Verhaal van hoe Pierre uiteindelik Elise geword het, laat jou dink

  • 0

Elise Bishop se boek Twee lewens is al in sy tweede druk. (Beskikbaar: Hemel & See Boeke, 2022)

Daar is net 30 sitplekke in Sunset Books in die Strand beskikbaar met ’n onlangse DiNK-vergadering (Denkende Individue Neem Kennis), maar elkeen van daardie sitplekke is vol. Die rede is beslis die gasspreker vir die aand, Elise Bishop – een van die eerste transgender Suid-Afrikaners wat openlik oor haar oorgangs- en geslagsbevestigingoperasie gepraat het. Sy gesels padlangs met Jean Oosthuizen oor haar lewensreis wat sy volledig opgeskryf het in haar boek, Twee lewens, wat in Augustus 2022 by Hemel & See Boeke verskyn het en in sy tweede druk is.

Stanley van den Heever vertel:

DiNK het destyds sy ontstaan gehad toe ’n paar van ons besluit het om gespreksgeleenthede te skep waartydens meer kontroversiële onderwerpe aangeroer sou word. Ons eerste vergadering was op 6 September 2016 en die spreker was Bertus Osbloed van Niekerk (’n ongelowige oud-dominee wat nou wyn maak) wat kom praat het oor die onderwerp: ‘Van predikant tot wynmaker’. Ons keuse het dus ook op Elise geval as gevolg van haar unieke storie van geslagsverandering, wat reeds in 1975 plaasgevind het – in ’n tyd toe daar erg gefrons is oor sulke onderwerpe en selfs homoseksualisme as taboe beskou is.

Ons doelwit is dus in kort om mense ingelig te hou oor alle onderwerpe, veral daardie onderwerpe wat dalk nie altyd in die populêre pers aandag geniet nie.

Mens sou dink dat die mens se verdraagsaamheidsvermoë sou kon tred hou met 2025 se tegnologiese gevorderdheid; ons verkenning van Mars en mediese deurbrake, maar allermins. Die Trump-administrasie se beleid jeens transgender persone het verhale soos dié van Elise weer opnuut in die kollig geplaas. 

Elise Bishop lees uit haar boek voor by ’n onlangse DiNK-gesprek in die Strand. (Foto: verskaf)

In Januarie vanjaar het president Donald Trump twee bevele van die Biden-administrasie herroep: die voorkoming van diskriminasie gegrond op genderidentiteit of seksuele oriëntasie; en ’n verdrag onderteken dat daar net twee geslagte is, manlik en vroulik, en dat dit nie verander kan word nie. Dit gee opdrag aan alle federale agentskappe om “genderideologie” te verwerp en slegs biologiese geslag te erken.

’n Week later het hy nog ’n uitvoerende bevel uitgereik wat die transgender gemeenskap teiken: Geen geslagsveranderinge vir mense onder die ouderdom van 19 jaar sal toegelaat word nie.

Baie onlangs is berig dat transgender vroue nie meer die vrouetoilette in die Skotse parlementsgebou mag gebruik nie; in Brittanje het ’n hof in April beslis “geslag” verwys na die persoon se geslag by geboorte, wat die voorheen geslagsertifikate waar mense hul geslag kon verander, ondermyn.

Vir baie mense is dit net nog ’n bisarre ding wat iemand vêr van hier aanvang. Maar agter elke besluit of verdrag, staan mense. Mense wat elke dag probeer om net voort te gaan met hul lewe, maar onwillekeurig binne daardie genderdebat vasgevang bly.

In Maart vanjaar gesels Tshiamo Modisane openlik met Murray la Vita wat reeds op vyf besef het haar seunslyf is nie waar sy wil woon nie. Sy het die boek, I am Tshiamo: My transition to self-acceptance and womanhood by Penguin Random House, die lig laat sien. Haar lewe het ’n oordosis oordeel gehad omdat sy nie kon aanvaar dat sy ’n seun is nie.

........
Elise het in 1975 haar lewe as Pierre van der Merwe agtergelaat en ’n nuwe lewe as Elise begin. Dis 50 jaar later, maar om haar is die wêreld se verdeeldheid oor transgenderkwessies nie veel anders as toe nie.
........

