Boekresensie: Immer wes deur Irma Joubert

  • 1

immerwes250
Immer wes
Irma Joubert
LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799376968

Immer wes, die jongste boek van Irma Joubert, bied nie net ’n blik op die lewe van Hildegard von Plötzke, ’n vrou uit die Oos-Pruisiese adel wat as dogtertjie saam met haar ouers voor die Bolsjewiste uit Rusland vlug, nie, maar ook van die vernietigende uitwerking van oorlog.

Joubert het haarself reeds as skrywer van veral geskiedkundige verhale bewys. Immer wes is haar tiende boek en die eerste van drie oorlogverhale wat die lyding van kinders en vroue as tema het. Joubert skryf toeganklik en met patos oor die wreedhede van oorlog.

Lees ook:
Kronkelpad trek al die los drade bymekaar
Vroue in die oorlog: 16 eeue van onderdrukking?

Immer wes vertel die verhaal van die vrouekarakter Hildegard von Plötzke vanaf 1905 tot en met 1956. Saam met Hildegard se verhaal, vertel Joubert deur Hildegard se oë ook van die verskillende oorloë wat sy beleef en die vernietigende uitwerking daarvan – nie net op Hildegard self nie, maar ook op haar geliefdes en die gemeenskap. Die oorlogstema is dié samebindende motief in die roman. Eers vlug Hildegard en haar ma en pa as Oos-Pruisiese adellikes vanuit Rusland na Köningsberg in Oos-Pruise. Die vertellersperspektief in hierdie gedeelte wys op die naïewe blik van ’n jong dogtertjie: "Hoe lyk die Bolsjewiste? Maar die skielike prentjie in haar kop van wrede, harige monstermense met bolwange en lang arms en skerp messe waarmee hulle Duitsers jaag, maak haar so bang dat sy dadelik aan iets anders begin dink." Selfs as adellike en bevoorregte kind, is sy tog bewus van die uitwerking van oorloë: "Ek hou niks van die woord ‘slagting’ nie. Dis soos ‘slag’ of ‘slagveld’, dit klink bloederig." en "Oorlogstories is bangmaakstories". Daarna in 1914 breek die Eerste Wêreldoorlog uit en Hildegard leer werklik die wreedhede van die oorlog ken toe sy in die hospitaal as vrywilliger gaan werk: "Maar die treinvrag gewondes wat twee weke later inkom, maak van die Somme ’n plek van slagting, al sien sy net die resultate."; "Die nag spook dit by haar. Dis tog nie die moeite werd nie? Waarom dan hou dit aan en aan?" en "Dis asof die hospitaal in hierdie dae al hoe dieper in die skadu van die dood beweeg".

Die Tweede Wêreldoorlog bring verdere hartseer vir Hildegard en toe die Tweede Wêreldoorlog eindig, ken sy die pyn en verlies, die hongerte en armoede, en die vrees wat oorlog bring: "Vroegoggend durf sy weer die pad stad toe aan, die kos is gedaan. Sy stap minder flink, haar lyf is moeg. In die gietende reën stap sy saam met ander vroue, stil, vormlose gedaantes in swaar jasse wat te midde van alles probeer oorleef."

En: "Dit is vernederende mense, verhonger, verswak, verward, mense sonder hoop." Die verhaal eindig waar sy in Duitswes-Afrika (Namibië) weer sonder heenkome opeindig. Joubert gee ’n chronologiese verslag van die oorloë en soos tipies Joubert is die geskiedkundige feite dig in die verhaal verweef. Die roman word ’n geskiedenisles in die kleine en dit is miskien een punt van kritiek teen die boek: dat die storie van Hildegard plek-plek in al die geskiedkundige feite verdwyn.

Dit is ’n verhaal wat ook handel oor verhoudinge – veral die ouer-kind-verhouding en die huweliksverhouding. As jong meisietjie het sy ’n kinderlike verering vir Gustav, wat by sy oupa en ouma bly: "Miskien, net miskien sal sy eendag met Gustav trou." Na die Eerste Wêreldoorlog trou sy met Herr Dokter, meer om uitkoms aan haar pa te gee. Die huwelik bring min vreugde vir Hildegard, behalwe haar kinders. Ons leer haar ken as dogtertjie met ’n liefdelose ma wat haar troos by Nanny vind: "Nanny is die liefste mens in die hele, hele wêreld." As ma wil sy nie wees soos haar ma nie, maar word tog gedwing om so op te tree: "Aan die een kant is sy bly die Kindermächen is daar, want van kinders en veral babas weet sy niks. Maar aan die ander kant verlang sy om die babalyfie teen haar hart vas te druk." En: "Al wat sy wou gehad het, was om vir haar kind ’n nanny te gee soos wat gehad het."

Immer wes handel verder oor die tema van ’n reis en ’n soeke, soos in die titel voorspel word: Hildegard is gedurig op reis (vlug?) weswaarts uit Rusland na Oos-Pruise na Berlyn om uiteindelik in Duitswes-Afrika te eindig: "My stories met gelukkige eindes het voor die Groot Oorlog al opgedroog." En dis hier waar sy weer vir Gustav raakloop en waar haar reistog tot ’n einde kom: "Ek het hier kom vrede vind."

Enkele ander punte van kritiek kan ook teen die roman genoem word, soos die "mooi" slot en "gelukkige einde" wat tipies in romantiese verhale voorkom - en die enkele geforseerdhede in die taal, soos die geykte "en saam met hom in sy wye en droë land gaan woon", terug in die kombuis druk sy haar bewende hande teen haar yskoue wange", "en sy bid vir die soveelste keer dat sy tog maar nie geweeg en te lig bevind sal word nie".

Ten spyte hiervan is Immer wes ’n roman wat mens maar kan lees, want dit verwoord nie net die verhaal van ’n vrou in oorloggeteisterde omstandighede nie, maar verwoord veral die verhaal van hoop en ’n toekoms uit oorlog uit.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top