TT Cloete (1924–2015)

  • 0

Gebore en getoë

Theunis Theodorus Cloete is op 31 Mei 1924 op Vredefort in die Vrystaat gebore. Dit was in hierdie selfde jaar dat Vredefort geologies internasionaal bekend geword het omdat een van die grootste meteoriete die aarde dáár getref het. Theunis beteken “Vryburger” en Theodorus “Geskenk van God”.

Cloete vertel in Die Burger (12 Februarie 2011) dat hy in ’n wêreld van boeke grootgeword het nie. “Ek kom uit ’n ras-egte boeregemeenskap. Maar my pa was as boer baie belese en het altyd vir ons gesê ons bly naby die engele.”

Cloete onthou self hoe hy gereeld as kind op ’n hoë punt van hulle plaas by van die granietklippe gesit en droom het.

Hy is begeesterd deur die koepel en gaan nog gereeld soontoe. “Dis vir my wonderlik om te weet jy is gebore uit daai stuk aarde wat 2 000 miljoen jaar gelede deur ’n meteoriet getref is. Jy het grootgeword van die minerale, die koolkoppe het jy geëet, die wortels ... en die melk wat jy gedrink het van die koeie – dit het als uit daai aarde gekom.”

Hy gaan op Vredefort skool tot aan die einde van sy standerd 8-jaar (1939) en matrikuleer in 1941 aan die Hoërskool Monument in Krugersdorp.

Verdere studie en werk

Sy studie aan die Universiteit van Pretoria word in sy eerste jaar (1942) onderbreek toe hy polio opdoen. Die nagevolge van die siekte sou hom die res van sy lewe bybly. In 1945 sit hy sy studie voort aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO, waar hy sy MA-graad in 1949 onder leiding van Gerrit Dekker verwerf. In 1949 neem hy ook tydelik in die Departement Afrikaans-Nederlands aan die universiteit waar in die plek van Dekker.

Teen die einde van 1949 vertrek hy na Nederland vir verdere studie aan die Gemeentelijke Universiteit in Amsterdam, waar hy in Februarie 1953 promoveer onder NP Van Wyk Louw met die proefskrif “Trekkerswee en Joernaal van Jorik”.

In Februarie 1953 word hy aangestel as lektor in Afrikaans-Nederlands aan die Potchefstroomse Universiteit en in 1962 word hy tot professor bevorder. In 1963 gaan hy weer oorsee om navorsing in Amsterdam en Oxford te doen.

Met die stigting van die Universiteit van Port Elizabeth (UPE) in 1965 aanvaar Cloete op uitnodiging ’n professoraat in Afrikaans-Nederlands en in Algemene Taal- en Literatuurwetenskap as een van die stigtingspersone van dié universiteit. Nie net was hy dekaan van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte aan die UPE nie, maar hy neem ook vanaf 1967 waar as rektor.

In Januarie 1970 keer Cloete terug na Afrikaans-Nederlands en Algemene Taal- en Literatuurwetenskap aan die Potchefstroomse Universiteit, waar hy in 1983, as gevolg van ’n verswakte gestel, aftree as hoogleraar. Hy word later as buitengewone professor benoem.

Hy was met sy afsterwe rustende lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en lid van die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde in Leiden, Nederland. Hy het gedien in die Fakulteitsraad en Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en was ook baie jare lid, sowel as voorsitter, van die Akademie se Letterkundige Komitee. Hy het ook in verskeie liggame gedien, soos die RGN, advieskomitees van die regering en onderwysliggame.

As deel van sy sewentigsteverjaardagvieringe in 1994 het Obelisk-Musiek en die Streekraad vir Kultuursake ’n huldigingsprogram in die Studio van die Staatsteater aangebied. Die hoofwerk op die program was toonsettings van gedigte van hom uit Driepas en Jukstaposisie. ’n Siklus van sewe liedere is deur Martin Watt gekomponeer en die sopraan Almal Oosthuizen en die pianis Louis Fouché het die groep kunsliedere uitgevoer (Beeld, 12 September 1994).

In die vyftigerjare was hy behulpsaam met die hersiening van die 1993-vertaling van die Bybel in Afrikaans en in die sewentigerjare help hy ook met die hersiening van die Afrikaanse Kerkgesange. Vanaf 1989 waag hy sy hand aan die omdigting van die psalms, en in die negentigerjare hou hy hom besig met die omdigting van 150 psalms, wat in 2001 in die nuwe Liedboek van die Kerk opgeneem word en in 2003 in die Psalmboek. Oor hierdie omdigting van die psalms, waarvoor hy in 2002 die Andrew Murray-prys ontvang het, sê hy dit was “'superior amusement. Dit was vir my ’n digterlike oefening” (Beeld, 6 Desember 2010).

Cloete vertel in Die Burger van 29 Julie 1995 aan Louise Laubscher dat dit “die wonderlikste avontuur was waarmee ek te make gehad het. As die Bybel my nou ooit verlei het tot iets, dan verlei hy my tot werk aan die psalms.”

Cloete verkies die woord “omdigting” as dit by die psalms kom. Totius se werkswyse was ’n beryming van die Nederlandse psalms: “My opdrag,” sê hy aan Laubscher, “is van nuuts af. Ons kyk wel wat het die Hollanders en Totius gedoen, maar daar is geen sprake van dat ons hulle nadoen nie. Ek doen dit van meet af aan.”

Ook het Afrikaans vanaf Totius se tyd baie verander en is daar woorde in wat vandag heel onbekend is. Ook is ervaar dat die psalms nie eintlik meer gesing word nie. “Ons wil dit weer singbaar maak. Ons wil dit stel in die eenvoudigste, verstaanbaarste Afrikaans dat die mense kan weet wat hulle sing.”

Gedurende daardie tyd het dit gebeur dat Cloete “net psalms eet, drink en slaap; tye dat hy afstand soek; tye dat koning Dawid hom, met moddervoete, uit sy tuin roep en terugbring tafel toe; tye dat Dawid hom uit sy bed laat opstaan en hom nie met rus laat nie. Daar is ook vir hom dae dat hy ‘liewer rose snoei’, maar hy het nie moeg geraak vir sy werk aan die psalms nie,” skryf Laubscher.

Cloete vertel self verder: “Dit is soos ’n abakus, dit maak jou moedeloos, maar dit bly vir my as digter ’n uitdaging. Wat my betower, is dat die Psalms antiek, maar van toepassing op vandag is. Dit bevat ’n rykdom van menslike emosies. Sonde en verlossing; jubeling en kla, trots en vernedering; haat en liefde. Daar is eintlik nie ’n menslike emosie wat nie in die Psalms staan nie. Dit is die digwerk van alle eeue wat die omvattendste menslikheid vir jou gee en vol Goddelikheid is tegelyk. ’n Ander ding wat vir my wonderlik is van die Psalms, is dat dit gerig is op hier en nou, God hier en nou. Die Psalms is so Goddelik-aards as byna geen ander Bybelboek nie en byna geen ander literatuur nie. ’n Mens moenie vergeet nie, die Psalms was eeue voor Christus daar en hulle is oorspronklik gesing deur die antieke Jode. Dit is ’n ou, beproefde besit.”

Sy inspirasie vir die omdigting van die psalms kom van oral: “Jy kan die Sionsberg, waar God woon, ontdek in die brokkoli op jou bord. Psalm 90 het uit die see aangeswem gekom na my. En met Psalm 104 het ek gaan wegkruip in die Krugerwildtuin. Sy raam het ek op ’n môre gekry toe almal weg en die kamp myne was. Ander psalms weier toegang tot ’n maand lank. Dan sit jy hom maar op ys en dan ry jy in die motor en dan daag hy op” (aan Louise Laubscher).

Psalm 90 is vir Cloete dié psalm wat bo die ander uittroon. Hy noem dit die kroon van die psalms, “een van die pieke wat uitstaan. Maar daar is baie pieke. Ek ken niks mooier in die literatuur as Psalm 90 nie. So kan jy eindeloos aangaan. Elkeen het sy eie karakter.”

Die omdigting van die psalms het nie maklik gekom nie en daar is soveel goed wat jy in gedagte moet hou, soos die ritme, die rym, vers- en strofebou en dan natuurlik ook die teks. Daar mag niks weggelaat of bygesit word nie, “en jy moet onthou, as digter kom jy maar vierde. Eers is dit die psalmdigter, dan kom die eksegeet en dan kom die komponis,” aan Laubscher. (Die Burger, 29 Julie 1995)

Een van die beoordelaars van die Andrew Murray-prys het gesê dit is ’n “magistrale werk wat onder eietydse omdigtings van die psalms wêreldwyd as een van die bestes gereken word”. Die verslag het gelui: “Cloete se omdigting het die hart van die psalms vasgevang en in nuwe en helder Afrikaans omgesit. Die werk is moeilik te oorskat.”

