
Illustrasie: Pixabay
Die kultivering van moedertale is nie ’n hindernis nie, maar ’n politieke bestaansvoorwaarde vir Suid-Afrika. Meer as die gebruiklike post-1994 T-hemp-politiek en kitsoplossings in opvoeding soos die uitdeel van tablette (terwyl biblioteke verval) gaan nodig wees om die belangrike vraagstuk van taal in die onderwys aan te spreek.
Moedertaalonderrig word beskou as onontbeerlik vir kognitiewe ontwikkeling – dit is die slagspreuk wat aan die meeste bekend is, en wat vanjaar sekerlik nog dikwels gehoor gaan word. Die idee dat ’n taal ’n invloed uitoefen op ons denke, word ontleen uit die perspektief van die Sapir-Whorf-hipotese. By nadere lees van Whorf se werk blyk dit egter dat hy ongemaklik sou wees met hierdie bewoording, aangesien taal en opvoeding vir hom meer as ’n blote kognitiewe aangeleentheid was wat in neurokonstruktivistiese terme uitgedruk kan word. In hierdie oënskynlik onbenullige interpretasie lê ook die kruks van ’n probleem van ons tyd, naamlik die instrumentele begrip van taal, opgesluit. Taal word alleen as ’n orde van simbole beskou waarbinne ’n wêreld geskep word, iets waaroor ons volledig beskik, en nie as dit wat antwoordend resoneer met die wêreld nie. Op grond van hierdie opvatting word taal as ’n “reg” ingekleur, as iets wat tot die mens as instrument behoort en nie iets waartoe die mens ook behoort nie.
In Ich ist kein Gehirn (Ek is nie ’n brein nie) laat Markus Gabriel hom uit teen wat hy noem die toenemende neurosentrisme van universiteite, wat uit ’n kombinasie bestaan van neuromanie (die idee dat menslike gedrag deur prikkelings van die senuweestelsel verklaar kan word) en darwinitis (die idee dat ons optrede gestuur word deur die selfsug van die spesie). Dit is vir Gabriel ontoereikend: “Om te reken dat jy die menslike gees verstaan sodra jy die brein leer ken het, is gelykstaande daaraan om te dink dat mens fietsry verstaan wanneer jy die bene bestudeer het.” Gabriel stel voor dat die begrip van gees ruimer en meer toepasbaar op denke-selfbewussyn is en daarom gerehabiliteer moet word vir die geesteswetenskappe, waarin immers die woord gees voorkom.
Moedertaalonderrig: dieselfde vraag, verskillende antwoorde
........
Breedborstig word verklaar dat Afrikaans een van die min moedertale was wat akademies ontwikkel het in die 20ste eeu. Gesien in die lig van die invloed van Nederlands (bygevolg die invloed van Frans, Duits en Engels op Nederlands), skyn dié prestasie effens gedemp te wees vergeleke met die uitdagings wat ander plaaslike tale trotseer om dieselfde te vermag.
........
Breedborstig word verklaar dat Afrikaans een van die min moedertale was wat akademies ontwikkel het in die 20ste eeu. Gesien in die lig van die invloed van Nederlands (bygevolg die invloed van Frans, Duits en Engels op Nederlands), skyn dié prestasie effens gedemp te wees vergeleke met die uitdagings wat ander plaaslike tale trotseer om dieselfde te vermag.
