
Foto van TT Cloete verskyn met toestemming uit Rensia Robinson se argief.
TT Cloete-gedenklesing
16 Oktober 2025
Die titel van hierdie lesing ontleen ek aan ’n opmerking wat TT Cloete maak in Die ander een is ek (2013), ’n boek wat ek besonder waardeer, omdat dit digters en hulle eksentrieke gewoontes so normaal laat lyk. In ’n gedeelte getiteld “Die behoefte aan die digterlike” merk hy op dat literatuurkundiges graag “hokkies, hoekies, allerlei brille en paradigmas uitvind en gratis uitdeel” (2013:217). Hulle verkies, in sy woorde, “allerhande -ismes in plaas van met kinderlik onbevooroordeelde ronde groot oop oë na die werklikheid te kyk”.
Ek gebruik hierdie titel as uitgangspunt vir ’n oorsig oor die verskillende perspektiewe op Cloete se poësie deur die jare; watter aspekte uitgelig is en dan ten slotte ook hoekom niemand eintlik meer oor Cloete se werk skryf in 2025 nie. Wat het geword van die “markante Cloete-industrie, veral in die noorde van die land” waarna Helize van Vuuren (1999:290) in haar profiel verwys? Ek gaan veral fokus op die opstelbundel, naamlik In teen die groot vergeet (1984) en die spesiale uitgawe van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe getiteld Met die digter praat (2015), maar sal dit aanvul met ander tekste, waar nodig. Ek onderneem hierdie taak met die volgende opmerking van Van Coller (2016:2) in gedagte:
TT Cloete is ietwat van ’n literêre verkleurmannetjie in die sin dat hy soos feitlik geen ander persoon in die Afrikaanse letterkunde op bykans alle terreine van die literêre sisteem ’n rol gespeel het nie.
Hy noem voorts dat Cloete homself onderskei het in al drie hoofgenres, maar ook essays en rubrieke geskryf het, asook opgetree het as bloemleser, literêre vertaler, literêre resensent, literatuurkritikus, literatuurwetenskaplike, literêre geskiedskrywer en terminoloog.
........
In breë trekke beskou, is die aspekte van Cloete se oeuvre waaroor geskryf is, sy kunsteorie (veral sy vernuf met klank en rym) en sy besonderse idiolek; sy intertekstuele ingesteldheid en gesprekke met ’n wye verskeidenheid van tekste – wat kenmerkend is van sy heilige nuuskierigheid.
........
In breë trekke beskou, is die aspekte van Cloete se oeuvre waaroor geskryf is, sy kunsteorie (veral sy vernuf met klank en rym) en sy besonderse idiolek; sy intertekstuele ingesteldheid en gesprekke met ’n wye verskeidenheid van tekste – wat kenmerkend is van sy heilige nuuskierigheid. Voorts is gefokus op sy eiesoortige simbolisme, sy mistisisme, sy enigmatiese mens-God-verhouding en sy uitbeelding van die “Ewig-Weibliche”. Sy gedig oor Marilyn Monroe het nie net aanleiding gegee tot ’n dekonstruksie van die kleur blou of die vers self nie, maar tot ’n nuwe belangstelling in dié filmster in die tekste van verskeie digters. Van die vernaamste kritiese bydraes oor Cloete se werk spruit ook voort uit nagraadse studie onder sy leiding bv in die geval van Ina Gräbe, Ena Jooste, Rensia Robinson of Marlies Taljard.
Ek gaan vervolgens die hokkies, hoekies, brille en paradigmas uitlig en toelig wanneer ek op dié aspekte gaan uitbrei en aandui wie Cloete se vernaamste lesers is en wat hulle oor sy werk te sê het.
- Klank
Cloete is onder meer bekend vir sy blokboek, Hoe om ’n gedig te ontleed, wat in 1982 verskyn het, asook sy bydraes in Gids by die literatuurstudie (1985) waarvan hy een van die redakteurs was. Naas sy ontleding van Wilma Stockenström se gedig “Die eland”, skryf hy oor die bou van gedigte, asook figure en gestaltes wat in gedigte voorkom. In sy bespreking van die samehang tussen elemente in ’n gedig verwys hy na die belangrikheid van klank in die gedig (Cloete 1985:140), die ritme en die rym en merk soos volg op in sy bespreking van “Die eland”:
Die klank in die gedig is nooit daar om net te “klink” nie. Dit is een van die sterkste kommunikatiewe middele in die poësie, wat saampraat in die geheel. (186)
Bewuswees van hierdie kenmerke van die gedig beïnvloed beslis Cloete se eie poësie, soos onder meer aangedui word deur Ina Gräbe en Réna Pretorius in hulle lesings van klankaspekte in sy werk. Gräbe het ook haar gepubliseerde proefskrif, Aspekte van poëtiese taalgebruik, onder Cloete se leiding voltooi. Pretorius praat selfs van “klankdenke” by Cloete (1984:79) en sê dat sy funksionele gebruik van rym en sintaksis vir ons die “uiters suggestiewe klank-ritmiese rykdom van die Afrikaanse taal” (1984:80) demonstreer. Volgens Joan Hambidge, een van die samestellers van die versamelbundel Die baie ryk ure (2001), bewonder digters juis vir Cloete “vir sy tegniese beheer en klankontginning” (2013).
In aansluiting by haar bekende studie oor poëtiese taalgebruik fokus Ina Gräbe veral op die “uitbuiting van latente klankmatige aspekte in standaardtaalgebruik” (1984:25) by Cloete. Dit is ook veral sy gebruik van “volrym” en “onomatopeïese ryme” (27) en sy “bewuste eksploitasie van klankeffekte” wat bydra tot die funksionaliteit van die gedig. Op haar beurt konsentreer Réna Pretorius op wat sy as “klankdenke” beskryf (79). Cloete se funksionele gebruik van rym en sintaksis demonstreer die soepelheid van die Afrikaanse taal.