Al skryf TT Cloete al gedigte vandat hy in standerd 6 was, debuteer hy eers in 1980, op 56-jarige leeftyd, met Angelliera. Een van die redes wat hy aanvoer vir sy laat debuut, is dat hy gedink het dat hy ná die groot digters van sy jong dae – die Louws, Eybers, Opperman en ander – niks te sê het nie. Hy vergoed egter wel deeglik vir die laat debuut en tot op hede vloei nog sewe digbundels, twee kortverhaalbundels en ’n drama uit sy pen. Hy was ook die samesteller en redakteur van etlike publikasies.

Oor die ontstaan van Angelliera vertel Cloete aan Die Burger (6 Maart 1995) dat sy eerste titel vir hierdie bundel Van heinde en ver was. DJ Opperman was destyds die keurder by Tafelberg Uitgewers en hy het een aand vir Cloete gebel om hom te vra of hy nie aan ’n ander titel kon dink nie. “Hy het gewys op die tuin- en plantgedigte en die erotiese gedigte, wat volgens hom baie dominant is in die bundel. Dit het my op die gedagte gebring dat die titel in kiem vervat is in die gedig ‘Angelier’, nr 1 in die klein reeks van drie gedigte onder die titel ‘Tuin’; daarin kom die angelier voor, as erotiese simbool, met die element van pyn of ironie in die angel, wat ook in die gedig genoem word. Daarmee was Opperman ingenome. Ek het verder aan die speel gegaan met moontlikhede in ons gesprek, en daarby ook gaan dink aan die liriese element in die bundel, en dat die woord liriek teruggaan op die Griekse woord liera angel, angelier, liera, dus Angelliera. Opperman was ingenome. Die aansporing om ’n titel te vind wat slaan op die tuin- of erotiese motiewe het van Opperman gekom, die vinding was myne, soos dit trouens reeds vervat was in die gedig ‘Angelier’ op bladsy 9 van die bundel.”

Cloete se waarde is van die publikasie van Angelliera raakgesien. Angelliera is met beide die Ingrid Jonker- en WA Hofmeyr-prys bekroon. Jukstaposisie (1982), sy tweede bundel, verower die Louis Luyt-prys, terwyl Allotroop (1985) die CNA- en WA Hofmeyr-prys inpalm, en saam met Idiolek (1986) die grote: die Hertzogprys vir poësie vir 1987.

Driepas (1989) bring vir Cloete sy derde WA Hofmeyr-prys en sy volgende bundel, Met die aarde praat (1993), word weer met drie pryse bekroon, naamlik die Rapport-prys, Rapportryersprys vir poësie en weer die Hertzogprys. Met Heilige nuuskierigheid (2007) behaal Cloete sy vierkuns aan WA Hofmeyr-pryse.

JC Kannemeyer (Beeld, 11 Junie 1992) skryf dat Angelliera ’n bundel is wat, “naas sosiale kommentaar, natuurverse en gedigte oor siekte en dood, verse bevat waarin ’n verband tussen mens en natuur gelê word, dikwels met die gebruik van neologismes, woordspelings en die vermoë om disparate dinge en gebiede in een gedig te betrek en die harmoniese samehang tussen die uiteenlopende verskeidenheid onder die wakende oog van God te sien. Dit alles spruit voort uit die vaste geloof dat elke klein fragment, hoe nietig ook al, deel van ’n groot geheel vorm.”

Ook in Jukstaposisie (1982), Cloete se tweede bundel, kan duidelik gesien word dat die digter oor die besonderse vermoë beskik om baie verskillende dinge onder die vaandel van die gedig saam te bring en “te midde van die vervlugtende iets blywends vir die mens te ontdek” (Beeld, 11 Junie 1992).

Oor Driepas het Merwe Scholtz geskryf dat Cloete ’n “verbluffend uitgebreide en veelsydige woordeskat het en dit is mede-verantwoordelik vir sy besondere klankvaardigheid: hy laat die oënskynlik ongerymde klanks- en begripsgewys rym.” Scholtz was ook van mening dat terwyl daar baie gedigte in Driepas is wat bewys lewer van Cloete se belang as digter in Afrikaans, die bundel kon gebaat het by die strenger gebruik van die snoeiskêr (Die Burger, 5 April 1990).

In 1992 word Met die aarde praat gepubliseer en palm Cloete weer drie letterkundige pryse in, naamlik die Rapport-prys, die Rapportryers-prys en weer die grote, die Hertzogprys. Hy het aan Louise Laubscher in Beeld van 24 April 1993 vertel dat dit vir hom ’n groot blydskap was om die wenner te gewees het. “Die bekroning doen my goed, want ’n mens wil gewaardeer word. Dit is veral vanjaar wonderlik omdat dit duidelik was dat daar uit sekere oorde stemme gemaak is teen my. Vir my bly elke prys spesiaal. As die Hertzogprys uit ’n kring van tradisie kom, is die Ingrid Jonker-prys uit ’n kring van jonkheid. Daarom het elkeen sy eie kwaliteit.”

Cloete het ’n nuwe rigting ingeslaan met Met die aarde praat. Hierdie rigting is ’n “ontdekking en ’n eksploitering van ’n nuwe aspek van die oneindige aantal aspekte van die onoorsigtelike ryk werklikheid. Die bundel is meer aards as enige van my ander.”

Nadat sy Met die aarde praat geresenseer het, het Joan Hambidge geskryf dat Cloete met sy bundels die vorige tien jaar sy digterskap bevestig het. Sy het hom as “ons grootste lewende digter” beskryf.

Behalwe bogenoemde publikasies, is Cloete ook die skrywer van meer as 150 wetenskaplike artikels oor sy vakgebied en ’n aantal monografieë. Hy het ook verskillende vertalings uit die Franse letterkunde gedoen: gedigte, dramas en verhale wat in sy dig- en verhaalbundels opgeneem is.

TT Cloete het ’n wye belangstellingsveld. Van sy stokperdjies is hengel en tuinmaak en hy stel intens belang in musiek, argitektuur en die kunste. Sy leessmaak strek van die letterkunde tot astrofisika, mariene biologie en die sterrekunde. Hy teel ook opregte honde en kleurryke voëls.

Hy was 58 jaar lank getroud met Anna van Zyl, wat op 2 Mei 2007 aan nierkanker oorlede is. Hulle het vyf kinders, ses kleinkinders en een agterkleinkind. Anna is uit die NG Kerk Grimbeekpark in Potchefstroom begrawe.

Anna het skielik begin agteruitgaan en haar uiteindelike afsterwe was alles ’n baie seer proses. Hy het die hele tyd van haar siekte langs haar bed deurgebring. Hy het aan Die Burger (30 Mei 2009) vertel Anna was “die nie-skrywende digter in my. Sy het my bewus gemaak van so baie dinge. Goed wat spontaan aanleiding gegee het tot gedigte. As jy die verhouding tussen Alice en Edward Elgar snap, het jy dalk iets van die verhouding tussen my en Anna.”

Hy het Anna die laaste vier jaar van haar lewe self versorg. Sy seun, Theo, het aan Sarie van Niekerk (Beeld, 4 Mei 2007) vertel dat dit hartverskeurend was om te sien hoe hy altyd sy ma versorg het. “Waar sy hom al die jare van hul 58 jaar van getroude lewe versorg het, was dit hy wat die laaste vier jaar alles gedoen het om haar te versorg. Hy het nooit haar bed verlaat nie. Hy het homself daar ingerig en langs haar bed gesit en werk. Hy het versorgers gekry om te help nadat sy vier jaar vantevore met nierkanker gediagnoseer is.”

Cloete het in 2010 aan Marga Ley vertel (Volksblad, 1 Oktober) dat Anna altyd vir hom gesê het as sy doodgaan, moet hy nie ook sterf nie, maar aanhou lewe. “Maar sy was die digter in my. Ek kan nie meer skryf noudat sy nie meer daar is nie.”

