Eunice Basson is onlangs aangewys as een van die drie wenners van LitNet se “Tyd”-skryfkompetisie.
Agter ’n kamerdeur |
Wie is Eunice Basson?
Eunice Basson is ’n kunshistorikus en voormalige dosent aan UP en Unisa. Steeds betrokke by nagraadse studieleiding by ’n paar universiteite en doen ook navorsing oor geselekteerde Suid-Afrikaanse kunswerke vir Aspire Kunsafslaers (Aspire Art Auctions). Voltooi ’n MA-graad in kreatiewe skryfkuns aan UP in 2011 onder leiding van Henning Pieterse. Debuteer in 2014 met die bundel Leiboom, en in November 2015 behaal dié bundel die kortlys vir die Ingrid Jonker-prys.
Jy is pas aangewys as een van die wenners van die “Tyd”-kompetisie. Wat het jou geïnspireer om jou betrokke inskrywing vir die kompetisie te skryf?
Dit is ’n stukkie onverwagse familiegeskiedenis waarvan ons drie kinders nooit geweet het nie en wat moontlik goed sou kon inpas by die “Tyd”-opdrag van die kompetisie.
My ma het altyd ’n dagboek of almanak byderhand gehad om tred te hou met haar dae en weke. So, dink ek, het sy tyd en konteks vir haarself rondom haar eie lewe gestruktureer, veral in haar oudag. Ek was een middag by haar in die aftree-oord toe sy heel toevallig noem dat “as [haar] oudste kind sou gelewe het, hy nou so en so oud sou wees”. Ek het my ore gespits en aanvanklik gedink dat my ma ’n senior-oomblik beleef (sy was toe 91 jaar oud).
Sy het haar kalender oopgevou en vir my ’n klein kolletjie by ’n datum uitgewys waarop haar eerste baba op agt maande in 1941 doodgebore is. Daar was ’n begrafnis en die baba is in die Rebeccastraat-begraafplaas in Pretoria begrawe. My ouers het ons nooit van hierdie baba en hulle verlies vertel nie; konvensie en stilte het in daardie jare die oorhand gehad. Die feit dat my ma hierdie “geheim” lewenslank op ’n kalender herdenk het, het my destyds eindeloos ontroer en so het hierdie gedig begin vorm aanneem.
Hoe werk die digproses vir jou? Werk jy lank aan ‘n gedig of skryf jy dit in een sitting klaar?
Die digproses werk op vreemde maniere. Soms is dit ’n herinnering, soms iets waarna ek luister of op TV na kyk, jeugherinneringe, lees en lees, ’n koerantberig, iets wat iemand ophaal, ens wat as “prikkels” dien. Soms val ’n gedig in my skoot, maar merendeels is dit ’n heel lang proses van skryf en herskryf. Die “delete”-knoppie word bepaald gereeld ingespan.
Van wanneer af skryf jy al gedigte? Kan jy jou heel eerste gedig onthou, of hoekom jy dit geskryf het?
Van my eerste gedigte is in 1996 in Tydskrif vir Letterkunde gepubliseer.
Lees jy baie digkuns en help dit jou met jou eie poësie? Watter digter(s) gee vir jou inspirasie?
Ek is baie bewus van en lees graag geselekteerde digbundels wat in Afrikaans verskyn maar lees ook wyer op die internasionale mark: Anne Michaels, Michael Ondaatje, Mary Oliver, Billy Collins, Seamus Heaney, Larkin, Kate Tempest en soveel ander. Dit bly eindeloos inspirerend om te sien hoe digters/skrywers met taal konkel en toor.