...
Alhoewel die basiese storielyn die verhaal sonder twyfel in die kategorie van historiese liefdesverhaal plaas, is dit reeds van baie vroeg in die roman duidelik dat daar dieper temas ter sprake is, soos die gevolge van oorlog op mens en omgewing, ras- en klasverskille, asook vooropgestelde idees wat in die pad van betekenisvolle verhoudings kan staan.
...
Titel: Verbode drif
Skrywer: Irma Joubert
ISBN: 9781776357529
Uitgewer: LAPA
Verbode drif van Irma Joubert het in 2006, twee jaar na sy as onderwyseres afgetree het, die eerste lig gesien. Die derde uitgawe, wat pas deur Penguin Random House Suid-Afrika (oftewel LAPA soos ons dit ken) vrygestel is, spog nie bloot met net ’n pragtige nuwe buiteblad nie, maar met bywerkings en verwerkings van sekere dele van die teks.
Volgens die skrywer kon sy in hierdie uitgawe sny aan soetsappighede, terwyl sy ander tonele kon uitbou. Dit is sekerlik ’n baie slim skuif van die uitgewers om ’n geliefde skrywer soos Irma se werk nie net te herdruk nie, maar te hersien en die 16 jaar ervaring wat sy na Verbode drif opgedoen het, te benut om dit by te werk. Joubert se boeke is immers al in Nederlands en Duits vertaal en die Engelse vertaling van Tussen stasies, The girl from the train, is in 2015 wêreldwyd deur HarperCollins bekendgestel.
Ten spyte van die internasionale sukses van haar werke, vertel Joubert in ’n persverklaring, is Verbode drif steeds een van haar gunstelingboeke, aangesien dit die eerste enkeltitel was waarmee sy wegbeweeg het van die tradisionele romanse, artikels en kortverhale waaraan sy gewoond was.
Alhoewel die basiese storielyn die verhaal sonder twyfel in die kategorie van historiese liefdesverhaal plaas, is dit reeds van baie vroeg in die roman duidelik dat daar dieper temas ter sprake is, soos die gevolge van oorlog op mens en omgewing, ras- en klasverskille, asook vooropgestelde idees wat in die pad van betekenisvolle verhoudings kan staan. Daar word ook, anders as in suiwer romantiese fiksie, nie uitsluitlik gefokus op die ontwikkeling van die liefdesverhaal tussen die karakters nie, maar op Elizabeth se belewing van die wêreld om haar, geloofskonvensies en verhoudings en hoe haar karakter daarrondom ontwikkel.
***
Elizabeth van Rensburg, ’n intelligente jong meisie, word na die Anglo-Boereoorlog gedwing om saam met haar ma terug te gaan na haar pa en hulle bosveldplaas, weg van die luukse van skoolgaan en musieklesse waaraan sy gewoond geraak het in die kolonie. Om in die bosveld verder skool te gaan, moet hulle ’n onderwyser en ander gewillige, betalende leerlinge kry. So word sy gedwing om saam met Izak Katz, die Joodse seun wat voor die oorlog vir haar ’n doring in die vlees was, skool te gaan. Hy is egter nie meer die ondeunde seun nie en al is daar steeds lagduiwels in sy oë as hy vir haar kyk, is hy nie naastenby so ’n groot irritasie soos sy onthou nie. Die Jood, wie se geloof op die oog af wêrelde van hare verskil, word haar beste vriend en sy familie, veral sy ma en suster, ’n sleutel tot haar vervulling as mens. Elizabeth leer op die harde manier wie sy kan vertrou en wie nie; sy leer ook dat ’n huwelik tussen twee mense wat mekaar vooraf lief het, ’n luukse is wat nie vir almal beskore is nie.
Dit was vir my opvallend hoe Joubert op ’n baie subtiele wyse die omgewing in Verbode drif gebruik het om by te dra tot die karakters se ontwikkeling. Hoe sy aanvanklik ’n buitestander in haar ouerhuis is, maar hoe die huis die plek word waar sy skuil as sy geen ander uitweg het nie. Hoe ongenaakbaar die bosveld is teenoor die groen van die Kaap en hoe die uitmergelende hitte deel vorm van belangrike momente in die boek en bydra tot die karakter se gemoedstemming. Dan is daar die koelteboom by die drif waar sy en Izak telkens bymekaarkom wat as ’n oase vir die twee karakters dien.
Alhoewel die skryfstyl aanvanklik meer vertel as wys is, is die ampere vervreemding in die manier waarop sekere inligting oorgedra word, baie effektief in die daarstel van jong Afrikaans as ’n belangrike tema in die verhaal. Die teenstelling tussen Elizabeth en Izak se geloof word beklemtoon deur die Bybel in Hoog-Hollands en die Tora in Hebreeus. Afrikaans word dus die brug tussen die twee karakters, wie se liefde ook net so ongewoon en sonder reëls is soos die taal wat hulle praat.
“Ek wil met jou práát, Izak. Daarom skryf ek in ’n taal wat nie op skrif bestaan nie, wat nie reëls en wette en voorskrifte het nie. Ek skryf in Afrikaans, want dit is die taal waarin ek en jy liefhet.”
Joubert slaag daarin om die randkarakters effektief te gebruik om die karakterontwikkeling te beklemtoon en vooropgestelde idees en miskonsepsies oop te vlek. Daar is Mister O’Brian, die onderwyser met sy drankprobleem wat aanvanklik lyk of hy die antwoord op Elizabeth se gebede is, maar eintlik ’n groot struikelblok word wat sy moet oorkom. Hans-wat-starag-is, by wie sy aanvanklik ongemaklik voel, maar wat haar, en haar en Izak se vriendskap, se beskermer word. Die karakter wat my as leser egter die meeste geraak het, was Elizabeth se pa, wat voorkom of hy die tipiese bombastiese, onsensitiewe, onbetrokke patriarg is, maar wie se menslikheid op die mees onverwagse wyse deur die skrywer aan die leser geopenbaar word.
***
Dit is duidelik uit die akkuraatheid van sekere tydgebonde aspekte van die verhaal dat die skrywer baie deeglike navorsing gedoen het. Vir my as leser het dit egter nie een keer gevoel ek is besig met ’n geskiedenisles nie, maar eerder of ’n gordyn na daardie era vir my oopgehou is sodat ek kan sien hoe dit was. Dit is nie moeilik om te verstaan waarom Irma Joubert een van Suid-Afrika se mees geliefde skrywers is nie. Verbode drif dien as bewysstuk van haar skrywerstalent en vermoë om die leser van die eerste bladsy af saam met die karakters op reis te neem terwyl sy ’n storie vertel wat lank nadat jy dit toegeslaan het, jou steeds bybly. Dit is seker juis daarom dat LAPA besluit het hierdie verhaal is ’n derde uitgawe werd.
Lees ook:
Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Mentje, kind van Pas-Opkamp deur Irma Joubert