US se nuwe taalbeleid: Meertalige toekoms of die verdere verengelsing van Stellenbosch?

  • 0

Foto-erkenning: Pixabay royalty-free illustrations op Pixabay. ©2020 Pixabay royalty-free image, gepubliseer op 17 Augustus 2020. Gepubliseer onder die gratis lisensievoorwaardes van Pixabay.

Die Universiteit Stellenbosch (US) se eerste konsepweergawe van sy hersiene taalbeleid 2026 het reeds ’n lewendige debat ontketen oor die toekoms van Afrikaans as akademiese taal.

Vir ondersteuners van die konsep is dit ’n moderne, inklusiewe en realistiese benadering tot meertaligheid in ’n diverse universiteitsomgewing. Vir kritici is dit nog ’n stap in die rigting van die geleidelike verengelsing van een van Suid-Afrika se belangrikste Afrikaanse universiteite.

Die konsepbeleid, wat vanaf 2027 die huidige 2021-beleid moet vervang, behou Afrikaans, Engels en Xhosa as die universiteit se drie primêre institusionele tale. Tog dui die reaksies op die dokument daarop dat die stryd lankal nie meer net oor die amptelike erkenning van tale gaan nie, maar oor die vraag watter taal uiteindelik die dominante akademiese taal op kampus sal wees.

........
Die konsepbeleid, wat vanaf 2027 die huidige 2021-beleid moet vervang, behou Afrikaans, Engels en Xhosa as die universiteit se drie primêre institusionele tale. Tog dui die reaksies op die dokument daarop dat die stryd lankal nie meer net oor die amptelike erkenning van tale gaan nie, maar oor die vraag watter taal uiteindelik die dominante akademiese taal op kampus sal wees.
..........

Die konsepbeleid verskil opvallend van vorige weergawes. Waar vroeëre taalbeleide grootliks gefokus het op die praktiese reëling van taalgebruik in lesings, assessering en administrasie, lê die nuwe dokument veel groter klem op taal as instrument van toegang, identiteit, insluiting en kennisvorming.

Die beleid beskryf taal nie bloot as ’n kommunikasiemiddel nie, maar as ’n voertuig vir wat akademici “epistemiese toegang” noem – toegang tot kennis en betekenisvolle deelname aan die akademiese wêreld.

Een van die belangrikste nuwe konsepte is die idee van “pluritaligheid”, oftewel die vermoë van individue om verskillende tale afwisselend en aanvullend te gebruik. Daar word ook sterk klem gelê op “transtaligheid”, waar studente en dosente verskillende tale binne dieselfde leeromgewing gebruik om begrip te bevorder.

Volgens die beleid behoort hierdie benadering studente beter voor te berei vir ’n meertalige Suid-Afrika en wêreldwye werksomgewing.

Die universiteit beklemtoon dat Afrikaans en Engels steeds die twee hoofonderrigtale bly, terwyl Xhosa verder ontwikkel sal word as akademiese taal.

Vir baie Afrikaanssprekendes bied hierdie versekering egter nie veel troos nie.

Die kern van die kritiek is dat terwyl die dokument Afrikaans se status bevestig, dit terselfdertyd Engels as die enigste taal posisioneer waarin alle inhoud altyd toeganklik moet wees.

Waar Afrikaans en Xhosa gereeld gekwalifiseer word met frases soos “waar uitvoerbaar”, “waar moontlik” en “waar hulpbronne beskikbaar is”, geld soortgelyke voorwaardes selde vir Engels. Dit het gelei tot die persepsie dat Engels in werklikheid die verstektaal bly, terwyl die ander twee tale aanvullende rolle vervul.

Hierdie spanning is nie nuut nie. Sedert die omstrede taaldebatte in die afgelope dekade worstel die universiteit met die uitdaging om internasionaal mededingend te bly terwyl dit terselfdertyd sy historiese verbintenis tot Afrikaans probeer handhaaf.

Volgens Wannie Carstens, buitengewone professor in Afrikaanse taalkunde aan die Noordwes-Universiteit en bekende kenner van Afrikaanse taalpolitiek, is die vraag of die US nog regtig ’n ware meertalige universiteit wil wees, soos Wim de Villiers met sy inhuldiging gesê het. Of is dit net deel van die proses om die regte geluide te maak en die universiteit algaande meer Engels te maak soos in die geval van die padda wat gewoond word aan die warm water?

“Ek het al by geleentheid aan US-bestuurders gesê dat die taalbeleid wonderlik en idealisties geformuleer is. Hierdie weergawe ook. Maar daar is by my kommer of die US nie reeds die implisiete besluit geneem het om ’n dominante Engelse universiteit te word nie, een waar mooi lippetaal aan die belang van Afrikaans, Xhosa en selfs Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SAGT) bewys word.”

Is daar nog regtig die wil by die bestuur om ’n voorbeeld aan Suid-Afrika te stel van hoe meertaligheid in die praktyk kan werk? vra Carstens.

