
Foto by waterval: Minh Tran op Pixabay; boekomslag: Naledi
Verantwoording
Hercules Boshoff
Naledi
ISBN: 9781067235079
........
Dit handel oor verantwoording as die kern van menslike bestaan, in ’n tyd waar die mens se vermoë daartoe weer aan die kwyn is.
.........
Hercules Boshoff praat met Naomi Meyer oor sy Verantwoording: die dialektiek van ’n sinryke bestaan.
Hercules, ek het pas jou boek Verantwoording: die dialektiek van ’n sinryke bestaan onder oë gehad. Geluk daarmee! Wil jy dalk vertel waaroor die boek handel?
Dit handel oor verantwoording as die kern van menslike bestaan, in ’n tyd waar die mens se vermoë daartoe weer aan die kwyn is.
Nie ’n slegte plan om aan die begin van ’n nuwe jaar weer te begin nadink nie. As mens weer sien, sit ons en tik ’n vraag vir kunsmatige intelligensie en wag dat hy ons vraag beantwoord. Was dit een van jou beweegredes om hierdie boek te skryf? ’n Poging om hierdie gedrag aan te spreek? Of waarom het jy die boek geskryf?
Ten dele, ja. Ons tyd is egter nie die eerste waarin algemene geletterdheidsvlakke daal nie. Die gevolge van so ’n agteruitgang op die algemene welstand van die samelewing is ingrypend. Daar word vandag vanuit verskeie kringe vergelykings getref met die feodale tydperk waarin algemene ongeletterdheid en eentaligheid hoogty gevier het. So ’n orde bring voorts groter gapings tussen maghebbers en die burgery teweeg. Ons loop die risiko om ons woord, ons logos, prys te gee vir die logo van die handelsmerk met sy oppervlakkige slagspreuk, die algoritme, en vir allerlei organisasies wat die woord namens ons voer. Ons sien terselfdertyd dat die groot maatskappye, forums en organisasies plaaslik en wêreldwyd selfs ’n feodale en Middeleeuse orde openlik verromantiseer, wat ’n kommerwekkende tendens is. Die utopie waarin “niemand iets gaan besit nie maar almal gelukkig sal wees”, begin in feite by die opgee van die weloorwoë woord.
Jy skryf oor die uitrek van rakleeftyd, oor onvergenoegdheid, en jy skryf paragrawe soos hierdie een:
"Verantwoording is relasioneel en individueel, en dit is ook samewerkend. Ek is die outos, die self wat reg moet laat geskied aan my eie bestaan. Ek maak aanspraak, aanspraak word aan my gegun in die vorm van regte sonder dat ek iets daarvoor gedoen het, maar op grond van wat ek doen eis ek erkenning op en gun dieselfde erkenning en geleenthede aan ander. Ek maak aanspraak, soos daar ook aanspraak op my gemaak word, waarteenoor ek my moet kan verantwoord in woorde en in optrede. Om antwoord te gee beteken om te luister na dit waarop antwoord gegee moet word. Om ons wêreld alleen aan die hand van voorafbepaalde skemas in te rig is nie luister nie, maar vorm deel van die ontluistering van die wêreld."
Mens lees stadig aan die sinne en moet oor die woorde nadink. Wat is jou agtergrond en waar het alles begin – jou belangstelling in die filosofie?
Die belangstelling het reeds begin op skool toe ek die eerste keer aan ’n ATKV-redenaarskompetisie deelgeneem het. Daarna het ek filosofie aan verskeie universiteite studeer, en sal waarskynlik nog lank daarmee besig bly.

