
Jonathan Ball Uitgewers het die name van die wenners uit altesaam 103 inskrywings in die twee kategorieë van sy Tafelberg Jeugboekpryse vir 2026 bekendgemaak.
In die kategorie vir fiksie vir tieners of jong volwassenes ouer as 13 jaar is die wenner Marita van der Vyver vir Twee halwes maak ’n hele.
Die wenner in die kategorie vir kinderboeke vir 8 tot 12-jariges is Brigette Labuschagne vir Bleeksiele kan brul.
Die wenners ontvang elk prysgeld van R50 000.
Beoordeling het anoniem plaasgevind, dus kon gevestigde en debuutskrywers op gelyke vlak meeding.
Twee halwes maak ’n hele (Marita van der Vyver) is ’n heerlike storie wat op die Griekse eiland Lesbos afspeel. Twee susters en hulle ma se verhouding staan sentraal in die verhaal. Daar is ook ’n skeut romanse. Lesers kan hulle regmaak om op reis saam met Lira baie meer as baklava en die Egeïse See te ontdek.
Brigette Labuschagne se Bleeksiele kan brul is ’n spannende avontuurverhaal waarin ’n groep laerskoolleerders in die Tsitsikammabos kamp. Tydens ’n staptog dwaal ’n groepie af en wanneer ’n storm losbreek, soek hulle skuiling in ’n grot, waar allerhande gevare skuil. Hulle moet groot dapperheid aan die dag lê en saamstaan om te oorleef.
Die beoordelaarspanele – Dewald Koen, Bibi Slippers en Junaid Anthony vir tienerboeke en Bianca Flanders, Anke Theron en Henriëtte Linde-Loubser vir kinderboeke – was vol lof vir vanjaar se inskrywings.

"Vanjaar se inskrywings was ’n opwindende mengelmoes van verhale waarin die sosiale zeitgeist oftewel die tydsgees in allerlei gedaantes weerspieël word. Die uiteenlopende temas en skryfstyle wat in die manuskripte verskyn, dui op die aangrypende talent onder skrywers van Afrikaanse jeugfiksie," het Dewald Koen namens die tienerpaneel gesê. "Die paneel was dit eens dat die wenmanuskrip ’n vernuftige skryfstyl en boeiende narratief bevat. Daar is ook ’n aantal manuskripte wat met verdere ontwikkeling as genotvolle jeugverhale op boekrakke gaan beland. Dit is verblydend dat ’n kompetisie van dié aard aan skrywers, hetsy debutante of meer gevestigde skrywers, die geleentheid bied om hul stories met die wêreld te deel."
Henriëtte Linde-Loubser beskryf Bleeksiele kan brul namens die beoordelaarspaneel as "’n pragtige verhaal met ’n slim balans tussen beskrywing, dialoog en vertelling. Die asemrowende natuurbeskrywing is veral opvallend."
Die kinderboekpaneel was opgewonde oor die relevante temas en kreatiwiteit in die inskrywings vanjaar. Manuskripte waarin temas soos deernis met mekaar, randfigure, afwesige ouers en sosio-ekonomiese kwessies verpak is in gemaklike, toeganklike skryfstyl gepas vir die teikengroepleser het vir hulle uitgestaan.
Marita van der Vyver se wenboek word voor die einde van 2026 gepubliseer en dié van Brigette Labuschagne vroeg in 2027. Die boeke word deur Jonathan Ball Uitgewers se drukname Tafelberg en Human & Rousseau uitgegee.

