Drie US-Konvokasie-lede bedank

  • 10

Die bedankings van Jan Heunis, die President van die Konvokasie van die Universiteit van Stellenbosch (US), Bernard Pieters, Sekretaris van die Konvokasie, en Daleen van Zyl, ’n addisionele lid van die Konvokasie Uitvoerende Bestuur, is pas aangekondig. 

Hier volg Heunis se bedankingsbrief:

Geagte dr Retief,

BEDANKING

Hiermee bedank ek as die President van die Konvokasie van die Universiteit van Stellenbosch (US”). Ek sluit ook die bedankings van Bernard Pieters, Sekretaris van die Konvokasie, en Daleen van Zyl, ’n addisionele lid van die Konvokasie Uitvoerende Bestuur, hierby in.

Daar is ’n eeue-oue regsbeginsel in beskaafde lande dat ’n voorsittende regterlike beampte nie met ’n party tot saak wat voor hom of haar dien, kontak mag hê voordat die saak afgehandel is nie. Dit het in Suid-Afrika ook gegeld.

Regter Burton Fourie se verslag wat gister eenparig deur die Raad aanvaar is, bevestig dat voordat die Gelyke Kanse saak teen die Rektor, die Voorsitter van die Raad van die US (“Voorsitter”) en die US self, deur die Konstitusionele Hof aangehoor was, én nadat dit aangehoor was, maar voordat Regter Cameron die Hof se uitspraak gelewer het, was die Rektor, met die Voorsitter se medewete, telefonies en by wyse van e-posse met Cameron in verbinding om hom die Kanselierskap van die US aan te bied.

Daarbenewens was daar ook nadat die saak aangehoor en voordat ’n uitspraak gelewer is, ’n hele paar keer skakeling asook ’n persoonlike ontmoeting tussen die twee.

Daar was ook persoonlike kontak asook e-poskommunikasie tussen Cameron en ’n Raadslid, adv Jean Meiring.

Van al hierdie verwikkelinge was die Gelyke Kanse-regspan, en ek glo ook die US se regspan, salig onbewus.

Nie ’n deursigtige reddingspoging deur ’n regter wat deur die US self aangestel is, of die aanvaarding deur die Raad van sy ooglopend gebrekkige verslag, kan hierdie onverkwiklike kontak regverdig nie.  

Anders as wat die regterlike gedragsreëls van hom vereis, het Cameron nooit voordat hy die nominasie as kandidaat in die Kanseliersverkiesing aanvaar het, Gelyke Kanse se regspan hieroor ingelig nie; trouens, ons het dit by monde van ’n party tot die saak, die Rektor, gehoor.

Dit kan nie met enige aanspraak op geloofwaardigheid betwis word dat hierdie gebeure, tesame met die feit dat Cameron se uitspraak ten gunste van die US waarskynlik uit ’n regsoogpunt sy swakste ooit is, die persepsie skep dat hy die US ter wille wou wees en was nie.

Hoewel die Rektor die hoop uitgespreek het dat die sage nou tot ’n einde gekom het sal dié hoop beskaam, nie alleen omdat die skaduwee daarvan wyd en swaar oor die US sal hang nie, maar ook omdat die Hoofregter en die Waarnemende Hoofregter se hantering van die saak tot dusver veel te wense oorgelaat het en nou dreig om by te dra tot die verwatering van Suid-Afrika se regstaat status.

Gelyke Kanse wag steeds op ’n antwoord op drie skrywes, waarin besonderhede van die Hoofregter en die Waarnemende Hoofregter gevra word rakende die beweerde toepassing van die gedragsreëls vir regters op die kontak wat daar tussen Cameron en die Rektor en tussen Cameron en Meiring was.

Kortom, nie die feit dat ’n afgetrede regter die spul probeer goedpraat het, of die feit dat die Raad sy verslag aanvaar het, of die feit dat die Hoofregter daarvan wegskram om die saak met grondwetlik-vereiste deursigtigheid en volledigheid te hanteer, sal tot gevolg hê dat hierdie saak onder die maatemmer ingevee sal kan word nie.

Suid-Afrika as regstaat is in gedrang, soos wat regter Fourie se chronologiese uiteensetting van gebeure onteenseglik aantoon. Dit wys ondubbelsinnig op totaal onaanvaarbare interaksies tussen Cameron en die Rektor wat, in eersgenoemde se geval, sonder enige twyfel die gedragskode vir regters oortree het.