In die eerste drie jaar na haar dood het hy net tien nuwe gedigte geskryf, waarvan sewe oor Anna was. Hy kon op daardie stadium reeds oor haar praat sonder om te huil, maar hy kon nog steeds nie haar gesig onthou nie. Die sielkundiges se naam daarvoor is prosopagnosia (gesigblindheid). Daarom is sy hele huis vol foto’s van haar, sodat hy haar kon onthou.

Die FAK het in 2007 dié organisasie se erepenning aan Cloete oorhandig vir sy bydrae tot die Afrikaanse literatuur. Die 83-jarige Cloete het gesê: “My koker het nog baie pyle. Die toekenning beteken baie. Op my gevorderde ouderdom is dit iets besonders dat die FAK vir my sê dat ek nog iets het om te doen vir die land.”

Oor Die heilige nuuskierigheid het die FAK gesê dit is “merkwaardig, kompleks in inhoud, ryk in omvang en tegnies so afgerond dat ander digters hul hande saamslaan”.

Marius Crous (Rapport, 17 Augustus 2007) skryf dat die bundel se titel skakel met Einstein se opmerking oor die sogenaamde heilige Neugier waaroor Cloete in die gedig “Geront-denker” (70) skryf. “Soos die titel impliseer, het ons in dié bundel die nuuskierigheid van die ouer man as denker en digter oor wat om hom aangaan en hoe die ouerwordende liggaam mettertyd verval. Maar ook aanwesig is die nuuskierigheid oor die wetenskap, dit neem nooit af nie. Dit bly een van Cloete se grootste gawes – daardie snuffeltogte deur die ontoeganklike en die ondeurgronde om sin daaruit te probeer maak. Die ouerwordende digter is ook voortdurend bewus van sy eie verganklikheid en sterflikheid, en die preokkupasie met die dood is ’n deurlopende tema in Cloete se oeuvre. Ook die lyding van die self en ander kom deurlopend in sy werk voor.”

Vir Crous slaag Cloete ook in Heilige nuuskierigheid daarin om, soos in sy vorige werke, die leser “verstegnies te oorbluf met sy verwikkelde sinstruktuur en woordplasing. Ook is daar die kenmerkende naasmekaarplasing van sake wat op die oog af onverwant blyk te wees. Daar is ook weer eens die ironiese kyk na die samelewing, die literêre establishment en die rol van die digter in ’n aanstellerige bestel.” 

Cloete is in 2008 deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vereer deurdat die liggaam se erelidmaatskap aan hom toegeken is. By die toekenningsgeleentheid was Cloete se reaksie: “Ek voel soos ’n tinktinkie onder die arende. Getrou aan my aard, wil ek eindig met die volgende twee reëls: Drie maal dankie, sê die tinktinkie.” (Die Burger, 27 September 2008)

Cloete het aan Marida Fitzpatrick gesê dat hy die meeste waarde heg aan hierdie erelidmaatskap van die Akademie, aangesien dit die oudste, sowel as hoogste toekenning van die Akademie is, sowel as van alle Afrikaanse toekennings. “Dit is in 1909 vir die eerste keer toegeken aan FW Reitz, ons eerste werklike digter wat sy gedigte gebundel het. Daar lê ’n eeu se Afrikaanse letterkunde tussen Reitz en my, met tussenin name waarvoor ek groot respek het” (Die Burger, 2 Oktober 2010).

In 2009, met Cloete se 85ste verjaardag, het sy familie hom saam met die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit gehuldig met ’n vertoning getiteld Seer en siter (na aanleiding van die titel van een van sy gedigte). Sy een dogter, Thea, het 35 van sy gedigte getoonset en dit is in die Sanlam-ouditorium vertolk. Cloete se reaksie na die vertoning was: “Ek is so oorweldig, ek weet nie wat om te sê nie” (Die Burger, 18 Mei 2009).

Tydens 2011 se Woordfees is ’n profiel van TT Cloete aangebied, en hy self was by die geleentheid teenwoordig (Willem de Vries, Die Burger, 11 Maart 2011). Joan Hambidge en Heilna du Plooy het sy werk bespreek, en Elisabeth Frandsen, begelei deur Rika Vermeulen, het van sy gedigte wat deur André Strijdom getoonset is, gesing. Vir Cloete was dit verruklik mooi en hy was “verwonderd oor hoe die oorsetting van een kunswerk op ’n ander dit kan vermenigvuldig”.

Hambidge het in haar lesing verwys na Jukstaposisie en Identikit en gesê: “’n Digter met soveel epigone en navolgers is werklik ’n fantastiese digter.” Hambidge het sy bundel Onversadig, wat ook tydens die geleentheid bekendgestel is, “een groot worp van fantastiese gedigte” genoem.

Heilna du Plooy het meer vertel van sy opgang in die geesteswetenskappe, “ook hoedat hy geskool is in ’n wye humanitêre insig in die geestesaktiwiteit van die mens”.

Toe hy vroeg aftree, het die rektor hom gevra na hoogtepunte in sy lewe, en sy antwoord was: “My hele lewe is ’n hoogtepunt.” Nadat Dorothea van Zyl die Woordfees-medalje aan hom oorhandig het, was sy reaksie: “Ek wens die rektor wil weer ’n slag vir my vra wat is my hoogtepunte. Dit is die dag wat die Here gemaak het. Laat ons jubel en bly wees” (Die Burger, 11 Maart 2011).

TT Cloete is in 2013 saam met Hennie Aucamp en Adam Small deur die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) vereer deurdat hulle elkeen ’n leergebinde eksemplaar van die 14de deel van die WAT ontvang. Cloete het gesê: “Woorde het substansie. Woordeboeke bevat nie woorde nie, maar werklikhede” (Beeld, 19 Oktober 2013).
In 2014 het TT Cloete sy 90ste verjaardag gevier. Jacques van der Elst was op 25 April 2014 namens die Afrikaanse Taalraad by die viering op Potchefstroom. Oudstudente, vriende en kollegas van oral in die land (sowat 60/70 mense) het die spoggeleentheid in Potchefstroom se museum bygewoon.
Tydens hierdie geleentheid het Cloete aan Susan Cilliers gesê as hy sy 90 jaar kon oorkry, sou hy wéér op 19 polio wou kry en 58 jaar saam met sy geliefde vrou Anna sou wou deurbring. Hy en Anna was drie jaar bevriend toe die polio hom platgetrek het en aan die begin kon hy net sy nek roer en Anna was die kruk op wie hy kon leun. Dit was eers ná Anna oorlede is dat hy haar waarde ten volle besef het, het hy gesê (Die Burger, 5 Mei 2014).

TT Cloete was tydens die KKNK van 2014 in die produksie God die digter te sien. Dit is geskep deur Babette Viljoen, Cloete se assistent toe sy vir haar meestersgraad gestudeer het, en die kunstenaar Olga Leonard. Cloete se 90ste verjaardag was net die inspirasie wat Viljoen en Leonard nodig gehad het om die produksie te skep. Hulle is albei lief vir die digkuns en het ingesien watter belangrike rol die natuur, die skepping en geloof in TT Cloete se verse speel. Hulle het ’n keuse uit sy gedigte gemaak en dit aaneengeskakel om die skeppingsverhaal te vertel. “Sy gedig ‘God die digter’ was die logiese keuse as tema, want dit som die skeppingsverhaal so mooi op: ‘... die aarde is deur ’n digter gemaak’,” vertel Leonard.

Nadat die teks en die toonsettings klaar was, het hulle Lize Beekman genader om die stuk te regisseer. Beekman se aandag aan besonderhede en afronding is baie fyn. “Sy het intensief aandag gegee aan die musiek, die aanbieding en die vloei van die vertoning sodat die eindproduk weldeurdag en afgerond is.”

Cloete en sy gedigte vorm die middelpunt van die produksie op die verhoog. Benewens die getoonsette gedigte, het Cloete self van die ander tussenin gelees. “Hier en daar sê hy kortliks iets oor die oorsprong van die gedigte, en sy voorlesings dien as bindingsteks” het Beekman aan Willem de Vries vertel (Die Burger, 1 April 2014).

Viljoen het aan De Vries gesê dat die meeste van Cloete se gedigte vrye vers is en dit was uitdagend om te besluit watter gedigte goed sal inpas in die konteks van die verhaallyn en om te sorg dat die luisteraar die toonsettings maklik sal kan verstaan. Hulle het 12 gedigte gekies wat getoonset moes word, het Olga Leonard vertel. “Die feit dat ons kon kies watter gedigte ons wil toonset en watter hy gaan voorlees, was voordelig, want die lang gedigte en ook dié wat hulself minder leen tot toonsetting, kon ons vir hom gee om te lees.