Foto: NEOM op Unsplash
Ek dink mens kan jou boek bloot lees vir die Afrikaans waarin dit geskryf is:
"Geen kuns kan geskep word sonder ’n sin vir die verband tussen die innerlike gevoel, of besieling, en die uiterlike wese van dinge nie. Die vermenging hiervan stel die speler, komponis en toeskouer in staat om harmonie en kontrapunte op te soek in dialoog met die werk en mekaar. Elke tydsgewrig verteenwoordig ’n ander toonaard met eiesoortige kontrapunte met die geskiedenis in soeke na nuwe harmonie. Ons kan die geskiedenis navolg en die toekoms vooruitskat net tot op ’n punt. Daar is egter ’n basiese opbou in die denke, waarvan die boonste dele nie losstaan van die onderste nie."
Wat was jou eerste liefde: taal, of filosofie? Jy wy ook ’n hoofstuk, met sy onderafdelings, aan taal.
Vir my is taal en filosofie onlosmaaklik verbind. Daar is egter filosowe wat denke, ook filosofiese denke, losmaak van taal. Vir my kom so ’n benadering neer op ’n verskraling van denke en van filosofie, en ’n verskraling van menswees tot leë abstraksies.
Wat is die konkrete waarde van alles binne die moderne weggooikultuur, met dinge wat minder tasbaar word en digitaal gestroom of afgelaai kan word (musiek, boeke, video’s)? Die samelewing het verander. Slaan ons nou alles gade en besluit ons om doelbewus anders daarmee om te gaan? Na te dink? Stiller te staan?
Ek is versigtig en selfs skepties vir pogings om die uitdagings van die moderne lewe teen te werk met die tendens van “stilstaan” en “mediteer”, wat, ironies genoeg, beide as moderne modegiere gelees kan word, aangesien die slimfoon en die vliegtuig nuwe markte geskep het wat onmiddellike toegang tot hierdie aktiwiteite bewerkstellig. ’n Algoritme laat mens immers ook by wyse van spreke stilstaan (by jou voorkeure). Nadenke is nie noodwendig afstandig of passief nie. Daarmee staan ek gewis nie blinde oorgawe aan tegnologie voor nie. Ek sou sê om anders om te gaan met tegnologie, beteken om refleksief met die mediums van ons tyd te werk, maar om ons ook bloot te stel aan uitdagende gesprekke, boeke, die natuur en konstruktiewe verveling. Daarmee saam is ’n begrip vir die geheel van die menslike lewe, insluitend die geestelike dimensie, belangrik as teenvoeter teen die “bits” wat op oënskynlik lukrake wyse opgedis word. Die geheel is nie staties nie, maar dinamies, wat van ons meewerking, inwerking en soms teenwerking vereis. Die term wat ek hiervoor aanwend, is voegsaamheid, wat daarop neerkom om die verskuiwende raakpunte van die geheel te kan insien, en antwoord daarop te gee as mense van ons tyd.
Ek haal nog iets aan:
“Teenoor Plato se begrip van wiskundige geletterdheid as voorwaarde vir denke, is die lae geletterdheid in wiskunde in ons milieu ten dele gekoppel aan die werklikheid wat reeds tot ’n groot mate gekwantifiseer is in ons ’innocent gadgets’.”
En ook hierdie gedeelte:
Die storie van koning Yu (2179 vC) se interaksie met ’n skilpad word as volg deur Swetz oorgedra: “As Yu stood on the banks of the Luo River, a tributary of the Huang He or Yellow River, a tortoise emerged from the water bearing on the underplate of its shell (plastron) an array of symbols representing numbers – it was the luoshu. Both the hetu and the luoshu were magical diagrams from which, the ancient Chinese thought, an understanding of the universe and humankind’s place in it could be discerned.” (Swetz 2008:10)
Hierdie aanhalings (plus voetnota) demonstreer die wyd uiteenlopende aard van jou boek se onderwerpe. Is wiskunde en taal, na jou gevoel, ook pasmaats? Wat is die verband tussen letters en syfers, behalwe dat albei simboliese voorstellings is?
In die boek verwys ek na die Griekse begrip Logos, wat tegelyk getal, woord en diskoers insluit. Trouens, die Logos is volgens die Grieke die boublok van die kosmos, en nie gesetel in die menslike verstand, soos baie beweer nie. Hierdie insig het verlore geraak in ’n tyd waarin die Logos tot blote bits verskraal word.
Jy skryf oor die uitwendige natuur, oor die politiek en oor die geestelike wêreld. Hoe versoen jy die onderwerpe met mekaar?
Alvorens mens oor die versoening kan praat, is dit belangrik om na te dink oor die wese van elkeen van hierdie begrippe. Die geneigdheid vandag is om die werklikheid so te verskraal dat slegs een van die bogenoemde dimensies van bestaan oorbly– dit wil sê om die politiek as ’n funksie van natuurlike kragte in die mens (bv markkragte of die eugeniese begrip in die 20ste eeu, of materialisme) te bedink, of die godsdiens bloot as ’n regverdiging vir politieke standpunte by te sleep.
........
Die versoening word bewerkstellig deur die erkenning van die tekortkoming van die wetenskap en die politiek om finale antwoorde te verskaf, maar insgelyks ook dat die geloof steeds oopstaan vir die insigte wat dit verkry uit die natuur en die politiek, sonder om hierdie antwoorde tot finale waarhede te verhef.
........
Die versoening word bewerkstellig deur die erkenning van die tekortkoming van die wetenskap en die politiek om finale antwoorde te verskaf, maar insgelyks ook dat die geloof steeds oopstaan vir die insigte wat dit verkry uit die natuur en die politiek, sonder om hierdie antwoorde tot finale waarhede te verhef. Die versoening is dus een van verhouding, samewerking, maar dikwels ook noodsaaklike spanning. Ons noem dit maar ’n onvoltooide versoening.
Na wie luister jy die graagste as dit oor hierdie onderwerpe handel? Watter hedendaagse skrywers of sprekers of navorsers?
Die denkers wat die sterkste invloed op hierdie boek uitgeoefen het, was die Griekse filosoof, Aristoteles, die Duitse filosowe Herder en Hegel, en die kontemporêre sosioloog Harmut Rosa, in die besonder laasgenoemde se boek Resonanz.
Wat is jou lewensfilosofie?
Sokrates het gesê ’n onondersoekte lewe is nie die moeite werd om geleef te word nie. Ek sou sê ’n lewe wat nie geleef word nie, is ook nie die moeite werd om ondersoek te word nie.
Is daar ’n volgende skryfprojek waarmee jy besig is?
Ek is besig met ’n skryfprojek oor die Duitse taalfilosoof Johann Gottfried Herder.

Lees ook:


Kommentaar
Isaac Asimov, leermeester van Sokrates, het ‘n boek getiteld “I, Robot” geskryf en so het Aristoteles vir almal (selfs dr. Lanning) begin sê: ‘You are asking the wrong question.’ Dit maak my briesend. [In ‘n hof, bv. mag jy nie leidende vrae (eie getuie) vra nie en op skool leer jy daar is nie iets soos ‘n dom vraag nie. En. Vra is vry en weier daarby. Ens.]
‘n Mens kan bv. vra: Maar is meditasie en stilstaan nie stokoud nie en waar gaan ons met ‘voegsaamheid’ heen?
Ek het vir Gemini gevra om gou te verduidelik:
Die Vibrasie: Wanneer 'n atoom energie absorbeer (soos hitte of lig), kry die elektrone meer energie.
Die Sprong: As die elektron genoeg energie kry, "spring" dit van 'n laer energievlak na 'n hoër energievlak. Dit word 'n "opgewekte toestand" genoem.
Vrybreek: As die energie baie hoog is, kan die elektron heeltemal vrybreek van die atoom. Dit word ionisasie genoem.
En dit verduidelik hoekom volwasse elektrone die atoom opgewek verlaat.