Een van die sterkste openbare reaksies op die konsepbeleid het van Kaapse Forum gekom. In sy formele kommentaar waarsku die organisasie dat die beleid die gevaar inhou om Engels verder as die dominante akademiese taal te vestig.

Die organisasie sê dat ware meertaligheid nie bereik word wanneer Afrikaans en Xhosa hoofsaaklik vir opsommings, verduidelikings of ondersteunende doeleindes gebruik word nie.

........
Die organisasie sê dat ware meertaligheid nie bereik word wanneer Afrikaans en Xhosa hoofsaaklik vir opsommings, verduidelikings of ondersteunende doeleindes gebruik word nie.
.........

“Sulke benaderings vergroot ongelykhede omdat studente nie dieselfde vlak van toegang tot kennis in hul moedertaal geniet nie. Indien taalgelykheid nie die uitkoms is soos beloof word nie, is hierdie nuutste taalbeleid nie meertaligheid nie, maar ’n doelbewuste afbreking van ’n bestaande akademiese taal.”

Danie van Wyk, die uitvoerende voorsitter van DAK Netwerk, sê ook dat daar  in die US se nuwe taalbeleid geen teken of duidelikheid is dat Afrikaans ten volle aangewend sal word as onderrigtaal in die ware sin van die woord nie.

DAK Netwerk beywer hom vir erkenning, inklusiwiteit en ontwikkeling van veral die bruin gemeenskap, en neem dikwels standpunt in oor nasionale dialoog, taalbeleid en identiteitskwessies.

Die organisasie is reeds sedert 2017 in gesprek met die US oor die destydse beoogde Taalbeleid. Hulle grootste kommer op daardie tydstip was dat Afrikaans as onderrigtaal in die slag gaan bly, wat volgens hulle toe ook grootliks gebeur het.

In 2021 het hulle ’n protesoptog teen die finale konsepdokument in Stellenbosch gehou om hul ontevredenheid te kenne te gee. Volgens Van Wyk het niemand egter geluister nie en is daar voortgegaan met die implementering teen beloftes van hul kant af in.

Van Wyk het namens DAK Netwerk gesê Afrikaans word in die nuwe taalbeleid saamgevoeg met "ander Afrikatale" waar Engels steeds die dominerende onderrigtaal sal wees.

Wat egter vermeld moet word, is dat die universiteit wel toegewy is tot meertaligheid. Hoe dit in die praktyk daar gaan uitsien, is ’n vraag wat nie op hierdie stadium beantwoord kan word nie, het van Wyk gesê.

Ook binne die US se eie alumnigeledere bestaan daar beduidende kommer.

Lede van die uitvoerende bestuur van die US Konvokasie het in die media kritiek uitgespreek oor wat hulle as die “verwatering” van Afrikaans en Xhosa as onderrigtale beskou.

Hulle wys daarop dat die beleid deurgaans sterk klem lê op Engels as die taal waarin akademiese toegang verseker moet word, terwyl die ander tale grootliks afhanklik bly van beskikbare hulpbronne en institusionele kapasiteit.

Vir baie alumni is die vraag nie of Engels ’n belangrike rol moet speel nie, maar of die universiteit nog werklik daartoe verbind is om Afrikaans as volwaardige akademiese taal te ontwikkel en beskerm.

Die universiteit self sien die saak anders.

Volgens die beleidsdokument is die doel nie om enige taal te verswak nie, maar om ’n meer realistiese en inklusiewe benadering tot meertaligheid te volg.

Die dokument sluit nóú aan by die US se Visie 2040 en die nasionale taalbeleidsraamwerk vir hoër onderwys.

Daar word geargumenteer dat die moderne universiteit studente uit uiteenlopende taalagtergronde moet akkommodeer en dat meertaligheid nie bloot beteken dat verskillende tale apart gebruik word nie.

Die beleid probeer juis wegbeweeg van die idee dat tale noodwendig in afsonderlike “kompartemente” moet funksioneer. In plaas daarvan word meertaligheid voorgestel as ’n dinamiese proses waarin tale mekaar aanvul en versterk.

Een van die opvallendste nuwe elemente in die konsepbeleid is die prominente rol wat tegnologie en kunsmatige intelligensie speel.

Waar vorige taalbeleide hoofsaaklik op menslike vertaling, tolking en taalondersteuning staatgemaak het, erken die nuwe dokument die toenemende potensiaal van KI-gebaseerde vertaling, onderskrifte, transkripsie en ander taalhulpmiddels.

Die universiteit stel dit egter duidelik dat sulke tegnologie eties, verantwoordbaar en navorsingsgebaseerd gebruik moet word.

Vir voorstanders van meertaligheid bied hierdie ontwikkeling groot moontlikhede. Waar koste en personeel tradisioneel as struikelblokke vir meertalige onderrig aangevoer is, kan nuwe tegnologie die speelveld ingrypend verander.