Benewens die letterkundige pryse wat Cloete vir sy digbundels ontvang het, is ook die volgende eerbewyse aan hom toegeken of betoon:

  • 1976 –
    • Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Gustav Preller- medalje vir Literatuurwetenskap en Letterkundige Kritiek 
    • ASB se oorkonde vir die uitbouing van die Afrikaanse vakliteratuur vir gebruik aan hoër opvoedkundige inrigtings
  • 1981 – Een van vyf van die RGN se gesogte prestige-navorsingsbeurse, waaruit die omvangryke publikasie en standaardwerk Literêre terme en teorieë ontstaan het 
  • 1984 – In teen die groot vergeet: ’n bundel opstelle ter viering van TT Cloete se sestigste verjaardag (reds Hein Viljoen, Ina Gräbe, Ena Jooste en Dawie Steenberg) wat by die Potchefstroomse Universiteit verskyn 
  • 1986 – ’n Eredoktorsgraad van die Potchefstroomse Universiteit 
  • 1990 –
    • ’n Goue medalje en oorkonde van die Potchefstroomse Stadsraad vir sy kulturele bydrae 
    • Rapportryersprys vir sy algehele bydrae tot die Afrikaanse digkuns
  • 1992 – Die Staatspresident se Orde vir Voortreflike Diens Goud vir Cloete se primêre skryfwerk, sy wetenskaplike navorsing en sy algemene kulturele bydrae 
  • 1996 – ’n Toekenning in die vorm van ’n moderne beeldhouwerk van die Pretoriase Technikon vir sy werk as skrywer en taalkundige 
  • 1997 – Digter van die Jaar van die SA Polisiediens se kultuurvereniging, AKPOL 
  • 2001 – Die Potchefstroomse Universiteit se Kanseliersmedalje vir sy omdigting van die 150 psalms in moderne Afrikaans 
  • 2002 –
    • Die Andrew Murray-prys vir die omdigting van die psalms 
    • Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Pieter van Drimmelen-medalje vir die verryking en verruiming van die teologie en die himnologie vir die omdigting van die psalms 
    • Die ATKV se Prestige-toekenning vir sy kulturele, letterkundige en taalbydraes 
    • Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se NP Van Wyk Louw-medalje vir sy skeppende bydraes tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van vertakkings van die geesteswetenskappe 
    • ’n Alumni-oorkonde van die Bond van Oud-Pukke 
    • ’n Oorkonde van die Potchefstroomse Stadsraad vir sy himnologiese werk 
  • 2003 – ’n Toekenning van Dames Aktueel vir sy taal- en letterkundige werk en sy bydraes as skrywer
  • 2004 – ’n Toekenning van die LUR vir Onderwys in Noordwes, ZP Tolo, vir “Die mees vindingryke persoon/baanbreker in onderwys” 
  • 2006 – ’n Spesiale gedenktoekenning van sy alma mater, Hoërskool Monument
  • 2007 – FAK se erepenning vir sy bydrae tot die Afrikaanse literatuur
  • 2008 – Erelidmaatskap van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns
  • 2011 – Woordtrofee-medalje by die Woordfees
  • 2014 – Afrikaans Onbeperk-toekenning by KKNK vir sy lewensbydrae.

Oor ’n boek wat sy lewe verander het, het TT Cloete aan Beeld (6 September 1999) vertel: “Die getal drie is goed, sê Van Wyk Louw. Dante se Goddelike Komedie het drie verdiepings: Hel, Vaevuur en Hemel, en elkeen van hierdie drie het 33 sange, met driereëlige strofes. Rondom is God Drie-enig.

“’n Goeie boek lei na ander, soos Dante my uit my jeug gelei het na baie ander uithoeke, tot onder die aarde, deur baie hemele, paradyse, helle, deur die kosmologie tot by vandag se astronomie. Dit het my van die klassieke Olympus en Hades deur die Middeleeue tot die moderne heen en weer gevoer: na Thomas à Kempis se Over de Navolging van Christus en Mariken van Nimweghen se primitiewe duiwel, na Rimbaud se Seisoen in die hel, na K Schilder se Wat is de hemel? en Wat is de hel?, na Totius se Die hel, na Milton se Paradise Lost en Vondel se Lucifer met sy engele en duiwels, na Dorothy Sayers se Dante.

“Dit het my buite die literatuur gelei na die Gotiese katedrale, met hulle heiliges en duiwels stewig gestut op die aarde en met torings wat die hemel in boor, dit het my na die Sixtynse kapel gelei na Michelangelo se swewende hemelinge en tuimelende veroordeeldes, na Jeroen Bosch se demoniese skilderye en die Jode se sjeool, na Faust, met 'n jeugdige draai in LA Beck se The Life of the Buddha. Wat de duiwel lees ek? Waarom? My antwoord kom van Vondel: Jy kan die tydelike alleen ken as jy die ewige droom, jy kan die ewige alleen vermoed as jy tydelike ken.”

TT Cloete se gesondheid het mettertyd verder agteruitgegaan. Nadat hy polio as jong man gehad het, het hy later kanker in sy regterbors gehad en dit laat verwyder en in 2010 het die kanker in sy linkerbors hervat en ’n gewas so groot soos ’n hoendereier uit sy linkerbors gehaal, maar intussen gaan hy nog aan, want “Anna het gesê ek moet nie ook doodgaan nie” (Volksblad, 1 Oktober 2010).

Maar TT Cloete was nie uitgeskryf na Heilige nuuskierigheid nie en vier nuwe boeke het sedertdien uit sy pen verskyn, naamlik Uit die wit lig van my land gesny. Vir Anna (2010), Onversadig (2011), Die ander een is ek (2013) en Karnaval en Lent (2014).

Uit die wit lig van my land gesny is ’n bundel gedigte waarin Cloete hulde bring aan sy vrou. Van die versamelaarsuitgawe van hierdie bundel is aanvanklik net 150 kopieë gepubliseer en dié is almal tydens Aardklop van 2010 verkoop. Daar is toe besluit om dit ook in gewone formaat uit te gee.

Zandra Bezuidenhout skryf op Versindaba dat daar reeds in vorige bundels van Cloete se verse oor Anna verskyn het. In Wit lig van my land gesny verskyn die verse wat hy sedert haar dood geskryf het, in die laaste afdeling. “Die gedigte gaan egter nie slegs om Anna as persoon nie, hoewel haar klein afbeelding op die voorplat tesame met die opdragwoorde daardie indruk mag skep,” skryf Bezuidenhout. “Dit is eerder ’n bundel oor die wonder van ’n verbintenis; die deelwees en opgaan van liefdesgenote in mekaar. Aansluitend hierby word die geborgenheid van huis en tuin, asook van die gesinsverband, beklemtoon. Vir die spreker is dit binne hierdie koesterende ruimte dat die mens se sterflikheid en stoflikheid deur die liefde oorwin.

“Dit behoort aan lesers groot genoegdoening te verskaf om Cloete se verse rondom ’n bepaalde tema, en dan die liefde as die grootste (en seker die mees uitdagende) van almal, in een uitgawe ter hand te neem. Daar is ’n veelheid van gesigspunte, en die bekende Cloete-knipoog wissel die weemoed af.”

Oor “die groot worp van ’n digbundel” (Onversadig) skryf Joan Hambidge in Rapport (13 Maart 2011) dat die groot talent van Cloete weer eens die leser bekoor. “Die gedigte getuig van belesenheid, intelligensie en die vermoë om disparate dinge saam te snoer. Die paradoks van menswees, van die klassieke letterkunde tot nou, word onder die loep geneem. Die digter skryf oor ’n Dakar-tydren (satiries), die sokkerwaansin en die soeke na God op ’n aangrypende wyse. Die gedigte word gekenmerk deur ’n tegniese beheer, flink hantering van ryme en dubbelladings in gedigte. (...)

“Vir die fynproewer is daar intratekstuele verwysings binne bundel- én oeuvreverband. Die gedig oor ’n vrou praat terug met die verruklike vers oor Marilyn Monroe gestulp in haar stilte (Angelliera). Die temas is ryk en geskakeerd (van Rembrandt tot uitkomsgerigte onderwys, van molle tot Dakar, van kraanvoëls tot die buitenste ruimte, van Hendrik Biebouw tot ’n bonsai). Ook die styl wissel: satiries, nostalgies, ironies, skertsend, speels, droef, parodies, gedistansieerd. Die vorme, soos ’n mens by ’n meester verwag, is eweneens verskillend in aanbod: van die klein kwatryn tot ’n magtige vrye vers met metriese en ritmiese patrone netjies in beheer gehou. (...)

