US Konvokasie-verkiesing en Merlyn van der Rheede: "Hieraan wy ek my toe"

  • 2

Merlyn van der Rheede (foto: verskaf) en Universiteit Stellenbosch (foto: http://www.sun.ac.za/)

Volgens die Universiteit Stellenbosch (US) se onlangse aanlyn verkiesing, ’n eerste vir die Universiteit, is die grootste aantal stemme ooit deur lede van die Konvokasie uitgebring.

Persvrystelling: uitvoerende komitee van die US-Konvokasie aanlyn verkies

 

Ek wil van die geleentheid gebruik maak om een en elk hartlik te bedank vir hul ondersteuning vir my benoeming as addisionele lid tot die uitvoerende komitee van die Konvokasie.

Soos in my visiestelling omskryf: "’n Samelewing is ’n omgewing waarin idees floreer om opvoedkundige en ekonomiese bemagtiging teweeg te bring. Afrikaans speel ’n belangrike rol in dié verband om te bemagtig en geleenthede te ontsluit. Die US moet ’n inklusiewe universiteit wees wat geleenthede bied vir jeugdiges om in die taal van hul keuse te studeer, ’n suksesvolle loopbaan te betree en tot die land se vooruitgang by te dra."

Dit is presies wat ek graag sal wil sien gebeur by die Universiteit van Stellenbosch — dat dit toeganklik sal wees, veral vir voorheen benadeelde Afrikaanssprekendes, jong dogters in die besonder, en dat almal gelyke geleenthede sal geniet. Dit het tyd geword dat Afrikaans die jukke van die verlede afskud (die taal self het niks met die seerkry van die verlede te doen nie) en dat moedertaalsprekers van Afrikaans die geleentheid moet hê om in hul eie taal te studeer. Die argument dat Afrikaans uitsluit, geld ook vir Engels en ander tale.

Ek glo in die bemagtiging van ons jeug. Leierskappotensiaal moet veral by jong vroue ontsluit word. Die stereotipering van vroulike rolle moet afgebreek en vroue aangemoedig word om hul regmatige plek in die samelewing in te neem. Tans word talle vroue en jong dogters oral in die wêreld deur enorme uitdagings in die gesig gestaar, om nie eens te praat van geslagsgeweld nie. Hierdie bose kringloop moet gestop word, en die enigste manier om armoede te oorbrug, is deur opvoeding. Ek wil sien dat die Universiteit ’n daadwerklike poging aanwend om hierdie boodskap by ons minder gegoede skole uit te kry en gelyke geleenthede in Afrikaans en Engels daarstel.

’n Mens se potensiaal word die beste ontsluit deur moedertaalonderrig. Dit is die sleutel tot ontwikkeling. Alhoewel ons ’n ontwikkelende nasie is, word duisende leerders egter hul reg op moedertaalonderrig ontsê. Hierdie teenstrydigheid kom ons duur te staan, want sodanige kortsigtigheid het tot gevolg dat die gaping tussen die elite en die massas — die gaping tussen ryk en arm — net vergroot. Voorheen benadeeldes word wéér benadeel en gemarginaliseer en bly vasgevang in ’n armoedestrik!

Die Universiteit Stellenbosch is in ’n unieke posisie om meertaligheid te bevorder en die ekonomiese potensiaal van meertaligheid op ’n innoverende manier te ontsluit. Daar moet ook geleentheid geskep word vir Xhosa, een van die drie amptelike tale van die Wes-Kaap, om soos Afrikaans tot ’n akademiese taal te ontwikkel. Om as ’n universiteit slegs op eentaligheid te fokus, is myns insiens ’n groot fout. In sy talle geskrifte en toesprake deur die jare heen het Neville Alexander telkens Suid-Afrikaners uitgedaag om hul kulturele diversiteit vanuit die perspektief van ’n gemeenskaplike nasionale identiteit te ontgin, te omhels en te vier. Kulturele diversiteit was vir hom nie sinoniem met die verdelende historiese ideologieë van ras en klas nie. Die eintlike probleem is die gebrek aan gelyke geleenthede en die ekonomiese beperkinge en marginalisering wat eentaligheid dikwels tot gevolg het. Dit is die grootste struikelblok vir nasiebou en welvaartskepping.

Die fokus moet eerder val op die ontsluiting van geleenthede vir Afrikaans-, Engels- en Afrikataalsprekers. Daar behoort ook gefokus te word op kwesbare groepe soos vroue, meer spesifiek bruin Afrikaanse vroue, wat op hierdie stadium die laagste toegang tot hoër onderwys het en die meeste blootgestel is aan geweld en brutaliteit.

Ek sluit met Neville Alexander af wat die volgende te sê gehad het oor die stand van sake in Suid-Afrika:

"Slegs ’n dwaas sal beweer dat die nuwe Suid-Afrika as ’n politieke en maatskaplike entiteit ​​tans nie voor een van sy grootste en diepste krisisse staan nie. Ons bekommernisse is die tasbare tekens van sosiale ineenstorting oral om ons; die hebsug en korrupsie waarby openbare figure betrokke is en van wie verwag word om as rolmodelle vir ons jeug te dien; die mishandeling van kinders, van bejaardes en van vroue; die blatante oneerlikheid, dissipline en luiheid van diegene wat betaal word om openbare dienste te lewer; die gebrek aan respek vir lewe, die gebrek aan politieke wil om die nalatenskap van Apartheid te oorkom, respek vir wet en orde en die nakoming van reëls, soos padreëls; die ondenkbare geweld in so baie gemeenskappe; die misbruik en openlike verhandeling van allerhande dwelms in alle lae van die samelewing; die groot aantal sterftes wat deur Vigs veroorsaak word; die stand van die openbare gesondheidstelsel; kortom, die algemene chaos en chaos wat gewone mense in hul daaglikse lewe ervaar. Hierdie dinge is ons alledaagse werklikheid." (Alexander 2013: 39-40)

Dít is die realiteit wat Suid-Afrikaners in die gesig staar. En dit is die resultaat van swak regering, selfverryking, politieke vergrype, irrasionele wette wat mense weer op grond van etnisiteit uitsluit óf insluit, asook miskenning van die rol wat kulturele diversiteit en taal kan speel om mense te bemagtig.

