Titel: Verbode Drif
Outeur: Irma Joubert
Uitgewer: Lapa-Uitgewers
Kategorie: Fiksie
Bladsye: 312
ISBN: 9780799343120
Prys: R140
Klik hier om jou eksemplaar van Verbode drif by kalahari.net te bestel
Met storieprospekteerder Irma Joubert se verbeelding skort daar niks. Haar jongste fiktiewe skat, Verbode Drif, straal die kontrasterende ideologiese wêrelde van Afrikaners en Jode uit, verweef taal en godsdiens vernuftig, en wys dat ’n onwrikbare geloof in liefde enige probleem die hoof kán bied.
Getrou aan haar vorige werke, Ver wink die Suiderkruis (2006) en Tussen Stasies (2007), bevind die karaters in dié verhaal hulle in ’n wêreld omgekeer deur die sosiale omwentelinge van hul tyd. Verbode Drif skets ’n Suid-Afrika aan die begin van die vorige eeu wat in vandag se tyd byna onvoorstelbaar mag wees vir sommige lesers. Hierdie is ’n Suid-Afrika waar patriargale waardes heers, ’n vrou se karakter bepaal word deur hoe goed sy brood kan bak, en ’n taal se status gemeet word aan sy Bybelse waarde. Maar soos met alle dinge in die lewe, het dié wêreld natuurlik ook sy uitsonderings.
Verfynd, intellektueel en gekultiveerd, pas die vroulike hoofkarakter, Elizabeth van Rensburg, glad nie in hierdie wêreld in nie. Gedurende haar tydelike verblyf in die Kaap het sy die wondere van opvoeding en onafhanklikheid beleef en weier sy om op haar ma se versoek na die warm Bosveld terug te keer. Maar as vyftienjarige het Elizabeth geen keuse nie en aan die einde van hoofstuk een bevind sy haar sak en pak terug op haar pa se plaas, binne sy outoritêre waardestelsel. Eiewys soos Elizabeth egter is, weier sy om van haar droom as onderwyseres of pianiste afstand te doen en pleit by haar ma om haar verder te laat skoolgaan. Dit kos veel oorreding aan Maria van Rensburg se kant, maar sy slaag wel daarin om Herklaas van Rensburg te oortuig dat hul dogter haar skoolopleiding moet voltooi.
Só bevind Elizabeth haar dan elke weeksoggend saam met die broers Thys en Barend Greyling en die Joodse winkelier se seun, Izak Katz, onder die toesig van “meester” Liam O’Brian, ’n Ierse “wetsman” uit die Kaap. Van meet af aan kom sy goed oor die weg met Thys en Barend, maar vir Izak Katz het sy geen ooghare nie. Al wat Elizabeth van hom kan onthou, is hoe hy as seuntjie haar geboelie het in die dorpskool, en dit wil vir haar voorkom asof hy sedertdien nie veel verander het nie (24).
Daarby spandeer Elizabeth in hierdie tyd ook twee middae per week aan musieklesse by missus Katz, Izak se ma. Soos sy meer tyd in die Katz-huishouding deurbring, raak sy met verloop van tyd bevriend met die familie en leer sy ook ’n ander, sagmoedige kant van Izak ken wat sy tot dusver nie geweet het bestaan nie: “Dié is ’n vreemde Izak, dink Elizabeth verwonderd” (39). En dit is net ’n kwessie van tyd voor hul vriendskap plek maak vir liefde en Elizabeth en Izak se lewensverhaal begin.
Verbode Drif is gevolglik eerstens ’n verhaal van liefde tussen ’n jong blondekop Afrikanermeisie en haar Boerejood, wie se vurige liefde weens religieuse en ideologiese redes nie mag wees nie. Wanneer Izak na Johannesburg en later na Londen vertrek om verder te studeer, bly Elizabeth alleen in die Bosveld agter en wag op hom. Ondanks vryer na vryer, opsitkers na opsitkers, is sy, tot ergernis van haar ouers, die enigste jong vrou op die dorp wat ongetroud bly. Maar Elizabeth sien die pyn wat ’n liefdelose huwelik veroorsaak en weier om dieselfde pad as haar ouers te stap: “Maar wat dan van liefde? Moet ’n mens nie lief wees vir die een met wie jy trou nie?” (74). Sy neem vertroosting in Izak se woorde dat hulle eendag bymekaar sal wees en “die kloof tussen ons kulture sal moet ... oorbrug” (230).
Verdere verwysings na die titel kom ook voor in die boek se ander temas. Verbode Drif is twee karakters, Ester Katz en Hansie-wat-starag-is, se verhaal van hoe hulle die drif van hul gestremdhede moet oorbrug om deur hul gemeenskap as “normaal” aanvaar te word. ’n Derde verwysing na die titel sluit in die metaforiese drif wat die Afrikaanse taal in die verhaal sal moet oorsteek om as erkende lands- en godsdienstaal gevestig te raak. Op metafisiese vlak kan die titel ook as simbolies gesien word van die drif wat taal vir (fiksie)skrywers daarstel as beperking vir die uiting van gedagtes en emosies. Om boeke te lewer vereis dat hierdie drif telkemale oorgesteek en ongekende terrein verken word op soek na nuwe literêre skatte.
My indruk van die boek is by uitstek positief. Joubert se verhaal is een van onmoontlikhede, grense, liefde en, bo alles, hoop. Ons almal is, soos Elizabeth en Izak, ook prospekteerders in ons eie lewens en word gereeld met probleme gekonfronteer waarvoor ons oplossings moet soek. Iets waarmee lesers van verskillende ouderdomme en geslagte hulle kan vereenselwig in die boek.
Die enigste ding wat my kwel, is die langdradige en effens lomp einde wat ontrafel soos die verhaal afsluit. Dit is veral die eienaardige en opeenvolgende afsterwes van Elizabeth se ouers wat hier skort aan geloofwaardigheid. Ten spyte van hierdie kritiek, is Verbode Drif beslis ’n literêre diamant wat hoop uitstraal en verdien om op elke leser se boekrak te pryk.
Kommentaar
Is daar 'n opvolgboek op Verbode Drif?
-----------------
(Nee, daar is nie)