’n Mens kan skouerophalend reageer dat dit nie jou probleem is nie, maar die feit is dat wanneer mens jou beroep op moedertaalonderrig in Suid-Afrika, maar jou blind staar teen die uitdagings van ander tale, dan kan mens seker ook nie verbaas wees wanneer die ontwikkeling van die ander tale so traag verloop, dermate dat die hele projek kan skipbreuk ly nie. Moedertaalonderrig, indien dit as universele reg en hulpmiddel geag wil word, moet universeel geprioritiseer word. Te maklik verval ons hier in Suid-Afrika in ’n soeke na “one-size-fits-all”-kitsoplossings. Universele vraagstukke behoef nie noodwendig universele oplossings nie; dit noodsaak koskepping, om ’n term by Schalk Gerber te ontleen, wat meer gaan vra as om ’n koekiedrukker aan te gee en dieselfde resultate te verwag. ’n Mens sal gou jou uniekheid beklemtoon, en net so gou jou universele reg opeis, maar traer wees om ’n ander se uniekheid en regte te erken wanneer dieselfde resultate nie met dieselfde metodiek verkry word nie.
Om ’n voorbeeld te gee: ’n Taalkursus van ’n plaaslike taal wat ek onlangs by ’n universiteit geloop het (een klas per week terwyl Europese tale 4–5 keer per week doseer is), het ’n hoofstuk bevat waarin interaksie met ’n petroljoggie uitgebeeld word, en ’n ander waarin mens geleer word om te vra: “Is dit seer as jy hoes?” Sekerlik kan mens nie verwag dat moedertaalsprekers ’n sin vir waardigheid ontwikkel rondom hierdie stigmas nie. Vanuit ’n suiwer pragmatiese oogpunt is hierdie aanslag nie ’n uitsondering nie, maar die reël. Die aanleer van taal is ’n instrument om ’n croissant in Parys te bestel, of ’n koffie in Rome – en om petrol in te gooi op die N1. Wanneer onderrig tot die blote oordra van instrumente ter bevordering van funksie verskraal word, stel jy mense aan instrumente gelyk, dieselfde premisse waarop slawerny gebaseer is. (Mens sou kon vra waarom die dosente van ander tale nie kapsie gemaak het teen hierdie toedrag van sake nie, en mens kan maar net spekuleer dat hulle nie eers daarvan weet nie omdat hulle nie daarin belangstel om die streekstaal te leer nie.)
Reokkupasie van skrifkultuur
........
Binêre narratiewe, gedryf deur kolonialisme en voortgesit in dekolonialisering, dra daartoe by dat toe-eiening van die geskiedenis van die ontwikkeling van skrifkultuur nie plaasvind nie.
........
Binêre narratiewe, gedryf deur kolonialisme en voortgesit in dekolonialisering, dra daartoe by dat toe-eiening van die geskiedenis van die ontwikkeling van skrifkultuur nie plaasvind nie. Toe-eiening, oftewel reokkupasie, soos Charl-Pierre Naudé dit in In die rede geval stel, na aanleiding van Blumenberg se filosofie, is onontbeerlik. Toe-eiening is meer as blote toepassing en oordrag van inligting, wat neerkom op ’n instrumentele begrip van taal waarin die skeppingskrag van ’n taal ondermyn eerder as bevorder word.
Skrifkultuur ontstaan rondom bepaalde beskawingsvraagstukke. Dit was veral rondom die opkoms van die stadstaat belangrik, soos deur Lewis Mumford verduidelik:
By means of its storage facilities (buildings, vaults, archives, monuments, tablets, books), the city became capable of transmitting a complex culture from generation to generation, for it marshalled together not only the physical means but the human agents needed to pass on and enlarge this heritage. That remains the greatest of the city's gifts.
Letterkunde bestudeer nie alleen betekenis, samestelling en interpretasies van die werke nie, maar ook die ontstaansgeskiedenis van die werk. Taalkunde bestudeer nie alleen die simbole en klanke nie, maar faktore wat inspeel op die aanleer van taal.
Skrif, wat aanvanklik slegs deur die priesterklas verstaan en gebruik is, ontwikkel verder in die Westerse Semitiese gebiede tot die basis van ons skrifsisteem, soos Barry B Powell in sy Writing: theory and history of the technology of civilization uiteensit:
Whereas the logosyllabaries had needed 600–700 signs to function, the West Semitic “consonantal syllabary”, as we may call it, consisted of 22–30 signs without word-signs or determinatives. The momentous simplification, and reduction of the writing entirely to phonetic elements, with the enhanced risks of ambiguity and misunderstanding that radical phoneticism incurs, took place in lands dominated by the papyrus-using Egyptians.
