Vinkel en koljander: Bokvet, wierook en mirre

  • 1

Tradisioneel het elke hennamotief ’n betekenis gehad, maar vir die moderne vrou is dit ’n voortsetting van haar grimering en uitrusting. Foto: © Michelle Shelby

Swart figure skarrel deur Muskaat se strate. Vreemd en geheimsinnig beweeg hulle gesigloos deur die inkoopsentrums. Ek wonder oor Omani-vroue; wil graag kennis maak, wil wéét hoe dit voel om op die rand van die samelewing te leef.

Mans by die Mutrah Souk, Muskaat (Foto: © Michelle Shelby)

Vinnig leer ek om nie die vroue vlak te kyk nie. Onder daardie stemmige uiterlike skuil doodgewone geite en dinge. Hul dra die swart abeya en hijab net in die openbaar. Tuis waai die swart en blom hulle in kleurvolle uitrustings. Hul mag op die rand van die man se wêreld funksioneer, maar randfigure is hul geensins.

Oman het twee parallelle sosiale lewens: dié vir mans, en daarnaas dié vir vroue. Mans en vroue sosialiseer heeltemal afsonderlik. Praat van apartheid! In die Islamitiese land is die man beslis die hoof van die huis. Dit beteken egter nie dat vroue vaal muisies op die agtergrond is nie; allermins. Vroue doen hul ding met oorgawe.

Selfs die huis se uitleg sorg dat mans en vroue aparte ingange en leefareas het. Die hoofingang, gewoonlik baie indrukwekkend, lei na die manskwartiere. Vroue gaan by ’n ander ingang in. Hulle het hul eie woonkwartiere en binnehof. Die binnehof met skadubome is waar hul leef en werk – weg van die dwalende oë van manlike besoekers.

Vroue kuier, onthaal, woon sosiale geleenthede by en trek baie mooi aan. Hulle huiwer nie om blink in die dag te dra nie. Is lief vir bling en gebruik beslis hul uiterlike om hul status te wys. Omani-vroue hou daarvan om te beïndruk – als onder die streng toesig van die matriarg van die familie. Laasgenoemde is gewoonlik die oudste en mees senior vrou van die familiehoof. Sy is, soos Islam beveel, onderdanig aan haar man, maar ’n matriarg regeer die vroue van die huishouding met ’n ysterhand,

By ’n salon ontmoet ek ’n groepie meisies. Raserig gooi hul die swart abeyas af, neem in hul Levi’s en hoë hakke die salon letterlik oor. Die Britse haarkapper byt haar onderlip toe haar klant opspring om eers die regte skakering naelpolitoer te help kies. Die bruid hou verskeie skakerings pienk teen die swaargeborduurde naaswit brokaat van haar trourok. Almal, ook vreemdelinge, word opgekommandeer vir die belangrike keuse tussen Blushing Bride en Night-of-Passion.

So word ek genooi na ’n hennapartytjie in die buitewyke van Muskaat. Swart figure verander in pragtige skoenlappers in die portaal van die pretensiepaleis. Ons drink soet tee in fyn porseleinkoppies, en silwer bakkies met dadels en neute staan op vergulde tafeltjies met goudgeborduurde lappies. Ietwat ongemaklik met al die oordaad, maak ek my tuis op ’n groot rooi kussing. Ek verstaan geen duit Arabies nie. Ek vrees dit gaan ’n lang aand wees.

Maar toe daag Halima op, die niggie wat in Amerika studeer. Sy balanseer behendig op silwer stiletto’s, sak elegant neer, blink blou mini ten spyt. Sy knipoog onder haar vals wimpers. Sy is veel meer as ’n vertaler; sy is ’n skinderbek met sappige stories. Vir die bruidegom het sy nie ooghare nie. “Drie jaar jonger as die bruid! Nog ’n kind! Maar dis ’n goeie huwelik. Sy pa het besighede in Dubai,” definieer sy ’n goeie huwelik.

Dit gons toe die hennakunstenaars met grimeertassies instap. Dit druk en stamp. Elkeen probeer om eerste aan die beurt te kom, maar ouderdom tel nog in die land. Die ouer vroue se hande word eerste gedoen. Giggelende tieners blaai deur tydskrifte om die perfekte hennamotief uit te soek. Celine Deon speel in die agtergrond.

Die volgende oomblik weergalm Michael Jackson se “Thriller” van ’n reusagtige TV-skerm. Die klanke bons vanaf die teëlvloere en marmertrappe. In ’n oogwenk is die jonges aan die heupswaai op die dansvloer. Dit voel of ek halusineer in die verstikkende wierookdampe en die flitsende beelde van Michael Jackson in die wit katpak. Die oorverdowende musiek verwring teen die harde vloere en mure. Dit lyk nie of dit die dansers pla nie. Ek mik-mik vir die uitgang, maar staan weifelend voor drie stelle marmertrappe.

