Tolbos deur Irma Joubert – 'n soeke na tuiskoms?

  • 0
Leswin Laubscher

Leswin Laubscher is medeprofessor en voorsitter van Departement Sielkunde by die Duquesne universiteit in Pittsburgh, VSA. Hy het in Suid-Afrika grootgeword gedurende die apartheidsjare. Teen die agtergrond van identiteit gedurende die tagtigerjare, lees hy Irma Joubert se Tolbos en deel ’n paar indrukke, interpretasies, en idees.

Irma Joubert se nuutste boek, Tolbos, word alom beskryf as ’n historiese roman – die skrywer sê self so. Die beskrywing as historiese roman suggereer dan eerstens dat aspekte van die roman in die algemeen, sowel as spesifiek tot die voorkeure van Joubert, verteenwoordig word – daar is ’n meeslepende storie, konflik, intrige, drama, bekende karakters, en Joubert se liefdesbelang en voorkeur vir “gelukkige eindes”, soos sy in ’n onderhoud met Riaan Cruywagen opgemerk het. Maar dan is daar ook die “historiese” wat “roman” kwalifiseer, wat dit ook “waar” maak - ’n sekere feitelike fiksie, kan mens maar sê. Dit is hierdie historiese plasing waarin ek belangstel, en die hawe van waar hierdie skrywe vertrek, in soverre dit die karakters betrek en beïnvloed aan die een kant, maar veral ook soos dit die leser aanspreek en tot die teks verwelkom aan die ander kant.

Die roman speel af in die tydperk vanaf 1976 tot 1989, ’n onstuimige en onsekere periode in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Maar Joubert plaas nie net die roman se aksie teen hierdie Suid-Afrikaanse agtergrond nie; sy lei die leser ook na Pole, in ’n parallelle storielyn. Lesers wat vertroud is met wêreldgeskiedenis, of bloot oud genoeg is om te onthou, sal onmiddellik opmerk dat opstand en protes, politieke geweld en die walgooiende onderdrukkingstuipe van ’n bedreigde staat beide apartheid-Suid-Afrika en kommunistiese Pole van daardie tyd gebrandmerk het. Inderdaad, indien Junie 1976 en Nelson Mandela se vrylating uit Victor Verster- (of dan Drakenstein-) gevangenis, boekhouers is vir die val van apartheid, is daar ’n verstommende tydspieël vir die val van die kommunisme in Pole, vanaf vakbondopstande in 1976 tot die ikoniese afbreek van die Berlynse muur, skaars ’n paar maande voor Mandela se vrylating. Joubert reik egter na meer as ’n (blote) reële “historiese agtergrond” waarteen die fiktiewe afspeel; ek vermoed sy wil die historiese voorop plaas, intiem en onlosmaaklik deel van die aksie en intrige. As sodanig bring sy dan die werklike in persoonlike kontak met die fantastiese – Katrien, die hoofkarakter, ontmoet byvoorbeeld vir Max du Preez en Helen Zille, terwyl Wladek, die Poolse protagonis, vir Lech Walesa aanhoor, en integraal deel word van die nou befaamde Gdansk-protes. Dit het natuurlik glad nie plaasgevind nie, maar hierdie literêre strategie verbeeld en verwoord presies die ineengevlegte sin van karakter en tydsvak, gebeure en gebeurlikhede.

Max du Preez

Maar mens het meer as interessante geskiedsfeite of spookagtige ooreenkomste tussen Pole en Suid-Afrika nodig om ’n roman te laat werk. Dit is wel waar dat die Suid-Afrikaanse hoofkarakter, Katrien, en haar Poolse eweknie, Wladek, ’n storieverbintenis het, een wat Joubert uitlê in die twee boeke wat Tolbos voorafgaan as trilogie, te wete Tussen Stasies en Ver wink die Suiderkruis. Maar Tolbos staan op sy eie, en mens het glad nie nodig om daardie ander werke te lees om hierdie boek te geniet of te volg nie. In Tolbos kom die skynbaar afsonderlike, en parallelle Suid-Afrikaanse en Poolse storielyne wel later byeen in soverre Wladek sy weg na Suid-Afrika vind, waar sy lewe met dié van Katrien saamloop. Benewens die uiteindelike liefdesbelang en gelukkige einde kom Wladek se karakter ook na vore as skerm, eggo, uitdaging en korrektief vir die ervaring en ontwikkeling van Katrien, wat tog – kom ons wees maar nou eerlik - die sentrale karakter is in die storie, Wladek se sydelingse storie in Pole desnieteenstaande.