Die Universiteit Stellenbosch het ’n reuse-verantwoordelikheid om studente te bemagtig om die uitdagings wat deur Alexander uitgelig word, te help oorkom. Die Konvokasie het ’n toesighouersrol om te vervul — ten einde toe te sien dat die Universiteit sy verpligting in dié verband nakom. Dit is wel moontlik as die klem na gelyke geleenthede verskuif. Die onderbou hiervan is die bemagtiging van en oordrag van kennis en vaardighede na jong mense in ’n taal wat hulle verstaan. Hieraan wy ek my toe.

Lees ook:

Totsiens, Jan Heunis: ons dag sal kom!

Afrikaans as liminale transnasionale literêre sisteem: ’n Paar gedagtes oor ontlaering uit QwaQwa

Hofuitspraak oor Afrikaans by Unisa ’n ligpunt in ’n donker omgewing

Pandemic tales: Making an educational life in a Stellenbosch University residence during the COVID-19 pandemic

Die impak van COVID-19 op studente en tersiêre instellings

  • 2

Kommentaar

  • Gustaf Claassens

    Hierdie bydrae is musiek in die ore van mense wat 'n liefde vir Afrikaans as taal koester en nie skaam is vir wat eie aan hulleself is nie. Dank aan Merlyn van der Rheede vir 'n puik bydrae.

    Anders as Me. Van der Rheede egter, is daar diegene wat te kenne gee hulle voel dieselfde, maar hul handelinge en optredes spreek tot die teendeel. Die huidige rektor van die US lei daardie groep "wolwe in skaapklere." Wees verseker dat hy en sy 'taalterroriste' hoegenaamd nie dieselfde ideale koester nie. Hulle begrip van die situasie is dat akademiese voortreflikheid en versoening alleen kan geskied deur Afrikaans as onderrigtaal op te offer. Volgens hulle is Afrikaans veilig solank mense dit bloot praat wat natuurlik onsin is.

    In die bylaag "By" 'n tyd gelede vewys Nicol Stassen van Protea Boekehuis na die groei in die Afrikaanse boekemark. Hy laat hom dan meer spesifiek uit oor Afrikaans as onderrigtaal en sê: "Geen taal kan sy volle potensiaal bereik of aanhou verwesenlik as hy op kunsmatige wyse by die hekke van die akademie gestuit word nie. Die dag wat Afrikaans nie meer as universiteitstaal erken word nie, verdwyn hy as vaktaal, as taal waarin jy oor voortdurende ontwikkeling en navorsing in die wetenskappe kan skryf." Wat natuurlik in die kol en logies is.

    Taal is multidimensioneel en sy voortbestaan en sukses hang af tot hoe 'n mate ons as draers daarvan dit op 'n veelheid tereine kan uitleef. Daar's 'n vel, dog dikwels ook subtiele, stryd om Afrikaans met die beleid van apartheid gelyk te stel en dan daarmee, die "baba met die badwater" uit te gooi. Dis hierteen wat ons ons moet uitspreek. Ons moet sorg dat hierdie wanvoorstelling, wat moedswillig en kwaadwillig is, uitgewys en reggestel word.

    Bogenoemde is nodig omdat 'n groot menigte mense en instansies oor dekades hard gewerk en baie opgeoffer het om Afrikaans as taal in die volksmond te vestig, te onderhou en uit te bou. Breyten Breytenbach vang dit pragtig vas wanneer hy sê: "Ek wil my byna verstout om ook 'dankie' te sê namens die abbavaders en die oermoeders wat die taal in al haar uitinge en wysies en wyshede vertong en ge-mond het, en dit aan ons toevertrou het as 'n werklike (dalk die enigste) déélmakende gedeelde erfenis: die imams en die kapteins, die ballinge en die slawe en die smouse en die knegte en die kosters en die mynwerkers en die voormanne en die 'Afrikaners'... MER, Marais, Leipoldt, Jan Rabie, Piet Philander..."

  • Theuns Vosloo

    Mooi toespraak van Merlyn van der Rheede. Dit val veral op dat dit 'n akademiese gesprek is en nie gefokus is op die bespreking van fundamentele oplossings nie. Die vinger word goed geplaas op die 'geen wil' om tot aksie oor te gaan nie (hier kom my MAAR)...
    Hoe word 'n taal ontwikkel tot 'n akademiese taal - iemand wat die taal praat of iemand anders? Afrikaans het tog uit eie verantwoordelikheid ontwikkel - ek is terdeë bewus daarvan dat uit sommige oorde die beskouiing was dat dit eksklusiewiteit veroorsaak het. Tog het eenvoudige eksemplare soos woordeboeke en spesifiek tegniese woordeboeke & woordelys & spelreëls sekere gemaak van 'n hoë gehalte akademiese taal! As ek sien hoe maklik dit in 'n relatiewe kort periode plaasgevind het, kan die sogenaamde kampvegters vir meertaligheid dit net gekopieer het OF die verantwoordelike Afrikataalsprekers dieselfde gedoen het. Ek is 'n voorstander van moedetallonderrig - dit gaan my verstand te bowe dat die 'pennie' nog nie ge-'drop' het nie. Wie het die Bybel vertaal in Afrikatale? Is daar nie 'n les te leer nie?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top