Huldeblyk: TT Cloete

  • 0

Met die afsterwe van prof TT Cloete op Woensdag 29 Julie 2015 het daar ’n hoë boom geval, vir sy familie, sy vriende, vir die Universiteit en vir die dorp Potchefstroom, vir die literêre wêreld in Suid-Afrika en vir Afrikaans.

TT Cloete was onteenseglik ’n merkwaardige figuur, ’n veelsydige mens. Hy was vir dertig jaar lank professor in Afrikaans en Nederlands en Algemene Taal- en Literatuurwetenskap aan die PU vir CHO, en sy wetenskaplike ingesteldheid het hy regdeur sy lewe behou.

Op 56-jarige leeftyd het hy as digter gedebuteer en het tien digbundels (plus twee ongepubliseerde manuskripte) ’n drama en kortverhale gepubliseer. Tussen 1991 en 2001 het hy gewerk aan die nuwe omdigting van die psalms wat tans in kerke gebruik word. Daarby kom die indrukwekkende boek Die ander een is ek waarin hy sy filosofie oor die lewe en die kuns uiteensit.

Tog gaan dit nie net om wat 'n mens doen nie, maar juis en veral oor hoe jy dit doen. Dit is dan ook vir die kwaliteit, die styl en die aard van sy werk en lewe wat TT Cloete onthou sal word. Hy word deur ander digters beskryf as ’n “poet’s poet” vanweë die tegniese voortreflikheid en diepgang van sy poësie, maar uit sy werk blyk ook die wye belangstellingsveld wat hy gehad het.

Theunis Cloete het vriendskap gekoester en mense na hom toe aangetrek. Daarby was ’n hy ’n diep gelowige mens wat alles in sy lewe, die pyn, die lyding, die smart en al die vreugde gesien het as dinge wat uit die Hand van God kom. Vir ander was hy ’n begaafde mens, ’n ware intellektueel, maar hy het homself in die eerste en laaste instansie as ’n buitengewoon geseënde mens beskou.

Heilna du Plooy
29 Julie 2015
Potchefstroom

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top