Tom Gouws (1995:31) sluit aan by die titel van Cloete se tweede digbundel Jukstaposisie (1982) as hy die klankaspek van Cloete se gedigte ondersoek. Volgens Gouws word klanke in taal gejukstaponeer en dit is die digter se prerogatief om “komposisionele wetmatighede” te skep of te negeer. Jooste (1995:109 ) is van mening dat daar reeds vanaf Cloete se debuut ’n voorkeur is vir sekere klanke en klankherhaling om ’n bepaalde bundeltonaliteit te verseker.
- Diere
CJM Nienaber (1984:64) is van mening dat diere in die letterkunde ’n belangrike rol speel by Cloete, soos blyk uit die versamelbundel Faune (1966). Van Coller (2016:5) is van mening dat Cloete met hierdie bloemlesing “die voorloper is van ekokritiek”. In 1992 verskyn Cloete se bundel Met die aarde praat wat met die Rapportprys (1992), die Rapportryersprys vir poësie (1993) en die Hertzogprys (1993) bekroon is. Die titel sluit volgens F Burger (174) wat ’n omvattende verhandeling oor dié bundel geskryf het, aan by Job 12:7–8:
Miskien moet jy die diere vra om jou te leer, die voëls daarbo om jou te vertel, of praat met die aarde dat dit jou leer en met die visse in die see dat hulle dit vir jou sê.
Myns insiens dra hierdie bundel veral vir eietydse lesers met hulle ingesteldheid op post-humanisme, dierestudies en ekokritiek by tot die ondersoek na die wisselwerking tussen mensdier versus niemensdier, asook die rol van intelligensie van die dier as gevoelvolle wese. Deurgaans word diere inderdaad soos Nienaber (1984:71) dit omskryf, deur Cloete met “toegespitste aandag” waargeneem en beskryf. In hierdie verband kan ook Heilna du Plooy se lesing van die gedig “columbae” uit die bundel Idiolek genoem word. Sy sluit afbeeldings in van die verskillende duiwe wat in dié gedig aan die bod kom en volgens haar dien die dier hier as beelddraer van een van Cloete se deurlopende filosofieë:
Dit lei tot die gevolgtrekking dat alle vorme in hulle geskapenheid gelyk is, hulle lyk en is wat hulle behoort te wees: hulle realiseer telkens ’n unieke doel. Hulle dra die stempel van hulle skepper en in hulle uiteenlopendheid en in hulle verskeidenheid is hulle kosbaar net soos alle lewe kosbaar is. (2009:618)
Cloete se beskrywing van die onderskeie duiwe neig na antropomorfisme, maar die beskrywings fokus eerder op die duif se vorm en houding. Een het byvoorbeeld “’n Dolly Parton-krop” en die ander lyk “onvanpas soos ’n non”.
Hier wil ek graag Cloete self aan die woord stel uit Die ander een is ek oor diere:
Ons wil graag diere wees. Ons kan ons in die dier transfigureer. Dit kom voor by die San en ander mense wat naby aan die natuur lewe. By die San kom dit nie net voor in hulle transe nie, maar ook in hulle rotstekeninge en -graveringe. (2013:236)
- Simbolisme en die “metaphysical poets”
Kernaspekte wat deur Schutte (1984:93) in sy ondersoek na Cloete se eerste twee bundels genoem word, is korrespondensies, Simbolisme en in aansluiting by laasgenoemde verwys hy ook na die Engelse “metaphysical poets” uit die 17de eeu. Die poëtika van korrespondensies of samehang is volgens hom gekoppel aan Baudelaire se sonnet “Correspondances”. Beide die Simboliste en die “metaphysical poets” se poësie berus volgens Schutte (1984:94) op “a system of underlying analogies”. Maar anders as die meer gevoelsgerigtheid van die Simboliste, is daar ’n groter intellektuele ingesteldheid by ’n digter soos John Donne. Die sogenaamde conceit of radikale metafoor is ’n stylgreep wat veral deur die “metaphysical poets” gebruik is.
Wat korrespondensies betref, som Hein Viljoen (1995:50) die stelsel van korrespondensies soos volg op: “alles herhaal mekaar, alles is verwant aan mekaar, maar op die lang duur word alles eenders, ’n weerkaatsing van steeds dieselfde dinge in mekaar, ’n verdubbeling daarvan”.
In 2015 bou Phil van Schalkwyk voort op Schutte en analiseer die verband tussen Cloete se poësie en dié van die metafisiese digters (sy benaming) en sonder hy ook die conceit-gedrewe inslag van die sewentiende eeu uit (137). Van Schalkwyk (144) meen dat sommige kenmerke van die Simbolisme nie inpas by Cloete se poësie nie, bv “die wêreldvreemdheid, die ontvlugting in die droom, die ivoortoringposisie, die eensaamheid en onvervulde verlange, die sekulêre skoonheidsaanbidding, die dekadensie, die neiging tot die anti-intellektuele, asook die newelagtige, vervagende aard daarvan”. Net soos by die Simbolisme is daar by Cloete ’n korrespondensie “in die skepping, in die menselewe en die kunste” (2015:145). Waar Cloete ten sterkste herinner aan John Donne is byvoorbeeld die enersyds liefdes- en erotiese gedigte en andersyds ’n sterk religieuse inslag. Van Schalkwyk (2015:150) merk die volgende op oor Donne se poësie:
Opvallend is Donne se neiging tot gewaagde segging, ook in die religieuse werk, wat skakel met die ongewone aanslag en perspektiewe van Cloete se religieuse poësie.