Terug by Elise se storie. Elise het in 1975 haar lewe as Pierre van der Merwe agtergelaat en ’n nuwe lewe as Elise begin. Dis 50 jaar later, maar om haar is die wêreld se verdeeldheid oor transgenderkwessies nie veel anders as toe nie.

Dis heel gepas dat sy by ’n DiNK-byeenkoms gesels, want haar storie moet jou laat dink – oor jou eie oningeligtheid en vooroordele. Oor hoe maklik jy ’n opinie uitspreek – dikwels oor aangeleenthede waarvan jy nie genoegsame kennis het nie – wat net mense seermaak wat jy nie eers ken nie.

Die DiNK-uitnodiging was prikkelend:

Hoe weet ’n klein seuntjie van skaars drie jaar oud dat hy in die verkeerde liggaam gebore is? Wat ervaar daardie seuntjie in die eerste twee dekades van sy lewe dat hy so oortuig raak van wie en wat hy moet wees, dat hy die lang pad van geslagshertoewysing aanpak sodat hy sy droombestaan kan voer in die liggaam waarvoor hy gebore is?

Min het Pierre van der Merwe daardie tyd geweet wat Elise alles in haar nuwe bestaan sou ontdek en ervaar waaroor sy met ons kom gesels.

Haar verhaal is ’n hartstogtelik eerlike en roerende verhaal. Elise is in 1952 in Graaff-Reinet gebore as Pierre. In 1975 het sy ’n geslagsveranderingsoperasie ondergaan en haar geboortesertifikaat en haar naam amptelik na Elise verander. Dit is wettig toegelaat deur die Wet gepromulgeer in Suid-Afrika in 1973.

Haar reis was beslis geen maanskyn en rose nie en het groot sielkundige implikasie op haar lewe en ook haar geloof gehad. Want nadat sy uiteindelik gemaklik in haar Elise-vel is, raak sy verlief en trou met ’n vrou – ná die verlies van ’n man wat net voor hul troue in ’n motorongeluk sterf.

Die sielkundige implikasies hiervan vang haar weer in ’n maalkolk vas, want nou is sy in ’n gayverhouding – presies wat sy nooit as Pierre wou wees nie.

Ek glo in menseregte; dat elkeen die reg het op oorlewing volgens sy eie keuse en gewete.

In Twee lewens skryf sy haar geloof en familie was groot oorwegings in haar besluit, maar sy “wou nie homoseksueel wees nie”. Sy kon egter nie verstaan wat eintlik met haar “verkeerd” was nie. Sy beskryf dit as “’n sielkundige worsteling”. Elise het my destyds vertel dat mens altyd die era moet onthou en ook dat sy in die middel van die afgesonderde Karoo was, “waar dit taboe was om oor seks te praat”.

Elise skryf die lig gaan vir Pierre op toe hy by ene Oxford beland, wat die hele verwarrende duisternis oor transseksualiteit laat verdwyn. Die akademikus verduidelik:

[K]om ons noem hulle normale mense, wat bekend staan as heteroseksueel, en mense wat aangetrokke is tot hul eie geslag, as homoseksueel. Hermafrodiete is dubbelslagtige mense wat manlike en vroulike geslagsorgane het. Transvestiete is mense wat graag die teenoorgestelde geslag se klere aantrek, vir die erotiese genot wat dit hulle verskaf. Dit het niks te doen met hulle aangetrokkenheid tot die teenoorgestelde geslag nie.

Maar ’n transseksuele persoon is ’n baie meer ingewikkelde persoonlikheid. Dit is iemand wat biologies ’n honderd persent man – of vrou, na gelang van die geval – is, maar dié persoon is gebore met ’n honderd persent van die teenoorgestelde geslag se psige. Met ander woorde, iemand wat honderd persent biologies man is, dink en reageer totaal soos ’n vrou, en omgekeerd.

Pierre se verbasing met die woorde: “So ek is biologies ’n man, maar psigologies ’n vrou?” klaar sommer vir die leser ook baie vrae op.

.......
Mens kan jou glad nie indink hoe enigiemand hulself vrywillig deur hierdie pyn en verwerping van familie en vriende kan sit nie, maar soos die boek vorder, besef jy ook daar is niks vrywillig hieraan nie.
.......

