Totsiens, Jan Heunis: ons dag sal kom!

  • 3

Mag hierdie hele land eendag die roerende bedankingsbrief van Jan Heunis SC, voormalige voorsitter van die US Konvokasie, onder oë kry.  Lees dit hier:

Drie US-Konvokasie-lede bedank

Hy het sy bedanking ná die laaste konvokasievergadering voorgestel indien die Fourie-verslag Wim de Villiers se gedrag tydens die Gelyke Kanse-litigasie kondoneer.  

Dié kort en kragtige brief gee die opsomming van ’n man wat aan die voorpunt was van die taalstryd aan die Universiteit Stellenbosch. Hierdie stryd is en was nooit ’n reaksionêre en teen-transformatiewe poging nie. Dit was en is ’n driftige oomblik in die geskiedenis van demokratiese Suid-Afrika om die beginsel van gelykberegting tussen Suid-Afrikaanse tale teweeg te bring. 

Heunis SC en Gelyke Kanse, asook soveel ander strydgenote, het met die grootste waardigheid die geveg vir Afrikaans se plek as inheemse taal op tersiêre opvoedingsvlak gedryf. Hulle het nooit gekoek-en-tee met die regters wat hul sake aangehoor het nie. Hulle het nie taaldiskriminasie, taalmeerderwaardigheid, rassisme of ander vorme van diskriminasie aangewend nie. Hulle het die spel van demokratiese debatvoering met die grootste kollegialiteit gevoer: ferm, maar met respek. 

Telkemale is hul doodgeskree en beledig vir hul pogings. Daar was tot dusver nog geen poging deur hul teenstanders om sinvolle kritiek te lewer teen hul taalstandpunte of hul kritiek teen Wim de Villiers se optrede tydens die taalhofsaak nie. Hul teenstanders se stilte laat mens wonder; hul geskreeu tydens Konvokasie-toesprake laat mens frons; hul agteraf-truuks wat gepaard gaan met sukses in die howe en die US Raad, laat jou woedend. 

Die grootste ironie sal altyd wees hoe Afrikaanstalige mense aan ’n universiteit wat eens Afrikaans gevier het as ’n draer van sy sprekers se waardigheid, en derhalwe van die wonderlike diversiteit van ons land en sy mense, die taal summier afskryf. 

Hulle het die mat onder Afrikaans as taal van tesisse, navorsing en akademiese debat uitgeruk en aan die tegnokraties-koloniale oordondering van globale Engelstaligheid oorgelewer. Hulle het in 2015 en 2016 die kanse om diep gesprekke oor taaletiek te voer, laat verbyglip weens die dollars en ponde in hul gierige oë. 

Hulle het saam met die regering-elitiste van die dag wetend of nalatig saamgespan om die land oor ’n enkeltalige afgrond te dryf, eerder as om ’n etiese en billike veeltalige bestel te dryf. 

In plaas daarvan om te steun op die denke van die filosoof Johann Rossouw soos weerspieël in hierdie artikel, besluit hulle om die regressiewe Engelse Weste van Donald Trump en Boris Johnson te omarm – pleks van die taal-diverse en progressiewe politieke bestel wat in veral Wes-Europa heers (of minstens die botoon voer).

En die Afrikaanse gemeenskap self staan nie onskuldig aan hierdie skandaligheid nie. Waar was julle, toe die Adam Tas Studentevereniging en ander  in 2015 al vir taal-billikheid opgestaan het? Dink julle om ’n sleutelbordstryder te wees is genoeg? Waar is die oopkopleiers wat voetsoolvlak kan organiseer en agiteer teen hierdie onreg? 

Of het julle opgegee; vuisvoos in die gesig van ’n neo-koloniale Engelse Weste? Waarom julle uniekheid as waardige Suid-Afrikaanse mense opoffer deur die koningin en karakters soos Prins Andrew en hul lakeie in Kanada en Australië te gaan ryk maak? 

Dalk is jou kinders eendag ryk weens hul oorgawe aan Engelstaligheid. Of dalk nie. Wat jy wel gaan wees, is aandadig aan die opoffering van iets lieflik, uniek en dekoloniaal soos ’n veelkleurige, veelrassige en inklusiewe Afrikaans op Suider-Afrikaanse bodem. As almal hul pligte delegeer, is daar later niks van die plig oor nie. 

Tydens die Ierse opstand teen Engelse kolonialisme in April 1916, het die Ierse burgers van Dublin die vryheidsvegter, Padraig Pearse, uitgelag toe hy die Ierse Republiek se onafhanklikheid proklameer en Engelse kolonialisme verdoem. Hy is ook deur hulle uitgelag toe hy na ses dae se verset saam met baie van sy kamerade as krygsgevangene weggelei word. Maar hul monde is gesnoer toe hy saam met ander vryheidsvegters deur die koloniale regering voor ’n vuurpeloton doodgeskiet is. 

Ons land het genadiglik lankal verby sulke geweld en vuurpelotonne beweeg. Maar die boodskap bly dieselfde: Hulle wat baklei vir ander se regte word dikwels deur dieselfde toeskouers uitgelag en geïgnoreer, omdat mense nie hul relatiewe gemak in die warm water wil prysgee nie. Dis eers wanneer die pot kook dat die paddas dit berou. 

Veeltalige Suid-Afrika se water kook reeds: PANSATR, ’n grondwetlike instelling wat veronderstel is om veeltaligheid se onderhouer en ontwikkelaar te wees, is ’n dooie rot in ’n leivoor. 

Daar is een openbare universiteit oor wat proaktief woeker in ’n inheemse taal, en dit is die NWU-Potchefstroom. Die US-rektor en die regter in die taal-saak kuier saam terwyl die saak hangende is. 

Die hoofregter, Mogoeng Mogoeng, sê in een mond hoe veeltaligheid belangrik is, maar besluit sommer self die howe se voertaal is voortaan net Engels. Wat moet mens glo in hierdie post-feit-wêreld? 

Advokaat Jan Heunis SC, ek hoop jy kry jou welverdiende ruskans ná afloop van ’n jarelange rustelose geveg vir ’n nuwe taaletiek in Suid-Afrika. 

Tiocfaidh Ár Lá;  ons dag sal kom. 

Lees ook:

Drie US-Konvokasie-lede bedank

  • 3

Kommentaar

  • Wie het die hek laat oopstaan sodat RAKA die kraal kon binnedring? RAKA is nie 'n deler nie.

  • Avatar
    Naòmi Morgan

    Ek hoop ek lewe lank genoeg om te sien dat Frederik Rudolph van Dyk die rektor word van n Afrikaanstalige universiteit. Dat soveel wysheid by so n jong man lê is verbysterend.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top