Frank Kermode se opmerking oor Donne kan eweneens op Cloete van toepassing gemaak word:
Many of his Holy Sonnets have this perilous balance; their wit is always likely to seem indelicate as well as passionate. (In: Van Schalkwyk, 2015:150)
Wat die Simbolistiese inslag van Cloete se poësie betref, is daar volgens Hein Viljoen (2009) eerder sprake van ’n “kreolisering van die Simbolisme” (2009), wat die moderniserende aard van Cloete se inslag beskryf. Laasgenoemde is veral duidelik uit twee aspekte: Cloete se idiolektiese herskrywing van die Simbolisme en die aanpassing daarvan by die Suid-Afrikaanse konteks (Viljoen 2009:59). ’n Verdere illustrasie hiervan is die manier waarop Cloete deur middel van “moderne begrippe, in moderne taal en met eie tegnologie die ryk verskeidenheid van die skepping afloer” (Viljoen, 2009:71) asook die verbandleggende korrespondensies moderniseer. Sy insluiting van veral die natuurwetenskap in sy verse het selfs een resensent laat uitroep: “te veel van sy verse lyk na berymde artikels uit die National Geographic” (in Marais 2009:46).
- Intertekstualiteit en gesprekke
........
Intertekstualiteit is ’n deurlopende aspek van Cloete se poëtiese projek en uit sy gedigte kan die leser aflei hoe wyd belese hy is.
........
Intertekstualiteit is ’n deurlopende aspek van Cloete se poëtiese projek en uit sy gedigte kan die leser aflei hoe wyd belese hy is. Nie net tree hy in gesprek met ander letterkundes nie, maar ook met die natuurwetenskap, mitologie en veral met die Bybel. Rensia Robinson, wat in 1991 haar proefskrif oor “Poësieteks en Bybelse interteks” onder Cloete se leiding voltooi het, skryf veral hieroor. Cloete se intertekstualiteit impliseer volgens Hambidge (2005) dat hy “’n nuwe verbintenis skep met die ou teks” en dan “’n nuwe ruimte [skep] waarin die oorspronklike teks as ’t ware begoël word”. ’n Goeie voorbeeld hiervan is sy lykdigte wat volgens Louise Viljoen (1995:82) “inspeel op die lykdigte van die sewentiende-eeuse Nederlandse digters soos Hooft, Huygens en Vondel”, maar wat vorm en inhoud betref op hulle beurt weer inspeel op die klassieke tradisie van Vergillius en Ovidius. Venter (1995:159) illustreer hoe Cloete in gesprek tree met ouer Afrikaanse digters en meen dat dit ’n goeie voorbeeld is van Roland Barthes se idee van die teks as outlet na “other texts, other codes, other signs”.
Wat intertekstuele gesprekke met die poësie betref, bespreek Scholtz (1984) Cloete se omdigting van Nijhoff se bekende “Impasse”, terwyl Adéle Nel (2002) fokus op die gedig “Vroue van Vermeer” en hoe die skilderye van Vermeer saamgelees kan word met gedigte van Leopold en Njihoff. Nel het trouens in 1992 gepromoveer met ’n proefskrif oor die idiolektiese omsetting van Nederlandse tekste deur TT Cloete.
As literêre kritikus debuteer Cloete in 1959 met ’n artikel oor “J H Leopold oor die dromende denke” en daar is volgehoue belangstelling in die werk van Leopold in sy werk, soos Heilna du Plooy ondersoek (2012). In Angelliera tree Cloete intertekstueel in gesprek met ouer Nederlandse tekste soos Jan van Brabant se minstreel, “ Een meiensmorgen vroe” en Ohlhoff (2021:1192) illustreer hoe Cloete die gegewe transponeer na die Suid-Afrikaanse konteks deur gebruik te maak van transformasies soos verskuiwing, herlesing en vervanging.
...
Vir Réna Pretorius (1989:153) is die “mees volgehoue gesprek in Cloete se oeuvre” met die Bybelboek Job, nie net omdat Cloete met die Ou-Testamentiese lydende figuur assosieer nie, maar ook omdat Job as ’n sogenaamde “wysheidsgeskrif” bestempel word en die speurende intellektuele digter prikkel. Cloete se belangstelling in Job en sy lyding dien ter illustrasie van die sentrale plek wat lyding speel in sy werk; trouens pyn, lyding en kreatiwiteit vorm die grondslag van veral die tweede afdeling in Die ander een is ek. Ek volstaan met een aanhaling:
Dit is die ironiese “voorreg” van kreatiewe mense dat hulle iets van pyn en lyding kan maak, daaruit iets buite hulleself kan afstaan, iets wat nog nie vantevore bestaan het nie, waarmee ander harte volgesing kan word, as die ander harte daarvoor oopstaan, wat dan nog weer ander harte word. (2013:211)
Een van die klassieke tekste waarna Cloete deurentyd verwys en wat intertekstueel in sy werk voorkom, is die Illias van Homerus. Oor laasgenoemde merk hy op: “Ek weet van geen ander literêre werk wat so intens wreed en so uitgebreid wreed met die mens se liggaam omgaan as die Illias nie” (297). Wat hom as ekfratiese digter veral prikkel, is die beskrywing van die skild van Achilles – hy noem dit “iets so mooi en kunstig”. Marlies Taljard se artikel “Gesprek oor drie millenniums: TT Cloete se herskrywing van Homeros se Achillesskild-gegewe” (2012) ondersoek die intertekstuele gesprek tussen Cloete en Homerus, asook die simboliek op die skild wat sy lees binne die konteks van Cloete se oeuvre. Volgens Taljard (2012) gee Cloete veral aandag aan Hefaistos, die kreupel kunstenaar wat die skild ontwerp het. Hy begin sy gedig deur te verwys na “die hinkende horrelvoet Hefaistos” (bl. 82), wat egter ook “die kunstenaar met die behendige hande” (bl. 82) is. Die herdigting van Homerus word ’n outobiografiese teks oor die digter self en volgens Taljard is dit “duidelik dat die sprekende ek in die Cloete-oeuvre homself dikwels in sy gedigte inskryf as kreupele én kunstenaar”.