Sy verduidelik die operasie in noukeurige detail en ook die lang, ingewikkelde herstelproses daarna.

Mens kan jou glad nie indink hoe enigiemand hulself vrywillig deur hierdie pyn en verwerping van familie en vriende kan sit nie, maar soos die boek vorder, besef jy ook daar is niks vrywillig hieraan nie.

Pierre van der Merwe as ’n oënskynlike gelukkige klein peuter (Foto: verskaf)

By die Toyota Woordfees op Stellenbosch ’n jaar of drie gelede, gesels sy met Yvonne Beyers, Huisgenoot se redakteur, oor Twee lewens. Sy wil nie deel van die genderdebat wees nie, want sy het ’n ander opinie, vertel sy. “Ek identifiseer nie met transgender nie. Ek is ’n man gebore wat ’n vrou moes wees. Ek het bloot ’n sex change-operasie gehad. My chromosome bly egter onveranderd.”

Pierre van der Merwe as jong man in diensplig (foto: verskaf)

Dis egter haar afsluitingswoorde daar wat my lank daarna nog bybly: “Daar word nie genoeg gedoen om jongmense van skoolvlak af op te voed oor die onderwerp nie. Daar is vandag só baie aggressie, diskriminasie en viktimisasie. In die vyftigerjare was mans en vroue ook baie minder gelyk as vandag, hoewel vroue nog steeds nie gelyk is in die sakewêreld nie, maar met opvoeding en deur daaroor te praat het dinge stadig begin verander en begrip het toegeneem. Dit het ’n kwessie van opvoeding geverg om persepsies te verander.”

’n Resensie oor Elise se boek deur Theodore Rossouw het hom die prys vir beste resensie van die jaar in die jaarlikse kykNET/Rapport-kompetisie besorg. Ek vind hierdie stuk in sy LitNet-resensie van geweldige belang:

Elise verwys met trots na haarself as ’n transseksuele persoon. Die terme transseksueel of transseksualiteit word lank reeds as argaïes beskou en word deur die grootste gedeelte van die (Suid-Afrikaanse) transgemeenskap verwerp.

Ook geslagshertoewysingsterapie word nie meer gebruik nie. Niemand tree trouens permanent oor die gendergrens in ons moderne denke nie.

Na myself verwys ek sonder voorbehoud as ’n transgender persoon.

Transgender is ’n hedendaagse term vir ’n persoon wie se psigiese en biologiese self of liggaam nie ooreenstem nie. Cisgender is die teenoorgestelde van trans, dit verwys na ’n persoon wie se psigiese en liggaamlike ervaring van self ooreenstem. Cis kom uit die Grieks, dit beteken dieselfde.

So, is transseksueel en transgender nie dieselfde nie?

Nee.

Beide terme kom dalk op dieselfde neer, maar soos met baie ander terme in Suid-Afrika, het ons aanbeweeg.

Selfs ons verstaan van die term trans – om die liggaamlike met die psigiese ervaring van self te versoen – het aanbeweeg.

’n Mens word nie ineens ’n “man” of ’n “vrou” nie. Die sosiale aspek van die transisie is ’n lewenslange aanpassing- en leerproses; want gender is ’n sosiale konstruk, ook by cisgender mense.

Ja, daar is medisinale of sjirurgiese ingrype om die psigiese en die liggaamlike ervaring van self met mekaar te versoen in trans mense, maar ...

Jare gelede is transseksualiteit, die term wat Elise nog gebruik, as ’n gemoedsversteuring in die DSM-III omskryf. Dit het ’n diagnose vereis om “behandel” te word. (Almal ken die DSM, danksy Grey’s Anatomy. Dit staan vir Diagnostic and statistical manual for mental disorders.)

Die hersiene DSM-V verwys nou na genderdisforie; sagter, maar ’n “diagnose” word steeds benodig om toegang tot terapie te bekom.

Die WHO se International classification of diseases 11, beter bekend as ICD-11, gebruik egter die term genderonverenigbaarheid, in Engels is dit gender incongruence. Die term kom glad nie meer voor in ’n hoofstuk oor “geestessiektes” nie, nee, dit is nou bloot deel van die hoofstuk oor seksuele gesondheid.

