
Tuiskoms is ’n TV-reeks wat op Netflix te sien is. (Skermgreep: YouTube)
Louis Pretorius praat met Naomi Meyer oor Tuiskoms, sy TV-reeks waarvoor hy die draaiboek geskryf het wat nou op Netflix te sien is.
Hallo, Louis. Ek wil vandag met jou praat oor ’n Afrikaanse TV-reeks wat op Netflix gestroom kan word. Dis slegs die tweede Afrikaanse reeks wat op Netflix gekyk kan word. Baie geluk daarmee dat jy die draaiboek hiervoor geskryf het. Hoe het dit gekom dat jou reeks hierdie bekende stromingskanaal gehaal het – en boonop jou Afrikaanse reeks?
Tuiskoms se pad deur die heelal is eintlik baie lank. Jy sal my nie glo nie, maar ek het die storie in 2020 begin bedink. Ek het dit aan verskeie uitsaaiers voorgelê, maar dit het nooit vastrapplek gekry nie. Hier om en by middel-2022, toe Ludik op Netflix uitgekom het, het ek dit weer vir Netflix gestuur. Dit is so ongeveer in Julie/Augustus 2022 aanvaar. Netflix het vir ons ’n ontwikkelingskontrak gegee en ons het dit in 2023 geskryf saam met Netflix se ontwikkelingspan. Dit was ’n lang proses gewees! Dit het begin met die feit dat Netflix begin belangstel het in Afrikaans as ’n mark en ’n storietaal.
........
Jy word oornag ’n internetsensasie deur iets absurds wat gebeur het. Jy sal sien hoe ek dit transformeer in Fleur, die hoofkarakter, se lewe.
........
Tuiskoms is die naam hiervan. Waar het die idee hiervoor ontstaan? Of ontstaan die idee nie net nie, gaan soek jy daarvoor? Vertel asseblief van ’n paar dinge wat jou inspireer het om juis hierdie reeks, wat in Wildernis afspeel, te skryf.
Die oorspronklike idee het eintlik baie fasette gehad. Ek weet nie of dit “My fok, Marlize”, of “Hugo, bel die polisie”, of daardie vrou wat ’n verkeerde WhatsApp op die hokkiegroepie gestuur het, of daardie soort goed wat in Suid-Afrika gebeur ... wat dit hiermee te doen het nie. Dit het beslis aanleiding gegee tot my gedagtes hieromtrent ... Jy word oornag ’n internetsensasie deur iets absurds wat gebeur het. Jy sal sien hoe ek dit transformeer in Fleur, die hoofkarakter, se lewe. Die ander element is ek wou ’n romance skryf en ek het al baie in Wildernis gaan vakansie hou en gedink dis waar ek die storie wou plaas. Ek wou ook met blomme werk. Aanvanklik was die storie se naam Wilder hearts, en dit het gesinspeel op die wilde dinge wat mens se hart rondslinger. Ek het Wildernis toe gegaan en agtergekom daar is baie proteaplase in die omgewing. Die ander wonderlike dinge is dat daar in Wildernis ’n onstuimige en wilde see is en die woude. So baie dinge wat ’n metafoor raak vir al die fasette van mense se liefde.
Sonder om alles weg te gee, vertel asseblief vir ons lesers waaroor die storie handel.
Die reeks handel oor ’n weduwee, Fleur, wat haar man verloor. Sy is ’n restauranteienaar, maar verloor dit ook nog – en sy en haar sewentienjarige dogter gaan bly by haar ouers in Wildernis. Haar ouers staan op skei, besef sy toe sy daar aankom. Fleur begin in ’n blommewinkel werk. Die storie is uiteindelik die verhaal van drie vroue: die ouma (Michelle Botes), Fleur, die ma (Amalia Uys) en die sewentienjarige dogter (Jane de Wet). Rou is toevallig die tema van ’n romantiese komedie. Dis lig en donker; die proses om oor te begin, jou plek in die lewe van voor af te vind.
’n Skrywer skryf ’n storie en laat dit vry. Jy het geen idee watter prente die lesers in hul koppe sien as hulle dit lees nie. Dis ’n ander storie (!) as mens ’n TV-reeks maak. Nou is daar ’n regisseur en daar is akteurs en aktrises wat jou draaiboek interpreteer en hul eie maak. Nina Swart is die regisseur en die akteurs is onder andere Amalia Uys, (wyle) Michelle Botes en Armand Aucamp. Hoe het jy dit ervaar - die hele proses? Van skryf tot by die eindproduk wat mens sien?