Die US mag aanvaar, selfs meewerk daartoe, dat dit die nuwe normaal word, spesifiek dat regspraak nou relatief tot die dominante agenda raak en dat daar niks meer vasstaan nie, maar soos dit uit kommentaar in die openbare media blyk, is daar groot getalle mense wat hiermee nie verlief neem nie. Die Voorsitter se aanval op die Afrikaanse media beklemtoon slegs die US se onverskilligheid jeens ingeligte debat en deursigtige prosesse.

Die Grondwet, wette wat daaraan uitvoering gee en die gemenereg is op sekere onvervreembare beginsels en waardes gebaseer. As mense, insluitende regters, buite hierdie sentrale beginsels en waardes begin soek na nuwe ankers, is daar moeilikheid. Die senior amptenare van die US, asook Fourie en die aangewese Kanselier, moes noodwendig soek na nuwe ankers gegewe die blatante verbreking van die mees basiese reëls wat die inhoud van behoorlike regspleging behoort te bepaal. Dit bring die US in oneer en ek sien nie kans om langer met dié instelling geassosieer te word nie.

’n Verswarende omstandigheid is die feit dat ander organe van die US my pogings, namens die Konvokasie, tot gesprekvoering van die hand gewys het en dat ek nie vry van sensuur met lede van die Konvokasie kon kommunikeer nie. Dat ek nie van die US se databasis gebruik kon maak om met my kiesafdeling te kommunikeer sonder die Rektor en die Voorsitter – van wie nie een van die twee deur die Konvokasie verkies is nie – se toestemming nie, is in stryd met die aard en wese van ’n universiteit. Universiteite was en is by uitnemendheid oor die eeue heen dié instellings wat die hoogste norme van integriteit en wetenskaplike objektiwiteit en eerlikheid gehandhaaf het.

Navorsing deur internasionaal gerespekteerde kundiges oor hoër onderwys het aangetoon dat dit juis hierdie norme en die handhawing van outonomiteit was, en steeds is, wat daartoe gelei het dat universiteite van die min instellings is wat deur die eeue hulle basiese karakter van die hoogste etiese norme in die samelewing kon behou en handhaaf. In dié opsig het die US ’n trotse verlede.

Dit is wêreldwyd by meeste universiteite van naam ook gevestigde tradisie dat ’n dienende rektor nie inmeng met die aanwysing van ’n kanselier nie. Die logika is duidelik. Sou die rektor se keuse nie as kanselier aangewys word nie, sou dit ’n feitlik onhoudbare verhouding tussen die kanselier en rektor veroorsaak. Daarbenewens, in die US se geval, is die Rektor die voorsitter van die kieskollege wat die Kanselier verkies en behoort hy ook uit dié perspektief neutraal te wees in die hele proses. Dat regter Fourie die Rektor die mantel van hoofrolspeler in die hele aanwysingsproses omhang en dat die Rektor hom dit met klaarblyklike genoegdoening laat welgeval, is maar net nog ’n onverkwiklike oomblik in ’n onverkwiklike sage.

Ek is by twee geleenthede met die meeste stemme tot die Raad van die US verkies. Ek is ook vir die eerste keer tot President van die Konvokasie verkies met ’n groot meerderheid by ’n Konvokasie-jaarvergadering waar daar ongeveer 2000 mense teenwoordig was. Ek het my deurentyd onvermoeid daarvoor beywer dat die US hom verbind tot gelykberegtiging tussen Engels en Afrikaans as onderrigtale ’n saakmakende verbintenis, moontlik in samehang met die Nelson Mandelabaai Universiteit, tot die ontwikkeling van Xhosa as ’n universiteitstaal.

Een van die belangrikste motiverings hiervoor was die feit dat Afrikaans die meerderheidstaal in die Wes-Kaap en in die Noord-Kaap is, dat dit die meerderheidstaal van die meerderheidsbevolkingsgroep in daardie provinsies, die bruinmense, is, dat bruinmense die mees onderverteenwoordigde groep aan universiteite is, dat hulle deurvloeikoers die laagste is, dat veral bruinmense van landelike oorsprong tersiêre onderrig net in Afrikaans of verkieslik in Afrikaans kan ontvang en dat daar drie volledig Engelse universiteite in ’n radius van 60km is.

Ek, en mense wat soos ek dink, is hieroor verguis en, soos so dikwels gebeur wanneer argumente eerlik en suiwer is, is ons etikette omgehang wat met die waarheid net mooi niks te make het nie.