Die vraag is egter of die universiteit bereid sal wees om hierdie moontlikhede ten volle te benut.

Meertaligheid is volgens Carstens vanselfsprekend moeite en verg baie energie en koste, maar ons is in ’n land waar meertaligheid deel van ons natuurlike lewenswyse moet word, sê hy.

“Ek was in September 2023 deel van ’n werksessie by US oor die praktyk van meertaligheid waar werklik mooi ondernemings gegee is. Een van die ondernemings was dat daar gereeld met nasionale en internasionale kundiges oor die konsep gekonsulteer sal word sodat die universiteite in Suid-Afrika gesamentlik ’n meertaligheidspraktyk sal vestig.”

Die vraag is egter tot watter mate dit sedertdien gebeur het, sê Carstens.

Die hersiene beleid skyn volgens Carstens wel meer besonderhede oor implementering te gee. Maar weer eens: Is dit behoorlik getoets met die universiteitsgemeenskap? Watter versekering het belanghebbendes dat die mooi woorde wel praktyk gaan word? vra hy. “KI en transtaling moet natuurlik ingespan word in die deurwerk van die beleid. Maar in welke mate?”

Die debat oor die US se taalbeleid kan nie los van die breër Suid-Afrikaanse konteks gesien word nie. Die meeste Suid-Afrikaanse universiteite het die afgelope dekade toenemend na Engels as dominante onderrigtaal beweeg.

Die Universiteit van Pretoria gebruik feitlik uitsluitlik Engels as onderrigtaal. Die Universiteit van die Vrystaat erken verskeie tale, maar Engels bly die oorheersende medium. Die Universiteit van die Witwatersrand funksioneer hoofsaaklik in Engels.

Teen hierdie agtergrond staan Stellenbosch en die Noordwes-Universiteit steeds uit as die twee instellings waar Afrikaans nog ’n betreklik sterk akademiese rol speel. Juis daarom word die US se taalbeleid dikwels as ’n barometer vir die toekoms van Afrikaans in hoër onderwys beskou.

Indien Afrikaans op Stellenbosch verder veld verloor, sal baie taalaktiviste dit as ’n belangrike simboliese en praktiese terugslag beskou.

Die debat gaan egter oor meer as taal alleen.

Vir ondersteuners van die nuwe beleid handel dit oor toegang, transformasie en die skep van ’n universiteit waar studente uit alle taalgemeenskappe tuis kan voel. Vir kritici gaan dit oor die behoud van taalregte, kultuurerfenis en die voortbestaan van Afrikaans as taal van wetenskap, navorsing en hoër onderwys.

........
Vir ondersteuners van die nuwe beleid handel dit oor toegang, transformasie en die skep van ’n universiteit waar studente uit alle taalgemeenskappe tuis kan voel. Vir kritici gaan dit oor die behoud van taalregte, kultuurerfenis en die voortbestaan van Afrikaans as taal van wetenskap, navorsing en hoër onderwys.
........

Hierdie twee perspektiewe word dikwels teenoor mekaar gestel, maar die werklike uitdaging vir die universiteit is om ’n balans tussen hulle te vind.

Die konsepbeleid probeer juis hierdie balans vind deur Afrikaans te behou, Xhosa verder te ontwikkel en terselfdertyd Engels as internasionale akademiese taal te akkommodeer. Of dit in die praktyk sal slaag, bly egter die groot vraag.

Die openbare-kommentaar-fase is reeds afgesluit en die universiteit is tans besig om insette van belanghebbendes te verwerk. ’n Hersiene weergawe van die beleid sal na verwagting later vanjaar aan die US Raad voorgelê word vir finale goedkeuring.

Die omvang van die reaksie toon egter dat taal steeds een van die mees emosioneel gelaaide kwessies in Suid-Afrikaanse hoër onderwys bly.

Vir sommige verteenwoordig die nuwe beleid ’n noodsaaklike aanpassing by die realiteite van die 21ste eeu. Vir ander is dit die jongste hoofstuk in ’n lang proses waarin Afrikaans geleidelik sy sentrale plek aan die universiteit verloor.

Wat ook al die uiteindelike uitkoms mag wees, die debat rondom die nuwe taalbeleid bevestig een ding: Op Stellenbosch gaan taal steeds oor veel meer as woorde. Dit gaan oor identiteit, geskiedenis, toegang, mag en die soort universiteit wat Suid-Afrika in die toekoms wil hê.

Die volledige konsepweergawe van die US se nuwe taalbeleid kan hier gelees word.

Lees ook:

Hersiene taalbeleid by Nelson Mandela Universiteit ’n groot sprong vorentoe

Danny Titus-gedenklesing: Konstitusionele Hof-regter tree in die bres vir Afrikaans as onderrigtaal

Méér as feestale: denkarbeid in ons moedertale

Afrikaans oorleef by US solank dit "redelikerwys doenlik" is

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top