Foto: © Michelle Shelby

’n Klein vroutjie in swart red die aand vir my. Sy klap haar hande. “Khallas!” Die uitdrukking op die gekerfde gesiggie spreek boekdele. “Khallas!” Die musiek word afgedraai. Die TV-skerm word swart. Die baas het gepraat: Luister, almal.

Sy beduie en die musiek slaan oor na die hartseer klanke van die Midde-Ooste. Die ouer vroue huiwer ’n oomblik, maar die millenniërs gaan moeiteloos oor van ingewikkelde voetwerk en rukkende heupe na sensuele kronkelende bewegings. Die arms krul en draai op dralende musiek, herhalend eentonig, hipnotiserend soos die windpatrone op woestynduine. Ek verstom my aan die gemak waarmee die millenniërs oorgaan van rock na takht, van Westerse na Midde-Oosterse klanke en danspassies. Hulle is kennelik tuis in albei wêrelde.

In die openbaar dra Omani-vroue swart. Dit is onwettig om mense sonder toestemming te fotografeer (foto: © Michelle Shelby).

Halima se gesig is onpeilbaar toe sy by my kom sit. “Jy hou nie van die musiek nie?” toets ek haar. Sy trek haar skouers op: “Ek was te lank in Amerika. Ek weet nie meer nie. As ek daar is, wil ek hier wees. As ek hier is, verlang ek na Amerika.”

........

Welkom in die wêreld van die ekspat, dink ek by myself. Altyd verdeel tussen die veiligheid van die bekende en die opwinding van die vreemde.

........

Welkom in die wêreld van die ekspat, dink ek by myself. Altyd verdeel tussen die veiligheid van die bekende en die opwinding van die vreemde.

Ek wys vraend na die ou vroutjie. “Dis Ouma Twaalf. Ons oupa het twaalf vroue gehad, maar nooit twee gelyktydig nie,” voeg sy glimlaggend by. “Islam laat vier vroue op ’n slag toe. Oupa het altyd gesê een vrou op ’n slag is klaar te veel. Maar skaars was een dood of hy vat die volgende een.”

Ouma Twaalf vryf die bruid se lang donker krulhare met ’n mengsel van yaasblare en kruie in. Dit ruik na iets tussen babapoeier en kougom. “Ouma glo nog aan die ou goed,” sê Halima effens verveeld.

Die gaste se hande is klaar gedoen en dis die bruid se beurt. Die vroue sit in ’n halfmaan om die bruid, die dik hennapasta soos modder op hul hande. Voor die einde van die aand sal die pasta droog word en afval. Die ingewikkelde blompatrone wat agterbly, sal tot ’n diep rooibruin verdiep.

Twee meisies werk gelyktydig aan die bruid: eers die hande, dan al langs die arms op tot by die skouerknop. Daar is ’n ruising toe die hoofmeisie van die hennabende teen die rug af beweeg. Die bruid draai haar rug na die gaste en die kunstenaar is lank besig in die holte van die rug. Oor ’n paar uur sal ’n eksotiese blom hier ontplof, beloof sy.

Voorlesing uit die Koran (Foto: © Michelle Shelby)

Ouma Twaalf is stuitig. “Dis om die bruidegom die pad te wys. Hy is jonk en onnosel. Hy het geen idee wat om te doen nie.” Sy kraai soos sy lag.

Die bruid klik haar tong.

Die ou matriarg se aandag dwaal na die vaal Westerse vrou. “En wat van jou?” vra sy en trek los met ’n verduideliking van henna. Halima hou nie by met die vertaling nie, maar ek verneem darem dat elke hennamotief iets beteken, ’n simboliese waarde het. Die meeste het te doen met vrugbaarheid en ’n gelukkige huwelik. Ek wonder of ’n goeie huwelik en ’n gelukkige huwelik dieselfde is vir dié vroue.

Een van die hennameisies praat goed Engels en vertel dat hulle net regte henna gebruik, nie die namaaksels wat toeriste by die souks koop nie. “Hennablare word fyn gestamp en met suurlemoensap gemeng. Die ligte suur trek die oranje kleurstof uit die blare en vlek die vel. Dit maak ook die vel heerlik koel,” sluit sy af.

Dis laat toe ek uiteindelik huis toe ry. Op die sitplek langs my is ’n geskenkpakkie van Ouma Twaalf: wierook, yaasblare, rooswater en vreemde pienkerige stukkies seerots, shaba; ook ’n klein vysel en stamper. Ouma Twaalf, wat skaars tot by my skouer kom, swaai vir oulaas haar vinger toe ek groet. Ek moet soggens die shaba fynmaal vir deodorant.