Teen hierdie agtergrond versoek ek u dus om minstens dieselfde prominensie aan hierdie bedankingsbriewe te verleen as wat u aan regter Fourie se verslag, en die Raad se aanvaarding daarvan, verleen het. In die besonder versoek ek u vriendelik om dit te versprei aan alle lede van die Konvokasie en, soos wat u ook met die Voorsitter se skrywe gedoen het, aan alle studente van die US.

Vriendelike groete,

Jan Heunis

Lees ook: 

Persverklaring: US-raad aanvaar Fourie-verslag se bevinding oor rektor se optrede

Gustaf Pienaar reageer op die voortslepende Gelyke Kanse | Universiteit Stellenbosch-sage – en die Fourie-verslag

  • 10

Kommentaar

  • Avatar
    Henning Janse van Vuuren

    Ek, Henning Janse van Vuuren, onttrek hiermee my klein bydrae tot die US Woordfees Kortverhaalbundel 2020. Ek weier om my naam gekoppel te hê aan ʼn instansie wat lag-lag sy eie moedertaal verkrag.

    Lanklaas was ek só gewalg.

  • En so neuk Wim de Villiers 'n eens gerespekteerde instelling eiehandig op, want wie se brood hy eet die se lied moet hy sing, ne. Vernoem eerder die US na De Villers Cameron Universiteit. US is 'n naam wat eens gerespekteer was, beskerm dit ten minste al wil julle alles met die badwater uitgooi.

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    Wat 'n terugslag, nie net vir Afrikaans nie maar ook vir helder denke, eerbaarheid en onkreukbare intregiteit.

    Daarteenoor drink die Stellenbosch se spoke wyn op hul graf met die Union Jack as kopstuk...

  • Avatar
    Henning Janse van Vuuren

    Dankie, Daniel. Ek gaan nie terug salueer nie – só ʼn daad kan moontlik as klandestien interpreteer word.

    Soos jy weet word die inskrywings anoniem voorgelê vir beoordeling en is dit daarom vir my ʼn groot eer as my naam later die lys van skrywers haal. Dit is pynlik om van hierdie prestasie weg te stap, maar ek wil graag uit Gustaf Pienaar se puik regsmening aanhaal:

    'Die beroemdgeworde woorde van die Duitse teoloog Martin Niemöller, wat tussen 1938 en 1945 deur die Nazi’s in konsentrasiekampe aangehou is, is myns insiens hier toepaslik: “Hulle het eerste op die sosialiste toegeslaan, maar ek het geswyg want ek was nie ’n sosialis nie. Toe was dit die vakbonde se beurt, maar ek het my mond gehou want ek het nie aan ’n vakbond behoort nie. Daarna was dit die Jode, maar steeds het ek die swye bewaar want ek was nie ’n Jood nie. Oplaas het hulle op my toegesak – maar toe was daar niemand oor om vir my in die bresse te tree nie.”

    Ons praat van die lang arm van die gereg en die Engelse sê the wheels of justice turn slowly, but grind exceedingly fine. Hier aan die Suidpunt verrot al hoe meer appels sommer aan die boom en elke ketter het sy letter. Hoe verfrissend sal dit nie wees as die manne openhartigheid en integriteit 'n kans gee nie. 'n Uitgerekte skandaal word altyd iewers neergepen en vergesel die mens graf toe.

    Ek verstaan spyt kom altyd te laat en selfverwyt bly maar 'n kakke so op die oudag.

  • Avatar
    Waldemar Gouws

    Dat die mat so met verdrag onder die Maties se voete uitgetrek is. Wil iemand nou dalk op die Eersterivier se water loop?

  • Dit is hartseer dat hierdie instelling - wat eens 'n trotse en gerespekteerde plek was nou so verrot het deur die eie ek van De Villiers en Kie.
    Ek wil nie eers die naam van die Universiteit noem nie want die skande is te groot.Ek wonder of hierdie vrot appels besef wat se skade hulle aangerig het.
    Kan die onbekwame regter wat die uitspraak gelewer het hof toe geneem word?
    Kan De Villiiers en Cameron ook weer hof toe geneem word waar 'n ware regter 'n uitspraak kan lewer?

  • Ag nee mense, julle maak my deurmekaar met al die groot woorde en lang sinne. Gaan dit nou oor Cameron of oor ons taal? Beteken dit dat Cameron as kanselier Afrikaans sal bedreig? Hy is tog immers 'n eerbare man, dan nie? Met respek, verduidelik asb. hoekom mense nie gaan dink dat julle oor reageer en te tegnies raak nie? Ek vra maar net.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top