En nou, voor ek verder skryf, moet ek bieg: ek is nie ’n literêre kritikus of professionele resensent nie, en voel ongemaklik om evalueringsuitsprake te maak oor die sukses van hierdie Poolse eggo en spieël, ondanks die aardigheid en nuwigheid daarvan. Maar ek vergun myself tog die gesag om bloot as leser kommentaar te lewer. Ek moet dan ook erken dat ek die Poolse storie taamlik geniet het, selfs so bietjie meer as die Suid-Afrikaanse een – maar miskien het dit meer te doen met die feit dat die Suid-Afrikaanse karakters en mise-en-scène so bekend is, en die storielyn selfs taamlik voorspelbaar, terwyl die Poolse agtergrond en karakters die aandag en belang meesleurend behou, gegee dat dit nuut, heel vars, selfs ietwat kultureel eksoties is.

Maar ek keer terug tot die vraag of hierdie storielyn “werk” in die roman as geheel, of hóé dit werk, hoe dit die aksie belig. Ek vrees nie te goed nie, ten minste nie as roman nie, selfs nie “historiese roman” nie. As voorbereiding vir die uiteindelike liefdesintrige is die lange Poolse oploop “te veel”, en as politieke, geskieds- of filosofies-literêre kommentaar word daar “te min” van gemaak. Op die ou einde is Tolbos miskien meer romanse as roman, en die “nuwe” van die parallelle Poolse storie meer die persoonlike bevrediging van ’n skrywer wat “lief is vir geskiedenis”, as ’n vernuwende literêre instrument om kuns mee te maak.

Helen Zille

Maar terug na die Suid-Afrikaanse storie, en ek verstout my om te kwalifiseer – met al die nuanse en dubbelsinnigheid wat daarmee gepaard gaan – terug na die Afrikáánse storie). Die hoofkarakter, Katrien, word op ’n bekende, amper stereotiepe manier voorgestel, in soverre sy ’n Afrikaner “ís”, as Afrikaner identifiseer word, of dan self as Afrikaner identifiseer. Al die bekende kulturele temas, beelde, en stylfigure is daar: sy word groot op ’n plaas; haar ouers en uitgebreide familie is stoere Natte; die bakkie ry koöperasie toe, en die Mercedes kerk toe; daar is die verpligte kindsvriendskap met die huishulp se dogter en losies-hoërskool op die dorp; die “Engelse” oorlog (miskien meer as ’n verwysende Suid-Afrikaanse, Boere- of Anglo-Boereoorlog) en die gruweldade van die haatlike Engelse kry hul beurt op die verhoog; Esmé Euvrard stuur versoeke aan die troepe; en mens kan amper die kaneel vir die melktert en die geroosterde koljander vir die biltong ruik. Selfs die Katolieke en hul snaakse en lasterlike godsdiens kry ’n terloopse spreukbeurt (die Jode word darem ’n verskyning gespaar).

Dit is hierdie voorgeskrewe en voorgestelde identiteit waarteen Katrien rebelleer. En as sodanig staan sy in vir ’n kohort en generasie – die sogenaamde Voëlvry-generasie. Irma Joubert sê self dat hierdie storie nie nuut is nie – ten minste op groepsvlak, en in die algemeen. Sy is reg: Voëlvry as rebellie, as opstand teen die omies en die wel en wee van ’n ouer Afrikaner-identiteit is al in vele fora en skrywes behandel en benadruk. En tog, die roman bied ’n unieke geleentheid om hierdie proses en dinamiek op ’n individuele en persoonlike vlak te ondersoek. Daar is weliswaar ’n verskil in die akademiese meta-oorsig na die meganismes en dinamika van ’n beweging, en die spesifiek individuele storie van een persoon daarbinne. En terwyl memoires en outobiografieë soos Koos Kombuis se Die memoirs van ’n volksverraaier wel daardie intieme binnestorie vertel, is Kombuis te na aan die beweging, ’n te groot en belangrike speler om die speel van die spel op die kantlyne te waardeer. Daar is dus waarde daarin om Katrien se worsteling met identiteit, met haar Afrikanerskap, op sigself te ondersoek, selfs as dit, en soos dit, ook tegelykertyd die algemene en breë vergestalt.

