TT Cloete (31-05-24 – 29-07-15)

  • 2
Heilna_TT_Cloete

Heilna du Plooy en TT Cloete (foto verskaf)

Daar is die bekende uitspraak van Amadou Hampâté Bâ wat so lui: As daar in Afrika ’n ou man sterf, is dit soos ’n biblioteek wat afbrand. Daar is variasies in die vertaling van die spreuk en dit sou dalk selfs nader aan die oorspronklike kon wees om te sê: As ’n ou man sterf in Afrika, staan daar ’n biblioteek in ligte laaie. Dit verwys natuurlik na die mondelinge tradisie in Afrika waarin geskiedenis en verhale in ou mense se hoofde bewaar word, maar dit is onteenseglik ook ’n algemene waarheid. Vir skrywers en akademici en groot lesers geld dit selfs by uitstek.

Van iemand wat buiten die verhale in sy geheue, die stories van sy lewe en van almal wat hy geken het, ook ’n boekemens was, ’n mens van idees en stories en woorde oor tyd en ruimte heen, is hierdie spreuk sekerlik eksponensieel waar. Met die dood van TT Cloete is dit inderdaad asof daar ’n biblioteek in ligte laaie opgegaan het. Soos trouens ook in die geval van mense soos André P Brink en Johan Degenaar. Al drie was akademici, voortreflike dosente en navorsers, maar hulle was waarskynlik van die mees belese mense (indien nie dié mees belese nie) in Suid-Afrika. Hierdie mense se dood bring opnuut waardering vir die omvang van die kennis en insig waaroor hulle beskik het en dit maak mens weer bewus van die vinnig uitsterwende ideaal van kompromislose intellektualiteit, van wat dit beteken om ’n ware intellektueel te wees.

TT Cloete was inderdaad ’n man van boeke, van alle soorte kennis en nadenke. Die konsep wysbegeerte, in die letterlike sin, kom by my op – hy was iemand wat begerig was om wys te wees in die wydste sin van die woord. Dit het vir hom gegaan om daardie soort kennis wat insig kan word omdat dit voortkom uit die soeke na betekenis in alle soorte inligting. En daardie “heilige nuuskierigheid”, soos Einstein dit genoem het, het hom tot aan die einde van sy lewe gedra.

Cloete het self altyd baie klem gelê op die gewoonheid van sy herkoms. Hy is gebore op 31 Mei 1924 op ’n plaas in die Vredefortkoepel, waar hy baie gelukkige kinderjare deurgebring het. Hy matrikuleer in 1941 aan Monument-hoërskool in Krugersdorp en gaan studeer teologie aan die Universiteit van Pretoria. Sy studie is onderbreek toe hy aan die einde van sy eerste jaar polio opdoen en twee jaar lank aan sy bed gekluister was. Hierdie gebeurtenis het sy lewe gemerk. Die nagevolge van die polio was ’n rugverkromming en periodieke rumatiese aanvalle. Hy het dus sy lewe lank pyn ervaar en was elke oomblik bewus van die beperkinge van fisieke gestremdheid. Soos hy self verduidelik in “Die ander een is ek” was dit egter hierdie voortdurende bewustheid van sy eie liggaamlikheid en pyn wat van die belangrikste kreatiewe impulse in sy lewe was.

In 1945 sit hy sy studie aan die Potchefstroomse Universiteit voort en dit is hier waar hy sy akademiese loopbaan grootliks deurbring, ’n loopbaan met baie hoogtepunte. Na voltooiing van sy meestersgraad vertrek hy in 1949 na Nederland, waar hy aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam onder leiding van NP Van Wyk Louw promoveer met ’n proefskrif oor Totius.

Hierdie studietydperk in Amsterdam en die twee latere uitnodigings na Nederland (1963 en 1973) as gasdosent en navorser het nie net sy wêreld vergroot en hom van naderby met die Europese kultuur laat kennis maak nie, maar het ook ’n blywende kosbare herinnering gebly wat in baie van sy gedigte ter sprake kom.

Sy liefde vir die Nederlandse letterkunde wat hy te danke het aan sy mentor en leermeester, Gerrit Dekker, is ook deur hierdie besoeke bevestig. Die Europese studie het hom verder in aanraking gebring met literatuurwetenskap as ’n selfstandige vakgebied en hy was later die eerste persoon wat die vak Algemene Taal- en Literatuurwetenskap in Suid-Afrika ingestel het, eers aan die Universiteit van Port Elizabeth en vanaf 1970 ook aan die PU vir CHO.