Daarteenoor lei die digitale “terugkeer” na piktografiese simbole, wat uit derduisende simbole bestaan, meermale tot verwarring.
Die alfabet is nie in Whorf se spottende begrip ’n “innocent gadget” soos baie dink nie, net so min as ’n slimfoon. Dit dra ’n geskiedenis daarmee saam. Sonder die alfabet sou daar uiters beperkte grammatika gewees het. Nie alleen word jou eie taal daarin oorgedra nie, maar daardeur kan mens ook ander tale en grammatika leer. Dit vereis kennis van die werking van taal: Sinsbou hou immers verband met dingbou, het Heidegger in Der Ursprung des Kunstwerkes geskryf. In plaas van sinsbou, word “inligting” vandag tot frases verpak vergesel van ’n gepaste prentjie. Die informatisering van ons mensbeeld, soos Fanie de Beer dit in Die krisis van die afwesige Gees beskryf, gaan ten spyte van die optimisme jeens digitalisering van opvoeding gepaard met ’n ongekende toename in ongeletterdheid. Volgens die verslag van die OECD (Organisation for Economic Co-operation and Development) is ’n derde van Nederlandse 15-jariges funksionele analfabete (https://trends.knack.be/nieuws/macro-economie-beleid/kwaliteitskaalslag-in-nederlands-onderwijs-vertoont-gelijkenissen-met-vlaanderen). In Suid-Afrika is die situasie nog meer onrusbarend: “78% of Grade Four learners in South Africa cannot read for basic meaning in any national language” (https://nalibali.org/literacy-blog-working-together-to-solve-illiteracy-in-South-Africa).
Desnieteenstaande weet deskundiges in die “nuwe wêreld” van beter. Vir Whorf is ’n taal ’n bestaanswêreld, en derhalwe is die “innocent gadgets” waarmee taal versprei word, nuwe vorme van grammatika ingebed in ingenieurstaal. Nog meer: Ingenieurs is grammatikale wesens! By gebrek aan die infrastruktuur van skrifkultuur is die oplossing eenvoudig: Druk ’n tablet in ’n kind se hand en vereenvoudig die leermateriaal tot klein stukkies inligting wat in die eksamen weergegee kan word. In top skole word addisionele “afrigting” verskaf om seker te maak die onderskeidings rol in.
Kinders word voorts aangemoedig om in die wolk tussen virtuele inligtingsgrepies rond te hop op die kleingemaakte aarde – soos Nietzsche se laaste mens. Die laaste mens kom te lande in ’n voorkeuringestelde sfeer waarin geluk geredelik bekombaar is: “Ag, die tyd van die mees veragtenswaardige mens nader – hy wat homself nie meer kan verag nie.” Hierteenoor is die benadering in sommige Europese lande feitlik die teenoorgestelde, naamlik om digitale hulpbronne tot die minimum te beperk, soos die geval is in Swede (https://www.theguardian.com/world/2023/sep/11/sweden-says-back-to-basics-schooling-works-on-paper). Gegewe die geskiedenis van ’n skrifkultuur in hierdie lande is die oorgang nog makliker. Die feit is, sonder die moeisame aanleer van lees en fisies skryf en daarmee saam die kritiese bestudering van die opkoms van skrifkultuur, bly geletterdheid ’n onoorkombare uitdaging, soos uiteengesit in Schulze en Clauss se Wer nicht schreibt, bleibt dumm: Warum unsere Kinder ohne Handschrift das Denken verlernen.
Van heimwee tot Heimkehr
........
Reokkupasie verteenwoordig geen terugkeer na ’n nostalgiese verlede in ’n ander land nie. Toe-eiening is dinamies, dialekties en vooruitstrewend. Hoe vind toe-eiening plaas?
