“Tyd”-skryfkompetisie: Onderhoud met Johan Kotze

  • 0

Johan Kotze is onlangs aangewys as een van die drie wenners van LitNet se “Tyd”-skryfkompetisie. 

Skryfkompetisie – Tyd: Hier is die wenners!


Plekkie innie son

Daar is tyd om klippe op te tel
meneer
om vuis te bal en smeek vir aandag
sodat ons nie elke nag
hoef te vrees vir skote en wonde
waar ons skreeu met monde
wat hees is van moed'loosheid
net om ’n plekkie innie son te kry.

Daar is tyd om klippe neer te gooi
en almal uit te nooi
om saam te dans en op te skuif
want God se son is groot
meneer
ons kan almal deel hê in sy gloed

 

Wie is Johan Kotze?

Ek woon sedert 1999 in Stellenbosch. Ons het ’n gastehuis in Dalsig en wanneer ek die tyd het, ry ek graag rond en neem foto’s. Ek het baie woelige kinderjare gehad omdat my pa op die spoorweë gewerk het en ons vreeslik baie moes rondtrek. Ek was in Volkskool Potchefstroom tussen 1956 en 1960 en het daarna twee jaar gemors op die universiteit in Potch. Daarna het ek begin belangstel in die rekenaarwêreld en IT het toe my lewensberoep geword. Ek was baie rusteloos en het in verskeie plekke gebly, soos Namibië en later Melbourne, Australië, waar ons twee jaar gebly het. Ek is getroud met Lee en ons het twee kinders.

Jy is pas aangewys as een van die wenners van die “Tyd”-kompetisie. Wat het jou geïnspireer om jou betrokke inskrywing vir die kompetisie te skryf?

Ek het nie die gedig oorspronklik vir die kompetisie geskryf nie. Ek het dit so ses maande voor die tyd geskryf omdat ek net iets oor tyd wou skryf. Ek kry soms net sulke vinnige bevliegings, dan skryf ek dit.

Hoe werk die digproses vir jou? Werk jy lank aan ’n gedig of skryf jy dit in een sitting klaar?

Dit is ’n baie eienaardige proses en ek gaan seker baie voorbarig klink as ek dit beskryf. Ek sal sit en sommer net peins oor goeters. Gewoonlik word dit “getrigger” deur iets wat ek gelees of gehoor het wat my dan daaroor laat dink. Ek het gevind dat as ek eers die titel uitgewerk het, dan kom die nodige reëls baie vinnig. Dan skryf ek redelik vinnig – so al asof die reëls hulleself aanmeld. Ek is baie bewus van ritme en sal soms ’n rukkie dink aan ’n goeie woord om by die ritme te pas. Ek is ook lief vir subtiele alliterasie en assonansie en baie keer gebeur dit byna outomaties. Dis selde dat ek lank stoei met ’n gedig – dit hang van die gedig af hoe lank dit by my bly.

Van wanneer af skryf jy al gedigte? Kan jy jou heel eerste gedig onthou, of hoekom jy dit geskryf het?

Ek skryf al vir ’n baie lang ruk. Ek het ’n klomp gedigte wat ek al op hoërskool geskryf het, maar ek wys dit vir niemand nie. Ek het oor baie dinge vreeslik gewroeg toe ek jonger was, as ’n mens die gedigte nou moet lees. Hulle was almal baie kort – soms net vyf of ses reëls, maar baie diep en miskien selfs “swart”.

Lees jy baie digkuns en help dit jou met jou eie poësie? Watter digter(s) gee vir jou inspirasie?

Ek lees nogal baie digkuns, maar nie genoeg nie. Ek is baie eerder lief vir kortverhale. Maar ek het ’n paar digters wat my inspireer. Breytenbach is heel bo aan die lys. Louis Esterhuizen hou ek ook baie van, en ek het met die onlangse Etienne van Heerden-veldsoirée twee wonderlike digters ontdek wat nou my gunstelinge is: Clinton du Plessis en die borrelende Bibi Slippers. Gaande oor hulle!

Lees ook

“Tyd”-skryfkompetisie: Onderhoud met Eunice Basson

“Time” writing competition: Interview with Rethabile Sindi

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top