Joan Hambidge resenseer TT Cloete se Heilige nuuskierigheid

  • 0

Heilige nuuskierigheid

 

TT Cloete
Tafelberg
ISBN 9780624045069
Sagteband, 128 bladsye

Klik hier en koop Heilige nuuskierigheid by Kalahari.net

 


“digters droom ou drome van bevrydende/ vervreemding”


1

Heilige nuuskierigheid. So heet die jongste TT Cloete-digbundel wat so pas by Tafelberg in sagteband verskyn het, ofskoon die digter deur die jare net in hardeband verskyn het. ’n Mens sou die bundel ook ’n soort “heilige verrukking” kon noem, geskryf deur een van die digterlike meesters in Afrikaans. Die afgelope tyd het ons wonderbaarlike bundels van die grotes beleef: Breytenbach, Wilma Stockenström, Krog ... En alles te midde van die woelinge rondom NALN se verskuiwings en die sluiting van Insig – die Afrikaanse letterkunde en veral die digkuns bloei tans. Dalk soos Breytenbach meen dat ’n boom voor hy sterwe sy beste vrugte dra?

Reeds met Cloete se debuut was die jukstaposisie van die banale en die heilige opmerklik, die inspeel op Franse en Afrikaanse digters, die klankontginnings, nuutskeppinge, innoverende tegniese truuks – soos die gebruik van wit spasies wat die vers dubbelsinnig maak. ’n Idiolek, dus. (Ek verwys die leser na die endnote vir verdere inligting).

Cloete debuteer eers op 56 en nou, in sy tagtigerjare, skryf hy ’n bundel gelyk aan sy bestes, Jukstaposisie en Allotroop.

Hy is ’n vernufsdigter, oënskynlik. Maar hy tref jou ook in die hart. Veral met sy lykdigte. Die aweregse blik, die gebruik van geleerde/vreemde woorde, die blik op die natuur, satires, die erkenning van die liggaamlike en blatant-erotiese, die gesprek met ander – ook met Elize Botha deur Totius en Opperman – is van die oorheersende temas in hierdie bundel. Immer beleef deur ’n ouer mens. Weerloos, dog skerpsinnig. ’n Jukstaposisie dus.

’n Mens is hier telkemale geïmponeer met die enorme intellek en kennisveld: van ’n TV-tekenprent tot die oerklassieke; van Walter Battiss tot Dali. Van ewolusie tot die gebed.

’n Deurlopende motief is die breekbaarheid en weerloosheid van alles. Die oomblik wat verbygaan. Daar is oa skerp kritiek op die huidige politieke stelsel en die ontkenning van die “partikuliere taal” – soos hy in die slotvers, “Shoa”, dan dig. ’n Begrip wat in die Bybelse Hebreeus, ’n taal wat Cloete ken, dui op verwoesting, vernietiging.

Elkeen is in sy ekso
is sy eie binnetoe

dig hy – en dit is relevant vir hierdie bundel se begryp.

Ek gaan vervolgens verskillende aspekte betrek:

1 Die aweregse blik
Van die mees verrassende gedigte staan in die tweede afdeling, waar die digter oënskynlik kyk na ’n seeperdjie, ’n mantis of miskruier. Maar dit word méér as dit. Die natuurkenner gee ’n matematies-presiese blik op ’n diertjie of gogga of selfs ’n pynappel:

in spirale, van links na regs soveel, omgekeer
van onderaf boontoe klokslag ’n paar meer
dit weet hy om ’n rasegte pynappel te wees.
(p 33)

’n Naakte seeslak dans ’n flambojante flamencospaanse dans! En die seeperdjie word gesien as ’n grap (ook ’n bekende tema in die digter se oeuvre om die kosmos en God se spel tot ’n grap te verklaar). Hy het ’n perdekop en ’n vark se snoet, die buidel van ’n kangaroe en die stert van ’n aap, wat hom een van die “apokreatiewe wonderwerke” maak.

2 Die gebruik van geleerde woorde
Cloete gebruik dikwels die wetenskaplike of nonpoëtiese woord. Hy skram nie weg van Engelse aanhalings of woorde nie en terme soos allofrasie vind ons in gedigte. Hy gebruik ook Franse of Latynse terme en die endnote aan die slot van sy bundel is van uiterse waarde vir die speurende leser.

3 Die blik op die natuur
Reeds in die bundel Met die aarde praat (1992) het hy hom onderskei as ’n “groen" digter. Die mens se verhouding met God – in navolging van Neruda verklaar hy God tot die grootste digter – lees hy af uit die natuur en in die openingsgedig, die programvers “Eurinome”, word hierdie gesprek begin.