Cloete was vir meer as 30 jaar lank verbonde aan die PU vir CHO, sy hele loopbaan behalwe vyf jaar, 1965–1969, toe hy aan die Universiteit van Port Elizabeth gewerk het en selfs as rektor waargeneem het.

Die wetenskaplike bestudering van taal en letterkunde het inderdaad tot aan die einde van sy lewe ’n groot passie gebly. Hy was ’n entoesiastiese en toegewyde dosent wat met sy gemaklike en charismatiese styl van klasgee en warm persoonlike kontak met studente ’n liefde vir die letterkunde gekweek het. Uit sy pen het daar bykans 200 wetenskaplike artikels, boekpublikasies, essaybundels en studieleidings verskyn en hy was die samesteller van talle poësieversamelings en ander bundels in Afrikaans en Nederlands. Hy het as professor tien meestersgraadstudies begelei en tien mense het hulle doktorale proefskrifte onder sy leiding geskryf.

Heilna_TT_Cloete2

Heilna du Plooy en TT Cloete (foto verskaf)

Hy was tot sy dood buitengewone professor in die vakgroep Afrikaans en Nederlands van die Noordwes-Universiteit en het oor die jare gereeld op uitnodiging met veral nagraadse studente kom gesels oor die literatuur in die algemeen en oor sy eie werk. Dit was vir hom altyd ’n groot plesier ten spyte van die ongerief en fisieke inspanning wat dit vir hom was. Hy het geen moeite ontsien om goed voor te berei vir sulke geleenthede nie. Hy sou opdaag met ’n PowerPoint-aanbieding met wonderlike beeldmateriaal en ’n deeglik-gestruktureerde voordrag. Nie net die inhoud nie, maar ook die vorm van sy aanbieding was dan vir studente ’n voorbeeld van deeglike en kreatiewe wetenskaplikheid. Te oordeel aan die reaksies van oudstudente en onlangse studente wat in die week van sy dood op sosiale media verskyn het, het die inhoud en styl van sy voordragte werklik ’n blywende indruk gemaak. Hierdie mense lees sy kreatiewe werk met groot toegeneentheid en begrip.

Dit is ’n bekende feit dat Cloete eers op 56-jarige ouderdom as digter gedebuteer het. Hy het al sedert sy twintigerjare gedigte geskryf, maar wou nie publiseer nie, omdat hy te veel opgesien het na figure soos Van Wyk Louw en Opperman. Toe hy eenkeer weer siek was, het sy vrou hom, ter wille van die terapeutiese uitwerking daarvan, aangemoedig om van die gedigte in die laaie en lêers af te rond en na ’n uitgewer te stuur. DJ Opperman was die keurder van die manuskrip van die bundel Angelliera en hy het dit as “koningskos” beskryf. Daarna het Cloete se bundels met gereelde tussenposes bly verskyn, totdat daar uiteindelik tien bundels gepubliseer is. Hierby kom die twee versamelbundels, Die baie ryk ure (2001) en Uit die wit lig van my land gesny (2010). Hy was besig om ’n nuwe bundel af te rond ten tye van sy afsterwe en daar is nog ’n volgende poësiemanuskrip ook reeds saamgestel.

Cloete het ook in ander genres gewerk en het ’n drama, Onderhoud met ’n bobbejaan (1986), en twee kortverhaalbundels, Die waarheid gelieg (1984) en Identikit (1997), gepubliseer. Daarby het hy van 1991 tot 2001 gewerk aan die nuwe omdigting van die psalms wat in Afrikaanse Kerke gebruik word.

In 2013 verskyn die boek Die ander een is ek en daarin beskryf Cloete sy lewensfilosofie en sy siening van die digkuns. Hy doen dit deur gebeure in sy eie lewe as vertrekpunt te gebruik en verder daarop uit te brei, met die gevolg dat die boek iewers tussen ’n outobiografie en ’n akademiese werk lê. Die ander een is ek is ʼn merkwaardige boek van ʼn gevestigde en deurwinterde digter, skrywer en akademikus. Die teks kan dan ook beskou word as ’n sleutel tot Cloete se oeuvre, aangesien ’n uitgebreide besinning oor die kerntemas van die lewe en hoe die kuns daaraan gestalte gee, daarin gevind kan word.