In ’n latere ondersoek van die bundel Onversadig skryf sy weer eens oor Cloete en die skild. Vir haar is die vernaamste verskil tussen die antieke teks en die herdigting die “intensie” (2019:32). In teenstelling met Hefaistos se herkonstruksie van die destydse wêreldbeeld, wend Cloete sy teks aan om, soos hy dit stel, die doel van die kunstenaar “om ons ontglippende dubbele menslikheid / in een stuk te smee” en om “die onverklaarbare geheimsinnige mens” op die skild uit te beeld, te verwoord (2019:32). Gedagtig aan Cloete se beskrywing van die Illias as ’n teks gegrondves in wreedheid, kies hy om in sy gedig eerder op die latere geveg tussen Hektor en Achilles te fokus. Hierdie dubbele aard van die mens kom later ter sprake in sy bundel Karnaval en Lent (2014).1
’n Gedugte naspeurder van intertekste en intertekstuele verbande in Cloete se werk is Rensia Robinson, wat onlangs oorlede is. Naas Heilna du Plooy sonder Cloete haar uit in sy bedankingswoord ter aanvang van Die ander een is ek. Nie net bedank hy haar vir haar skerpsinnige lesings van sy werk nie, maar hy beskryf haar as “’n wydbelese mens en iemand wat my belangstellings goed ken, gereeld vir my verwysings na literatuur gestuur het wat my baie goed te staan gekom het” (2013:13). In een van haar vroegste bydraes oor Cloete se werk ondersoek sy die Bybel as bronteks (Robinson 1995:61) en in die besonder “die dinamiese verhouding tussen ’n resepterende teks en ’n bronteks en die invloed hiervan op betekenisgenerering”. Die noue, dog komplekse verhouding tussen digter en God word voortgesit in latere ondersoeke deur Robinson. In ’n artikel oor die enigmatiese Goddelike wese in Cloete se poësie kom Robinson (2009) tot die gevolgtrekking dat Cloete “geykte konseptualiserings van God” dekonstrueer en satiries kyk na “gegewens uit die religieus-Christelike kanon”. Ter illustrasie, ontleed sy die gedig “verlore seun” uit Driepas en toon aan hoe Cloete ’n karikatuur skep van “’n gestrenge Vadergod met drakoniese reëls vir sy kinders” (2009: 512). Robinson noem voorts dat Cloete “die publieke trivialisering van ’n Bomenslike konsep” parodieer (513). Aan die einde van haar artikel kom Robinson tot dié gevolgtrekking:
Die “navorser” wat meen om uit Cloete se oeuvre ’n hanteerbare “etikettering” van sy Godsbenadering te omlyn, eindig met ’n oopgelate teks. Veel eerder is daar sprake van “’n dialektiek van Goddelike verkennings”. (2009:533)
Cloete se insig in Darwin se evolusieleer figureer volgens Johan Lodewyk Marais (2009:49) ook in Cloete se verse. Nie net slaag Cloete daarin om die wetenskap en die godsdiens naas mekaar te stel nie, maar hy gaan “kreatief [om] met die bekende gegewens van die evolusieleer” en maak dit deel van sy lewensbeskouing.
- Mistisisme
Bernard Odendaal promoveer met ’n ondersoek na Cloete se eiesoortige mistisisme en besin in sy ondersoek of daar by Cloete sprake kan wees van ’n Protestantse mistiek. In sy 1997-artikel, “Is TT Cloete ’n Calvinistiese digter?” word Cloete se invloed as religieuse digter ondersoek en sonder hy vier motiewe uit in Cloete se poësie: 1) ’n Bybelse begronding, (2) die belang van die skeppingsopenbaring van God, (3) die wonder en sinvolheid van die skepping en (4) die vreugde in die geskapene. Odendaal noem ook in watter opsig Cloete afwyk van die Calvinisme en hy haal Bosman aan wat in haar ondersoek na Christelike poësie van mening is dat die intellektuele inslag van Cloete se poesie “nie pas in die tradisie van die mistiek waar rede moet plek maak vir ’n blinde geloof en gerigtheid op die liefde van God nie” (Odendaal 1997:14). Odendaal beskou Cloete se eiesoortige mistiek as synde gegrondves in die aardse en die aktuele en beskryf dit eerder as “’n soort estetiese mistiek beskou”, waaroor hy soos volg uitbrei: “dit wil sê as ’n soort onmiddellike, primordiale Godsbelewing wat via die sintuie en die affekte ingegee word, maar wat dan ook met ’n kognitiewe element gepaard gaan” (15).
