Uit die mond van Klein-Brakriver | From the mouth of Little Brak River: ’n onderhoud met Skip Krige

  • 0

Foto: verskaf

Die koffietafelboek Uit die mond van Klein-Brakrivier | From the mouth of Litte Brak River is aan die einde van 2021 gepubliseer.  

Volgens die persverklaring dek die boek onderwerpe soos geskiedenis, geografie en ruimtelike ontwikkeling; families, die lewe op die strand, in die rotspoele en die rivier; visvang; oesters ...

Die droom het ontstaan toe ’n paar individue tydens die Covid-grendelperiode vroeg in Januarie 2021 bymekaargekom en die moontlikheid bespreek het om ’n koffietafelboek saam te stel. Die strande was toe, vertel Skip Krige tydens die bekendstelling. Kyk ’n video van die bekendstelling hier.

Die algemene gevoel was dat die persone wat so ’n boek moes geskryf het, reeds oorlede is en dat die “ouer geslag” moet verseker dat die geskiedenis en stories van Klein-Brakrivier vir die nageslag vasgepen word. Helga Steyn van Hemel en See Boeke en Stella Stofberg as ontwerpkunstenaar het daartoe bygedra dat die boek binne minder as ʼn jaar werklikheid geword het.

Tydens sy navorsing het Skip Krige gevind dat mense mekaar herontdek, dat daar ’n soort trots en gemeenskapsgevoel oor die plek is, dat historiese grense oorgesteek is, en dat daar ’n groter bewustheid van waarde en sentiment is. Hopelik sal “remembering a place that is gone” nooit op Klein-Brakrivier van toepassing word nie.

Skip Krige vertel vir Naomi Meyer meer van die boek.

Skip, wat was jou betrokkenheid by hierdie boek?

Ek was die sameroeper en het met elke persoon wat ’n bydrae gelewer het, kontak gemaak. Van hulle bly oorsee met sentimentele verbintenisse met Klein-Brakrivier.

Ek sien in die voorwoord dat jy en jou medeskrywers nagedink het oor die geskiedenis van die omgewing en bang was dat dit verlore sal gaan vir die nageslag as dit nie opgeteken word nie. Wil jy dalk uitbrei oor wie almal aan die boek gewerk het, en waarom?

Die boek moes deur ons ouers geskryf gewees het wat as kinders op Klein-Brakrivier kom vakansie hou het. Ons span val reeds in die "bejaarde" kategorie – almal ouer as 65 en een spanlid reeds oorlede sedert die boek in Desember 2021 verskyn het. Kort bio’s van ons ses spanlede is op invouflappe beskikbaar, wat ook aandui watter generasie/geslag elk verteenwoordig.  

Ek sien dat die boek in die tyd van Covid geskryf is, en dit laat mens nadink oor sterflikheid, wat bly oor, en die tydelikheid van die aardse bestaan.

Gelukkig is die boek in 10 maande gefinaliseer: Februarie tot Desember 2021.

Foto: verskaf

Ons land se geskiedenis, en elke streek en elke dorp s’n, strek ver terug. Net mooi vandag het ek ’n gesprek met ’n argivaris gehoor waarin sy laat blyk dat sy in haar navorsing rondom nalatenskap baie dikwels moes nadink oor waarom sekere dinge behoue gebly het en wat verlore geraak het. Eerstens, persoonlik: Wat is jou heel eerste en vroegste herinneringe aan Klein-Brakrivier?

Ek is ’n "late-comer": 1958. Ek is in 1955 gebore, dus bykans van geboorte af hou ons as familie by KBR vakansie. Ons as Kriges is laatkommers in KBR. Die ander spanlede, wie se ouderdom van 65 tot 75 gewissel het, het familieverbintenisse wat terugstrek tot die 1850’s.  

Ek lees in die boek oor die geskiedenis van die streek en die eerste mense wat daar gewoon het. Kan jy dalk hierop uitbrei?

Die geskiedenis is opgeskryf deur ’n persoon met ’n doktorsgraad in geskiedenis. Drie van ons spanlede het ’n PhD. Daardeur wil ek nie suggereer dat die boek oor korrekte wetenskaplike feite beskik nie, maar ek as akademikus streef na voortreflike wetenskaplike perspektief. Die boek is vir seker nie perfek nie. Ek het moeite gedoen om ’n wye verskeidenheid fokusse te betrek om nie net op die vakansie-oord te fokus nie. So is toerisme, oesters, nostalgie, jonger stemme, begraafplaas, Wyk 4, bewarea, ens betrek.  