Katrien se vraag is derhalwe ’n vraag na die self, ’n “wie is ek” wat wyer kring as ’n blote interne en individuele wroeging met persoonlikheidstrekke wat onafhanklik staan van die omgewing waarin die persoon hom of haar bevind. Die sielkunde, daardie dissipline wat die meeste betrokke is by kwessies van die self en die psige, gee reeds toe dat die self en selfdefinisie daadwerklik beslag vind in omgewing, kultuur en konteks. Ons kom nie in die wêreld met ’n essensiële en voltooide psige of sin van self nie, maar word ook in, en deur, die wêreld gemaak, net soos ons die wêreld maak en as erfenis bemaak. Ons is produk én produsent. Maar meer nog: daardie sin van self is dinamies, en glad nie tydloos nie. Wie ek is, of liewer wie ek ek is, verander na gelang van tyd en gebeurlikheid (hetsy by wyse van my identifikasie met ’n groep, die spesifieke omstandighede van ’n unieke familie en lewensagtergrond, of selfs ’n genetiese erfenis). Katrien se rebellie, en haar identiteitstuiste in Voëlvry, as ’n Voëlvryer, of “alternatiewe Afrikaner”, behels derhalwe verskillende betekenisse, verskillende identiteitsvreugdes en -frustrasies in verskillende periodes, en die belang van geheue - die geheue van die individue en as groep.

Johannes Kerkorrel

So byvoorbeeld is die identiteit wat Johannes Kerkorrel in die tagtigs besing, ’n protesidentiteit, een wat die erfenis van PW Botha en die omies wil “afsit”, want “dit was ’n nare gesig ... ’n moerse klug” (“Sit dit af”, Kerkorrel, 1989); dit is tyd om “die kettings aan jou denke” los te maak en om “die mure om jou, binne, buite, oral om jou” af te breek (“Tronk”, Kerkorrel, 1989). In hierdie gestalte ís protes die identiteit, en wie mens is, wie mens nié is nie, of nie wil wees nie. Maar later gee hierdie protesidentiteit tog mee vir ’n worsteling met wat dit beteken om dan ’n alternatiewe Afrikaner te wees, wat dit sou behels om ’n identiteit, ’n wie ek is, aan en in te vul met iets nuuts, en nie net as opposisie nie, waar ek sus sê bloot omdat jy so sê. In hierdie identiteitsoomblik was daar ’n daadwerklike worsteling met wat dit beteken om ’n Afrikaner in Afrika te wees, ’n worsteling met die Afrikaner se geskiedenis in Afrika, en die “verraad” wat dit moontlik maak om ’n “ou, ou lied van Afrika” te sing, en die Afrikaner, met sy en haar geskiedenis, te “laat binnekom”, “te laat bly” (“Ou, Ou lied van Afrika”, Kerkorrel). Die moontlikheid van transformasie, van ’n nuwe Afrikaner wat hier behoort, word ook in Kerkorrel se albumtitels verwoord; ge-trans-for-meer (1996), kom hy aan Die ander Kant (2000) uit, opnuut hoopvol om “Halala Afrika” te sing, om plek met plektrum te eien.

Later wou geheuewerk Voëlvry natuurlik voorhou as struggle bona fides, as bewys dat daar tog Afrikaner-anti-apartheidstryders was. Kombuis voer selfs so aan dat Voëlvry die “klippie was wat Goliat tussen die oë getref het” (2000, bl 219). Ek betwyfel nie dat Voëlvry ’n rol te speel gehad het in apartheid se verbrokkeling en nederlaag nie, maar om seks oor die kleurgrens en diep teue aan tallose stoppe dagga voor te hou as aktivisme en opofferring, beledig diegene van ons wat gemartel was, in hegtenis geneem was, vriende en familie verloor het, en die trauma van ’n alledaagse geweld op ons stoepe moes verduur.

Die vraag is nou wat Katrien ons kan leer, na die fiktiewe van die roman, gegee haar plasing binne ’n historiese identiteitstorie; hoe haar individuele worsteling met identiteit in Voëlvry geartikuleer word enersyds, en hoe sy die Voëlvry-storie haar eie maak andersyds. Sy is wel nie so arrogant om te glo dat haar aksies apartheid indoen nie, selfs al doen sy meer as om na die musiek van die dag te luister en na “veelrassige konserte” te gaan – sy protesteer en durf die swart woonbuurte aan met die aunties van die Black Sash (’n aksie wat nie baie geloofwaardig is nie, bygesê). Maar net soos die Voëlvry-beweging in die algemeen is die rebellie hare, het die bevryding en vryheid wat sy vind in hierdie nuwe Afrikaans, en hierdie anderse, awelinkse Afrikaners, meer te doen met haar as met die swart en onderdrukte ander. En indien dit – ter kritiese verdediging – ’n noodsaaklike eerste stap is, soos in die suggestie dat dit eers na ’n “sit dit af”-protesidentiteit is dat mens kan begin om te vra wat dit beteken om hier te wees, in Afrika, aan die ander kant van ’n sekere transformasie van land en self, betree Katrien nooit daardie moeilike, uitdagende anderkant nie. Inderwaarheid skyn dit asof daar selfs minder te leer is omtrent die Afrikaner van daardie tyd in hierdie “historiese roman” as in ’n roman of historie geskei en op sigself. En wanneer Katrien haar heil in Wladek se liefdeslippe en Joubert se gelukkige einde vind, word die historiese as karakter en leermeester selfs meer van ’n agtergrondfiguur, ’n derde wiel, en staan Tolbos ontmasker as maar net nog ’n lekkerlees-liefdesverhaal.