In samehang met die mistieke fokus beide Bosman en Odendaal ook op die rol van die erotiese in Cloete se verse. Die erotiek in sy verse hang vir Bosman (1989:268) “ten nouste saam met die religieuse besef van die digter” en die "voortplantingsgedagte [vorm] dus deel van die goddelike opdrag én beloning, die natuurbestel en goddelike orde in die skepping ... ”. Op sy beurt beskou Odendaal die uitbeelding van die erotiek by Cloete nie as “ongekwalifiseerd” nie en dit word altyd beskryf binne die verband van die huwelik (1993). Wanneer dit onbeheersd en losbandig onder die jeug voorkom, word dit deur die digterstem veroordeel.
Volgens Spies (1983:108) is Cloete se kritiese stem nie dié van ’n moralis nie. In haar vergelykende ondersoek van Cloete en Krog se gedigte prys Spies beide digters dat hulle nie wegskram van die liggaam nie en in opstand kom teen “ons Victoriaanse erfenis”. By albei digters word die liggaam “jubelend bewoon”.
Een van die interessantste punte wat Odendaal maak in sy bespreking van Cloete se eiesoortige Calvinistiese mistiek, is die afwesigheid van ’n direkte verwysing na Jesus Christus (1993:20). Die Ou Testament word voorop gestel. Vir my is die interessantste aspek van Odendaal se ondersoek sy gevolgtrekking dat Cloete se mistieke poësie aansluit by die Katolieke en die Oosters-Ortodokse tradisies, veral gegewe die eiesoortige omgang met God. Odendaal sluit soos volg oor hierdie aspek af:
Sy herhaalde ervarings van pyn en siekte, tot byna sterwens toe, het die wonder en vreugde van lewe, die liggaam, sy sintuie en drifte, asook die genotvolle van die skeppingsdinge wat byna panteïsties in die Goddelike opgaan, by Cloete akuut gemaak. Dit voer sy Calvinistiese beskouings aangaande die vleeswording van Christus tot aan die grens van die inkamatoriese van die Oosterse Christelike kerk. Dit laat hom nié uitsien na die hiernamaals nie; laat hom die dood trouens as iets baie negatiefs ervaar. (1993:21–2)
In ’n onderhoud met Andries Visagie (2007) laat Cloete homself soos volg uit oor die kwessie van die Calvinistiese digter – wat mooi aansluit by die titel van my lesing:
Nee! Ek is nie ’n Calvinistiese digter nie. Dis onsin. Ek is ’n Christen, en ’n oortuigde een, in alle erns, maar ek wil nie ’n Christelike digter genoem word nie, omdat ek nie vermetel wil wees nie, en veral omdat ek ’n broertjie dood het aan die Afrikaanse literêre siekte (ja, dis ’n siekte) om te rubriseer, te kategoriseer, te etiketteer ... Ek is dus nie ’n Christelike digter nie, al het ek ’n paar spesifiek Christelike gedigte geskryf, nie eers ’n handvol nie. Die erotiese gedigte, onder andere, wat mense my verkwalik, is hulle nou Christelik? Ek is doodsimpel ’n digter. Die lesers wat jou klassifiseer, annekseer jou gewoonlik vir die hokkie waarin hulle self leef of hulle verban jou na die hokkie waarin hulle self nie wil leef nie. Digters leef in die blote oopte, nie in hokkies nie.
- Vroue
Een van die kontensieuse aspekte van Cloete se poësie is sy uitbeelding van vroue. Lesersindrukke strek van Helize van Vuuren se “seksistiese beeld van die vrou” (289–95) tot die gevolgtrekking van Ronel Ward (1991:13) dat Cloete “die vroulike liggaam in terme van die intellek beskryf”, maar dat die spreker se bewondering van die vroulike liggaam nie strydig is met sy godsdiens nie; die liggaam van iemand soos Marilyn Monroe wat bewonder word, word “eerder verhef tot tussenganger tussen die spreker en God”.
In sy onderhoud met Visagie (2007) merk Cloete op dat hy belangstel in “die vroulikheid, ‘das Ewig-Weibliche’ van Goethe”, wat vir die leser ’n sleutel bied tot sy uitbeelding van die vrou in sy werk. Feitlik aan die einde van Faust is dit die “Ewig-Weibliche” of ewige vroulike wat vir Faust in die bresse tree om sodoende sy siel te red. Weisler (2018:9) noem ander manifestasies van die ewige vroulike:
The Mater Gloriosa of Faust shares in the legacy of previous manifestations of the archetype of the Eternal Feminine – the Gnostic goddess Sophia, medieval Mary, the Black Madonna, and mystical Sophia – and thus perpetuates her “depth and import”. Through his own imagination, Goethe adapts the “living mythology” of the Eternal Feminine into a figure that more appropriately suits modern consciousness.
Rensia Robinson (2014:2) sluit hierby aan wanneer sy Cloete se verkenning van die vrou se rol in ’n mistieke vervlegtheid belig. Hierdie rol word aan die hand van verskeie vrouefigure beskryf en die vrou word as lewegewende kroon van die skepping uitgebeeld. Die vrou word die aardmoeder, die Anna Perenna, wat naas Dante se Beatrys, draer is van die kosmiese. Volgens Du Plooy (2008:12) moet die vrouebeeld van Beatrice gelees word in die tradisie van hoofse liefde. Die verhouding is simbolies en aseksueel van aard soos Kelly dit omskryf:
Die Middeleeuse man se uiteindelik doel was dus nie bloot eenwording met die vrou nie, maar eerder eenwording met God deur bemiddeling van die vrou. (In Du Plooy, 2008:12)
- Cloete – en nou?2
Diegene wat voel asof hulle tot nou toe in ’n Kannemeyer-agtige uiteenlegging gesit het, hou moed. Ek wil hier eggo wat Phil van Schalkwyk (2015:136) uit moedeloosheid uitgeroep het in sy bydrae tot Cloete se negentigjarige viering. Hy skryf:
As ’n mens feestelik met Cloete se werk wil omgaan, is die kwelvraag egter: Watter bydrae kan ’n mens nog lewer tot die resepsie van werk wat eintlik al so deeglik en waarderend beskryf is?