“Om op 86 jaar so te kan dig: trefseker, helder, intelligent en aangrypend, verdien alle lof. Dis ’n uitgebreide feesmaal, hierdie digbundel. Met sy debuut het hy die landskap van die Afrikaanse digkuns verander. Met sy jongste bundel, wat 196 bladsye beslaan, bewys hy opnuut sy meesterskap en sy invloed onder andere nou onlangs op Tom Gouws se bundel Ligloop (Human & Rousseau) en die gesprek met Vermeer dui verder op sy belangrike posisie. ’n Digter met epigone en navolgers is groot.”

Oor Die ander een is ek vertel TT Cloete aan Carina Stander in Die Burger van 5 Maart 2013: “Om te skryf is om bewus te raak. Dit was vir my, amper ironies, bevrydend om daarvan bewus te raak dat pyn kreatief kan wees. En dat skryf oorlewing is.”

Daar is baie outobiografiese materiaal in hierdie memoire, wat 350 bladsye beslaan, waaraan hy begin skryf het nadat Anna oorlede is.

Cloete sien Die ander een is ek as sy “digterlike credo, my kyk op die lewe en die mens as deel van die skepping. Die kern van die boek is my verwondering oor die feit dat ons van vlees, been, water en bloed gemaak is. Die misterie is dat hierdie biologiese liggaam omgesit of getransendeer kan word in immateriële, niebiologiese fenomene soos die verbeelding, die gewete, die geloof, die gedig en veral die liefde. Niemand kan dit verklaar nie.”

Die ander een is ek handel ook grotendeels oor sy digterskap. “Ek het al die blokkies van die legkaart gehad, maar die uitdaging was om te sien watter vorm pas waar; hoe loop die een tema (liefde, dood, pyn, verwondering, afstomping, geweld, moord) in die ander oor.”

Die titel van sy herinneringsboek veronderstel dat ons hier met meer as een identiteit te make het. “Waar kruis en vleg en skei die ekke se paaie,” wou Stander weet

“Van lank­al af is ek besig met Flaubert se ‘Madame Bovary, c’est moi’. Dit handel oor die digter, ’n meervoudige mens, op soek na die kernpersoon wat hy nooit vind nie. Die digter is die nie-selfvoldane mens en daarom altyd na homself op soek in ‘die ander een’. Soms is dit ’n bepaalde mens soos my vrou of my kinders of ’n vriend of selfs ’n dier, ’n boom of klip, ’n landskap. Die digter kan besit neem van enigiemand of enigiets.”

By die bekendstelling van Die ander een is ek tydens 2013 se Woordfees het Heilna du Plooy haar praatjie oor Die ander een is ek as volg afgesluit (Op Versindaba): “Goeie lesers en navorsers sou ’n teks soos hierdie as van uiterste belang vir literêre navorsing vind en in die lig van Cloete se statuur as ’n intellektuele digter binne die Afrikaanse literêre wêreld kan dosente en studente met groot vrug hierdie werk bestudeer.

Die ander is ek val vanweë die uitsonderlike aard daarvan nie maklik binne vasgestelde bemarkings- en publikasiekategorieë van die hoofstroomuitgewers nie en daarom verdien die uitgewer Annekie Botha du Plessis ’n pluimpie vir haar moed en durf om hierdie teks uit te gee.

Die ander een is ek is nie leesstof vir een oggend in Desember op die strand nie. Die boek sal eerder gelees kan word soos ’n suiglekker, waaraan mens lank en stadig en deeglik suig en waarvan die soet diep in jou smaakpapille gaan lê. Dit is leeswerk wat saamdink vra, ook saampraat of teëpraat, wat stukkie vir stukkie verteer moet word.

“Etienne van Heerden het by geleentheid gesê dat die toekoms van Afrikaans sal afhang van die gehalte wat daar in Afrikaans geskryf word. Hierdie teks van TT Cloete is myns insiens een van daardie tekste wat die ideaal van gehalte en diepgang vir ’n intelligente en denkende leserkorps, waar maak.”

Karnaval en Lent, wat in 2014 gepubliseer is, is TT Cloete se tiende bundel en vir Johann Lodewyk Marais (Rapport, 7 Maart 2014) was die “eerste verrassing die omvang van die bundel, wat uit 160 bladsye en 74 soms lang gedigte bestaan. Voorts het die digter hom die uitdagende taak opgelê om aan die hand van die skilder Pieter Brueghel de Oude se ‘Die geveg tussen Karnaval en Lent’ (1569) ’n bundel te publiseer waarin teenstellings of uiterstes bedink en/of in jukstaposisie geplaas word om die aard en wese van moderne mense te probeer bepaal. In die aantekeninge voorin die bundel word die teenstellings in Brueghel se skildery in besonderhede beskryf (7).” 

Marais gaan voort: “In Karnaval en Lent maak hy wel minder van tradisionele rympatrone gebruik in gedigte wat meermale die karakter van die vrye vers van die nuwe poësie sedert Sestig het. Dié gedigte is vol poëtiese kwaliteit en intellektuele intensiteit, en is à la Martin Heidegger ’n voortgaande lied vir die (dikwels stukkende!) aarde. (...)

“Hierdie omgewingsbewuste digter verklaar in die vierde deel van ‘dronk gedraai’: ‘die verbruikersgemeenskap word gevoed/ met gemanipuleerde verbruikerskosse’ (31) as deel van die karnavaleske en hy gee ’n verdere beeld van ’n etende en verkwistende samelewing wat onder meer daartoe lei dat ‘ongetelde onbenoemde kinders’ nie kan oorlewe nie (33). Ook in ‘ekologie’ (34) word pertinente vrae oor die oorlewing van die aarde gevra, en in ‘drie groot outydse digters’ (45) vermeld die digter: 

ek word gedryf tussen Karnaval en Lent 
’n wrede uitputtende geskarrel 

“Soos in Brueghel se skildery is die keersy van die ongebreidelde karnaval Lent, wat in spanning met die verkwistende en bandelose wêreldse verkeer. Byna soos die romanskrywer Etienne Leroux meermale gedoen het, tipeer Cloete verskillende vorme van die feestelike en die gepaardgaande rituele om die mens in historiese verband te belig.”

Op haar blog bewonder Joan Hambidge vir TT Cloete dat hy op sy 90ste verjaardag nog ’n bundel soos Karnaval en Lent kon skryf. “Ons het hier die bekende aanslag van Cloete: die mens as komplekse wese. Enersyds banaal, andersyds gelowig. Hierdie tematiek van die karnaval, die oordrewe uitspattigheid versus die besinning, loop regdeur die digter se oeuvre. Die digter se erotiese verse oor Marilyn Monroe (onder andere begelei met Dante) en sy aangrypende lykdigte is alreeds ’n aanduiding hiervan. Die karnavaleske aktiveer ook Bakhtin se teorieë. Cloete is teen wil en dank ’n intellektuele digter, ofskoon sy gedigte uiters gewild is by gewone lesers. (...) Dit is ’n bundel wat op meer as een vlak bewondering afdwing: laatwerk inderdaad, maar steeds geskryf met soveel beheer!”

Vir Andries Visagie (Beeld, 7 April 2014) is “die strewe na groter insig in die aard van die komplekse verhouding tussen God, mens en natuur ’n kerngegewe in TT Cloete se digterskap en word in Karnaval en Lent opnuut met sy ambag as woordmens geskakel. Selfs al word die groot heelal in die bundel gereeld met verwysing na die natuurwetenskappe betrek, vervreem Cloete nooit sy leser met onverklaarde feite of oordrewe slim woordspeletjies nie.

“Jou oog beweeg glad deur die bundel en tog is daar oorgenoeg stof vir sowel bepeinsing as verrukking. En dit is verrukking waarmee die leser uiteindelik die slotgedig begin lees as ’n volmaakte samevatting van die bundel as geheel:

op sy beurt is die gedig omvattend geïnteresseer
in die beleefbaar eksistensiële benoembare
en vermoedelike onnaspeurbare Onbenoembare
.”

In ’n onderhoud met Johan Myburg in Die Burger van 3 Junie 2014 vertel Cloete dat al loop hy nie meer so lekker nie, is hy stewig op pad om 125 te word! “Volgens my dokter is daar geen rede waarom ek dit nié kan haal nie,” skerts hy teenoor Myburg.

