Twee halwes maak ’n hele: ’n onderhoud met Marita van der Vyver

  • 0

Boekomslag: Jonathan Ball; foto van Marita van der Vyver: Naomi Bruwer

Marita van der Vyver is pas aangewys as wenner van Jonathan Ball se Tafelberg Jeugboekprys van 2026. Yolanda du Toit gesels het haar hieroor. Marita gee ook raad aan voornemende skrywers van jeugboeke.

Jy is pas aangewys as die wenner van Jonathan Ball Uitgewers se Tafelberg Jeugboekprys vir 2026 vir Twee halwes maak ’n hele in die kategorie fiksie vir tieners of jong volwassenes ouer as 13 jaar. Jy het in 1982 die toneel betree, ook met ’n jeugverhaal, Van jou jas, waarvoor jy ’n prys ontvang het in die Tafelberg- en Sarie-kompetisie. Jy het oor jou roemryke loopbaan verskeie gewilde werke vir jong volwassenes geskryf, en vele toekennings en pryse ontvang. Hoe voel dit om dié prys te wen?

Sjoe, dit voel asof die lewe my weer eens ’n ironiese streep getrek het. Ek het daardie eerste jeugroman in my vroeë twintigs geskryf omdat ek bevrees was dat ek nog nie oud genoeg is om ’n “grootmensverhaal” aan te durf nie. Toe wen ek die kompetisie en die boek word gepubliseer en in die volgende 40 jaar skryf ek in ’n klomp ander genres – maar toe begin ek bevrees raak dat ek nou te oud geword het om weer ’n jeugboek aan te durf. My vorige twee jeugboeke is tien jaar gelede gepubliseer, en albei het pryse gewen – Swemlesse vir ’n meermin is deur die Akademie met die Scheepersprys vir Jeugliteratuur bekroon en Al wat ek weet het die kykNET-Rapport-prys in die rolprentkategorie gewen – wat nogal “a hard act to follow” was. Ek kon mos nie nou sommer net ’n middelmatige boekie publiseer nie.

Dis waarom ek die manuskrip van hierdie nuwe jeugroman ingeskryf het vir ’n kompetisie wat anoniem beoordeel word, met die hoop dat ek darem die eerste tien sal haal, eintlik net om te kyk of ek dit nog kan doen. Om as wenner aangewys te word is dus ’n besondere vreugde. Ek het finaal besef dit gaan nie oor hoe oud jy van buite is nie, dit gaan oor hoe jonk jy van binne bly. En diep in my hart is ek steeds ’n opstandige sestienjarige eenkantkind.

Vertel ons meer van die boek en storielyn?

Die storie speel af op ’n Griekse eiland, wat ’n sorgvrye vakansieatmosfeer verskaf, maar die rede waarom die hoofkarakter op hierdie eiland beland, en die familiegeheime wat sy daar ontrafel, is allesbehalwe sorgvry.

Lira word deur haar ma weggestuur van “die skaamte en skande” wat haar gesin in die noordelike voorstede van Kaapstad getref het, na die huis van ’n veel ouer halfsuster, Cass. Lira ken glad nie vir Cass nie, omdat Cass en haar ma vervreemd geraak het toe Lira nog ’n baba was. Nou woon Cass saam met haar Griekse pa op die eiland Lesbos, en die twee halfsusters, wat hemelsbreed verskil, moet ’n manier vind om mekaar te leer ken – en om hulle ma te vergewe vir wat sy aan hulle gedoen het.

Wat het jou geïnspireer om dit te skryf?

Ek het die afgelope dekade heelwat tyd op ’n Griekse eiland deurgebring en wou iets skryf wat daar afspeel. En toe kom klop hierdie storie oor gesinsgeheime aan my deur, oor die skandes waarin ouers hulle kinders kan dompel, en ek wonder, waarom skryf ek nie ’n jeugroman wat op ’n Griekse eiland afspeel nie? Die bonus is dat ek ’n bietjie Griekse mitologie kon inborduur, soos ek reeds in ’n paar vorige boeke in verskillende genres gedoen het, maar dié keer met ’n baie goeie verskoning.

Jy is lief om feite en fiksie te verweef. Hoeveel feite is in hierdie storie?

Dit speel af in ’n omgewing wat ek goed genoeg ken – dis ’n feit; en ek het deeglik navorsing gedoen oor die ontstellende onderliggende temas van pedofilie en kinderpornografie. Maar die res is alles verbeelding.