TT Cloete was ’n veelbekroonde mens. Hy het tien literêre pryse ontvang, wat die Hertzogprys (twee keer) en die WA Hofmeyrprys (drie keer) insluit. Hy het nog drie ander pryse van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang, en in 2008 is erelidmaatskap van die Akademie aan hom toegeken. Verder is daar nog ongeveer tien ander toekennings, van ’n eredoktoraat van die Noordwes-Universiteit en verskillende oorkondes van sy alma mater tot die Staatspresident se Orde vir Voortreflike Diens Goud (1992), die hoogste toekenning vir opvoedkundige werk van die Noordwes-onderewysdepartement (2004), verskeie toekennings van die stadsraad van Potchefstroom, van skole, en selfs die Akpol-toekenning van die Suid-Afrikaanse Polisie vir sy skryfwerk en kulturele bydrae (1997).

Ten spyte van die omvang en wye invloed van sy akademiese werk as dosent, literator en kritikus, sal Cloete se poësie en die omdigting van die psalms waarskynlik sy groot nalatenskap wees. Waar gewone lesers die wye verskeidenheid van onderwerpe waaroor hy skryf, geniet en met sy diepgaande insig in menslikheid identifiseer, bied die tegniese vindingrykheid en voortreflikheid waarmee hy al die “aspekte van poëtiese taalgebruik” ontgin in sy verse baie stof vir ontleding en interpretasie. Sy werk word daarom in ’n groot aantal akademiese studies, artikels, verhandelinge en proefskrifte ondersoek. Hy is al dikwels “a poet’s poet” genoem omdat mededigters so ’n groot respek en waardering vir sy virtuositeit het, maar hy het ook oor die jare baie briewe van gewone lesers gekry wat gaande is oor sy gedigte en alles wat hy geskryf het, wou lees.

Hy het by geleentheid gesê skryf is vir die digter soos swem vir ’n haai. Die oomblik wat die haai ophou swem, versmoor hy omdat die beweging water deur sy kiewe laat sirkuleer en hom so van suurstof voorsien. Net so kry die digter sy lewensasem uit die skryf van verse. En tog het Cloete ook verse geskryf waarin hy sê dat sy geliefdes vir hom veel meer werd is as die poësie.

TT Cloete was ’n gebalanseerde mens en sal vir meer as sy veelsydige akademiese en literêre prestasies onthou word. Hy was wel ’n intellektueel, ’n belese en beleë akademikus en skrywer, maar hy was ook ’n warm en gesellige mens, lief vir sy gesin en sy familie en lojaal teenoor sy vriende. Kuiergaste was altyd welkom en in sy geselskap is daar altyd baie gelag en gepraat. Sy mensekennis, wat mens ook in sy poësie terugvind, het hy deur interaksie met studente en baie vriende en familie gekry. Dit was meestal ’n mensliewende interaksie, maar hy kon ook vurig standpunt inneem oor dinge wat hom na aan die hart gelê het. Hy het dus ook gereeld briewe, selfs kwaai briewe, in die koerant geskryf.

Cloete het dikwels ironiserend oor homself geskryf, oor sy mankemente en hebbelikhede. So het hy al in 1985 in die bundel Allotroop sy eie begrafnis beskryf in die gedig “in memoriam herman”:

in memoriam herman

6 sal hom dra
3 seuns 2 meisies
en die ma
  ’n klomp drentel saam

maer en uitgeteer
net been en seningsvleisies
visgraat en hoenderveer
  en ’n naam

hinkend agterna
soos in ’n impetieke reisies
josef die kreupel tswana
  in die santekraam

Die gedig is outobiografies heeltemal waar. In die jare vóór 1985 was Cloete inderdaad baie siek en hy het werklik nooit gedink dat hy baie oud sou word nie. Hy het drie seuns, twee dogters en ’n vrou gehad en die tuinier was inderdaad Josef. Cloete het altyd gesê hy en Josef kon goed saamwerk, want hulle was ewe kreupel.

Hy was fyngevoelig oor kritiek, soos alle digters maar – veral as hy gedink het ’n uitspraak of tipering was ongeregverdig. Sy manier om dit te verwerk was deur net verder te skryf – hy was immers sy lewe lank deel van die literêre bedryf en het al die slaggate en onderliggende spannings baie goed geken. Hy het die spelreëls verstaan, maar het ook geweet hoe skryf in sy eie lewe inpas. In “penkop hoor meer as een stem” in Uit die hoek van my oog skryf hy:

Hy wat my gemaak het, weet alte goed
ek is dun van vel, sonder harnas, gebukkel.
ek vlug swaar, loop met ’n groot gesukkel,
skraal, klein van moed.