En vir Myburg is dít ’n opsomming van Cloete se uitkyk op oudword: “Dis is een van die hoogtepunte van my lewe, dis ’n avontuur,” sê hy en trek dan ’n streep deur na Cicero wat gesê het die “gesonde en versorgde ou mens is ’n begeerlike mens”.

“Maar,” meen Cloete, “mense leef nie intens nie, omdat hulle nie aan doodgaan dink nie. Soos Sartre gesê het: ‘Die dood intensiveer die lewe.’ Oor die dood dink ek dikwels, Maar doodsgedigte het hulle nog nie juis aangedoen nie.”

TT Cloete is ook nog nie klaar geskryf of klaar geleef nie. Hy noem aan Myburg dat hy ’n roman het waaraan nog ’n bietjie gewerk moet word en ook is daar nog twee digbundels: een oor die politieke tyd waarin ons in Suid-Afrika leef en een oor die liefde.

Cloete het nog nooit ’n probleem gehad om woorde te vind om te skryf nie. “Ek ken nie Opperman se ‘Kalahari’s wit papier’ nie. Ek ken wel voortdurend waaksaam wag.”

En hy meen dat die “digter se deur altoos oop moet staan vir die woord en dat jy in afwagting moet leef”. Dit noem hy “woordgasvryheid”. En hy erken teenoor Myburg dat hy “verlief is op woorde”.

“Alles berus op woorde,” sê die man. “Ons sou nie maan toe kon gaan sonder woorde nie. Want as jy iets nie kan noem nie, kan jy dit ook nie besoek nie.”

Myburg wou weet of ’n mens “met woordgasvryheid in gedagte, woorde kan troetel”. “Wat ’n wonderlike ding is dit nie om woordeboeke te lees nie,” was Cloete se kommentaar.

Dit is duidelik dat al is TT Cloete al 90, hy nog baie leef in hom het. Hy het dalk net “langsaam ... tuisgekom in die deursigtige opvoutent van (sy) ouderdom”.

TT Cloete is vroeg Woensdagoggend 29 Julie 2015 in die ouderdom van 91 in die Mooimed-hospitaal in Potchefstroom oorlede aan natuurlike oorsake.

Hy het die laaste paar jare in ’n meenthuis op sy seun Theo se erf in Potchefstroom gewoon. Theo het vertel dat sy pa se hart en niere verswak was en dat hy in die hospitaal opgeneem is. Hy het aan Susan Cilliers (Die Burger, 30 Julie 2015) vertel: "Dit was ’n besondere voorreg dat hy elke dag deel van ons lewe was. Hy was altyd daar. Ek het hom elke dag hoor lag en met hom gepraat. Saans het ek sy batterykarretjie vir hom toegemaak en om sy huis geloop om te kyk of alles reg is. Sondae het ons saam geëet. Hy was ’n integrale deel van ons gesinslewe.

"My pa het Sondag (voor sy dood) nog vurig gebid. Hy het ons elkeen op die naam genoem en in sy gebed gesê hoe gelukkig hy nou is."

Sy gedenkdiens is Saterdag 1 Augustus vanuit die NG Kerk Potchefstroom gehou. Sy seun Stanus het die diens gelei. Huldeblyke het van oral gekom.

Huldeblyke

    • Joan Hambidge: "Hy was ’n nuwe stem. Hy het die intellektuele met die emosionele versoen. Sy tegniese beheer en nuwe aanwending van rym het ’n durende impak op die geslag van die tagtigs gehad. Hy het uitstekende gedigte geskryf en ’n mens sou hom ten beste kan beskryf as ’n 'poet's poet'; tog is gewone mense gaande oor sy gedigte. (...) Sy gedigte het my lewe verander en by die lees van sy eerste gedigte, het dit my so meegevoer dat ek begin dig het. (...) 'Jy gaan haal jou gedigte ver,' skryf hy onlangs in ’n e-pos aan my. En mag hy, wat nou ver is, steeds naby bly aan ons in sy verse." (Die Burger, 30 Julie 2015)

 

    • Die Burger, hoofartikel, 30 Julie 2015: "Al was daar ’n sterk geborgenheid met die Koepel, het Cloete altyd na die hemele – die sterre – gekyk. Sy God en die skepping was nooit ver van sy blik nie. Dit is waarskynlik die aardsheid van dié hemelkyker en sy soeke na die hand van 'die Groot Digter in die skepping' wat hom so geliefd gemaak het. (...) Cloete het ook gesê die resep vir ’n hoë ouderdom lê opgesluit in drie G's: gesondheid, gene en Genade met ’n hoofletter. 'As ek nog op my sterfbed kan praat, sal ek sê: Gracias, gracias, gracias – baie dankie.' Maar dit is óns wat vir hom moet sê: Gracias, gracias, gracias, vir ’n lewe onversadig en vir verse."

 

  • Heilna du Plooy: "Hy was ’n entoesiastiese en toegewyde dosent wat met sy gemaklike en charismatiese styl van klasgee en warm persoonlike kontak met studente ’n liefde vir die letterkunde by hulle gekweek het. (...)

"Wat sy kreatiewe skryfwerk betref, sal Cloete onthou word vir die tegniese vindingrykheid van sy gedigte. Die geweldige verskeidenheid van temas wat in sy digbundels aan die orde gestel word, maak ook sy werk uitsonderlik. (...)

"Cloete was ’n gebalanseerde mens en sal onthou word vir meer as sy veelsydige akademiese en literêre publikasies. Hy was ’n ware intellektueel, ’n belese en beleë akademikus en skrywer, maar hy was ook ’n warm en gesellige mens, lief vir sy gesin en sy familie en lojaal teenoor sy vriende. Sy mensekennis, wat ’n mens ook in sy poësie terugvind, het hy deur interaksie met studente en baie vriende en familie gekry. Dit was meestal mensliewende interaksie, maar hy kon ook vurig standpunt inneem oor dinge wat hom na aan die hart lê. (...)

"Cloete verpersoonlik vir my die ideaal van die intellektuele mens, iemand met ’n dors na kennis en insig, met daardie 'heilige nuuskierigheid' waarvan Einstein gepraat het. Daarby het hy die gawe van menslikheid en kreatiwiteit in oormaat gekry sodat alles wat hy in poëtiese vorm geskryf het, ’n veel wyer betekenis en trefkrag verkry het.

"In hom verloor die Afrikaanse literatuur, die taal Afrikaans, Suid-Afrika, Potchefstroom, vriende en kollegas en veral sy familie ’n geliefde mens en ’n groot gees." (Die Burger, 4 Augustus 2015)

    • Wilna Pretorius, Potchefstroomse Afrikaanse Vroueleeskring: "’n Paar dae voordat hy 91 jaar oud geword het, het hy by die Potchefstroomse Afrikaanse Vroueleeskring opgetree. Aanvanklik sou hy saam met ’n kollega in ’n tweegesprek oor sy werk gesels het. Dit kon ongelukkig nie en toe ons hom vra of ons iemand anders daarvoor moet nader, was sy antwoord dadelik: 'Nee wat, ek doen dit sommer self.' In sy lewendige en besielende aanbieding het hy gesels oor alles wat hom in sy skryfwerk inspireer, veral sy vrou en die eenvoudige, natuurlike skoonheid van ’n vrou wat hom bekoor het. Deurentyd het ’n mens diep onder die indruk gekom van sy liefde vir die natuur en sy uitgebreide kennis daarvan, die hand van God in elke deeltjie van die wêreld om hom. Met groot genot en waardering sal die leeskring die talle kere onthou dat hy by ons opgetree het.” (Beeld, 5 Augustus 2015)

 

  • Deborah Steinmair: "By professor Cloete loer ek, vermetel soos ’n kind, altyd in om te gesels, asof ons aan dieselfde stam behoort. Hy sê gerusstellende dinge soos: 'Toe ek jonk was, het ek ook geglo ek sou vroeg sterf.'

"Hy vertel stories van sy professore, lank voor die dae van amper onbeperkte kitsinligting. Mense met biblioteke vol kennis in die kop, wat ter stawing van ’n argument die juiste boek van die rak kon haal, dit by die regte bladsy kon oopslaan en die vinger op die gepaste paragraaf kon lê. Mense wat geskok was as ’n mens jouself geleerd ag en nie Latyn kan lees nie. Hy het wonderlike kennis in pag gehad oor die kosmos, literatuur. Oor alles onder die son was hy nuuskierig.