........
Reokkupasie verteenwoordig geen terugkeer na ’n nostalgiese verlede in ’n ander land nie. Toe-eiening is dinamies, dialekties en vooruitstrewend.
Hoe vind toe-eiening plaas? Vir Hegel is opvoeding die beweging van die gees vanuit sy partikuliere bestaan na die abstraksie van teorie, die algemeen geldende beginsels van ’n dissipline, en weer terug. By die terugkeer, of Heimkehr, is die persoon nie meer suiwer partikulier nie, maar ook nie bloot in abstraksie van teorie vasgevang nie. Die Heimkehr van die selfvervreemde gees verteenwoordig ’n eenheid tussen partikulariteit en algemeenheid. Sonder die dialektiek tussen die partikuliere en die algemene vind daar verwringing plaas: Die partikuliere dink aan sigself as die universele, en die algemene probeer oor alle omstandighede dikteer.
In die Heimkehr na die eenheid tussen die partikuliere en die algemene kry elkeen van hierdie begrippe ’n nuwe betekenis. Die partikuliere is nie alleen meer ’n afgesonderde deeltjie nie, maar dialekties deelagtig en deelnemend aan die geheel. Dit kry ook ’n nuwe perspektief oor die algemene. Teorie, standaard of wet kan verstaan word as vorm. Vorm moet hier nie as iets staties beskou word nie – teorie is vormgewende, hervormdende en omvormende vorm. Dit staan nie los van sy eie vormgewende prosesse nie (metode), maar dit staan ook nie los van projeksies oor die toekoms en die tegniek wat gebruik word om teorie te bepaal nie. Elke dissipline het sy teoretiese apparatuur. In die toe-eiening en toepassing daarvan neem ’n kultuur deel. Hierdie toe-eiening is egter onontbeerlik. Teorie staan nie los van die geskiedenis nie, en dit is heeltemal korrek om die voorveronderstellings waarrondom teorie ontstaan, in verband te bring met die teorie. Dit kan egter nie daartoe lei dat teorie as sulks verdag gemaak moet word nie. Dit dui daarop dat teorie steeds daargestel moet word, maar dat dit aan ontwikkeling onderhewig is. Dit dui ook daarop dat ons toe-eiening daarvan voorlopig is. Hierdie voorlopigheid is geen keldering nie; dit is trouens wat drakrag en verwagting skep vir verdere moontlikhede om verken te kan word. Hedendaagse universiteite het hulle sin vir Heimkehr verloor. Omdat die universiteit die ruimte vir teorie, vir die abstrak-algemene is, loop dit die deurlopende gevaar om in abstraksie te verval.
........
Moedertaalonderrig in Suid-Afrika is geen “aparte” eenkleurige projek nie. Dis ’n veelkleurige universele projek, inderdaad niks minder as ’n bestaansvoorwaarde vir Suid-Afrika nie.
........
Toe-eiening beteken in Suid-Afrika se geval om ’n nuwe politieke woordeskat te skep, om dit in Pieter Duvenage woorde te stel (https://www.youtube.com/watch?v=MCx36HwkQO0&t=245s).
Moedertaalonderrig in Suid-Afrika is geen “aparte” eenkleurige projek nie. Dis ’n veelkleurige universele projek, inderdaad niks minder as ’n bestaansvoorwaarde vir Suid-Afrika nie.
Lees ook:
In die rede geval – waarom die mens mites maak deur Charl-Pierre Naudé: ’n resensie
BELAB and mother tongue education: an interview with Sindiwe Magona
BAQONDE and multilingual education in South Africa: An interview with Lorna Carson
BAQONDE, boosting the use of African language in education: an interview with Bassey Antia
Moedertaalonderrig is van kardinale belang in Suid-Afrika; dis ononderhandelbaar
Kommentaar
Hercules, mooi gestel!