Ek is geen goeie soldaat
en geen wenner nie, nie kordaat
of dapper nie, swak is my gelaatstrekke
en my hele lyf is vol teer oop achillesplekke.

Hoe moeilik dit dan soms ook al mag gaan, weet hy as digter nogtans:

Jy moet op pynlik vreemde maniere leer
om waardeloos te waardeer.
So word jy kerngesond
gereedgemaak vir die ergste word.

Steeds neem die dinge in ons vorm aan,
steeds is daar in ons nuwe ontstaan

as jy kaalhande skryf-skryf
die dorings van die turksvy afvryf.

Tydens die werk aan die psalm-omdigting was daar dikwels baie vrolikheid. Daar was ’n klein komitee wat op Potchefstroom saam met Cloete aan die aanvanklike omdigtings gewerk het: Herrie van Rooy as eksegeet, Daleen Krüger as musikoloog en ek self as letterkundige. Hierdie span van vier het jare lank baie Saterdae om die Cloetes se eetkamertafel gesit en aan die psalms gewerk terwyl tant Anna krieket op die TV kyk. Daarna het die omdigtings na die groter komitee gegaan vir verdere kommentaar op alle aspekte daarvan. Dan kom daar eksegetiese, digterlike en taalkundige kommentaar terug en Cloete moet dit weer inwerk. Sommige psalms het tot agt keer heen en weer gereis en dan kon hy soms met jota en tittel aantoon dat sommige van die veranderinge en voorstelle reeds ter tafel was of dat hy dit reeds as alternatiewe voorgestel het. Wat nogal kostelik was, was sy reaksie op die noukeurige manier waarop die taalkundiges leestekens in die omdigtings ingevoeg het. “En al hierdie rosyntjies in die brood?” het hy gevra. Maar hy het vasgebyt en die groot werk voltooi.

Hy het ook vertel hoe hy een oggend in die tuin gaan rondloop het omdat hy gesukkel het met die vloekpsalms. Uiteraard is dit nie maklik om hierdie argetipiese wraakpsalms met Afrikaanse woorde in Geneefse melodieë in te pas nie. Juis toe word die pos afgelewer, waaronder ook sy belastingaanslag. Teen skemer die aand was die vloekpsalm moeiteloos voltooi.

Al was Cloete nie liggaamlik sterk nie, was hy taai, met ’n gees wat steeds opgewek en gestimuleer, “onversadig” was. Dit word dan ook die voorlaaste bundel se titel en is eintlik ’n tipering van sy hele lewensuitkyk. Hy het bly soek na opwindende dinge en uitsonderlike feite en dit alles sou een of ander tyd gedigte word. Om by hom te kuier was tot dae voor sy dood vrolik en opwindend en die gas sou daar weggaan met ’n kop vol nuwe idees en alternatiewe gedagtes. Daar was iets tydloos aan sy geselskap.

Cloete het ’n bewondering gehad vir jong sterk mense en atlete van allerhande soorte. Vandaar die sportgedigte, wat ook aansluit by sy bewondering vir die kragtigheid van diere in die natuur: “die rooibok wat booghoog pronkend draf/ kort ente soos steffi graf”.

Skoonheid het Cloete nooit ontgaan nie, soos blyk uit die bekende Marilyn Monroe-gedigte wat ’n hele Monroe-gesprek in die Afrikaanse digkuns aan die gang gesit het. Trouens, vir hierdie digter was fisieke skoonheid inderwaarheid gelyk te stel aan liggaamlike intelligensie en hy beskryf Marilyn Monroe op haar rooi foto as “skrander van skedel tot skeen”.

Cloete het met woorde geteken en die vorm en voorkoms van die gedigte het dikwels die inhoud geëggo. Hierdie ikoniese gedigte tref die leser telkens as ’n totale verrassing: “Skouspel I” in Jukstaposisie of “Silhoeët van Beatrice” in Idiolek.

Van die mooiste en treffendste gedigte gaan egter oor sy geliefde vrou, Anna, wat in 2007 oorlede is. In Heilige nuuskierigheid staan die gedig “vrouson”, waarin die digter beskryf hoe die vrou haar hare droogblaas en hoe die “hoepelslierte … superprominensies” uitstrooi. Soos altyd, sien hy hier ook hoe die klein menslike handeling dieselfde patrone van beweging en ligweerkaatsing vertoon as wat in die kosmos waargeneem kan word. In dieselfde bundel is daar egter ook die afdeling “ambraal” waarin hy besig is met die onafwendbare verloop van sy vrou se terminale siekte. Hy beskryf in 35 reëls al die kosbare dinge waaraan hy kan dink en is bereid om alles op te offer: “ek sal betaal/ om die pyn uit die liefde wat ambraal/ speel met wat ek ongeneeslik liefhet te haal.”