Daar is ’n groter landsgeskiedenis en dan is daar ook kleiner geskiedenisse. Die boek fokus sterk op baie gesinne van die omgewing se klein geskiedenisse. Hoe het julle besluit wie se verhale om te vertel? Lewe hierdie mense nog? En dié wat nie meer leef nie: Het hulle hierdie boek se bekendstelling beleef?

Goeie vraag. Daar is besluit om die families wat voor 1930 te KBR kom vakansie hou het, dws die eerste generasie van Klein-Brakkers, te betrek. Hul familiegeskiedenisse is deur afstammelinge saamgestel. Van die familiesameroepers het verskeie ander familielede betrek en verskeie familiestukke is onder bepaalde familielede gesirkuleer vir kommentaar. Een van die knelpunte was taal. Van die familiegeskiedenisse is byvoorbeeld in Afrikaans of Engels geskryf en daar was verskeie versoeke om bepaalde familiestories te vertaal, wat ons nie gedoen het nie. Daar is in sekere gevalle wel vertalings deur persone gedoen en aan die bepaalde families gestuur. Ek moes self as sameroeper stukke terugstuur waar ek vermoed het tekortkominge was. Familiesameroepers het aan my verslag gedoen dat hul met familielede kontak gemaak het "meer die afgelope drie maande as 60 jaar vantevore"! Daar was ’n tipe ontdekking van mekaar. Ek self het dae by die Akte- en LMG-kantoor in Kaapstad deurgebring om feitelik korrekte informasie te bekom.   

Ek hoop dat hierdie gesprek mense vanuit alle gemeenskappe in die land bewus sal maak van die belang van elkeen se geskiedenis en dat hulle dit sal wil deel. Dalk kan jy vanuit jou perspektief vertel hoe die mense wat by die boek se skryf betrokke was, Klein-Brakrivier en die dorp se geskiedenis in die groter prentjie van Suid-Afrika beleef? Hoe ’n soort dorp is dit om te bewoon?

.........
Ek poog as geograaf om objektief na ’n bepaalde omgewing te kyk. Dws as daar ’n lugfoto van ’n bepaalde gebied geneem word, moet alle nedersettings en mense betrek word. Die eerste hekkie was om Riverside (Bo-Brak) te betrek. Ek is vroeg in die projek gekonfronteer met: "Ons is die onderdorp en ons tel nie." Die eindresultaat was dat Riverside se geskiedenis uitnemend opgeskryf is.
.........

Ek poog as geograaf om objektief na ’n bepaalde omgewing te kyk. Dws as daar ’n lugfoto van ’n bepaalde gebied geneem word, moet alle nedersettings en mense betrek word. Die eerste hekkie was om Riverside (Bo-Brak) te betrek. Ek is vroeg in die projek gekonfronteer met: "Ons is die onderdorp en ons tel nie." Die eindresultaat was dat Riverside se geskiedenis uitnemend opgeskryf is. Die tweede hekkie was om Powertown se mense te betrek. Daar kan nie deur "wit mense" oor Powertown geskryf word nie. Alhoewel, ’n bydrae is gemaak deur ’n persoon wat sy meestersgraad in argitektuur verwerf het. Die gemeenskapsleier van Powertown is betrek en sy perspektief kan in die boek gelees word.  

Die eerste oplaag was 600 kopieë, wat alles tydens die boekbekendstelling op 20 Desember 2021 uitverkoop is. ’n Tweede oplaag van 150 boeke is gedruk en dié is ook uitverkoop. Daar is geen beplanning om ’n derde oplaag te laat druk nie, agv kostes. Ek dink die “Voorwoord” en “Laaste woord” gee ’n perspektief van die boek. Ons as span het dit geweldig geniet, hoewel ons geweet het daar is sekere tekortkominge en gapings. Die afdeling “Nostalgie” kon ander stemme ook betrek het, asook meer foto’s van diegene wie se foto’s nie verskyn het nie. Sosiale media het ons gehelp om die boodskap te kommunikeer. Ook die plaaslike media was ons goedgesind. Die "bottom line" is dat KBR se geskiedenis, stories en ervarings opgeskryf is, wat ek hoop ’n bydrae maak tot die plek se samehorigheid en uniekheid.

Lees ook:

Op ’n herfsmiddag in Mosselbaai: Unspoken deur Lluyle Arendse

Resensie: Vrystaatse Dorpe deur Jan van der Merwe

Tien vrae: Jan van der Merwe oor Noord-Kaapse Dorpe

Stephanus Muller praat met Lizabé Lambrechts, uitvoerende bestuurder van Nuuseum

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top