Meer as 300 uiteenlopende inskrywings is ontvang en die 15 gedigte het op die kortlys verskyn. Die bekroonde digter en letterkundige Lina Spies het die drie wengedigte aangewys en deel haar indrukke van die kortlys en wengedigte.
Lina Spies se kommentaar op die vyftien finalisgedigte in LitNet se skryfkompetisie met die tema “tyd”
Tema
Tyd is ’n uiters belangrike tema in die letterkunde, poësie en prosa, omdat dit verband hou met die universele aard van die menslike lewe wat onlosmaaklik verbonde is met tyd. Hierdie verbondenheid van die tyd met die lewe blyk uit die verse wat ingeskryf is vir die LitNet-kompetisie waarvan die beskrywing eenvoudig gelui het: “Skryf ’n gedig met tyd as tema en kom in aanmerking vir een van drie kontantpryse.”
Die duur van ’n menselewe is beperk tot sewentig, tagtig, negentig jaar en sluit verskillende fases in: die kleuter- en kinderjare, die jeug met sy adolessensie en jongdae; die middeljare en die ouderdom. Die kind beleef tyd spontaan van dag tot dag, terwyl die volwassene ’n onwillekeurige chronologiese belewenis van tyd het in teenstelling met die onmiddellikheid waarmee ’n kind tyd beleef. ’n Kind se tyd is beleefde tyd. Dit lê dus voor die hand dat in die finalisgedigte van die LitNet- kompetisie die deelnemende digters ’n bewustheid openbaar van chronologiese tyd in hul herinnering aan ’n verbygegane verlede. Die indruk wat die verse maak, is dat jong volwassenes aan die woord is wat nog nie gekonfronteer is met die werklikheid van eie dood waarmee die bejaarde onwillekeurig van aangesig tot aangesig staan nie. Die digters dink eerder nostalgies terug aan ’n gelukkige kindertyd en vroeë jeug en/of gee gestalte aan ’n naasbestaande bejaarde, soos veral die ouma wat soms direk genoem of gesuggereer word.
Wat my beïndruk het, is dat meerdere digters, getrou aan die wesensaard van die poësie, daarin slaag om te suggereer in plaas van om te konstateer; om nie te beweer nie maar te beeld, dus aan die ontroering metaforiese uitdrukking te gee. So word die ouma nie by name genoem nie, maar kry gestalte net deur suggestie in “Almanak” (Eunice Basson) en “Sy kweek rose” (Gisela Ullyat). In Jaomi Zeeman se “Die oond” kan die vrou wat die brood bak, die ouma of die ma wees. Die ouma figureer ook by Jadrick Pedro-Koopman (“Tydloos”) en Ronel van Schalkwyk (“Die kortarm bly op tweeuur staan”). Die gestalte wat die ouma aanneem in die digters se herinnering is dié van die vrou in haar hoedanigheid as versorgende huisvrou deur bak en kook en die doen van naaldwerk. Sy dateer kennelik uit die era van die vrou voor haar emansipasie waardeur sy ook die professionele wêreld betree het. Hiermee word nie geïmpliseer dat die vrou in die rol van huisvrou noodwendig ongeëmansipeerd was of is nie.
Kritiek
- Rym en die vers as geïntegreerde geheel
Rym, as dit subtiel en funksioneel is, bly ’n belangrike middel van poëtiese uitdrukking, maar te maklike ryme laat ’n gedig in rymelary ontaard. Dit gebeur in André Rossouw se gedig “Toe ons nog kinders was” met al die maklike ryme waarmee losstaande herinneringe nie by mekaar aansluit tot ’n sinvolle geheel nie:
“… Kruisbandjies om jou broek op te hou/ Die spanriem wat oor jou boude brand/ Ma wat toebroodjies in ’n lappie toevou/ Die baklei oor ou Mieta se vetkoek/ Bangmaakstories om die hoek/…” Die gedig ontaard in die opnoem van die dinge uit die digter se kindertyd wat lukraak bly en net behoort tot die verlede wat deur die slotreël beperk word tot ’n kalenderjaar: “Pampoene op die dak/ en agter die deur 1945 se almanak.” Die opnoem van die ervarings van die kindertyd wat die almanak simboliseer, vind nie sin in die betekenis wat dit het vir die volwassene wat daaraan terugdink nie.