"Hy was die eerste skrywer wat ek van nader leer ken het. Later ontmoet ek ander, woedende struggle-skrywers. Hulle was soms snedig oor hom, maar het hul pa’s gehaat, bomme beplan, revolusionêre lektuur gesmokkel en geliefdes verrinneweer sonder om ’n greep op hul eie bipolariteit te kry. TT Cloete, daarenteen, was bedagsaam, vol lig en liefde soos Madiba, uitbundig gek oor sy vrou, kinders, honde, knegte en selfs die taktlose vreemdeling in sy poorte.

"Hy laat val op ’n doodgewone oggend sinne soos: 'I believe in the sweet power of poetry.' Ek was oor die kop geslaan met Yeats en Eliot. En Leonard Cohen. Hy was so cool soos Cohen. Sy gedigte vorm my binnelandskap en ek fikseer op hom soos ’n verliefde eendkuiken. Sy menswees en sy woorde, begogelende frases soos 'toweragtig verganklike frats­appelkoos' en 'die halfrond van die kopspeld' sou my lewenslank inspireer.

“Hy doen as student polio op wat hom mank gelaat het. Hy het pyn as kreatief ervaar en skryf as oorlewing. Hy het humoristies omgegaan met sy skete. Eendag hink hy krom van die rumatiek en ander aanslae verby en sê vir Thea (sy dogter): 'Dis die klein jakkalsies. Kan jy glo, nou het ek vanoggend nog boonop sproei in die poephol.'

"Hy skryf oor sy moeder:

... ek blaai in ’n resepteboek
agter u aan die boom se blare
ruis soos u rok u bly deurleef
in my chemikalieë bly volhardend kleef
aan ’n lap en aan gare
aan ’n bril en kam aan ’n postume
bestaan in ’n sakdoek en parfume
Liefste professor, dit onthou ek:
die skemers en aande gesond en sterk
toe ons fees gevier het op die grasperk
daar is ’n einde aan gemaak
... Die uile het die skemerswaels
uitgeroei
hoe bang maak die dooie maan my
nou nie die swaels het vlermuise
uitgebroei.

"Dis iets wit en stil en allerliefliks wat weg is. Maar wat bly, is jou liefde. Rus sag, dankie vir jou verruklike voetspoor." (Rapport, 4 Augustus 2015)

    • Cas Vos: “Omdigting is baie tegnies. Daar is onder meer die woord-toon-verhouding en ritme wat in gedagte gehou moet word. Vryevers kon nie gebruik word nie. Prof Cloete het elke psalm in elke strofe meesterlik omgedig. Sy gesindheid deur die dekade lange werk was ewe merkwaardig. Hy was deurgaans nederig en gefokus. Ek wil die laaste versreël van die eerste strofe van Psalm 84 aan Cloete opdra: Ek sal my lof met jubeling/ aan U wat waarlik lewe, bring. Dit is hoe hy was.” (Volksblad, 30 Julie 2015)

 

  • Rensia Robinson: "Toe ek ten einde laaste (na ‘n gesin van vyf kinders, soos die Cloete-gesin) kon herinskryf by TT Cloete as doktorale student, was ek bewus daarvan dat ’n uitsig op 'hemel' net so inspirerend kan wees as 'hemel' self. Die onmoontlike is vir my verwesenlik toe ek in April 1992 die doktorsgraad onder promotorskap van TT Cloete kon ontvang met ‘n proefskrif getitel 'Poësieteks en Bybelse interteks'. Dit is opgedra aan my promotor, TT Cloete, wat ek graag oorgedra het in die vorm van 'huldeblyk aan die akademikus met die vryheid van ’n kunstenaar en die geloofsoor wat die vakuums kan hoor sing'. Vir my was die kroon op my langgekoesterde drome dat die digter van die gedig 'Van Hom en my' in die bundel Jukstaposisie my andermaal omhels het met die opmerking: 'Rensia, jy lees my oop vir myself.'

“Die veelkleurige band met TT Cloete en sy Anna het blywend verras en geïnspireer. As egpaar het ons met hom en sy Anna die rykdom van ’n lewenslange blywende liefdesverhouding wat uit skooldae dateer, gedeel. (...) Naas sy altyd entoesiastiese bewondering van musiek, skilderye of ander kunswerke, was die gedeelde passie vir die tuin ’n belewenis. Die letterlike paar treë vanaf ons voordeur tot hekkie was telkens ’n eiesoortige verkenning, al was dit in sy rolstoel. ’n Hangende vetplant is bestempel as 'vrouehare'. Hy was gaande oor ’n miniatuurgranaatjie in ‘n bonsaihouer. Die plantjie wat vir hom gekweek is en nie betyds afgelewer kon word nie, sal ’n ereplek behou.

“Die nagelate Cloete-'biblioteek' verg ‘n leeftyd van navorsing en besinning. Vorige kennismaking met aspekte daarvan voed slegs die drang om as’t ware nuut te begin delf daarin. Dié onvermoeide ontdekkingsreisiger het immers ook in die gedig 'fragmente van die onvolledige gedig' (Onversadig, 2011:159) beweer:

die volledige gedig 
kan nooit geskryf word nie
...

“Dié gedig eindig soos volg:

aan die maak van baie gedigte
om die steeds uitdyende onvoltooidheid
van die steeds groeiende onversadigde Gedig
in te haal kom daar geen einde nie.

"Vir my is ’n onvergelykbare 'groet' aan dié eietydse Dante ’n aanhaling van die Nederlandse digter JH Leopold. Dit lui: '(E)n dit is wit op wit en wit op wit.' Dit verskyn boaan die gedig ‘rou waterverfkomposisie 2007' (Onversadig, 2011:151) wat geskryf is na sy vrou Anna, se afsterwe. Ek het dit twee jaar vantevore gekies as die slot van die Cloete-erelesing (2013) wat ek bevoorreg was om aan te bied. Dit gaan hiervolgens om ’n vergelyking van die Cloete-digter se perspektief op die aanbreek van dié 'wit lig' waarna die Estoniese komponis Arvo Pärt ook verwys as 'white light which contains all colours'. Die volle ligspektrum wat hy kon visualiseer, het vir Theunis Cloete beskore geword. Cloete is nie dood nie ... die digter leef en laat leef." (LitNet)

TT Cloete se jongste digbundel behoort binne die volgende paar maande te verskyn en nadat daar deur sy werk gegaan is, sal daar minstens nog een bundel wees, het Heilna du Plooy gesê. "Daar is ook nog ’n boek op pad met briewe wat hy aan sy vrou geskryf het terwyl sy siek was. Ná haar dood het hy nie opgehou briewe skryf nie" (Die Burger, 3 Augustus 2015).

Sy nalatenskap word by die Noordwes-Universiteit bewaar.

Kritiese publikasies

Publikasie

Trekkerswee en Joernaal van Jorik

Publikasiedatum

1953

ISBN

Geen

Uitgewer

Amsterdam: Swets & Zeitlinger

Literêre vorm

DLitt-proefskrif

Pryse toegeken

  • Geen

Vertalings

  • Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Geen

 

Publikasie

Beskouings oor poësie: ’n bundel opgedra aan prof G Dekker op sy sestigste verjaardag 11 November 1957 (Medeskrywer)

Publikasiedatum

1957

ISBN

Geen

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Gedenkbundel

Pryse toegeken

  • Geen

Vertalings

  • Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Geen

 

Publikasie

Die wêreld is ons woning nie: ’n studie van die poësie van Totius met tekste

Publikasiedatum

  • 1961
  • 1965
  • 1975

ISBN

0624006409 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësiekritiek

Pryse toegeken

  • Geen

Vertalings

  • Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Geen

 

Publikasie

Totius (Monografieë uit die Afrikaanse letterkunde, nr 2)

Publikasiedatum

1963

ISBN

Geen

Uitgewer

Kaapstad: Nasou

Literêre vorm

Monografie

Pryse toegeken

  • Geen

Vertalings

  • Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Geen

 

Publikasie

Op die woord af: opstelle oor die poësie van NP van Wyk Louw

Publikasiedatum

  • 1963
  • 1976

ISBN

0624008711 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësiekritiek

Pryse toegeken

  • Geen

Vertalings

  • Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Geen

 

Publikasie

Eugène N Marais (Monografieë uit die Afrikaanse letterkunde, nr 2)

Publikasiedatum

  • 1963
  • 1968

ISBN

Geen

Uitgewer

Kaapstad: Nasou

Literêre vorm

Monografie

Pryse toegeken

  • Geen

Vertalings

  • Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Geen

 