Vandat Anna siek geword het, het Cloete briewe aan haar geskryf, onafgelewerde briewe.  Hy het dit volgehou tot sy eie dood. Hierdie briewe verskyn binnekort in boekvorm.

TT Cloete verpersoonlik vir my die ideaal van die intellektuele mens, iemand met ’n dors na kennis en insig, met daardie “heilige nuuskierigheid” waarvan Einstein gepraat het. Daarby het hy die gawe van menslikheid en kreatiwiteit in oormaat gekry, met die gevolg dat alles wat hy in poëtiese vorm geskryf het, ’n veel wyer betekenis en trefkrag verkry het.

Alles in ag genome is hierdie man een van die merkwaardige figure van die Afrikaanse letterkunde. As literator, kritikus, digter, dramaturg, prosaskrywer en psalm-omdigter (min of meer in chronologiese volgorde) het hy oor jare ’n gedugte reputasie opgebou. Dit is selfs nou, met sy afsterwe, nie afgehandel nie, want daar is drie voltooide manuskripte – twee digbundels en ’n versameling briewe – en waarskynlik nog ander manuskripte ook in sy rekenaar. Hy het letterlik tot aan die einde voluit vorentoe geleef: hy het nog reise beplan, besoeke gereël en uitgesien na alles wat hy nog wou doen en skryf.

Hy het in die week voor sy dood nog ’n boodskap aan die kosmoloog David Block gestuur en ’n ete-afspraak bevestig. Op sy begrafnis het talle mense daarna verwys dat hulle nog sou gaan kuier het, dat hy iets met hulle gereël het. Hy het twee weke voor sy dood nog ’n manuskrip van ’n skoolmeisie vir haar gelees. Hy was bereid om homself met ander te deel en dit het mense na hom toe aangetrek. Hy kon liefde en toegeneentheid ontvang én hy het vriendskappe hoog geag en gekoester. Vir hom was die digitale era ’n groot geskenk, want hy het via e-pos ’n wye korrespondensie met mense regoor die land en internasionaal aan die gang gehou. Hy kon nie maklik beweeg met sy liggaam nie, maar sy gees het ver en wyd gereis en alles met verwondering ingeneem.

Theunis Cloete was een van die werklik weinige mans vir wie ’n mens blomme kon gee. Almal het dan ook vir hom blomme en plante aangedra, sy kinders en sy vriende. As ek gaan kuier, het ek dikwels soms sommer net drie of vier leliestingels met knoppe vir hom saamgeneem. En dan kry ek agterna ’n dankiebrief en ’n paar dae later nog ’n brief waarin hy vertel hoe die knoppe een vir een oopgaan.

Ek het ook soms vir hom ’n lekker spesiale sigaar gekoop, veral as ek in die buiteland gereis het. Hy het die sigare latertyd nie meer gerook nie, maar net daaraan geruik en die ver plekke waar die geurige plant gegroei het, voor die gees geroep. Hy het altyd die klein dingetjies raakgesien, raakgehoor en raakgeruik, maar het dan ook altyd gesien, en daaroor geskryf, hoe die kleinste dinge in verband staan met alles wat groots, omvangryk en uitdyend is.

Hoe ek hom sal onthou, is hoe hy daar in sy woonstel op sy hoë regop houtstoel sit, omring deur blommende plante: orgidees, begonias, bromelias, poinsettias en allerlei plante met mooi blaarpatrone. Die plante staan langs hom, half agter hom en selfs voor sy voete, op die grond en op tafeltjies. Die stoel staan voor die venster en buite op die plaveisel staan groepe potte met nog meer blommende plante. Daar hang windharpies op die stoep wat sulke borrelgeluidjies maak. Dan sit ek op die groot rooi stoel oorkant hom en ons gesels oor boeke en verse en idees en skilderye en sterre: alles wat mooi en goed is.

Dit gaan my baie lank neem om aan die pynlike wete gewoond te raak dat daardie stoel leeg is.

Met die afsterwe van TT Cloete staan daar inderdaad ’n unieke biblioteek in ligte laaie.

  • 2

Kommentaar

  • Dr IL J van Vuuren

    Dankie, Heilna. Niemand kon dit beter gesê het nie.
    `n Mens lees sy gedigte nou met `n ander oog ...
    Groete
    Natie van Vuuren
    Nylstroom

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top