
Foto van Brigette Labuschagne: verskaf
Jonathan Ball Uitgewers het onlangs die name van die wenners uit altesaam 103 inskrywings in die twee kategorieë van sy Tafelberg Jeugboekpryse vir 2026 bekendgemaak.
Die wenner in die kategorie vir kinderboeke vir 8- tot 12-jariges is Brigette Labuschagne vir Bleeksiele kan brul.
Bleeksiele kan brul is die werkstitel van die boek en dit kan nog verander.
Yolanda Wessels het vir Brigitte oor haar en oor die boek uitgevra.
Wie is Brigette? Waar is jy gebore? Sibbe, ouers, eggenoot?
Ek is self nie aldag seker wie Brigette is nie. Ek is gebore in Polokwane (destyds Pietersburg), en het grootgeword in Alberton. Ma Riana is ’n Afrikaans-onderwyseres en pa Deon is ’n skoolhoof. Soos die meeste oudste kinders was ek soos ’n pannekoek – die eerste een is altyd ’n bietjie vreemd, so ek dink almal se geld was maar op die tweeling. Hulle is sewe jaar jonger as ek, en al moes die aandag skielik in drie verdeel word, het my ouers dit reggekry om ons nie net groot te maak sonder kriminele rekords nie.
Indien jy kinders het, wat dink hulle van Bleeksiele kan brul?
Ek het een man en twee honde. Ons is al twee groot diereliefhebbers en daar word selfs vir ons rescue-hondekinders gekook. Toe my peetkind, Sebastian, so twee jaar gelede gebore is, het my perspektief op baie dinge verander. Wanneer ’n storie-idee my nou beetpak, wonder ek altyd: Sal Basjan hiervan hou? Wat sal hy graag wil lees? Dit is hoekom kinderboeke my so na aan die hart lê. ’n Kind wat hou van lees, word ’n grootmens wat hou van lees.
Wat wou jy op skool word en waar en wat het jy studeer?
Op skool wou ek al skryf. Maar om as ’n tipe 1-diabeet met ’n insulienpompie te leef, is ’n duur stokperdjie. En net die beste skrywers kan ’n lewe daarvan maak. Ná skool het ek my opleiding by Pharmacy Healthcare Academy voltooi en vandag werk ek voltyds in die apteekbedryf. Maar my hart klop nog in stories.
Hoe balanseer jy skryf en voltyds werk, en ’n gesin?
As dit nie vir my man was nie, was dit nie moontlik vir my om voltyds te werk én te skryf nie. Ten spyte daarvan dat hy rou Engels is, sorg hy dat daar kos in die huis is, maak tuin, kook, hou die huis min of meer leefbaar, vat die honde veearts toe en kyk dat daar altyd petrol in my kar is. Iemand sorg ook dat die rekeninge op tyd betaal word; ek vermoed dis ook hy. En dan bestuur hy nog sy eie besigheid ook. Nie sleg vir ’n Engelsman nie.
Jou debuutboek, Vyf ses skerp mes, het in 2007 die lig gesien. Jy was ’n finalis in Human & Rousseau se kompetisie “Ek is ’n skrywer”. Wat het jou geïnspireer of oorreed om daaraan deel te neem?
My ouma het my oorreed om vir daardie kompetisie in te skryf. Ek is ’n skrywer. Toe Vyf ses, skerp mes in 2007 gepubliseer is, het ek besef jy kan nie net op stories staatmaak nie. Buiten harde werk het jy uitgewers en manuskripontwikkelaars nodig met talent, insig en baie geduld. In my twintigs het ek nie veel daarvan gehad nie, en eers in my dertigs behoorlik mens geword.
Jy is pas aangewys as die wenner van Jonathan Ball Uitgewers se Tafelberg Jeugboekprys vir 2026 vir Bleeksiele kan brul in die kategorie kinderboeke vir 8–12-jariges. Vertel ons meer van die boek. Waar het jy aan die idee gekom en waaroor handel dit?
