Hofuitspraak oor Afrikaans by Unisa ’n ligpunt in ’n donker omgewing

  • 5

Die Appèlhof in Bloemfontein se uitspraak oor die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) se taalbeleid is ’n ligpunt in ’n baie donker omgewing.

Dit was die reaksie van advokaat Jan Heunis op die uitspraak deur die Appèlhof Woensdag oor Afrikaans. Die hof het beslis dat Unisa se verwydering van Afrikaans as onderrigtaal onwettig en ongrondwetlik is. Heunis is ’n kampvegter vir Afrikaans as onderrigtaal op universiteit en voormalige president van die Konvokasie van die Universiteit Stellenbosch.

Jan Heunis (foto: Naomi Bruwer)

Die Appèlhof het met sy uitspraak ’n beslissing van die Hooggeregshof tersyde gestel, en daarmee dus ook Unisa se taalbeleid wat in 2016 aanvaar is. Dit word beskou as ’n deurbraak vir studente wat in Afrikaans wil studeer. Die uitspraak is ook deur die Afrikaanse Taalraad verwelkom.

Heunis het aan LitNet gesê die hart van die Hoogste Hof van Appèl se uitspraak is die bevinding dat Unisa nie kon bewys dat die afskaffing van Afrikaans geregverdig was nie. En ook nie dat dit nie redelik moontlik was om met Afrikaanse onderrig voort te gaan nie.

Hy sê dit is die regte toets wat korrek toegepas is en dat die onus om dit te bewys by die universiteit gelê het.

“Dit is presies oor hierdie aspek dat die Konstitusionele Hof in die saak oor die US se taalbeleid by monde van regter Cameron op sterkte van suiwer rasionalisasie tot ’n teenoorgestelde bevinding gekom het,” sê Heunis. Cameron is as US-kanselier verkies voordat hy uitspraak gelewer het in die grondwetlike hofsaak oor die US se taalbeleid.

Fotobron van die president van die Appèlhof, appèlregter Mandisa Maya, en van die Hooggeregshof in Bloemfontein: Wikipedia

Die president van die Appèlhof, appèlregter Mandisa Maya, het Unisa beveel om ’n prominente kennisgewing op hulle webtuiste te plaas van ’n volledige lys vakke wat tot 2016 in Afrikaans aangebied is. Die inligting oor die modules moet ook beskikbaar gestel word aan voornemende studente wat dit in Afrikaans wil studeer. Die kennisgewing moet ook in drie groot Afrikaanse koerante gepubliseer word, asook per e-pos aan alle studente.

Studente wat gedwing is om die vakke in Engels te neem moet geleentheid kry om dit in Afrikaans te voltooi.

AfriForum het Unisa hof toe geneem en betoog dat die beleid byna 30 000 Afrikaanssprekende studente sonder 'n opsie gelaat het om in hul moedertaal onderrig te word.

Conrad Steenkamp (foto: verskaf)

Die uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalraad, Conrad Steenkamp, sê die hof se uitspraak is verbluffend positief. Conrad wil AfriForum gelukwens dat hulle volhard het om vir Afrikaans as onderrigtaal te veg.

Steenkamp het aan LitNet gesê daar is ook ’n positiewe nuwe gees ten gunste van meertaligheid by ander universiteite sigbaar.

Noordwes-Universiteit het 'n toevoegende benadering tot meertaligheid en sê hulle wil die Afrikaansaanbod uitbrei. By die Nelson Mandela-universiteit is Afrikaans as amptelike taal ingebring en wil hulle dit selfs tot onderrigtaal ontwikkel. En by die Fort Hare-Universiteit word Afrikaans as amptelike taal ingebring en hulle wil dit selfs as medium van instruksie ontwikkel.”

Volgens Steenkamp is dit belangrik om mense en instansies se houding teenoor Afrikaans te verander, en dit is waarop die Taalraad wil fokus. “Wat nodig is, is om uit te vind hoe verander mens die negatiewe houding wat daar by sommige mense en instansies teenoor Afrikaanssprekendes bestaan.”

Hierdie nuwe gees om meertaligheid te dryf moet volgens Steenkamp verwelkom word. Hy sê mense moet besef Afrikaans is ook ’n inheemse taal en nie ’n oorblyfsel van kolonialisme nie.