Transseksueel en transgender is dus eenders, maar tog nie dieselfde nie.

Dis ’n hele paar weke later dat ek met Elise gesels. Sy is pas terug van die bekendstelling van haar volgende boek Graaffernet sidestoep stories in Graafrikaans.

.......
Ek wonder hoekom sy nie met transgender identifiseer nie. Sy vertel: “Ek is ’n geslagsveranderde persoon, wat seun gebore was in 1952 en om en by 1972 transseksueel gevind te wees, en fisies vrou geword het in 1975, nadat ek deeglik geëvalueer is. Ek is bevind om oor genoegsame deursettingsvermoë te beskik om heel anderkant uit te kom, ná ek ’n destyds seldsame geslagsveranderingsoperasie ondergaan het en dus beskou ek myself geensins as transgender nie.”
.......

Dis dalk op ’n ligter trant, maar soveel water het al weer in die see geloop sedert haar outobiografie drie jaar gelede bekend gestel is en soveel uitsprake oor transgender gemaak is.

Ek wonder hoekom sy nie met transgender identifiseer nie. Sy vertel: “Ek is ’n geslagsveranderde persoon, wat seun gebore was in 1952 en om en by 1972 transseksueel gevind te wees, en fisies vrou geword het in 1975, nadat ek deeglik geëvalueer is. Ek is bevind om oor genoegsame deursettingsvermoë te beskik om heel anderkant uit te kom, ná ek ’n destyds seldsame geslagsveranderingsoperasie ondergaan het en dus beskou ek myself geensins as transgender nie. Dis hartseer dat dié sambreelterm gebruik word om alle geslagsafwykings te identifiseer, want dit maak die lewe van homoseksuele, lesbiese en transseksuele persone baie moeilik en ’n meerderheid sien neer en verfoei dié sambreelterm.”

Elise as pragtige jong vrou (foto: verskaf)

Is dit bloot ’n kwessie dat mense oningelig oor die korrekte terme is? Sy sê dis ’n “fynlyn-beskouing deur individue wat transseksueel is, maar die term transgender aanvaar. Mense kan my noem wat hul wil, maar ek weet ek was transseksueel tot en met my operasie en daarna heteroseksueel aanvaar, totdat ek op 40 verlief geraak het op ’n vrou en reeds 34 jaar met haar my lewe deel en dus gay is. Ek gebruik nie graag die term lesbies nie. Vir die oorgrote konserwatiewe publiek van SA, is die woord gay meestal meer ‘sag’ en aanvaarbaar op die oor.”

Sy voeg by dat sy – net soos die mense wat haar siening kritiseer – dieselfde menseregte het om te verskil.

Ons gaan draai by die DiNK-praatjie en ander. Mens wonder watter tipe vrae mense het en of hulle dit vra wanneer hulle die geleentheid kry. Elise lag en sê dis so ’n verskeidenheid vrae, “dit sal vele bladsye opneem om weer te gee. Meestal draai dit om die aanpassing in die lewe ná die operasie en of mens maklik aanvaar is deur familie en in die algemeen by die werk en publiek.

“Soos ek vroeër gesê het, to each his own. Ek het vriende en my werkgewers die geleentheid gegee om self te besluit of hul my wou aanvaar of nie, deur sonder vrees openlik te wees teenoor hulle. Ek het werklik baie min verwerping ervaar (net my oupa) en kan eintlik nie soiets onthou nie. Daar is natuurlik baie agter die hand gepraat, seker veral deur vroue! Maar dit was meer oor mens kompetisie was vir aandag. Ek glo deur onopsigtelik en nie oorboord te gegaan het wat kleredrag en gedrag betref nie, tot my aanvaarbaarheid bygedra het. Die feit dat ek die jongste vrouebankbestuurder was in 1976 glo ek onderstreep dit.”

Die voor en na foto’s van Pierre en Elise ná die operasie in 1975 (foto: verskaf)

Die terugvoer op Twee lewens drie jaar ná die publikasie daarvan is verstommend positief, vertel sy. Mense was verbaas oor wat mens moet deurmaak en verduur totdat jy “mens” geword het en die wel en weë wat mens sedertdien ervaar het.