Tell me about it! Is dit dalk die rede hoekom niemand deesdae meer oor Cloete skryf nie? Alles kan tog nie reeds oor sy omvangryke oeuvre ondersoek wees nie?
Foucault (1998:210) reageer op Roland Barthes se bekende “Death of the author” en volgens hom is die outeur se naam nie net beperk tot ’n element in ’n diskoers nie; dit kan nie net gereduseer word tot ’n voornaamwoord nie, maar het ’n belangrike funksie met betrekking tot klassifisering. Die naam van die digter karakteriseer ’n spesifieke wesentlike modus in die diskoers. Aangesien nie alle outeurs tot die breër publiek spreek nie, word hulle diskoers geapproprieer deur spesifieke dissiplines. Maar ook belangrik, soos ek probeer aandui het met betrekking tot TT Cloete:
The author function does not refer purely and simply to a real individual, since it can give rise simultaneously to several selves, to several subjects – positions that can be occupied by different classes of individuals.
In ons era met die luide klokkegeskal oor dekolonisering en Afrikanisering is daar heelwat by Cloete (en sy verskeie subjekposisies) om na te vors – sonder om ideologiese voorkeure noodwendig af te forseer. Ek het dit probeer in my artikel oor die uitbeelding van die subalterne in sy werk aan die hand van Spivak.
Dit is teen hierdie agtergrond wat ek die volgende wil betrek. Op 4 Augustus 2015 het die Vryheidsfront Plus ’n mosie sonder kennisgewing ingedien waarin Cloete se rol beide nasionaal en internasionaal geprys word en die Parlement versoek word om simpatie te betuig teenoor die Cloete-familie. Die EFF se reaksie hierop word soos volg weergegee in die onhersiene Hansard: “We object, Deputy Speaker, to whatever the hon member says.”
Hierdie beswaar is klaarblyklik gegrondves in ideologiese redes, gegewe Cloete se historiese rol in Afrikanerpolitiek en sy deelname aan die sensuurraad, asook sy rol in die opstel van ’n studiestuk oor betrokke literatuur vir die Broederbond (Burger 2015).
Maar hierdie ideologiesgekleurde perspektief op die digter uit ’n tydvak voor hy op 56-jarige ouderdom debuteer het ten spyte, is daar in Cloete se werk heelwat poëtiese waarneming oor sosiopolitieke, etiese kwessies, wat hy digterlik verwerk en ondersoek het. In 1986 merk JAG Visagie hieroor soos volg op:
Dit is duidelik dat Cloete in sy aktualiteitsgedigte die algemeen-menslike wil uitbeeld en nié die spesifiek Suid-Afrikaanse maatskaplike en politieke toestande van vandag nie. (1986:159)
Hierdie aspek van Cloete se poësie word myns insiens reg gestel in sy latere bundels. Lees ’n mens byvoorbeeld van die gedigte in Uit die hoek van my oog (1998) kritiseer die digter sy voorvaders wat “nuttelose dinge” gemaak het “uit hulle misdade” in “koutjie vir die vrate”. Of oor die eertydse base in Nissanbakkies wat nou “onteien” is.
Selfs al besluit ’n eietydse generasie lesers om “kwaliteit as norm” af te takel (De Jong 1983: 62) moet ons steeds vra hoekom Cloete nie meer gelees word nie. Vanuit ’n pedagogiese oogpunt moet ek hier noem dat nadat ek ’n verbluffende lesing van Réna Pretorius destyds in Windhoek bygewoon het oor Cloete se “Lemmas”, ek dit skaamteloos gebruik het in my eerste poësieklas vir eerstejaars. Of ek my studente so begeester het soos sy destyds, sal nugter weet. Verskeie tweedetaalgroepe het ek ook blootgestel aan “Uitgedun”, seker een van die slimste, uitgedunde verse in Afrikaans!
Is dit omdat die kontemporêre leser se verwagtingshorison nie kennis dra van sy werk nie? Wil niemand meer Cloete lees nie, omdat hy ’n ou wit gekanoniseerde man is? Sluit sy diskoers lesers uit wat nie bereid is om stadig en stip te lees nie? Is die lesers van Cloete se werk soos aangedui almal deel van die dominante hegemoniese groep, wat noodwendig ander uitsluit?
In hulle studie De lezende mens (2022) sonder Ruud Hisgen en Adriaan van der Weel verskillende tipes leesgewoontes uit: eerstens, lees jy vlugtig oor die bladsy en soek na kernwoorde. Digitale tekste word veral so gelees, veral as die kernwoord nog in die soekfunksie ook ingetik kan word. Die immersiewe of geabsorbeerde manier van lees word weer gekenmerk deur in diepte te lees, oor betekenisse na te dink en stadig te lees. Maar, soos die twee outeurs dit stel:
Babyboomers kunnen uitstekend overweg met het lezen vanaf schermen, doordat ze zijn opgegroeid met boeken en zich daardoor beter kunnen concentreren. Omgekeerd hebben de generaties die groot zijn geworden met vooral schermen het veel moeilijker met het lezen van boeken. De gewenning aan kort en krachtig – het snel schakelen van skimmen en scannen – ondergraaft het geduld voor langdurige concentratie.
Langdurige konsentrasie, dit is wat Cloete se poësie, myns insiens, van sy lesers verg. Nie verniet noem Cloete die kunstenaar “’n magiër, ’n selftransenderende Hefaistos, ’n alchemis” (155) nie.