4 Satires/kommentaar
Reeds vanaf die debuut laat hy hom skerp uit teen oningeligtheid, teen die massakultuur, teen mense wat nie hou van biblioteke nie – die kleindorpse lewe met snoppies en hoë lui wat dink hulle is ’n Iemand. Eiewaan, geldmag en ander vergrype kom dikwels in sy visier.

5 Die liggaamlike en die erotiese
Met sy verse oor Marilyn Monroe – waarby vele ander digters aansluit – bestryk hy die eroties-liggaamlike. Hy beskryf die vrou as “nakont” en in die vers “maroela-ont" (p 52) proe die leser die woord kont in die slot! In “Loopskrif in ’n vakansiehotel” (uit Idiolek, 1986) het hy al op ’n vernuftige wyse skryf, masturbasie en ’n voyeuristiese ervaring van ’n jong meisie se orgasme behendig weergegee. Hy kyk sonder skroom na die lyflike. Op ’n keer dig hy van die “aanwesigheid van die afwesigheid” – en telkemale presteer hy ongelooflike paradokse.

6 Die gesprek met ander digters / media / die wetenskap
By Cloete is daar altyd ’n gesprek met Franse digters; by implikasie: ek kan altyd die teenwoordigheid van Baudelaire voel en Verlaine; en nader tuis, Totius en Leipoldt, Opperman – en drie pragverse oor onlangs ontslape vrouedigters: Sheila Cussons, Ina Rousseau en Eveleen Castelyn, die onbetwiste meester van die haikoe en tanka in Afrikaans.

Eveleen Castelyn

party digters praat sag
alleen digterlike ore kan hulle hoor
kies ek vir jou leipoldt se kriek in die nag
op die solder as metafoor.

Oor Ina Rousseau – wat hy op ’n keer tipeer het as die digter met die “suinige hand” wanneer dit kom by publikasie – verwys hy na “woordspaarsaam” en die lieflike vers oor Cussons aktiveer die verse in Plektrum,waarin die obsessie met die pêrel beskryf word. Die ander een, te wete Van Wyk Louw, of dalk die digter self, staan bedremmeld voor hierdie ryk skat van gedigte.

In ’n klein ars poetica (“dons”, p 116) wat inspeel op die verse in Allotroop, word die skryfproses as ’n paradoks beleef:

my gedig
jy is nastergal

’n dowwe vermoedelike insig
naby effe inloer
onthuts raak en ontroer

’n uitroep in dons ’n fraktaal
sonder gewig
’n geruislose sagte uilveer
nouliks iets meer

van duskant ’n geringe
skeel waarneming
van die verstommende verstaan
en herken en erkenning
van die onverkenbare bestaan.
(p 116)

Hierdie “onverkenbare bestaan” is die digter Cloete se métier: die objek word in die Baudelaireaanse “correspondences” ontgin en elke oksimoron of matematiese samehang in die natuur verbind aan die Goddelike of ewolusie. Hy gebruik televisie en moderne media as sy oertekste. In sy behendige en virtuose verse tower hy iets uit ’n nietige of selfs lawwe insident.

’n TV-tekenprent, die proe van seksuele genot in ’n maroela, of ’n geleerde barbaar beskryf hy helder.

Ook die kritiek kom in sy visier: hy gebruik hier krieket as die verwysingsisteem:

balspel

die digter is altyd kolwer agter
jou rug naby jou wag die paaltjiewagter

en rondom in die veld die lang
vingers aan lang arms op ’n lang nek
’n swart bril onder die wit hoed diep afgetrek
in die onsigbare loens oë om jou uit te vang

voor jou die bouler slegter
langsaan die kras skeidsregter

beskerm teen berisping hou dus jou bek

op straf van boete luide kommentators
in die losies worsmakers van jou worser
dié op die pawiljoen die worsste wors
iewers die droë navorser
wat jou te na vors.
(p 110)

“the old man and the sea” praat nie net deur Hemingway nie, maar word ’n skitterende belydenis van skryf as ’n kraaines - met die lewe van sowel die ou man as Hemingway wat inspeel op die begryp van die vers.