“Mens moet eintlik maar die boek lees, want soiets het baie mense positief na die prentjie laat kyk en hoe om hul kinders te aanvaar en onderskraag. Baie het gesê hul het gelag én gehuil terwyl hulle lees. Een man het my selfs ’n ruiker gestuur deur Interflora van R1 000 vanaf Pretoria!”

Elise het ook sedert die boek verskyn het een persoon bygestaan om op 50-jarige ouderdom (toé ’n getroude man van 49) die hele paadjie te stap wat sy 50 jaar gelede gestap het. Sy is nou gelukkig en sien uit na vervulling in haar lewe.

Elise is nie spyt dat sy die boek nie vroeër in haar lewe geskryf het nie, want sy kon “nou ’n vol lewe tot op ouderdom 74 aanbied. Dit verskaf ’n verwysingsraamwerk vir meer individue vandag, asook hul ouers, as wat ek dit vroeër sou geskryf het. Dit is die enigste volledige nie-fiksie-outobiografie in Afrikaans geskryf tans.”

En dit bring mens by die situasie in 2025, danksy uitsprake in howe en presidentskantore regoor die wêreld. En daarby is die waglyste vir hulp “onaanvaarbaar hoog”, verklaar sy.

“Selfs so lank as 25 jaar in Suid-Afrika. In Engeland blykbaar 30 jaar. Dit betref diegene wat die operasie wil ondergaan.

“Diegene wat transgender beskou word en wie se lewe om gender en pronouns draai, kan hul name wettiglik verander en hul gender aanpas in SA, maar het nie die voorneme om die operasie in totaal te doen nie. In sekere gevalle kan die kostes wissel tussen R300 000 en R500 000 in SA en bygesê as jy ’n dokter kry wat in hierdie opsigte spesialiseer.

“Maar ander leef ’n ‘klug’ in my oë en maak ’n bespotting van hulself deur hormoonbehandeling te ondergaan en gevolglik kry jy vroue wat top surgery gehad het en behep is met harigheid en lang baarde en ook mans wat met natuurlike harigheid in vroueklere paradeer. Ek weet nie dat dit hulle vervulling verskaf nie, maar dis diegene wat ek persoonlik moeilik aanvaar.

“Maar weer eens to each his own. Dis hul voorkeure en ek kan nie soiets beveg nie; ek kan dit net vermy. Gelukkig is ek oud en steur my nie daaraan nie, maar voel vir hul ouers.”

Elise sluit af met die woorde: “Ek sou Trump graag self in die oval office wil besoek en hom neerhalend aanvat, omdat hy homself so verhewe beskou deur soveel seer te veroorsaak of dreig om te veroorsaak. Ek sou met my kierie in die hand op sy lessenaar voor hom my rok uittrek en hom uitdaag om my te ondersoek en sê ek’s nie ’n vrou nie!”

Jean Oosthuizen en Elise klink ’n glasie na afloop van ’n baie insiggewende gesprek. (Foto: verskaf)

Kitsfeite

  • Elise se boek Twee lewens is teen R300 by haar beskikbaar of direk van die uitgewers Hemel & See Boeke. Dit kan ook by enige boekwinkel bestel word deur die ISBN-nommer 978-1-998958-87-0 te gebruik.
  • Haar tweede boek Graaffernet sidestoep stories in Graafrikaans (beperkte oplaag 250 kopieë) teen R180 kan direk by haar bestel word (geteken) of by NS Skrywershuis se aanlyn boekwinkel. Dis ook verkrygbaar by Reinet-huis Museum op Graaff-Reinet, Elise se geboortedorp.
  • Elise gesels graag oor haar reis, maar bestuur nie meer lang afstande nie weens haar osteoporose. Sy gesels ook graag oor haar nuwe boek. Kontak haar gerus by egibishop@icloud.com.
Lees ook:

Elise Bishop se nuwe boek bekendgestel

Etienne van Heerden Veldsoirée: Elise Bishop oor Twee lewens

Twee lewens deur Elise Bishop, ’n resensie

Elise Bishop verduidelik Graaffrikaans

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top