n vasberade ma-skilpad. Sy steur haar min aan ons, maar ons onthou haar jare later nog met verwondering.

Ons groen dame grawe naarstiglik dié oggend. Sy lyk lomp, maar die swemvoete laat waai; graaf, skep en gooi na agter. Twee strome sand sproei hoog weerskante van die gat. Sand in die oë bly ons op ’n afstand. Die gat raak diep. Nes ons dink sy is uiteindelik reg om haar eiers te lê, skrop sy die gat toe en beweeg na ’n ander plek. Later praat ek haar aan: Toe-toe, die son kom al op. Die jakkalse gaan sien waar jy jou eiers lê. Jy moet klaarmaak, kry nou jou lê, en doen jou ding! Die ma-tot-ma-geselsie werk, want sy raak stil in die gat naby die opkomende branders. Die eiers peul uit en uit, een na die ander. Tot ’n honderd op ’n slag, lees ek later. Sy skop die gat toe en wikkel met ’n spoed water toe. Binne minute is sy weg. Die branders spoel oor haar spore, die kraters vul met sand. Wetenskaplikes sê sy dwaal nog vir ’n paar weke in die water rondom die baaitjie rond en kom dalk ’n tweede keer eiers lê. Sy deurkruis die Indiese Oseaan, maar as die moederinstink inskop, kom sy terug na die klein strandjie waar sy self gebore is. Kan dit wees? wonder ek stilweg. Strek die verknogtheid aan geboortegrond oor spesies heen?

Lewe op die strand is hard en ongenaakbaar; die kans vir oorlewing van seeskilpadjies skraal. Op die randjie staan ’n jakkals. Hy ignoreer ons, kyk stip na die sand. Hy wag vir sy ontbyt: vars skilpadeiers. In die waterlyn dans honderde rooi krappe op lang bene. Ook hulle wag vir ontbyt: babasseekilpadjies wat in die sand uitbroei en instinktief see toe peil.

Foto: Johan Opperman en Boeta Lochner

Op pad terug na ons tent kry ons nog ’n geskenk. Een na die ander baba kruip uit die sand en soek die pad see toe. Hulle is donkerder as volwassenes, skaars 50 cm lank. Hulle val in die kraters, klim weer uit en verloor rigting as gevolg van die son wat reeds op die horison verskyn. Die kleintjies wat wel die strand bereik, word deur die krappe opgeraap. Net 50% van babagroenseeskilpaaie bereik ooit die see en net 10% oorleef die eerste paar weke in die oseaan. As kinders van Afrika wéét ons jy meng nie in met die loop van die natuur nie. Maar daardie oggend red ons sonder huiwering babaseeskilpaaie. Skrum die krappe, jaag die jakkals, dra babas wat rigtingbeneuk die woestyn invaar water toe, sit hulle versigtig in die branders. Maar ons weet, nes met mensekinders, ons kan net tot op ’n punt help; dan moet ons laat gaan.

Volwasse groenseeskilpaaie oorleef goed in die oseaan; waarskynlik weens hul grootte en spoed. Hulle weeg tussen 130 en 160 kg en is ongeveer ’n meter lank. Meer stroombelynd as hul landgenote, swem hulle vinnig. Daardie afgeplatte swemvoete is aangepas vir swem, stap en om kraterneste in die sand te maak – sodat die volgende geslag groenvetbabas kan uitbroei. Die temperatuur tydens die eierstadium bepaal die geslag van seeskilpaaie. Dié nader aan die koel see is manlik; dié verder weg is vroulik.

Oman is een van die min plekke in die wêreld waar seeskilpaaie nog ongestoord gesien kan word. Vyf van die sewe spesies kom by Ras al Hadd voor en vier spesies lê hul eiers juis hier waar die Arabiese See en die Golf van Oman ontmoet.

Vyftig dae later, toe haar eiers moes uitbroei, is ons ver weg op ’n ander kontinent. Hoeveel kleintjies het dit see toe gemaak? Selfs al was ons nog daar, het ’n spesie wat 200 miljoen jaar oud is in elk geval nie ons hulp nodig nie. Al wat ons mense regtig kan doen, is om met respek met die skepping om te gaan.

Ek praat vier tale, maar nie die taal van engele nie. Sou engele skilpadtaal kon praat? Die skrif van stootskraperspore in die sand kon lees? Wat sou dit kon vertel van ’n plek waar oseane ontmoet en ’n woestyn begin? Waar jakkalse uit die see leef en rooi krappe op lang bene ’n bestaan voer? Van die wette van die see en die strand en die wonder van die oorlewing van ’n spesie so oud soos die skepping self?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top