In terme van die proses van verfilming: Ek is al 18 jaar lank in die bedryf. Ek het begin by sepies. Jy is soms net ’n rat in die masjien. Jy skryf die teks en jy aanvaar ander mense maak met jou karakters wat hulle wil. Ek het nou al aanvaar die teks is die beginpunt en nie die eindpunt nie. ’n Roman is ’n eindpunt. ’n Teks vir TV is ’n beginpunt en baie ander mense werk ook daarmee. Ek is in die bevoorregte posisie dat ek ook self vervaardig en dat ek soms kreatiewe beheer het oor hoe die teks uiteindelik op die skerm beland. Dit maak dit in my geval anders. As ek dit geskryf het, is dit pre-produksie, dan is dit produksie, post-produksie en dan uitsending. Ek loop die pad vyf keer saam met die teks.
........
Mens kan verskillende wêrelde van Afrikaans op ’n platform soos Netflix maak. Mens wys dit vir Afrikaanse mense, maar vir die hele wêreld. Mens kan wys Afrikaans is ’n vry taal. Mense kan in Afrikaans vry wees, lief wees, rou en alles beleef soos mense orals oor die wêreld.
........
Wat bied ’n Afrikaanse reeks op ’n stromingskanaal soos Netflix vir mense, iets wat anders is as net woorde of taal? Waarom is dit nie net lekker om ’n Afrikaanse reeks op Netflix te kan sien nie, maar wat maak dit ekstra besonders?
Die groot ding met TV is dis meer ’n besigheid as enige ander vorm van vermaak. Teater en film het meer van ’n artistieke vryheid, of ’n sekere visie wat mens daar kan stel. TV skryf mens vir ’n mark. En enige mark en enige uitsaaier het sy behoeftes. So byvoorbeeld het mens ’n sekere gehoor wat kykNET kyk, andere wat Showmax kyk en ’n ander gehoor vir Netflix. Wat lekker is om in Afrikaans vir Netflix te maak, is omdat mens vir ’n wyer mark kan skryf. Mens kan verskillende wêrelde van Afrikaans op ’n platform soos Netflix maak. Mens wys dit vir Afrikaanse mense, maar vir die hele wêreld. Mens kan wys Afrikaans is ’n vry taal. Mense kan in Afrikaans vry wees, lief wees, rou en alles beleef soos mense orals oor die wêreld. Willem Anker sê taal is net ’n instrument. Ek stem saam, maar ek dink ook dit hang af binne watter kultuurgroep van Afrikaans mens grootword en ek dink dit bring ’n sekere wêreldsiening. Ons is ’n taalgroep wat lag, en ek dink dis wat ek wil vasvang. Ons is ’n nasie met baie verskillende tale, en ons kan vir alles lag, al gaan dit hoe moeilik. Ek dink dis oplaas belangrik om iets te kan sê wat met die hele wêreld resoneer.
Waar kan mense na Tuiskoms kyk en hoe lank is dit beskikbaar?
Dit is nou beskikbaar op Netflix en sal so lank as wat Netflix bestaan, beskikbaar wees. Daar is Netflix-pakkette beskikbaar vanaf R99 per maand – en as jy daarop inteken, is daar ook ’n legio ander produksies waarin jy jou kan verlustig.
Lees ook:
Fyn skryf aan regsreeks – ’n onderhoud met Louis Pretorius en Albert Snyman


Kommentaar
Ons het die reeks baie geniet, ten spyte van die steurende en soms byna deurlopende agtergrondmusiek - so byna asof Suid-Afrikaanse vervaardigers bang is vir stilte, een van die kragtigste meganismes op die sliwerdoek; 'n mens kan baie by die Swede (en ander Nordiërs) hieromtrent leer. En dan aan die ander kant weer dialoogtonele waar die dialoog om geen funksionele rede nie uitgedoof word - nog 'n Suid-Afrikaanse hebbelikheid. Gelukkig het die goeie spel van die span gesoute akteurs die kyk die moeite werd gemaak.