Self-refleksief keer ek terug na my openingsgedeelte waarin ek my bewondering uitgespreek het vir Cloete se durende dink oor die digterskap. Tydens die voorbereiding vir hierdie lesing het ek opnuut bewus geword van Cloete se heilige Neugier en sy verbluffende intertekstuele kennis. In ’n artikel getiteld “Swerwende verse” (2007) illustreer hy die korrespondensies tussen verskillende tekste uit verskillende kulture wat hom tot die slotsom laat kom:
En die gedagte van een groot holistiese of homogene literatuur is dalk nie so vergesog nie; die gedagte van een groot literêre tuin waarin die digter die by is wat stuifmeel aan sy of haar skrywerspote versamel ... Die mooiste van alles is dat eeue-oue tekste nie doodgaan nie maar weer in die toekoms uitslaan. (Cloete 2007:60)
In 2023 profeteer Antjie Krog heel bybels: “Salig is die vertalers, want hulle sal die aarde beërwe.” Daar bestaan reeds vertalings van Cloete se werk deur Heilna du Plooy en Michiel Heyns, maar sou ’n aangepaste keur uit bv. Die baie ryk ure in Engels vertaal nie Cloete aan ’n globale leserspubliek bekend stel nie? Die gonswoorde branding en re-branding kom ook by my op.
Wie weet, dalk slaan Cloete se tekste ook weer in die toekoms uit. Miskien is ’n bydrae tot die SA Akademie se reeks oor Hertzogpryswenners ’n goeie vertrekpunt.
Ter afsluiting, wil ek een van Cloete se mooiste gedigte voorlees:
God die digter
Chili is deur ’n digter gemaak. Pablo Neruda
daar is meer poësie in die sneeuvlokkie
as in die letterkunde en baie meer poësie
in die miskruier in die toktokkie
in die meteorologie en entomologie
in die môremis en in die bergpiek
die horison wat in die hemel wegraak
in die rooswolk is daar baie meer liriek
die aarde is deur ’n digter gemaak
(Driepas, 1989)
Dankie.
Bronnelys
Bosman, ME. 1989. Op Hom die groot hosannas: enkele aspekte van die moderne Christelike poësie in Afrikaans. Grahamstad: Universiteit Rhodes. (PhD-proefskrif).
Burger, FC. 2011. Die bundeltitel as globale metafoor vir TT Cloete se bundel: Met die aarde praat (1992). Pretoria: Unisa. (MA-verhandeling).
Burger, W. 2015. Kies ’n boek: Sensuur en Afrikaanse literatuur. Vrouekeur, 8 September 2015. https://www.vrouekeur.co.za/funksie-artikels/kies-n-boek-sensuur-en-afrikaanse-literatuur.
Cloete, TT. 1982. Hoe om ’n gedig te ontleed. Reuse-blokboek. Kaapstad: Academica.
—. 1985. Gids by die literatuurstudie. Pretoria: HAUM-Literêr.
—. 2007. Swewende verse. Tydskrif vir Letterkunde, 44(2):46–61.
—. 2013. Die ander een is ek. Plettenbergbaai: Podka.
De Jong, M. 1983. ’n Kritiese beskouing van die standverskille tussen teks en leser, veral by literatuuronderrig. In Malan, C (red) Letterkunde en leser. Durban/Pretoria: Butterworth.
Du Plooy, H. 2008. Op loop met ’n lyn: TT Cloete se “toepassings van dante” ikonies en intertekstueel gelees. Literator, 29(3):1–33.
—. 2009. Die deurskynende kelk: Oor vorm en inhoud in die poësie. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 49(4):596–621.
—. 2012. “Dit innerlijk bedrijf, verzinnelijkt”: TT Cloete en JH Leopold. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, 19(2):58–85.
Foucault, M. 1998. What is an author? Aesthetics, method and epistemology. Essential works volume 2. New York: The New Press.
Gräbe, I. 1984. Eksploitasie van klankmatige aspekte in TT Cloete se Jukstaposisie. In Viljoen, H ea. In teen die groot vergeet, pp 25–53.
—. 2015. “Die huid huil luid in stilhuil” – op ’n (klank)spoor in TT Cloete se poësie. https://repository.nwu.ac.za/items/1596cc2b-532d-44b7-8097-46dd3f0c827e.
Gouws, T. 1995. Die transkripsielees van TT Cloete. Literator, 10(3):31–47.
Hambidge, J. 2005. “Die hipnose van die digkuns: TT Cloete-gedenklesing.” http://www.oulitnet.co.za/seminaar/hambidge_cloete.asp, gepubliseer: 15 November 2005.
Hambidge, J. 2013. TT Cloete – Die baie ryk ure. Woorde wat weeg. 15 Maart 2013. https://joanhambidge.blogspot.com/search/label/Die%20baie%20ryk%20ure.
Hisgen, R en A Van der Weel. 2022. De lezende mens. Atlas Contact.
Jooste, E. 1995. Idíolek van TT Cloete. Literator, 16(3):103–131.
Marais, JL. 2009. Charles Darwin, die natuurwetenskappe en die verwondering in TT Cloete se poësie.
Nel, A. 2002. Afgekyk van en nagepraat na ... : Nederlandse tekste in “Vroue van Vermeer” van TT Cloete. Literator, 23(1).
Nienaber, C.J.M. 1984. U troetelvissie TT Cloete. In Viljoen, H ea. In teen die groot vergeet, pp 64–78.