Die spreekwoordelike pakkie dinamiet regeer die vroue van die uitgebreide gesin, die hele huishouding. Ek wonder stilweg of sy nie die oupa ook onder die duim het nie. Ek gaan nie met haar sukkel oor deodorant nie.

’n Paar dae later neem ek ’n bos blomme. Die bruid sit-lê dikbek in ’n kleiner sitkamer. Ouma Twaalf organiseer dadelik ’n feesmaal en ek gebruik die geleentheid om Fariah beter te leer ken. Ek kon nie met haar gesels tydens die hennapartytjie nie en ek is nuusksierig oor die gereëlde huwelik

Fariah kyk verveeld na die hennapatrone op haar hande, pluk-pluk aan die gelnaels wat begin losgaan. “Aag, dit was oukei,” sê sy. En toe as ’n nagedagte: “Sy pa het gesê ons kan volgende jaar Amerika toe gaan. Halima dink mos sy is al een wat van Amerika weet.”

Later kom Halima in en die niggies omhels mekaar stywerig. Halima is besonder stil, maar toe die bruid se foon lui, praat sy. “Ek weet nie of ek moet teruggaan nie. Die universiteit begin eersdaags. Miskien moet ek trou soos Fariah. ’n Ryk kleinneef was by my pa. Hy wil met my trou. Hy is ietwat ouer en het self in Amerika studeer,” vertel sy.

Fariah kom terug en sê vermakerig: “En sy Amerikaanse vrou? Sy sal altyd vrou nommer een wees. Jy sal altyd nommer twee bly.” Die niggies pak mekaar in Arabies en ek raak ongemaklik. Halima maak verskoning. “Die Amerikaanse vrou is huis toe omdat hy ’n tweede vrou wil neem. Ek sal dus eintlik die hoofvrou wees.” Sy vervolg nadenkend: “Maar ek het nog net een jaar dan kan ek graad kry.” Fariah snork en speel met die stringe goue armband, deel van haar bruidskat.

Ouma Twaalf kom met ’n horde eetgoed in en klik vererg; “Amrika! Amrika!” Dis duidelik sy wil niks van Amerika weet nie. “Ek is van Afrika,” probeer ek witvoetjie soek, maar Ouma Twaalf trek los teen alles uitlands. Ek moet van die Bedoeïen-vroue leer. Die Bedoeïene ken die natuur en gebruik wat Allah – Prys sy Naam – self gee: wierook, mirre, safraan en kameelmelk.

Sy het ’n merkwaardige kennis oor die woestynplante en vertel hoe wierook en mirre geoes word. “Mens maak fyn kerfies teen die stam en gaan oes die trane na twee weke, as die plantsap kliphard is. Die bome word nie beskadig nie. Die wonde gaan toe en bome word oor en oor geoes.”

Die niggies hou op kibbel en luister aandagtig. “Mens koop mirrekristalle by enige souk. Ek meng dit saam met wierook in al my roompies. Mirre hou die vel jonk. My ma het dit nog met bokvet gemeng, maar ek meng dit met Vaseline,” sluit sy af.

Voor ek ry, keer sy. “Wag, ek wil jou ’n botteltjie kameelmelk saamgee.” Die niggies giggel en Halima vertaal met ’n fladdering van vals wimpers. “Kameelmelk kikker dinge in die bed ’n bietjie op.”

Ek wonder oor Fariah en haar gereëlde huwelik; oor Halima wat moet kies tussen tradisie en ’n graad. Ek peins oor die jongmense van Oman, een voet gerieflik in tradisie, die ander uitdagend in die Westerse wêreld. Sal hulle uiteindelik hul eie kultuur agterlaat en heeltemal verwesters?

Maar dis Ouma Twaalf wat my bybly – die klein vroutjie met die groot gees wat ’n hele familie anker in ’n eeue oue kultuur. Sal wierook, mirre en die wondere van kameelmelk in die vergetelheid verdwyn as sy die dag nie meer daar is nie?

Woorde: Helena Opperman
Foto’s: © Michelle Shelby, [email protected]

Lees ook:

Reis in die tyd van die korona: onder vreemde hande

Reis in die tyd van korona: vinkel en koljander

 

 

 

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Coenraad Walters

    Helena, dankie vir jou wonderlike teks wat 'n wêreld vir ons oopsluit. Jou sinne, paragrawe, beelde en verwysings skep 'n kleurryke indruk van 'n ryk en gelaagde samelewing.

    Onderaan die geheel merk ek dat Helena "woorde" geskryf het. Liewe redakteur, hierdie tendensieuse geringskatting van wat Helena hier regkry, grief my diep. Dit is 'n belediging vir haar prestasie. En dit is waar van (feitlik) almal wat in vele publikasies beledig word met die neerhalende aanduiding dat hulle "woorde" geskryf het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top