Een van my kollegas hou van staptogte in en rondom die Kaap. Baie daarvan het vir my gevaarlik gelyk: grotte en spelonke en berge en watervalle. En ek wonder toe: Sê nou ’n klomp laerskoolkinders verdwaal hier? Dit sal mos ’n heerlike avontuur wees. Maar dinge kan ook ’n donker wending neem. Is dit veilig om in grotte weg te kruip? Wat kruip saam met hulle daar weg? En dit sal mos nie ’n lekker storie wees sonder ’n boelie en ’n bietjie verliefdheid nie. Só is Bleeksiele kan brul gebore. Maar die wen is nie oornag nie. Dit het 20 jaar gevat om hier te kom.
Wat inspireer jou – wat inspireer jou skrywes?
Dis moeilik om te sê wat skrywers inspireer, maar ek glo nie jy moet net skryf wanneer jy inspirasie voel nie. Jy moet sit. En skryf.
........
Dis moeilik om te sê wat skrywers inspireer, maar ek glo nie jy moet net skryf wanneer jy inspirasie voel nie. Jy moet sit. En skryf.
........
Wie is jou rolmodel en gunstelingskrywer(s)? Wat is jou gunstelinggenre?
Ek kan nie verby ’n lekker krimi stap nie. Veral nie ’n Deon Meyer nie. Snaaks dat ek dan kinderboeke skryf, nè? Maar ek het nog nooit regtig soos ’n grootmens gevoel nie. (Dis seker hoekom jy jou eie huishouding moet bestuur – sodat jy ’n grootmens kan word.) Dis lekker om vir kinders te skryf. Hulle is die beste tipe mense. Nog sonder al die bagasie wat gaan kom. Hier het jy nog ’n kans om iets te verander.
Het jy ’n roetine as dit by skryf kom, veral omdat jy voltyds werk?
As ek ’n lekker storie-idee het, werk ek eers my storiegeraamte uit. Wie is my karakters, wat is die storieprobleem, die klimaks en die ontknoping? Dan werk ek hoofstukke uit, waar wat moet gebeur vir die volgende storielyn om te kan werk. En as ek dan wegval, skryf ek dat die spoeg spat. Sonder om te dink aan leestekens en sinskonstruksie – die storie moet eers uit. Daarna gaan ek met ’n kritiese brein daardeur en kyk na die tegniese aspekte.
Het jy al ’n volgende boek/projek in die oog?
My volgende projek, Vreesvanger, behoort Junie op die rakke te wees. Hieroor is ek kinderlik opgewonde. Henri dink dit spook in Skilliepark. Ligte flikker, suurlemoene beland in die swembad en vreemde geluide hou hom snags wakker. Maar wanneer sy eienaardige buurman, oom Charl, en die snipperige Amelia hom die waarheid vertel, ontdek Henri iets veel ergers as spoke. Dit is Vrese – werklike vrese wat uit mense se gedagtes ontsnap en moles maak in die regte wêreld. Boonop is Henri blykbaar een van die min mense wat Vrese kan sien, en kan help om hulle te vang.
Beskryf jouself in een woord?
In een woord? Snaaks (en nie altyd op die goeie manier nie).
Avontuurlik of huishen?
Huishen.
Gunstelinggereg?
Ouma se roomhoender.
Gunstelingdrankie?
Koffie/ Coke Zero.
Gunsteling troeteldier?
My man.
Gunstelingvakansieplek?
Dwarskersbos.
Gunstelingfliek?
The Shawshank redemption
Gunstelingboek?
Fees van die ongenooides deur PG du Plessis, en in Engels The book thief deur Markus Zusak.
Gunstelingstokperdjie?
Lees.
Lees ook:
Persverklaring: Wenners van Jonathan Ball Uitgewers se Tafelberg Jeugboekpryse vir 2026
Twee halwes maak ’n hele: ’n onderhoud met Marita van der Vyver