Met ’n eerste kennisname lees ek ’n bundel van agter na voor; dan van voor na agter. Op hierdie wyse kom ’n mens op verhulde kodes af. Jy sien ook hoe verse op mekaar inbuig, en die deurlopende gedagte in hierdie bundel is opvallend: die mens(like) nietheid versus die Goddelike oormag. Tipies Cloete is alles gelade. Die kosmos word deur die mens bevraagteken. Wat/Wie is God? Hoe het alles ontstaan? Die Groot Knal word bespreek en daar is telkens verwysings na ewolusie en na die studies van Philip Tobias. Die interessante debatte oor ewolusie en die Christendom wat sig afspeel in die dagbladpers word hier relevant. By Cloete sluit die een sisteem nie die ander een uit nie. Jy kan sowel Christelik/religieus wees as wetenskaplik-ondersoekend. Hierom die besef van ’n “heilige nuuskierigheid”. Die verwysing na Eurynome, die vrugbaarheidsgodin, wat glo ’n eier gelê het waaruit die universum ontspruit het. Mitologies en wetenskaplik word behendig as twee kante van dieselfde munt beskou deur die digter.

Gedigte wat persoonlik aangespreek het
Daar is uitstaande verse in die bundel – elke leser sal waarskynlik sy/haar bestes hier aanstip, ’n vers wat spesifiek met jou praat. Daar is verse wat eerstens op die intellek en wye belesenheid aanspraak maak; dan is daar die teer, emosionele verse.

Cloete het oa ’n besonderse lykdig in Afrikaans gelewer en hierdie leser het teruggegaan op die bekendstes. In hierdie bundel staan daar die verse “Rokke” (p 92) waarin verskillende vrouerokke beskryf word. Rokke in al hul kleure en betekenisvelde; “Fluister-Asemhaal-van-Blomme” wat afloop in die slot:

en dan was daar ’n allerlaaste een
ontwerp deur hartseerliefde nee
so menslik op ons afgedwing
te onvertaalbaar nee
om haar ’n naam te gee.

Die digter verwys hier na die lykskleed – en die krag van suggestie waarop hierdie vers afstuur, beklemtoon die digter se vernuf.

Die gedig oor Dali is ’n klein pronkstuk, terwyl “Aanpassings uit ’n ou Egiptiese gedig” kenmerkend is van Cloete se jukstaposisie-aanslag. “dagbreekmense” – ’n eiesoortige spel met die distigon en die wit ruimtes eie aan hierdie digkuns – is aangrypend mooi.

Die volledige tweede afdeling getuig van Cloete se skerp blik op die universum.

Wanneer Cloete oor die erotiese dig, is hy waarskynlik gewaagd, maar goddank digterlik so in beheer dat hy nie inbeweeg in die sentimentele of platvloerse nie. Hy kom – soos De Lange in Nagsweet – met moord weg weens die tegniese beheer en woordvaardigheid. By ’n mindere digter wil ’n mens net hande was en die boek toemaak; by die knap digter word die grense in die gemoed en in die digkuns verskuif. “sangeres en gehoor” en natuurlik “maroela-ont” is my gunstelinge hier.

maroela-ont

ná baie jare kon ek weer maroelas eet
die geur die smaak die tekstuur ek weet
van geen ander vrug wat so glibberig nat
is nie so sagharig as jy daaraan vat

hoe nader jy aan die pit
kom hoe sagter en warmer is dit
uit die vleis van die geheue van my mond
onthou ek niks so ont.

“dood van my vader” is eweneens ’n klein kragtoer: ’n kragtige belydenis van vaderloosheid wat ’n mens op nuwe en ander manier laat kyk na Cloete se digkuns (“ek soek/ hom in elke foto elke hoofstuk/ van elke onthutsende geskiedenisboek”, p 67) (dit dan as die gedig verwys na die werklike digter …).

“ambraal-woordeboek” is verbluffend slim en ’n tipiese Cloete-vers, soos die skitterende “volwasse geboorte”, waarin die lewensloop van die mens as ’n blote gewoonte ondersoek en gekarteer word.

Die gedig “gesprek met Walter Battiss” – wat wentel rondom die idee van die “glorious failure” versus “little success” – laat die leser heerlik glimlag oor die ironie dat sowel Battiss as Cloete uit eie reg groots bo ander uittroon.

“klokke” met sy besonderse klankspel is ’n treffer, nes die gedig oor die kremetartboom. Nes die “taren-taal” – vir Elize Botha wat hom vir die eerste keer in Tydskrif vir letterkunde gepubliseer het onder ’n skuilnaam en hom dus as’t ware “ontdek” het.

Slotsom
Om op tagtig-plus so te dig, kan deur min nagedoen word. Cloete se impak op die Afrikaanse digkuns was en is groot. Hy het die kontoere van die digkuns verander, soos Breytenbach en Stockenström voor hom. Met sy debuut het Opperman hierdie bundel “koningskos” genoem. ’n Ryk feesmaal is ons hier berei.

Endnote:

Hambidge, J. "Die hipnose van die digkuns: TT Cloete-gedenklesing." http://www.oulitnet.co.za/seminaar/hambidge_cloete.asp, gepubliseer: 15 November 2005.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top