Die Taalraad sê hy hoop die universiteit sal die regstellende stappe soos deur die hof bepaal, onverwyld uitvoer. “Unisa, wat jaarliks ’n Neville Alexander-herdenkingslesing aanbied, sal die taalikoon veel beter kan vier indien die instelling nou eerder aandag gee aan inklusiewe meertaligheid en die ontwikkeling van al die ander amptelike tale – soos wat die nuwe Taalbeleid vir Hoër Onderwys vereis.”

Hier dink mens volgens die Taalraad veral aan Alexander se woorde dat “until and unless we are able to use the indigenous languages of South Africa as languages of tuition at the tertiary level, our educational system will continue to be skewed in favour of an English-knowing elite.”

Van al die universiteite in die land is Unisa volgens die Taalraad waarlik die beste geplaas om al die amptelike tale van die land by wyse van uiteenlopende meertalige praktyke te akkommodeer. “Uiteindelik moet alle studente hulle huis- of moedertale vir akademiese prestasie kan gebruik.”

Die Taalraad sê hy hoop die universiteit aanvaar die uitspraak en dat geen verdere regstappe oorweeg word nie. “Ons hoop ook dat mens in gesprek kan tree oor die gesindhede teenoor Afrikaanssprekendes en persepsies oor hulle taal. Afrikaans, wat deur ’n groot verskeidenheid mense gepraat word, moet net soos die ander inheemse tale van die land ’n plek binne ’n meertalige bestel gegun word.”

Die DA het ook die Appèlhofbeslissing oor Unisa se taalbeleid verwelkom. Die party se woordvoerder oor hoër onderwys, Belina Bozzoli, sê in 'n verklaring dié beslissing is 'n oorwinning vir moedertaalonderrig en taalverskeidenheid in die land. Bozzoli sê na 26 jaar van demokrasie kan die regering en openbare instellings nie betrokke wees by die verwydering van een taal ten gunste van 'n ander nie. Hy sê die regering moet eerder met gemeenskappe in gesprek tree om al die tale se hoër funksies te ontwikkel. Bozzoli sê die Appèlhofbeslissing stel 'n belangrike presedent vir die beskerming van moedertaalonderwys en die ontwikkeling van inheemse tale.

Advokaat Heunis sê ongelukkig het die Appèlhof, in sy poging om die US-saak te onderskei, regter Cameron se uitspraak op sigwaarde aanvaar en sodoende afbreuk gedoen aan sy eie uitspraak.

Volgens die hof was ’n swak plek in Unisa se saak dat hulle nie kon aantoon dat koste die rede is waarom Afrikaanse onderrig nie redelik prakties moontlik was nie. Heunis sê in hierdie verband identifiseer die hof as eerste probleem die feit dat die Senaat se Taalkomitee sowel as die Senaat óf die Raad glad nie die koste-aspek bespreek het toe hulle besluit het om die nuwe taalbeleid te aanvaar nie.

Hy sê presies dieselfde het by die US gebeur.

Heunis sê die Appèlhof in Bloemfontein onderskei die US se saak van Unisa s’n op grond van regter Cameron se gevolgtrekking. “Dit is totaal in stryd met die getuienis dat die ‘University determined by careful study the cost of immediately changing to fully parallel medium tuition would total about R640 million ...’”

Niks is verder van die waarheid nie, sê Heunis. “Eerstens het die sogenaamde studie vir die eerste keer sy verskyning gemaak in die US se antwoord op Gelyke Kanse se saak. Dit het nooit voor die Taalkomitee, die Senaat of die Raad gedien nie. Die dokument van een en ’n halwe bladsy was klaarblyklik opgestel om die US uit ’n penarie te red deur iemand wie se identiteit onbekend is en die ‘studie’ was nie onder eed bevestig nie. Cameron het ook hoegenaamd nie verwys na Gelyke Kanse se uitvoerige en verdoemende kritiek op die samestelling en inhoud van ’n baie gebrekkig dokument nie.”

Heunis sê ongelukkig fouteer die Hoogste Hof van Appèl ook waar dit Unisa van die US probeer onderskei op sterkte van die oorweging dat die US se taalbeleid segregasie in die hand gewerk het en Unisa s’n nie.

“Dit verloor totaal uit die oog dat daar ongeveer net soveel wit Engelssprekende studente aan die US is as wit en bruin Afrikaanssprekende studente en dat, op die veronderstelling dat swart studente sal verkies om in Engels onderrig te word, daar dus nie sprake van segregasie sal wees in ’n stelsel van gelykberegting vir die twee tale aan die US nie.

“Dit gesê, moet ek beklemtoon dat die resultaat te verwelkom is as ’n ligpunt en ’n baie donker omgewing,” het Heunis gesê.

