
Op Saterdag 24 Mei 2025 was een van die enorme kamers in Reinethuis, die statige ou gebou in Graaff-Reinet, stampvol. Voor naby die deur het ’n gryskoptannie gestaan. Sy het vir ongeveer 40 minute gesels, kwinkslae gedeel en ou herinneringe opgeroep. Dit is natuurlik Elise Bishop van wie ek praat, een van die statige vroue in die Afrikaanse boekewêreld.
Maar wag, daar is ’n storie agter hierdie storie.
Dit het tydens Covid begin
Ons verhaal begin tydens Covid, daardie virus wat vir duisende mense se dood verantwoordelik was en wat gemaak het dat die regering ons gedwing het om by die huis te bly, nie openbare plekke te besoek nie en kontak met ander te vermy.
Museums was toe.

Anziske Kayster, die hoof van Graaff-Reinet Museum, was ook by die huis.
Kayster was op daardie stadium besig met ’n PhD onder leiding van Albert Grundligh. Skielik kon sy nie gaan werk nie en sy kon geen onderhoude voer vir haar studies nie. Sy het begin wonder hoe sy in hierdie vreemde tye vir mense iets sou kan beteken. Toe begin sy die Facebook-groep Graaff-Reinet history group.
Nie lank nie, of ’n onbekende stem met die naam Elise Bishop begin die interessantste vertellings deel in ’n taamlike eiesoortige Afrikaans. Etienne van Heerden het haar werk raakgesien en gevra sy moet dit ook met LitNet deel.
Elise word bekend en sit ’n anderste Afrikaans op die map
Ná Elise se werk op LitNet begin verskyn het, kon selfs meer mense kennis neem van die heerlike staaltjies en die eiesoortige manier waarop sy haar taal gebruik.
In verdere gesprekke met Elise het ’n totaal ander manuskrip ter sprake gekom – die eerste deel van daardie teks wat uiteindelik as Twee lewens gepubliseer is. Dit is vir jare onder Elise se bed weggesteek.
Haar suksesse op die Graaff-Reinet history group en later op LitNet sou Elise genoeg moed gee om die tweede deel van haar outobiografie te skryf en dit voor te lê vir publikasie. Twee lewens het baie mense se lewe geraak, maar het ook weer hernude belangstelling in haar werk oor Graaff-Reinet tot gevolg gehad.
Die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans het kennis geneem en “Graaffrikaans” deel gemaak van hulle reeks oor die verskillende soorte Afrikaans in ons mooi land. Hierdie mixture van allerlei languages het só, saam met Elise, weer ’n plekke in die son verdien.
Die stories het ook ’n groter gehoor verdien
Dit was Nico Schamrel van Ns. Skrywershuis wat besef het dat Facebook nou eenmaal nie dieselfde ewigheidswaarde as ’n boek het nie. Hy het Elise Bishop genader en aangebied om ’n keur uit haar verhale te bundel.

Toe Anziske Kayster, nou reeds met die PhD klaar, dit hoor, was daar geen keer aan haar nie. Elise se stories oor “Graaffernet” moes in Graaff-Reinet bekendgestel word.
Die verlede word ’n oomblik weer duidelik
Danksy Anziske Kayster se enorme ywer en Elise se vermoë om mense opgewonde te maak oor haar werk, was Reinethuis behoorlik vol op 24 Mei.

Elise het vertel hoe sy, as ’n seuntjie, saam met haar ouma deur die dorp gestap het, hoe haar ouma nooit by die haberdashery kon verbystap nie en hoe die dorp gelyk het voor die akkerbome als afgekap is om plek te maak vir die lorries.
Toe sy oor die waterbeurte begin praat, kon jy die gehoor se genot aanvoel. Ek het langs ’n oud-inwoner gesit wat ná die tyd vir my van haar eie ma se ervarings rakende die leibeurte vertel het.
Elise het ons ook op reis geneem deur haar eie lewe. Die mollige seuntjie met die rooi handsakkie is weermag toe en het na die dorp teruggekeer as ’n volle korporaal.
Toe hoor sy van die operasie wat haar “uiteindelik mens sou maak”. So is die verhaal van Twee lewens gebore.
Graaffernet sidestoep stories

En daar is die boek! Elise se eiesoortige taal en die manier hoe sy spel kan reeds in die titel gesien word. Voor jy kan sê Graaff is Elise se voorraad boeke uitverkoop.

Sy het vele handtekeninge uitgedeel na die tyd.
Titel: Graaffernet sidestoep stories
Skrywer: Elise Bishop
ISBN: 9781037066832
Uitgewer: Ns. Skrywershuis


Kommentaar
What an excellent turnout on 24 May at the Reinet Museum. Elise with her witty remarks had us hanging on her lips for more and more stories about GRT.
So wonderful to be part of her journey.
So trots op jou, Elise. Mag Sidestoep Stories altyd gesien word as deel van ons taalgeskiedenis.