Die ma en haar twee dogters is sentraal in die storie. Hoeveel het jy van jou eie verhouding met jou ma en met jou dogter in hul storie ingesluit?

Die ma is heeltemal anders as wat my ma was of as wat ek self as ma is, daarom moes ek hoofsaaklik op verbeelding en mensekennis staatmaak. Van die ingewikkelde verhoudings tussen halfsibbe of stiefsibbe het ek wel tweedehandse ervaring opgedoen in my eie Frans-Afrikaanse laslapgesin.

Is dit vir jou makliker om self ’n plek/land te besoek voordat jy daaroor skryf, of was navorsing voldoende in Twee halwes maak ’n hele? Jy is ’n wêreldreisiger, en baie van jou boeke handel oor ander lande. Het jou skryfaanslag verander vanweë jou reise?

Ek kan nie ’n storie neerplak op ’n plek waar ek nog nooit was nie. Ek moet weet hoe dit daar ruik en klink en voel – die soort inligting wat jy nie op Google Maps kan kry nie. En vir my is een van die grootste voordele van reis nog altyd dat dit my verbeelding op loop jaag en my ontvanklik maak vir storie-idees. Daai ding van letterlik uit jou gemaksone beweeg ... dis presies wat ek nodig het om ook as skrywer uit my gemaksone te beweeg, om myself uit te daag en nuwe dinge in my skryfwerk aan te durf. 

........
Daai ding van letterlik uit jou gemaksone beweeg ... dis presies wat ek nodig het om ook as skrywer uit my gemaksone te beweeg, om myself uit te daag en nuwe dinge in my skryfwerk aan te durf. 
.........

Verskeie van jou boeke sluit ’n romantiese aspek in. Watter aspek/genre vind jy moeiliker om oor te skryf of te verwoord? Sal jy ’n genre wat ’n uitdaging is eendag aanpak?

Ja, hierdie een het ook die moontlikheid van ’n vakansieromanse – hoe dan nou anders as die storie op ’n eiland afspeel? Ek roem my nogal daarop dat ek ’n veelsydige skrywer is, vir alle ouderdomme en in verskeie genres, van essays en kortverhale tot radiodramas en romans, maar daar is genres wat ek waarskynlik nooit sal aandurf nie, bloot omdat ek nie genoeg daarin belangstel nie, soos wetenskapfiksie. Ek lees wel spekulatiewe fiksie as dit ’n uitstekende skrywer se werk is, soos Margaret Atwood se The handmaid’s tale of George Orwell se 1984, maar meestal hou ek nie van distopiese toekomsverhale nie. Waarom sal ek myself die skrik op die lyf jaag met moontlike toekomsnagmerries as die hede vir my al hoe meer distopies en skrikwekkend voel?

Watter uitdagings het jy ervaar in Twee halwes maak ’n hele?

........
’n Jeugverhaal bied baie spesifieke uitdagings, veral as jy sensitiewe onderwerpe aanpak.  Jy moet versigtig trap, sonder om ’n bangbroek te wees en jouself onnodig te sensureer, en jy moet nóóit óóit die intelligensie van jou jong leser onderskat nie.
........

’n Jeugverhaal bied baie spesifieke uitdagings, veral as jy sensitiewe onderwerpe aanpak.  Jy moet versigtig trap, sonder om ’n bangbroek te wees en jouself onnodig te sensureer, en jy moet nóóit óóit die intelligensie van jou jong leser onderskat nie. Prekerigheid is ’n doodsonde in my oë, soos sentimentaliteit en skynheiligheid.

Watter advies het jy vir voornemende jeugboekskrywers?

Channel die tiener in jouself; kyk en luister na tieners om jou; lees tienerverhale, nie net plaaslikes nie maar ook internasionales vir ’n breër verwysingswêreld. En dan gaan sit jy en skryf jou storie, oor en oor, tot dit so goed is soos jy dit kan kry. Want jou jong leser verdien jou respek en jou allerbeste skryfwerk.

Lees ook:

Persverklaring: Wenners van Jonathan Ball Uitgewers se Tafelberg Jeugboekpryse vir 2026

My jaar van vrees en vryheid: ’n onderhoud met Marita van der Vyver

Bleeksiele kan brul deur Brigette Labuschagne: ’n onderhoud

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top