Hoe anders die opnoemtegniek kan wees, word geïllustreer deur “A new beginning” van Rethabile Sindi – die enigste Engelse gedig en een van die sterkste verse van die vyftien wat gekeur is vir beoordeling. Tyd verteenwoordig in “A new beginning” ná die aflê van die ek-spreker se xenofobie in reël 1 van die eerste strofe agtereenvolgens in versreël 2, 3, 5 en 6 – wat elk met die woord “Time” begin – elke aspek van die ek-spreker se gewonne wesenlike identiteit as gevolg van dié aflegging. Haar losmaak van vreemdelingehaat was die vrywording van haar identifikasie deur ander mense en die ontdekking van haar ware identiteit. Die driereëlige slotstrofe is ’n bevestiging op metaforiese wyse van haar ware identiteit; van wie sy altyd was en weet dat sy is.
Op die gedig “Toe ons nog kinders was” na val dit op dat die digters nie van rym gebruik maak nie. ’n Pluspunt van die meerderheid van die verse is dat met die skryf van die vrye vers die digters ’n interne spanning in die gedig behou wat van die gedig ’n geïntegreerde geheel maak. In enkele gevalle ontbreek die interne spanning weliswaar. Die verband tussen die drie strofes van Mariana Loots se “lotsrivier” is lukraak en word nie ’n geïntegreerde, verstaanbare geheel nie. Ook in Gisela Ullyatt se “Sy kweek rose” word die motiewe nie tot ’n sinvolle geheel geïntegreer nie.
- Direkte uitdrukking van emosie
’n Digter se ek-spreker kan die digter self word as hy in die alledaagse spreektaal as ’t ware die gedig binnetree en ipv om die emosie te wek dit direk uitspreek en die leser koud laat. Dit gebeur as André Rossouw in sy herinnering aan sy verlore kindertyd die versugting slaak: “Ai en die biltong in die kas …”
Jadrick Pedro-Koopman noem sy ouma by die naam as die een wat daarvoor verantwoordelik was dat hy “netjies/ gelap/ en toegestop” was toe sy nog “sonder ’n bril/ kon sien”. Die tweede strofe brei sinvol daarop uit:
Doekies, dekens en doilies
o ja en ’n lappieskombers
was alles gemaak
in die lig van ’n kers.
Met die “o ja” tree die anonieme spreker die gedig binne as digter met twee totaal onnodige woorde wat die beeldende krag van dié treffende strofe verswak. Ek as leser is teleurgestel in my verwagting van ’n sterk beeldende gedig deur die direkte emosionele belydenis in die slotstrofe in alledaagse spreektaal wat binne verband van die gedig banaal aandoen:
Nou, jare later
kook ons nie
meer water
in ’n ou paraffienblik
maar kry steeds
dêm swaar
want die Here
het ouma se
draad kom knip.
Die skokwoord kan ’n plek hê in die gedig, maar moet nie die idioom van die gedig so versteur dat dit slegs doodgewoon platvloers word nie.
Johan Kotze se “Plekkie in die son” se trefkrag lê in sy ontginning van Prediker 3:1–11, “Elke ding het sy tyd soos God dit bepaal”, waarvan die eerste vers lui: “Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ’n tyd.” Die digter ontgin in die besonder Prediker 3:5: “’n tyd om klippe weg te gooi en ’n tyd om klippe bymekaar te maak …” Hy is die enigste digter wat uit ’n alombekende bron in die Christelike wêreld put en deur dié literêre verwysing aan sy gedig ’n universele betekenis gee.
Die drie gekose wenners
“Almanak” deur Eunice BassonAlmanak Agter ’n kamerdeur |
“Plekkie in die son” deur Johan KotzePlekkie innie son Daar is tyd om klippe op te tel Daar is tyd om klippe neer te gooi |
“A new beginning” deur Rethabile SindiA new beginning Time to stop xenophobia. In a world like this there is no time to waste on pride |
Lees ook
Kommentaar
'n Digter hoef nie alles uit te spel nie, mens noem dit beelde. Myns insiens is Gisela Ullyatt se gedig goed geskryf en hoort onder die top drie. Ek dink 'n kompetisie soos hierdie behoort meer as een beoordeelaar te hê vir 'n wyer perspektief.
Tyd is darem meer as "onthou vir Ouma" of "daar is 'n tyd om te baklei".
Dit is 'n dimensie waarin die hele bestaan van die mensdom opgesluit is:
"Life can only be understood backwards; but it must be lived forwards."
― Søren Kierkegaard.