Publikasie

Gids by DJ Opperman se Senior Verseboek

Publikasiedatum

  • 1966
  • 1981
  • 1985

ISBN

  • 0624016099 (sb)
  • 062402315X (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasou
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Studiegids

Pryse toegeken

  • Geen

Vertalings

  • Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Geen

 

Publikasie

Twee idilles: Martjie en Trekkerswee (Blokboek)

Publikasiedatum

1970

ISBN

Geen

Uitgewer

Pretoria: Academica

Literêre vorm

Studiegids

Pryse toegeken

  • Geen

Vertalings

  • Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Geen

 

Publikasie

Tetralogie van FA Venter

Publikasiedatum

1970

ISBN

Sagteband

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Romankritiek

Pryse toegeken

  • Geen

Vertalings

  • Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Geen

 

Publikasie

Kaneel: Opstelle oor die letterkunde

Publikasiedatum

1970

ISBN

Geen

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Boekhandel

Literêre vorm

Letterkundige essays

Pryse toegeken

  • Geen

Vertalings

  • Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Geen

 

Publikasie

Joernaal van Jorik (Blokboek)

Publikasiedatum

  • 1974
  • 1978
  • 1983
  • 1990

ISBN

  • 0949964468 (sb)
  • 0868740691 (sb)
  • 0798127384 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Academica
  • Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Studiegids

Pryse toegeken

  • Geen

Vertalings

  • Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Geen

 

Publikasie

NP van Wyk Louw, 11 Junie 1906 – 18 Junie 1970 (Skrywers in beeld, nr 1)

Publikasiedatum

1974

ISBN

0624005410 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Monografie
Biografie

Pryse toegeken

  • Geen

Vertalings

  • Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Geen

 

Publikasie

Totius se organiese beskouing
(Universiteit van Port Elizabeth Publikasiereeks)

Publikasiedatum

1978

ISBN

0869881299 (sb)

Uitgewer

Port Elizabeth: UPE

Literêre vorm

  • Langenhoven-gedenklesing gelewer te UPE op 16 September 1977
  • Letterkundige kritiek

Pryse toegeken

  • Geen

Vertalings

  • Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Geen

 

Publikasie

Van Wyk Louw se fundamenteel dramatiese instelling (Publikasiereeks van die Randse Afrikaanse Universiteit)

Publikasiedatum

1980

ISBN

0869701630 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: RAU

Literêre vorm

  • NP van Wyk Louw-gedenklesing, nr 10
  • Dramakritiek

Pryse toegeken

  • Geen

Vertalings

  • Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Geen

 

Publikasie

Die verhouding tussen die skrywer en sy volk
(Wetenskaplike bydraes van die PU vir CHO)

Publikasiedatum

1982

ISBN

0869906682 (sb)

Uitgewer

Potchefstroom: PU vir CHO

Literêre vorm

Kritiek

Pryse toegeken

  • Geen

Vertalings

  • Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Geen

 

Publikasie

Hoe om ’n gedig te ontleed (Blokboek)

Publikasiedatum

  • 1982
  • 1984
  • 1985
  • 1987

ISBN

0868741442 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Academica

Literêre vorm

Studiegids

Pryse toegeken

  • Geen

Vertalings

  • Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Geen

 

Publikasie

Wat is literatuur?
(Wetenskaplike bydraes van die PU vir CHO)

Publikasiedatum

1984

ISBN

0869907980 (sb)

Uitgewer

Potchefstroom: PU vir CHO

Literêre vorm

Kritiek

Pryse toegeken

  • Geen

Vertalings

  • Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Geen

Skeppende publikasies:

Publikasie

Angelliera

Publikasiedatum

  • 1980
  • 1981

ISBN

0624015122

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

  • Ingrid Jonker-prys, 1980
  • WA Hofmeyr-prys, 1981

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Jukstaposisie

Publikasiedatum

1982
Sagtebanduitgawe 1991

ISBN

0624017699 (hb)
0624031225 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Louis Luyt-prys, 1983

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die waarheid gelieg

Publikasiedatum

1984

ISBN

0624020541 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

  • Geen

Vertalings

  • Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Geen

 

Publikasie

Allotroop

Publikasiedatum

  • 1985
  • 1986

ISBN

0624022668 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

  • CNA-prys, 1985
  • WA Hofmeyr-prys, 1986
  • Hertzogprys, 1987 saam met Idiolek

Vertalings

  • Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Geen

 

Publikasie

Idiolek

Publikasiedatum

1986

ISBN

0644024172 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Hertzogprys, 1987 saam met Allotroop

Vertalings

  • Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Onderhoud met ’n bobbejaan

Publikasiedatum

  • 1986
  • 2005

ISBN

  • 0798621486 (hb)
  • 9781770020373 (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: HAUM-Literêr
  • Pretoria: Best Books

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

  • Geen

Vertalings

  • Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Geen

 

Publikasie

Driepas

Publikasiedatum

1989

ISBN

062402864X (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

WA Hofmeyr-prys, 1990

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Met die aarde praat

Publikasiedatum

1992

ISBN

0624031748 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

  • Rapport-prys, 1992
  • Rapportryersprys vir poësie, 1993
  • Hertzogprys, 1993

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Identikit

Publikasiedatum

1997

ISBN

0624035581 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Uit die hoek van my oog

Publikasiedatum

1998

ISBN

062403707X (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die baie ryk ure: 100 uitgesoekte gedigte

Publikasiedatum

2001

ISBN

0624040151 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Heilige nuuskierigheid

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780624045069 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

WA Hofmeyr-prys, 1990

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Uit die wit lig van my land gesny. Vir Anna: ’n versamelbundel

Publikasiedatum

2010

ISBN

9780620498159 (sb)

Uitgewer

Potchefstroom: Pooka Uitgewers

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Onversadig

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780624049036 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die ander een is ek

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780620533515 (sb)

Uitgewer

Pooka Uitgewers

Literêre vorm

Memoire

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Karnaval en Lent

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780624067740 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet


TT Cloete as mede-outeur

  • Bothma, TC. Opstelonderrig. In medewerking met TT Cloete. Kaapstad: Nasou, 1964

TT Cloete as redakteur of mederedakteur

  • Van der Watt, Jan. Die boodskap: die brief van Jakobus. Roodepoort: CUM. Redakteur TT Cloete 
  • Die Afrikaanse literatuur sedert sestig. Redakteurs TT Cloete, AP Grové, JP Smuts en Elize Botha. Goodwood: Nasou, 1980
  • Gids by die literatuurstudie. Redakteurs TT Cloete, Elize Botha en Charles Malan. Pretoria: HAUM-Literêr, 1985 en 1989
  • Literêre terme en teorieë. Redakteurs TT Cloete, Hein Viljoen, Leon Strydom, Heilna du Plooy en Anne-Marie Bosschoff. Pretoria: HAUM-Literêr, 1992

TT Cloete as vertaler

  • Labiche, E. Meneer Perrichon gaan op reis: blyspel in vier bedrywe. Kaapstad: Human & Rousseau, 1962

TT Cloete as samesteller of medesamesteller

  • Van Hooft tot Luyken: Bloemlesing. Saamgestel deur G Dekker en TT Cloete. Pretoria: Van Schaik, 1961
  • Van Hendrik van Veldeke tot Spieghel. Pretoria: Van Schaik, 1963
  • Vyfling: ’n bundel eenbedrywe van Hertzogpryswenners. Kaapstad: Nasionale Boekhandel en Tafelberg, 1966 tot 1994 
  • Faune: ’n bloemlesing oor die dier in die Afrikaanse poësie. Kaapstad: Nasionale Boekhandel, 1966, 1969, 1971
  • Poort, 1972: ’n Keur uit die werk van hoërskoolleerlinge. Saamgestel deur PD van der Walt, L Dekker en TT Cloete. Kaapstad: Nasou, 1973
  • Totius: Vyftig gedigte: ’n keur. Kaapstad: Tafelberg, 1976
  • Lens 78/79 [Poësie]. Saamgestel deur TT Cloete (redakteur) en Rudolph Willemse. Potchefstroom: Potchefstroomse Skrywerskring, 1979
  • Dit kom van ver af: ’n storieverskeidenheid. Pretoria: Litera, 2002 [ISBN 0620290056 (sb)]

’n Keur van artikels oor TT Cloete beskikbaar op die internet:

 

Artikels en gedigte deur TT Cloete beskikbaar op die internet

 

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top