................

Lees ook in LitNet se argief wat Neville Alexander oor veeltaligheid by Suid-Afrikaanse universiteite geskryf het.

................

Die Appèlhof se uitspraak is ook op sosiale media verwelkom. Volgens van die reaksies is die eerste stap om dit as basiese reg te stel dat jy in jou moedertaal mag studeer. As die Konstitusionele Hof dit nie uitgooi nie, is daar dalk hoop, het een van die deelnemers aan die gesprek gesê. “Die tweede stap is in [sic] sekere maniere moeiliker. Die taal moet bevorder word. Dit beteken studente moet oortuig word om hul moedertaal te kies en dan op 'n positiewe en opbouende manier ondersteun word.”

AfriForum het vroeër gesê hulle voel sterk oor Unisa se taalsaak weens onder andere die volgende redes:

  • Omdat Unisa ’n korrespondensie-instelling is, kan daar geen sprake van segregasie of spanning op die kampus wees nie. Die hof is dus verplig om oor die taalregte op ’n meer suiwer basis uitspraak te lewer.
  • In 2016 was daar tussen 20 000 en 30 000 studente wat gekies het om modules in Afrikaans aan Unisa te volg. Presiese syfers is soms moeilik bekombaar omdat Unisa die afgelope twee jaar groot probleme met sy registrasiestelsel ervaar het.
  • Die aard van die studente wat aan Unisa studeer, verdien ook spesiale aandag. Baie van hulle is ouer mense in afgeleë gebiede of in gevangenisse of buite Suid-Afrika wat gedwing word om hulself verder te bekwaam met die oog op ’n volhoubare loopbaan. Daar is geen ander Afrikaanse opsie vir hulle nie, en slegs baie beperkte ander studie-opsies oor die algemeen. Van die amptenare en andere op die platteland werk in totaal Afrikaanse werkomgewings en het hulle lewe lank nog min professionele blootstelling aan Engels gehad. Hulle het ook nie ’n behoefte aan Engels nie, want hulle werksomgewing is Afrikaans.

Lees nog artikels in LitNet se universiteitseminaar.

  • 5

Kommentaar

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Daar kan geen sprake wees dat Unisa onderrig in al 11 amptelike tale kan aanbied nie. In die praktyk is daar op universiteitsvlak eintlik net (of hoofsaaklik) aanvraag vir onderrig in Afrikaans en Engels. Maar twee onderrigtale aan dieselfde residensiele universiteit veroorsaak talle probleme, wat in veel mindere mate aan Unisa vir afstandsonderrig geld. Die vorige bedeling, toe daar slegs eksklusief Afrikaanse en eksklusief Engelse universiteite bestaan het, was dus veel beter as die huidige opset waarin al die eens Afrikaanse en al die eens tweetalige universiteite neig om eentalig Engels te word. As daar afdoende aanvraag vir onderrig in Afrikatale betaal - Afrikaans word hierby uitgesluit - hoort 'n Afrikataal, naas Engels, elk by 'n bepaalde universiteit, bv Xhosa by Fort Hare of Transkei, Zoeloe by Zoeloeland, Venda by Venda, ens.

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    'n Mens kan maar net hoop dat UNISA dit so sal aanvaar. Maar ek twyfel of die stryd teen Afrikaans nou verby is. Veeltaligheid is oor die algemeen 'n klug in hierdie land. Die Grondwet met sy 11 amptelike tale is 'n mooi versiering teen die muur maar grootliks niksseggend in praktyk.

  • Die hofuitspraak laat 'n mens sommer 'n warm gevoel in al die dele waardeur jou bloed pomp, kry. Dis 'n groot oorwinning vir Afrikaans as moedertaalonderrig. My mening is altyd dat Afrikaans en ander tale opsigself nie mense kan onderdruk nie. Houdings en gesindhede van mense word nie deur 'n taal bepaal nie, maar is gewortel in die persoon/mens se wese self. Dis 'n belangrike rede waarom ons as Afrikaanssprekendes altyd ons taal normatief en in lyn met ons opvoedingsbehoorlikheidseise moet beoefen.

  • Avatar
    Usiris Chevalier

    Ek het vir jare by Unisa gewerk en die rassistiese haat teenoor Afrikaans, Afrikaners en witmense is ongelooflik. Sonder om pessimisties te wees, ek betwyfel dat Unisa dit daar sal laat. Hulle het waarskynlik reeds stukke vir die woke konstitusionele hof opgestel.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top