Maar dan dink ek weer, en dan besef ek, daar is tog iets nuuts te vind, en te leer omtrent identiteit, omtrent identifikasie as Afrikaner. Tolbos is deurspek met, en drup, nostalgie.

Nostalgie is nie blote geheue of herinnering nie. Dis een ding om iets uit die verlede te onthou, om herinner te word aan ’n voorval, soos toe die hooghartige oom se broek geskeur het toe hy nagmaal neem, voor in die kerk, en iets heel anders om oorval te word deur ’n reuk wat jou gevoelvol en onwillekeurig terugneem na Ouma se kombuis waar sy aan’t koekies bak is. Mens kan amper sê om iets te onthou is ’n (blote) kognitiewe proses, maar om nostalgies te wees, moet hierdie kognitiewe onthou aangevul word, aangevuur word, deur affek, emosie en gevoel. Nostalgie is akuut bewus van verlies en verlange; dit behels ’n bittersoet hunkering na ’n tyd, plek of persoon wat nie meer daar is nie, en nooit weer daar kan wees nie.

In die politieke wetenskappe en sosiologie word nostalgie gereeld met skeptisisme bejeën, as ’n verdedigende vergryp aan ’n “beter” verlede gegee die greep van ’n frustrerende hede. Die feit dat beter tussen aanhalingstekens is, verraai die spesmaas dat dinge nie “werklik” beter was nie, en dat nostalgie nie veel meer is as ’n verideale, sentimentele en geromantiseerde fantasie om met ’n ongenoeglike hede mee te ding nie. Ek is nie so sinies nie, en glo nie dat nostalgie altyd reaksionêr en negatief hoef te wees nie. Miskien is nostalgie nie net ’n versugtende vergryp aan hoe dinge was nie, maar kan dit ook ’n hunkering wees na ’n toekoms, in die verlede, wat nie heeltemal opgedaag het nie. As sodanig is dit nie ’n geval van ’n terugkeer na ’n statiese plek of tyd in die verlede nie, maar na ’n self en identiteit in die verlede wat nog kon, en kan, wees. ’n Refleksiewe nostalgie wat die verlede besoek, nie om daar te wil kampie opslaan nie, of om daardie verlede in die hede te kopieer nie, maar om kritieke opsies daar te vind om hier, nou, te leef in ’n hede wat ’n behorende tuiste word.

Miskien is dit gepas dat die laaste sin hier bo na tuiste, huis, haard en behorendheid verwys. Dit is reeds in die etimologie van die woord nostalgie gekodeer as die sieke, gepynigde (algos) verlange na huis (nostos). Maar meer nog: toe Johannes Hofer hierdie woord in 1688 gemunt het, was die verskynsel reeds bekend, in die Duits as Heimweh (Heim [huis] + Weh [smart]). Terwyl die Duitsers Heim as “huis” behou het (dink byvoorbeeld aan Heimat), het ons daardie verwysing in Afrikaans verloor, ten minste in enige direkte sin – geheim en heimlik dra nog daardie erfenismerk. So ook heimwee, die Afrikaanse woord vir nostalgie. Maar is dit nie ook so dat heimwee nou nie net die smart (wee) van die verlange na ’n tuiste vergestalt nie, maar ook die paaie, die draaie, die roetes, die moontlikhede, die weë van tuiste en tuiskoms. Is die drama en die konflik, op die ou einde, nie maar nog altyd oor die Afrikaner se plek in Afrika nie? Indien wel, is die nostalgie van Tolbos nie juis inspirerend nie, in soverre ’n tolbos tog maar wortelloos rondrol, en tol, op soek na plek en hawe. Ek wag hoopvol vir ’n historiese roman, selfs ’n nostalgiese een, getiteld Baobab ... of Maroela, of Mopanie.

Titel: Tolbos
Skrywer: Irma Joubert
Uitgewer: LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799364033

 

Koop Tolbos by Kalahari.com.

 

 

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top