Odendaal, BJ. 1993. Via alruin en seks tot God: die eiesoortige mistiek in die poësie van TT Cloete. Literator, 14(2):1–23.
—. 1997. Is TT Cloete ’n Calvinistiese digter? Literator, 18(2):1–23.
Ohlhoff, H. 2021. “Harba lori fa”: ’n Tekstuele en intertekstuele reis. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 61(4):1177–93.
Pretorius, R. 1984. Skouspel en Carcasonne: die “klankdenke” in Jukstaposisie. In Viljoen, H ea. In teen die groot vergeet, pp 79–92.
—. 1989. Job se gefluister in die poësie van TT Cloete. In Gilfillan, R en AH de Vries (reds) Op die wyse van die taal. Kaapstad: Vlaeberg. pp 153–68.
Robinson, AS. 1995. Jukstaponering van Hom en my – die digter as hermeneut. Literator, 16(3):61–79.
—. 2009. ’n Onvoltooide naam digterlik verbeel – verkennings aangaande ’n enigmatiese Goddelike Wese in TT Cloete se oeuvre. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 49(4):507–34.
—. 1991. Poësieteks en Bybelse interteks. Potchefstroom: PU vir CHO. (DLitt-proefskrif).
Robinson, R. 2014. Die liefde wat die son beweeg en die ander sterre: digterlike transendering – tot die vermenigvuldigde lewe ontroer. Literator, 35(1).
Scholtz, M. 1984. Die digter as leser. In Viljoen, H ea. In teen die groot vergeet, pp 108–16.
Schutte, HJ. 1984. ’n Poëtika van korrespondensie: Angelliera en Jukstaposisie. In Viljoen, H ea. In teen die groot vergeet, pp 93–107.
Spies, L. 1983. ’n Nuwe bloei in Afrikaans: TT Cloete se angelier en Antjie Krog se roos. In Botha, E ea. Samehang en sin. Kaapstad: Tafelberg. pp 110–16.
Taljard, M. 2012. Gesprek oor drie millenniums: TT Cloete se herskrywing van Homeros se Achillesskild-gegewe. Literator, 33(2):1–8.
—. 2019. Digterlike beheer en herinterpretasie: TT Cloete se transkripsie van twee antieke tekste in Onversadig. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 59(1):17–35.
Van Coller, H. 2016. TT Cloete as literêre kritikus, teoretikus en literatuurhistorikus (deel 1): Rubrieke, bloemlesings en literêre kritiek. Literator, 37(1):1–9.
Van Schalkwyk, P. 2015. “[V]ra omgekeerd die maag in die teken van ’n vraag”: TT Cloete en die metafisiese poësie.
Van Vuuren, H. 1999. Perspektief op die moderne Afrikaanse poësie (1960–1997). Perspektief en profiel, deel 2. pp 244–304.
Venter, L. 1995. Fragmente sloer in ons ore: die reaktivering van ouer literere tekste in die oeuvre van TT Cloete. Literator, 16(3):145–61.
Viljoen, H. 1995. Die fenomenologie van TT Cloete. Literator, 16(3):43–59.
—. 2009. Kreolisering van die Simbolisme in die poësie van TT Cloete. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 49(4):568–89.
Viljoen, L. 1995. ’n Retoriese analise van die vyf lykdigte in TT.Cloete se Allotroop. Literator, 16(3):81–102.
Visagie, A. 2007. TT Cloete se “rykdom van die onvoltooide”: Andries Visagie voer ’n onderhoud met TT Cloete. LitNet, 29 Junie. https://www.litnet.co.za/tt-cloete-se-rykdom-van-die-onvoltooide-andries-visagie-voer-n-onderhoud-met-tt-cloete/.
Visagie, JAG. 1986. TT Cloete as eksponent van die moderne Afrikaanse poësie soos hy dit self gekarakteriseer het in Die Afrikaanse literatuur sedert sestig. Pretoria: Unisa. (MA-verhandeling).
Ward, R. 1998. Die vrou in TT Cloete se “toepasslngs van dante”. Literator, 19(1):5–18.
Weisler, M. 2018. The redemption of Goethe’s Eternal Feminine: Discovering the reality and significance of an archetypal phenomenon. CUNY Graduate Center, NY. (MA-verhandeling).
Eindnotas
1 Nadat ek die lesing gelewer het, het ek Betsie van der Westhuizen se artikel, “Die in-/deur-/nawerking van die Griekste mitologie in Driepas van TT Cloete in Stilet 5(1), Maart 1998 ontdek.
2 Van Coller se artikel van 2004, “Is Leroux ’n vergete skrywer?” kan hier betrek word. Hy skryf na aanleiding van Verboord: “’n Skrywer se prestige is afhanklik van hoe hy of sy deur belangrike rolspelers binne die literêre veld aangeslaan word. Verboord (2003:262) wys daarop dat posisies binne die literêre veld afhanklik is van verhoudings, en dat die posisie van ’n skrywer dus afhanklik is van sy of haar verhouding met institusies en agente binne die literêre veld, asook van hulle relevante karakteristieke (en strategiese) posisionering. Laasgenoemde staan uiteraard ook nie los van die poëtika wat skrywers onderskryf of propageer nie (2004:1).
Lees ook:


Kommentaar
Dankie vir hierdie lesing, ek het dit met aandag deurgelees.
Daar is in die goeie gedig 'n oomblik van verinnerliking; 'n proklamasie van die soewereine denke. Hiermee word bedoel die intellektueel-estetiese vryheid waarbinne die gedig sigself voltooi in die gemoed van die leser.
Wanneer 'n taal (om welke rede ookal) die digter vergeet, verloor sodanige taal van sy vryheid.